by Orania Beweging | Des 5, 2015 | Nuus |
Daar is talle etniese en godsdienstige minderhede oor die wêreld heen. Minderhede is dikwels weens hulle klein getalle polities magteloos en maak daarvoor op deur op die ekonomie te fokus en sodoende hulleself te bemagtig. Dit maak hulle egter dikwels nog meer gehaat en die teiken vir aanvalle en diskriminerende wetgewing. Die voorbeelde is legio.
Die bekendste een is seker die voorbeeld van die Jode en veral hulle situasie in Duitsland voor en tydens die Tweede Wêreldoorlog. Alhoewel hulle in die ekonomie oorverteenwoordig was, was hulle maar slegs 1% van die bevolking. Die meeste mense het nie eens Jode geken nie omdat hulle so min was en boonop was hulle in sekere stede gekonsentreer. Ook die feit dat meeste Jode lojale landsburgers was, in die oorlog vir hulle land geveg en belasting betaal het, het hulle nie gehelp nie.
Minder bekend is die lot van die Jode in Rusland en Oos-Europa, waar hulle wel nie op groot skaal uitgeroei is nie (menende voor die Duitse verowering van die gebiede), maar ook maar gereeld onder aanvalle en diskriminasie moes deurloop. Die feit dat hulle al vir eeue daar leef het niks tot hulle veiligheid bygedra nie. Ook in die Midde-Ooste, vir eeue die plek van sterk Joodse minderheidsgemeenskappe, is Jode verdryf, aangeval en word teen gediskrimineer, sodat daar feitlik geen Jode buite Israel meer oor is in die Midde-Ooste nie. Die Armeniërs is soortgelyk soos die Jode gehaat en benadeel in die Midde-Ooste en selfs op groot skaal vermoor omdat hulle ‘n meer welvarende en godsdienstig unieke minderheid was.Nou is dit Arabiese Christene se beurt om die sondebok te wees.
Meer onlangse minderhede in veral die Derde Wêreld is die blankes in verskeie lande in Afrika soos Kenya, Zimbabwe, Kongo, Angola, om maar enkeles te noem. Hulle was die politieke en ekonomiese elite tot en met die einde van Europese beheer kort na die Tweede Wêreldoorlog en het daarna gepoog om ekonomies die lande aan die gang te hou en daardeur hulle plek in die lande te verseker. Alhoewel hulle getalle orals gering was (selde meer as 5% van die bevolking) en meeste van hulle lojale landsburgers was en uiters versigtig was om swart mense te na te kom, is hulle gedurig geteiken en as bedreiging vir nasiebou en ekonomiese bevryding uitgekryt en deur diskriminerende wetgewing aan bande gelê.
Ook nie-blanke minderhede, soos Arabiere, Libanese, Indiërs, wat selfs nog meer op die ekonomie gefokus het, was op dun ys. Die bekendste voorbeeld is die uitdrywing van die Indiërs uit Uganda onder Idi Amin, maar pleks van die “ekonomiese bevryding” vir die inheemse bevolking wat dit sou meebring het die ekonomie in duie gestort of het ander minderhede die gaping gevul.
In die Verre-Ooste vervul die Sjinese in lande soos Maleisië die rol van die ondernemers en daar volg dit dieselfde patroon as in Afrika: aanvalle, haatveldtogte en diskriminerende wetgewing deur die etniese en dikwels armer meerderheid.
In Suid-Afrika mag ons dalk voel dat die situasie effens anders is. Immers is die Afrikaners ’n inheemse volk, lojaal aan Suid-Afrika, het self gestem vir vreedsame en beheerde magsoorgawe en deur middel van die grondwet sekere basiese regte verskans. Ten spyte van sekere strelende woorde van leiers soos Mandela of Zuma oor die lojaliteit, waarde en inheemsheid van die Afrikaners is die situasie nie wesenlik anders as vir ander minderhede nie. Die Afrikaner het die politieke mag prysgegee en het hom op die ekonomie toegespits. Die meerderheid is egter nie tevrede om die ekonomie vir die minderheid te los, net so min soos in Kenya, Zimbabwe, Kongo of waar ook al. Die patroon van opruiende haatspraak, brutale aanvalle en diskriminerende wette is in wese dieselfde as elders. Dit wil voorkom asof minderhede keer op keer dieselfde, verkeerde strategie volg van politieke onbetrokkenheid aan die eenkant en ekonomiese bedrywigheid aan die ander kant.
