Die Kanadese skrywer, Annabel Lyon, skryf in die voorwoord tot ʼn onlangse uitgawe van die groot Griekse historikus, Arrian, se The Campaigns of Alexander dat elke era sy eie Alexander moet hê: Die groot held wie se dade die wêreld in ʼn kort tydjie verander.
Toe Alexander die Grote in 336 voor Christus op die jong ouderdom van 20 koning van die antieke Griekse Ryk Makedonië geword het, het hy nie op hom laat wag om die sterk ryk wat deur sy vader opgebou is net in stand te hou nie, maar het hy binne twaalf jaar die tweede grootste veroweraar van grondgebied in die wêreld se geskiedenis geword. The Campaigns of Alexander is reeds in die tweede eeu deur Arrian geskryf, maar is vandag steeds boeiende leesstof. Alexander se groot leermeester was Aristoteles en dit is juis Aristoteles wat vir die jong Alexander met literatuur tot groot dinge geïnspireer het.
Alexander het eers die verskillende Griekse stadstate, wat voortdurend in oorlog teen mekaar gewikkel was, verenig. Daarna het hy die Persiese Ryk en Antieke Egipte verower en so een van die grootste veroweraars van alle tye geword. Alexander is op 32-jarige ouderdom skielik in Babilon oorlede. Teen die tyd van sy dood was die Griekse kultuur en tradisie op ʼn hoogtepunt. Binne 50 jaar daarna het die Griekse literatuur begin kwyn en ʼn lang tyd van Griekse kulturele verval sou volg.
Wat is die relevansie van Alexander die Grote vir ons vandag? Lyon sê tereg dat elke era of tyd ʼn groot held nodig het.
Op 4 November 2008 het Barack Obama voor ʼn skare van 240 000 mense in ʼn park in Chicago in die VSA sy oorwinning in die Amerikaanse presidentsverkiesing met ʼn toespraak vol groot planne gevier. Obama sou die stygende oseane stormloop. Hy sou wêreldvrede bring en sou Amerikaners soos nog nooit vantevore verenig het nie. Hy sou met diplomasie terroriste op hul knieë dwing. Op daardie dag in November 2008 was Obama vir miljoene Amerikaners, maar ook mense regoor die wêreld Alexander die Grote van die 21-ste eeu. Nou wel nie ‘n leier wat met oorlog en veldslae groot dinge sou vermag nie, maar wel ‘n leier wat die wêreld se probleme met ‘n nuwe, vars aanslag sou oplos.
Op 12 November vanjaar voer Obama tydens ʼn televisie-onderhoud aan dat Amerika en sy bondgenote daarin kon slaag om die terroristegroep die Islamitiese Staat van Sirië en Irak (ISIS) onder beheer te bring. Presies ʼn dag nadat hierdie onderhoud met Obama uitgesaai is, het ʼn paar terroriste van ISIS die Franse hoofstad Parys aangeval. Elf dae later bewe die hele Europa steeds van vrees. Die idee dat Amerika die ISIS-probleem onder beheer gehad het, is vinnig verkeerd bewys.
Obama se reputasie het groot skade gelei. ʼn Meerderheid van Amerikaners glo lankal nie meer dat hy hul Alexander is nie. Ook in Europa val die een groot leier na die ander.Angela Merkel, eens op ‘n tyd die groot leier van Europa word tans by die dag ongewilder in Duitsland en die hele Europa. Regdeur Europa wys peilings dat huidige regerings verslaan sal word sou daar vandag verkiesings plaasvind. ‘n Algemene uitsigloosheid, kommer oor die toekoms en vrees vir die onbekende heers onder baie Westerlinge. Die kulturele verval in die Weste is vandag algemeen bekend en is reeds goed gedokumenteer, veral deur die Amerikaanse paleo-konserwatiewe skrywer Pat Buchanan.
Waar is vandag se Alexander, opgevoed deur vandag se Aristoteles en geïnspireer deur ʼn trots op Westerse waardes en identiteit? Is ons finaal uitgelewer aan die verval van die Weste of sal ʼn nuwe Alexander na vore tree? Net die tyd sal leer. Intussen duur die populisme, kulturele verval en toekomsvrees voort terwyl Westerse beskawings demografies onder druk begin kom.
