(Die volgende kort toespraak is in Afrikaans gelewer deur dr Gino Bentivoglio, voorsitter van die Südtiroler Freundeskreis der Afrikaaner, tydens sy onlangse besoek aan Orania. Die Orania Beweging het ‘n dinee vir die sewe besoekers uit Suid-Tirool gehou en die toespraak is tydens die dinee gelewer. Dr Bentivoglio is links op die foto saam met Jaco Kleynhans en Carel Boshoff.)
Dames en here, liewe vriende
Eerstens, laat my namens ons groep dankie sê vir Orania, dankie vir die uitnodiging. Ons is baie dankbaar om hier te wees. Vir die meeste van ons is dit die eerste keer in Suid-Afrika en ek kan julle vertel nadat ons nou ‘n paar plekke in Suid-Afrika gesien het, is almal baie bly dat daar ‘n plek soos hierdie is.
Dit is meer as 5 jaar gelede dat die eerste kontak tussen Suid-Tirool en Suid-Afrika plaasgevind het. Dit was aanvanklik ‘n versigtige benadering want Orania het baie negatiewe ervarings met besoekers uit die buiteland. Aan ons kant was daar die vraag waarom iemand besluit het om na ʼn semiwoestyn te skuif en daar ‘n dorp te stig. As iemand Europese mediapublikasies lees, hoor hy dat daar net verbete rassiste leef wat apartheid weer wil invoer. Maar as Suid-Tirolers lees ons daai artikels uit ‘n effens ander perspektief omdat ons weet dat joernaliste uit ‘n verskeidenheid van redes geen begrip van die spesifieke situasie van taal- en kulturele minderhede het nie. So het die grootste Duitse weekblad Der Spiegel eenkeer geskryf oor Suid-Tirool as die apartheidvesting in die Alpe want ons het aparte skole vir elke taalgroep in ons land en het proporsionele verteenwoordiging in die poste in die openbare administrasie. Maar sulke fasiliteite is noodsaaklik as ‘n mens die kulturele identiteit en die taal wil bewaar.
Voor die wet is elke burger gelyk. Dit maak nie saak watter taal ‘n mens praat nie. Hierdie individuele regte laat elke burger toe tot onderwys, deelname aan die openbare lewe, ‘n regverdige verhoor en so aan. Maar dit laat die vraag ontstaan hoe regverdig ‘n verhoor vir iemand van ‘n minderheid kan wees indien die verhoor nie in sy moedertaal uitgevoer word nie. Soos ons voormalige president Silvius Magnago gesê het: Die grootste onreg is wanneer verskillendes gelyk behandel word. Dit is hoekom minderhede bykomend tot hierdie individuele regte ook groepsregte moet kry sodat hulle hul taal en kultuur kan bewaar en uitoefen in ‘n land met ‘n vreemde meerderheid. Hierdie erkenning as ‘n minderheid met gepaardgaande toegewing van groepsregte het ons in Suid-Tirool vandag vrede en voorspoed en selfregering gebring.
Hierdie selfregering of outonomie is nie aan ons gegee nie maar is oor meer as 50 jaar verwerp. Dit was slegs moontlik omdat ons gesê het ons neem ons lot in ons eie hande.
Maar wat ons situasie anders maak as julle situasie, is die feit dat ons in Suid-Tirool in ‘n geslote nedersettinggebied leef, terwyl die Afrikaners versprei is oor die hele land. Maar as ek kyk na wat gebeur het in hierdie laaste 5 jaar, dan het ek geen twyfel nie dat aan die einde van julle pad daar selfbeskikking vir die Afrikaners sal wees.
Orania het ‘n indrukwekkende rekord van groei. Elke jaar groei die infrastruktuur, skole en dienste. Die inwonertal styg elke jaar vinniger. En dit is baie belangrik want die Afrikaners moet ‘n plek hê wat aan hulle behoort en waarop hulle kan fokus.
In Pretoria het ons die planne van Solidariteit Beweging gesien om niefunksionerende staatstrukture te vervang met gemeenskaplike Afrikanerstrukture. Saam met die sosiale strategie van die SB en die territoriale strategie van Orania dink ons dat die balans van mag in die guns van die Afrikaners sal beweeg. Feite moet geskep word totdat die Suid-Afrikaanse regering die onderhandelinge oor selfbeskikking nie meer kan ontken nie.
Dames en here, ek weet nie hoe lank dit sal neem nie, maar na wat ek gesien het, is ek daarvan oortuig dat julle uiteindelik nie meer in staat sal wees om net te sê ek is ʼn Afrikaner nie, maar dat julle, sal kan sê: Ek is Afrikaner in my land, Afrikaner-land.
Dankie vir julle aandag.
Wonderlik om sulke vriende in die buiteland te hê wat ons situasie verstaan. Meer nog dat ‘n man soos Gino Afrikaans maar onlangs aangeleer het, terwyl hier baie mense is wat in Suid-Afrika grootgeword het en hulle hele lewe woon en steeds nie ‘n woord Afrikaans kan of wil praat nie!! ‘n Pluimpie en dank aan jou dr. Gino!!