Anders as meeste ander minderhede het die Afrikaner geen moederland om na terug te gaan nie. Dit weerhou swart nasionaliste egter nie daarvan om hulle te hanteer soos die ander “settlers”.
Wat die Afrikaner moet doen is om sy eie werklikhede te skep. Nie net as individu nie, maar as groep, nie vir die volgende paar jaar nie, maar vir die volgende geslag, nie in afhanklikheid van (en ook nie in vyandskap teen) die meerderheid nie, maar daarsonder, so vêr dit moontlik is. Dus: konsentreer waar jou getalle ‘n verskil maak, bemagtig jou nie net ekonomies nie, maar ook kultureel, polities en op onderwysgebied en veral wat arbeid betref en maak jouself as volk selfstandig. Dan is jy nie meer ‘n onbenydenswaardige minderheid wat hoop op genade van die meerderheid nie, maar ‘n vrye volk op eie grond.
by Orania Beweging | Des 1, 2015 | Nuus |
Talle vraagstukke wat Westerse lande vandag in die gesigstaar hou direk verband met die modernisme. Ons sien in besonder in Europa, maar ook ander Westerse lande hoe bevolkings verouder weens ʼn bevolkingsaanwas laer as die vervangingskoers. Dit skep ekonomiese uitdagings en gaan in die toekoms lei tot ʼn wesenlike tekort aan arbeid en ʼn tekort aan hulpbronne om na ʼn groot bejaarde bevolking om te sien.
Nog ʼn probleem van die tye is die groter afwysing van identiteit, groter individualisme en ʼn gevolglike verlies aan die talle voordele van gemeenskaplike belange. Oor die afgelope paar dekades is tradisie en modernisme teen mekaar opgestel. Westerlinge kies toenemend die pad van die modernisme en tree daarmee verby hul eie tradisie en identiteit.
Beide die demografiese en die identiteitsvraagstukke speel vandag voor ons oë af. Waarom laat Duitsland miljoene Moslems uit die Midde-Ooste en Afrika toe om op ʼn onwettige manier hul dorpe en stede binne te trek? Die antwoord is eenvoudig: Hulle het jong arbeid nodig en weens die verlies aan identiteit en tradisie beskou hulle alle mense as sodanig gelyk dat hulle blind is vir die kultuurverskille wat tussen hulself en immigrante heers.
Carlo Lancellotti, ʼn professor in Wiskunde by die Stadsuniversiteit in New York het onlangs ʼn uitstekende versameling van artikels en lesings deur die Italiaanse filosoof, Augusto Del Noce, in Engels gepubliseer. Del Noce, wat in 1989, oorlede is, het ʼn uitstekende aanvoeling vir die krisis wat Westerse lande nog sou tref, gehad toe hy in die tydperk na die Tweede Wêreldoorlog die uitdagings van modernisme bespreek het.
Die boek, The Crisis of Modernity, hanteer drie belangrike temas. Eerstens kyk dit na die modernisme en die gevolglike revolusie en sekularisering van die Westerse samelewing. Sy tweede tema is die opkoms van die tegnokratiese samelewing en as derde tema hanteer hy die vraag oor die oorlewing van die Westerse beskawing.
Del Noce het Marxisme as die kern van vandag se probleme beskou. Volgens hom was Marx se denke alles gebaseer op die beginsel dat vryheid slegs moontlik is indien jy slegs van selfskepping afhanklik is. Afhanklikheid van eksterne magte, en in besonder van God, moes volgens Marx volledig verwerp word.
Hierdie denke het ʼn groot rol gespeel in die kontrakultuurbeweging van die 1960’s wat sekularisasie in Westerse lande versnel het. Del Noce het egter nie net Marxistiese denke blameer nie. Ook Freudiaanse denke wat die tradisionele rol van seksuele verhoudings vernietig het, het ʼn groot rol gespeel in die skep van vandag se uitdagings, soos die lae bevolkingsaanwas in Europa.
