Die slagspreuk van die “botsings van beskawings”, met erkenning aan wyle prof. Samuel Huntington, word deesdae weer gereeld gehoor as oor die wêreldwye terrorismeoorlog van Islamiete teen die Weste en sy bondgenote gepraat word. Leiers van die Weste praat gereeld daarvan dat “Westerse waardes” en die “Westerse lewenswyse” verdedig moet word teen die magte van die bose. Dit laat ‘n mens terugdink aan die tye van die Koue Oorlog, toe ook twee onversoenbare ideologië en wêreldbeskouings teenoor mekaar gestaan het, naamlik kommunisme en die Westerse kapitalisme. Die Koue Oorlog is, soos die naam sê, gelukkig nie met militêre wapens gevoer nie, maar ekonomies en veral ook wat idees betref het. Veral leiers soos Ronald Reagan en Margret Thatcher, al twee konserwatief, het die superioriteit van die Weste en sy waardes verteenwoordig. Die waardes was persoonlike en politieke vryheid (binne die Westerse normes wat oor eeue saamgekom het, nie as ‘n nihilistiese losbandigheid nie) en ekonomiese ontwikkeling en vooruitgang. Die mense wat onder kommunisme geleef het, wou ook soos die Weste leef, materieel sowel as wat leefwyse en ideale betref.

Intussen het die Weste talle van sy waardes so op sy kop gekeer dat mense nie meer daartoe aangetrokke voel nie en dat dit geen saambindende krag meer verteenwoordig nie.

Godsdiensvryheid beteken die vryheid om jou godsdiens uit te leef, maar intussen het dit ‘n uitdrywing van godsdiens uit die openbare sfeer geword.

Vryheid van spraak beteken die reg om jou opinie te lug, maar dit het ontaard in ‘n vryheid om sonder perke te beledig en enige perversiteit tot kuns of leefstyl te verklaar.

Vryheid van beweging het ontaard in globale ongebondenheid en die verwydering van grense tussen volke en nasies. Onbeperkte toerisme asook onbeperkte vlugtelingstrome is die gevolg.

Die beskerming van en verdraagsaamheid teenoor sogenaamde minderhede het ontaard in die bevordering van enige randgroep en die verwydering van tradisionele vorme van saamleef.

Ekonomiese vryheid het ontaard in globale afhanklikheid van kommunistiese Sjina, wat sy mense onderdruk en die wêreld oorspoel met swak gehalte produkte wat plaaslike vervaardiging dooddruk.

En, dalk die belangrikste, die Weste het die geloof in sy eie meerderwaardigheid verloor en het in sy poging om almal te paai en om almal en alles as gelykwaardig te sien, juis gemaak dat diegene wat eens die Weste as voorbeeld gesien het, alle respek daarvoor verloor het. Veral mense uit nie-Westerse samelewings, synde voormalige kommunistiese diktatorskappe of Derde Wêreld lande, het respek vir outoriteit en duidelike reëls, mits dit saamgaan met regverdigheid.

Verdraagsaamheid is die gonswoord in die Weste, maar verdraagsaamheid moet perke hê. As alles relatief is, as alles ewe waardevol en goed is, dan kan daar nie beoordeling en onderskeiding wees nie. Meer nog, verdraagsaamheid word nou as die groot Westerse prestasie voorgehou waarvoor mense nou moet opstaan, maar dit is juis die ironie van oordrewe verdraagsaamheid dat jy vir niks kan opstaan nie, omdat jy vir niks staan nie. Waar alles gelykwaardig is verdien niks om verdedig te word nie.

Die Weste het die morele hoërgrond wat dit nog tydens en kort na die die Koue Oorlog gehad het, verloor. Dit mag die rede, of ten minste een van die redes wees, hoekom die massas mense uit die Derde Wêreld die Weste haat, al gebruik hulle sy vryheid, sy materiële voorspoed en sy tegnologie vir sy eie ondermyning.

Mense was bereid om te veg en te sterf vir hulle godsdiens, vir hulle erfenis, hulle land en volk. Dit alles is intussen in die Weste verdag en afstootlik, maar in die lande waar meeste immigrante vandaan kom, is dit bepalend. Radikale Islam kan nie met verdraagsaamheid beveg word nie, want juis die verdraagsaamheid maak dit vandag so maklik vir terroriste daarom aan te val wat hulle haat. Die Weste moet homself weer met inhoud vul, sy fondasies, soos die Christendom en die Westerse filosofie en kuns, herontdek en besef dat dit die moeite is om daarvoor te veg. Niemand sal veg vir die nihilistiese ideologië van die afgelope dekades nie, want om vir niks te veg is juis onmoontlik.

Blog Single

As jy nie weet waarvoor jy staan nie, kan jy nie terugveg nie.

by | Nov 19, 2015 | Nuus | 1 comment

1 Comment

  1. Ben de Klerk

    Baie waar Sebastiaan. Ook onder die vaandel van menseregte word baie onreg gepleeg. Lyk deesdae of net die Liberales regte het.Hulle val alles aan wat enigsins waardes verteenwoordig maar staan vir niks. Baie wat die Nuwe SA gepromoveer het en ANC ondersteun het , skram nou weg en se dis nie hierdie ANC waarvoor hulle hul steun gegee het nie.

    Reply

Submit a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

two × three =