fbpx

ErdoganDie vader van die moderne Turkse staat, Mustafa Kemal Ataturk draai seker vandag in sy graf om. Die afgelope Sondag se verkiesingsuitslag in Turkye kan ʼn nuwe era vir die land inlei – een waarmee dié volksvader nie tevrede sou wees nie.

Nadat die Ottomaanse Ryk aan die verloorkant in die Eerste Wêreldoorlog was, het Ataturk ʼn groot rol gespeel in die Turkse oorlog vir onafhanklikheid. Die moderne, sekulêre staat Turkye het onder Ataturk se aanvoerwerk in 1923 tot stand gekom. Ataturk het as eerste president van Turkye die land omvorm in ʼn moderne en demokratiese staat wat die ou Islamitiese inslag vir ʼn meer sekulêre regering verruil het. Turkye is kultureel en ekonomies getransformeer en tye van goeie ekonomiese groei, ontwikkeling en verwestering het gevolg.

Turkye is ʼn stigterslid van die Verenigde Nasies en is ook sedert 1952 lid van die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie wat hom ʼn sterk militêre bondgenoot van die Weste maak. Hoewel die land gereeld oor die afgelope 90 jaar onstabiele tye beleef het, is die demokrasie in Turkye voortdurend versterk en was daar altyd ʼn pro-Westerse en sterk sekulêre tradisie in Turkye. Die land het ook ʼn sterk grondwetlike bedeling in stand gehou. Turkye is vandag een van die twintig grootste ekonomieë in die wêreld.

Waarom kan dit alles verander? Sedert 2002 regeer die Geregtigheid en Ontwikkelingsparty ook bekend as die AKP Turkye. Dié party wat in 2001 uit ʼn meer konserwatiewe, Islamitiese denkskool onstaan het, het Sondag daarin geslaag om 315 van die 550 setels in ʼn parlementêre verkiesing te wen. Dit volg nadat die party in ʼn vorige parlementsverkiesing in Junie vanjaar nie ʼn meerderheid kon kry of daarin kon slaag om ʼn koalisie met ʼn kleiner party te vorm nie. Recep Tayyip Erdoğan was van 2003 tot 2014 leier van die party en eerste minister van Turkye. Sedert verlede jaar is hy president van Turkye en probeer hy om die land se grondwet te verander ten einde die presidentskap van die huidige seremoniële status tot ʼn soort offergesag van regering te wysig.

Sondag se verkiesing is voorafgegaan deur grootskaalse intimidasie van die privaatmedia en kommentators en instellings wat uitsprake teen Erdoğan in die openbaar gemaak het. Televisiekanale en koerante is deur die polisie bestorm en jongmense wat Erdoğan kamstig beledig het, is summier in die tronk gestop. Die AKP-regering is ook die afgelope tyd van talle voorvalle van korrupsie en selfverryking beskuldig. Erdoğan het selfs ʼn enorme presidensiële paleis vir homself buite die hoofstad Ankara laat bou. Die voortdurende Islamisering van Turkye is egter wat meeste Westersgesinde Turke die meeste pla.

Erdoğan se aanvalle op die Koerdiese minderheid in die suid-ooste van Turkye en sy geheimsinnige betrokkenheid in die konflik in Sirië maak ook Westerse lande bekommerd.

Sy oorwinning in Sondag se verkiesing skep ʼn moeilike situasie vir Amerika en Europa. Hulle wil Turkye as bondgenoot behou, maar wil nie sien dat Turkye in ʼn Islamitiese diktatorskap verval nie. Turkye is darem nog ver daarvandaan, maar Sondag se verkiesingsuitslag mag dalk net die eerste stap in daardie rigting wees.