Die Britse filosoof en skrywer, Roger Scruton, sluit in sy boek A Political Philosophy: Arguments for Conservatism, hierby aan deurdat hy die linkse veldtogte van die 1960’s in Europa beskryf as ʼn proses wat daarop uit was om instellings, soos die kerk, te vernietig ten einde ʼn sekulêre stelsel van identiteitlose individue te skep.
Hierdie prosesse is tans besig om in Suid-Afrika en onder Afrikaners te versnel. Konserwatiewe denkers, instellings en individue sal moet saamwerk om die kontrakultuurbeweging hier teen te werk anders sal ook ons tot sekulêre, identiteitlose wesens gereduseer word.
by Orania Beweging | Nov 27, 2015 | Nuus |
Argentinië: verkiesingsoorwinning van Mauricio Macri lui nuwe era in. Die era van “Kirchnerisme”, verteenwoordig deur die presidentskap van Nestor en Christina Kirchner, wat mekaar opgevolg het, het van 2003 tot nou toe geduur, dus ‘n tydperk van 12 jaar. Kirchnerisme het heelwat met die huidige Zuma-bewing in gemeen is ‘n soort sosialisme met ‘n welsynstaat en ‘n korrupte familiegroep en sy ondersteuners wat die mag behou en gunsies en gawes uitdeel. Wat buitelandse beleid betref het Kirchner bondgenootskappe met ander linkse regerings in Suid-Amerika asook Sjina gesmee en ‘n duidelike anti-Amerikanisme bedryf. Die ekonomiese beleid was een van die uitvoer van grondstowwe soos olie en landbouprodukte, veral na Sjina, danksy ‘n afgradering van die Peso, wat invoer uit Argentinië goedkoop gemaak het. Dit is ‘n poging om aan die langtermyn president/diktator Juan Peron en sy stelsel van Peronisme na te maak, sonder Peron en sy vrou Eva se charisma.
Christina Kirchner het na haar man se uittrede as president in 2007 by hom oorgeneem (hy is in 2010 onverwags oorlede) en is later herkies. Sy moes egter nou weens termynbeperkings uittree. Haar aangewese kandidaat as opvolger was Daniel Scioli, goewerneur van die provinsie Buenos Aires, verreweg die grootste en belangrikste provinsie (en sy amt kan as die tweede belangrikste pos in Argentinië beskou word) en op ‘n stadium ook visepresident onder Nestor Kirchner. Scioli het nie net die steun van die Peronisteparty en die establishment nie, maar ook van ‘n geoliede verkiesingsmasjien met ‘n aggressiewe jeugbeweging en hordes voetsoldate. Die magsbasis van die Kirchner’s is die armes en afhanklikes, wat danksy hulle sosialistiese beleid aansienlik vermeerder het. Onder die lang Kirchner-bewind het die opposisie gemarginaliseer geraak en talle sterk leiers van die pre-Kirchner-era het op die agtergrond getree.
Met die eerste rondte van die presidentsverkiesing is verwag dat Scioli reeds die nodige meerderheid sal kry (ten minste 40%, en meer as 10% afstand na die naaste kandidaat), maar hy het teleurstellend gevaar met 37%, teenoor Mauricio Macri met 34% en Sergio Massa met 21 % (en ander kleiner kandidate met 3-1%).
Mauricio Macri is burgemeester van die stad Buenos Aires en ‘n sakeman en staan vir die sentrum-regse opposisiealliansie Cambiemos (laat ons verander). Hy het as “underdog” na die uitkloprondte gegaan, maar het met sy persoonlikheid, sy goeie debatvoering en sy geur van die nuwe en van veranderinge na die jare van Kirchnerisme en ekonomiese stilstand en institusionele korrupsie het hy meer en meer ingehaal.
Nou, met Sondag se uitklopverkiesing, het Macri 52% teenoor Scioli se 48% gewen. Macri se steun was veral sterk onder die middelklas en die stedelinge en in sentrums soos Buenos Aires, Cordoba en Mendoza, Scioli was veral sterk onder die armes en die landelike dele, veral in die suide en noorde.
Daar wag geweldige uitdagings vir Macri: die ekonomie is teen die planke, nasionale reserwes uitgeput, inflasie hoog, die bevolking gepolariseer en die party van Kirchner, Frente por la Victoria, het ‘n meerderheid in die parlement. Macri moet die ekonomie liberaliseer sonder om die ou gevestigde belange en groepe soos vakbonde te veel te vervreem. Sy buitelandse beleid sal wegbeweeg van die bou van ‘n linkse blok in Suid-Amerika en fiskale afhanklikheid van Sjina en sal weer meer na die VSA en Europa uitreik, met wie Kirchner gereeld gebots het. Macri sal ook ‘n nuwe styl van regeer bring. Mev. Kirchner was polariserend, aggressief en het geen kritiek en ander opinies verdra nie en haar omring met kruipers en opgetree soos ‘n koningin. Macri is meer van ‘n spanspeler en ‘n tegnokraat en iemand wat ook kritiek teen homself kan vat.
Suid-Amerika word vandag feitlik orals deur linkse regerings regeer en sowat 10 jaar gelede het ‘n golf orals linkse presidente aan bewind gebring. Die oorwinning van Mauricio Macri kan dalk ‘n teengolf aan die gang sit. Linkse regerings het in meeste lande teleur gestel en onder hulle hers korrupsie, ekonomiese insinking, misdaad en swak bestuur. Ook in Brasilië is mense na meer as 15 jaar van die linkse Arbeidersparty moeg vir president Dilma Rousseff en in Venezuela kry die sosialiste na dekade lange wanbestuur en onderdrukking die wind van voor.
Spanje: 40 jaar van die einde van die Franco-bewind. 40 jaar gelede, op 20 November 1975, is die Spaanse diktator Francisco Franco na ‘n siekbed oorlede. ‘n Hele era, wat as Francisme bekendstaan en wat amper 40 jaar geduur het, het daarmee tot ‘n einde gekom. Spanje was die laaste land in Wes-Europa wat nie ‘n demokrasie was nie (Portugal se diktatorskap het ’n jaar vroeër tot ‘’n val gekom) en dit het dit ‘n soort anakronisme en oorblyfsel van die tyd voor die 2de Wêreldoorlog gemaak. Dit moet egter ook genoem word dat ook onder Franco modernisering en geleidelike liberalisering plaasgevind het en dat Spanje in die middel 1970’s nie met Spanje van die 1950’s vergelyk kan word, al was die politieke stelsel en sy hoof dieselfde.
Die Franco-era kan in 2 duidelike fases ingedeel word, die tyd van 1939 (Franco se oorwinning in die burgeroorlog) tot 1960 en die een en ‘n halwe dekade van 1960 tot 1975. In die eerste fase was Franco die diktator wat ‘n ultra-konserwatiewe en sterk katolieke en nasionalistiese bestel opgerig het en opposisie hardhandig onderdruk het. Ekonomies is outarkie voorgestaan, ook weens sanksies, maar dit het vele opofferings van die bevolking vereis. Spanje was internasionaal geïsoleerd, ekonomies agterlik en meesal arm en argaïes in talle opsigte. Na 1960, veral toe die isolasie in die verband van die koue oorlog opgebreek is en Spanje ‘n bondgenoot van die Weste geword het, het dinge begin verander. Die 1960’s was ook ‘n tyd van ongekende ekonomiese groei, massaverbuik en modernisering en ‘n goue tydperk. Dit was, terloops, in Suid-Afrika in dieselfde tydperk die geval en al twee lande, ten spyte van politieke isolasie, het van die hoogste groei in die wêreld gehad. In die geval van Suid-Afrika was dit veral danksy die sterk goudprys, in die geval van Spanje die opkoms van massa-toerisme. Die ekonomiese voorspoed was te danke aan Franco se ekonomiese liberalisering en die vrye hand vir tegnokrate om te hervorm (Franco self was ‘n militêr van opleiding en het min van ekonomie verstaan).
Die Franco-era het na die dood van Franco vinnig plek gemaak vir demokratisering. Franco het homself eintlik net as plekhouer vir die monargie (wat sedert die burgeroorlog “op ys” was) gesien en het die jong prins Juan Carlos as sy opvolger aangewys. Juan Carlos het ‘n proses van demokratisering ingelui en reeds ‘n jaar en ‘n half na Franco se dood het vrye verkiesings plaasgevind, wat die Christen-Demokraat Adolfo Suarez gewen het. ‘n Jaar later is ‘n nuwe grondwet aanvaar. Die einde van die Franco-era was ‘n bestuurde en evolusionêre proses, ten spyte van talle linkse pogings tot omvêrwerping van die gevestigde orde. Die ou garde het die proses aanvaar (met enkele uitsonderings na, soos ‘n staatsgreeppoging in 1981) omdat geen te radikale politieke verandering plaasgevind het nie. Franco se familie en hulle sakebelange is onaangeraak gelaat, straatname en monumente uit die Franco-era is behou (tot en met die regering van die sosialis Zapatero in 2004 en daarna) en oor die burgeroorlog is ‘n kombers getrek en die verlede begrawe. Tot vandag toe bestaan daar ‘n soort konsensus dat die ou wonde nie oopgekrap moet word nie, omdat elke familie verskeur was tussen Franco-aanhangers en teenstanders. Die meeste Spanjaarde aanvaar Franco as deel van hulle geskiedenis, maar daar is min Franco-bewonderaars. Van amptelike kant word die diktatorskap egter as iets gesien waaroor eerder geswyg moet word, die wonde is nog nie genees nie. Apologete vir Franco verwys egter te reg daarop dat in die konteks van die tyd die Franco-bewind beter vir Spanje was as ‘n kommunistiese en pro-sowjetiese bewind. In die burgeroorlog was daar geen keuse vir ‘n liberale demokrasie nie, net twee euwels, waarvan Franco en sy nasionalistiese en ultra-konserwatiewe bewind die kleiner een was. Die hervormings van die 1960’s het die Franco-era vir meeste mense heel aanvaarbaar gemaak, anders as die wrede onderdrukking en hongersnood wat terselfdertyd in Sjina, Rusland en Oos-Europa geheers het.
by Orania Beweging | Nov 25, 2015 | Nuus |
Die Kanadese skrywer, Annabel Lyon, skryf in die voorwoord tot ʼn onlangse uitgawe van die groot Griekse historikus, Arrian, se The Campaigns of Alexander dat elke era sy eie Alexander moet hê: Die groot held wie se dade die wêreld in ʼn kort tydjie verander.
Toe Alexander die Grote in 336 voor Christus op die jong ouderdom van 20 koning van die antieke Griekse Ryk Makedonië geword het, het hy nie op hom laat wag om die sterk ryk wat deur sy vader opgebou is net in stand te hou nie, maar het hy binne twaalf jaar die tweede grootste veroweraar van grondgebied in die wêreld se geskiedenis geword. The Campaigns of Alexander is reeds in die tweede eeu deur Arrian geskryf, maar is vandag steeds boeiende leesstof. Alexander se groot leermeester was Aristoteles en dit is juis Aristoteles wat vir die jong Alexander met literatuur tot groot dinge geïnspireer het.
Alexander het eers die verskillende Griekse stadstate, wat voortdurend in oorlog teen mekaar gewikkel was, verenig. Daarna het hy die Persiese Ryk en Antieke Egipte verower en so een van die grootste veroweraars van alle tye geword. Alexander is op 32-jarige ouderdom skielik in Babilon oorlede. Teen die tyd van sy dood was die Griekse kultuur en tradisie op ʼn hoogtepunt. Binne 50 jaar daarna het die Griekse literatuur begin kwyn en ʼn lang tyd van Griekse kulturele verval sou volg.
Wat is die relevansie van Alexander die Grote vir ons vandag? Lyon sê tereg dat elke era of tyd ʼn groot held nodig het.
Op 4 November 2008 het Barack Obama voor ʼn skare van 240 000 mense in ʼn park in Chicago in die VSA sy oorwinning in die Amerikaanse presidentsverkiesing met ʼn toespraak vol groot planne gevier. Obama sou die stygende oseane stormloop. Hy sou wêreldvrede bring en sou Amerikaners soos nog nooit vantevore verenig het nie. Hy sou met diplomasie terroriste op hul knieë dwing. Op daardie dag in November 2008 was Obama vir miljoene Amerikaners, maar ook mense regoor die wêreld Alexander die Grote van die 21-ste eeu. Nou wel nie ‘n leier wat met oorlog en veldslae groot dinge sou vermag nie, maar wel ‘n leier wat die wêreld se probleme met ‘n nuwe, vars aanslag sou oplos.
Op 12 November vanjaar voer Obama tydens ʼn televisie-onderhoud aan dat Amerika en sy bondgenote daarin kon slaag om die terroristegroep die Islamitiese Staat van Sirië en Irak (ISIS) onder beheer te bring. Presies ʼn dag nadat hierdie onderhoud met Obama uitgesaai is, het ʼn paar terroriste van ISIS die Franse hoofstad Parys aangeval. Elf dae later bewe die hele Europa steeds van vrees. Die idee dat Amerika die ISIS-probleem onder beheer gehad het, is vinnig verkeerd bewys.
Obama se reputasie het groot skade gelei. ʼn Meerderheid van Amerikaners glo lankal nie meer dat hy hul Alexander is nie. Ook in Europa val die een groot leier na die ander.Angela Merkel, eens op ‘n tyd die groot leier van Europa word tans by die dag ongewilder in Duitsland en die hele Europa. Regdeur Europa wys peilings dat huidige regerings verslaan sal word sou daar vandag verkiesings plaasvind. ‘n Algemene uitsigloosheid, kommer oor die toekoms en vrees vir die onbekende heers onder baie Westerlinge. Die kulturele verval in die Weste is vandag algemeen bekend en is reeds goed gedokumenteer, veral deur die Amerikaanse paleo-konserwatiewe skrywer Pat Buchanan.
Waar is vandag se Alexander, opgevoed deur vandag se Aristoteles en geïnspireer deur ʼn trots op Westerse waardes en identiteit? Is ons finaal uitgelewer aan die verval van die Weste of sal ʼn nuwe Alexander na vore tree? Net die tyd sal leer. Intussen duur die populisme, kulturele verval en toekomsvrees voort terwyl Westerse beskawings demografies onder druk begin kom.
by Orania Beweging | Nov 20, 2015 | Nuus |
Deur dr. Wynand Boshoff
In Suid-Afrika word selfbeskikking dikwels as ‘n begrip beskou waarby slegs Afrikaners belang het en wat hoofsaaklik (alleenlik) deur Orania en die Vryheidsfront Plus nagestreef word. ‘n Onlangse beraad in Springbok wat deur ses bruin gemeenskappe sowel as Orania bygewoon is, bewys egter die teendeel. Dié beraad, onder beskerming van die Stigting vir Nasionale Minderhede, het juis manier bespreek waarop ‘n gemeenskap sy selfstandigheid in ‘n sentralistiese bestel kan uitbou.
Die gemeenskappe wat betrokke was, is Komaggas, Concordia, Steinkopf, Pella, Mier, Eksteenskuil en Orania. Eersgenoemde vyf is bruin gemeenskappe wat in die negentiende eeu tot stand gekom het. Tradisionele Khoisan-strukture was reeds ernstig onder druk van swart stamme, toe blanke veeboere op die toneel verskyn het. Militêre aksie het uiteindelik nie die grootste skade aangerig nie, maar wel verwoestende pokke-epidemies wat met skepe uit Europa binnegekom het.
Met stamstrukture wat uitmekaar geval het, en met Europese opvattings oor grondbesit wat die botoon gevoer het, was daar sendelinge (veral uit Duitsland en Engeland) wat dié stamme onder beskerming geneem het. Hulle Europese agtergrond het hulle in staat gestel om hulle volgelinge se belange doeltreffend te beskerm, maar ook hulle ekonomiese aktiwiteit by die nuwe sosiale omstandighede aan te pas. So het dertien gebiede in die Wes-Kaap, agt in die Noord-Kaap en drie in die Vrystaat hulleself gehandhaaf en is uitgebou.
In 1959 is die betrokke gronde aan die Minister van Naturelle Sake as trustee oorgedra. Na 1984 is dit na die Raad van Verteenwoordigers oorgedra, wat die funksionering daarvan in Wet nommer 9 uitgestippel het. In 1998 is die Wet op die Transformasie van Sekere Landelike Gebiede (TRANCRAA volgens die Engelse benaming) aangeneem. Daar is beweer dat die wet se doel is om grond aan die gemeenskappe terug te gee, maar uiteindelik kom dit meer op ‘n oordrag van grond na die omringende munisipaliteite neer. Dit werk soos volg:
Gemeenskappe kon kies of die munisipaliteit volle beheer oor hulle grond moes neem, of hulle ‘n Gemeenskapseiendomsvereniging vir die doel wou skep, en of hulle ‘n alternatief wou voorstel. Die Gemeenskapseiendomsvereniging sou egter slegs eienaars van die “plaasgedeeltes” of buitemeent word, aangesien die nedersettings of binnemeent buitendien deur die munisipaliteite oorgeneem is. Strukture vir dienslewering en geskilbeslegting wat vir dekades goed gewerk het, is eensklaps met munisipale dienste van buite vervang – waarvoor betaal moet word, sonder bevredigende lewering van dienste. In effek het die TRANCRAA-wetgewing die hart uit die gemeenskappe geruk.
Twintig jaar gelede het die sogenaamde Wet nommer nege Gebiede waarskynlik nie voorsien dat hulle in die toekoms by dié beraad se ander deelnemers aansluiting sou vind nie. Na elke afvaardiging bekendgestel is, was die eerste deelnemer dr. Pieter Mulder van die Vryheidsfron Plus. Hy het ‘n uiteensetting gegee van die roetekaart na selfbeskikking, om aan te dui dat dit ‘n reg is wat wel in abstrakte terme bestaan, maar wat stukkie vir stukkie konkreet verwerf moet word. Met die oog daarop is sowel die VF se aanvanklike deurbrake in die onderhandelingsproses rondom 1994 belangrik, as veldtogte wat sedertdien gevoer is. Hy het homself en sy party beskikbaar gestel om sake wat hierdie gemeenskappe raak, na die parlement te neem.
Mnr. Carel Boshoff was die volgende deelnemer. Hy het ‘n uiteensetting van Orania se identiteit en stryd om erkenning gegee. Die belangrikste daarvan is die verskillende instellings wat tot stand gebring is, vir ‘n wye verskeidenheid van doelwitte. Van die aandeleblok waarin die gemeenskap aanvanklik ‘n regspersoon gekry het, na die Orania Beweging wat as kultuur-politieke voertuig vir Orania optree, na verskillende verenigings, tot die koöperatiewe bank as ekonomiese drywer is bespreek. Die vertrekpunt was nie om te sê wat ander gemeenskappe moet doen nie, maar om aan te dui watter aksies vir Orania meer en minder suksesvol was.
Mnr. Danie Coetzee is ‘n internasionaal erkende kundige op die gebied van alternatiewe energie. Hy het aangedui hoe hie verre westelike dele van die Noord-Kaap in ‘n unieke posisie is om sonkrag op te wek wanneer die behoefte daaraan in Gauteng op die hoogste is. Verder het hy die huidige stand van tegnologiese ontwikkeling, die regulatoriese omgewing en die moontlike ekonomiese impak van sonkrag projekte uitgelig.
Elke bydrae is met lewendige bespreking opgevolg. Dit is duidelik dat elkeen van die gemeenskappe ywerig is om nie meer te wag dat ander mense se aksies tot hulle voordeel strek nie, maar om hulle toekoms in hulle eie hande te neem. Leiers het ooreengestem om na hulle gemeenskappe terug te gaan, sodat die gesprek in 2016 voortgesit kan word.
Intussen het Komaggas, onder leiding van mnr. Clifton van Rheenen reeds die grondwerk vir sonkragontwikkeling begin doen. Aanduidings is dat die eerste treë geneem is op ‘n pad wat Noord-Kaapse gemeenskappe meer selfstandig, maar ook meer interafhanklik, kan maak.

by Orania Beweging | Nov 19, 2015 | Nuus |
Die slagspreuk van die “botsings van beskawings”, met erkenning aan wyle prof. Samuel Huntington, word deesdae weer gereeld gehoor as oor die wêreldwye terrorismeoorlog van Islamiete teen die Weste en sy bondgenote gepraat word. Leiers van die Weste praat gereeld daarvan dat “Westerse waardes” en die “Westerse lewenswyse” verdedig moet word teen die magte van die bose. Dit laat ‘n mens terugdink aan die tye van die Koue Oorlog, toe ook twee onversoenbare ideologië en wêreldbeskouings teenoor mekaar gestaan het, naamlik kommunisme en die Westerse kapitalisme. Die Koue Oorlog is, soos die naam sê, gelukkig nie met militêre wapens gevoer nie, maar ekonomies en veral ook wat idees betref het. Veral leiers soos Ronald Reagan en Margret Thatcher, al twee konserwatief, het die superioriteit van die Weste en sy waardes verteenwoordig. Die waardes was persoonlike en politieke vryheid (binne die Westerse normes wat oor eeue saamgekom het, nie as ‘n nihilistiese losbandigheid nie) en ekonomiese ontwikkeling en vooruitgang. Die mense wat onder kommunisme geleef het, wou ook soos die Weste leef, materieel sowel as wat leefwyse en ideale betref.
Intussen het die Weste talle van sy waardes so op sy kop gekeer dat mense nie meer daartoe aangetrokke voel nie en dat dit geen saambindende krag meer verteenwoordig nie.
Godsdiensvryheid beteken die vryheid om jou godsdiens uit te leef, maar intussen het dit ‘n uitdrywing van godsdiens uit die openbare sfeer geword.
Vryheid van spraak beteken die reg om jou opinie te lug, maar dit het ontaard in ‘n vryheid om sonder perke te beledig en enige perversiteit tot kuns of leefstyl te verklaar.
Vryheid van beweging het ontaard in globale ongebondenheid en die verwydering van grense tussen volke en nasies. Onbeperkte toerisme asook onbeperkte vlugtelingstrome is die gevolg.
Die beskerming van en verdraagsaamheid teenoor sogenaamde minderhede het ontaard in die bevordering van enige randgroep en die verwydering van tradisionele vorme van saamleef.
Ekonomiese vryheid het ontaard in globale afhanklikheid van kommunistiese Sjina, wat sy mense onderdruk en die wêreld oorspoel met swak gehalte produkte wat plaaslike vervaardiging dooddruk.
En, dalk die belangrikste, die Weste het die geloof in sy eie meerderwaardigheid verloor en het in sy poging om almal te paai en om almal en alles as gelykwaardig te sien, juis gemaak dat diegene wat eens die Weste as voorbeeld gesien het, alle respek daarvoor verloor het. Veral mense uit nie-Westerse samelewings, synde voormalige kommunistiese diktatorskappe of Derde Wêreld lande, het respek vir outoriteit en duidelike reëls, mits dit saamgaan met regverdigheid.
Verdraagsaamheid is die gonswoord in die Weste, maar verdraagsaamheid moet perke hê. As alles relatief is, as alles ewe waardevol en goed is, dan kan daar nie beoordeling en onderskeiding wees nie. Meer nog, verdraagsaamheid word nou as die groot Westerse prestasie voorgehou waarvoor mense nou moet opstaan, maar dit is juis die ironie van oordrewe verdraagsaamheid dat jy vir niks kan opstaan nie, omdat jy vir niks staan nie. Waar alles gelykwaardig is verdien niks om verdedig te word nie.
Die Weste het die morele hoërgrond wat dit nog tydens en kort na die die Koue Oorlog gehad het, verloor. Dit mag die rede, of ten minste een van die redes wees, hoekom die massas mense uit die Derde Wêreld die Weste haat, al gebruik hulle sy vryheid, sy materiële voorspoed en sy tegnologie vir sy eie ondermyning.
Mense was bereid om te veg en te sterf vir hulle godsdiens, vir hulle erfenis, hulle land en volk. Dit alles is intussen in die Weste verdag en afstootlik, maar in die lande waar meeste immigrante vandaan kom, is dit bepalend. Radikale Islam kan nie met verdraagsaamheid beveg word nie, want juis die verdraagsaamheid maak dit vandag so maklik vir terroriste daarom aan te val wat hulle haat. Die Weste moet homself weer met inhoud vul, sy fondasies, soos die Christendom en die Westerse filosofie en kuns, herontdek en besef dat dit die moeite is om daarvoor te veg. Niemand sal veg vir die nihilistiese ideologië van die afgelope dekades nie, want om vir niks te veg is juis onmoontlik.