Jy is reg, ons het ‘n ‘Alexander die Grote’ nodig. Een wie onpartydig en met die gawe van EWIGE LIG & WAARHEID die pad onbeskaamd en onbevrees sal kan aanwys soos hy gelei word om te doen
Innige groete
Oom rev
Wat het van myboodskap geword? Julle “Captcha Code” werk blykbaar nie.
(Tweede poging. Die eerste een het skynbaar verlore geraak.)
Elke tyd het sy eie Alexander nodig?
Twak, snert en nonsens.
Kyk wat het die veroweraar Alexander agtergelaat: ‘n reusagtige ryk wat binne enkele jare na sy dood weer uitmekaargeval het.
Dit was slegs op aanbidding van sy eie persoonlikheid gegrond, nie op enige blywende beginsels nie.
Sy grootste sukses was montlik die stigting van die stad Aleksandrie, wat eeue lank ‘n kulturele sentrum daargestel het, hoofsaaklik as gevolg van Alexander se opvolgers se bydraes.
Kyk wat het ander veroweraars agtergelaat:
* Die Mongole – het Europa binnegeval (Dsjingis Khan), dood en vernietiging gesaai, niks blywends agtergelaat nie.
* Napoleon – het feitlik die hele Europa verower en eers met Rusland misluk. Van sy ryk het niks oorgebly nie.
* In suidelike Afrika, Tsjaka wat honderdduisende mense uitgeroei het. Hy was feitlik vergete, totdat die ANC sy naam aan Durban se lughawe gegee het om inkomende toeriste te verwelkom.
* In Ooseuropa – Lenin, Stalin en ook Chroesjtsjof wat miljoene mense uitgemoor het ter wille van die kommunistiese ideologie, wat vandag nog net in Suid-Afrika by die klein maar invloedryke Kommunistiese Party floreer.
Nee, ons het nie veroweraars nodig nie. Ons het staatkundige bouers nodig.
Voorbeelde uit die Duitse geskiedenis:
a) Otto I (912-973), Duitse keiser, wat verdedig en gebou het maar nie verower nie.
b) Friedrich Wilhelm I (1688-1744), die Pruisiese “Soldatekoning”, wat die beste staande weermag in Europa opgebou het en nooit oorlog gevoer het nie. Sy hoofbelangstelling was opbou van landbou, handel en nywerheid in die arm land Pruise (wat uit verskeie los gebiede bestaan het).
c) Die Hanse-bond in Noord-Duitsland (ca. 1300 tot 1750), ‘n redelik los vereniging van stede en stadstate, ter bevordering van wedersydse handel en beskerming. ‘n Hele paar elemente uit die Hanse se geskiedenis sal vir die huidige situasie in Suid-Afrika interessant wees.
Die skryfster Annabel Lyon in Kanada verkeer moontlik te ver binne-in die Angelsaksiese kultuurkring om ‘n goeie uitsig oor sy grense te kan he. Hierdie gevaar vir Engelstaliges se siening van die wereld as geheel is reeds deur NP Van Wyk Louw uitgewys (Die vensters oop! in: Maskers van die Erns, 1955). Wat ons nodig het – veral in die huidige Suid-Afrika – is nie groot oeverblindende komete nie (soos Alexander maar was) maar bestendige en doelgerigte individue na wie mens kan kyk en luister sonder om skade aan jou eie siel te ly!
Groete,
Klaus Klein
012-331 4335 / 072-493 6942
26e Laan 805, Rietfontein, Pretoria.
Ek stem met u saam dat ons nie ‘n nuwe veroweraar nodig het nie. Wat ons wel nodig het is ‘n sterk Westerse leier wat bereid is om die Westerse beskawing te beskerm. Viktor Orban van Hongarye is tot ‘n baie beperkte mate nogals deesdae so iemand. Selfs Putin beïndruk my op sekere terreine. Ek probeer glad nie deur my artikel Alexander se dade verheerlik nie, maar probeer daarop wys hoe beskawings voortdurend van leierskap afhanklik is. U Duitse voorbeelde is briljant en ek stem heeltemal daarmee saam. Persoonlik dink ek ons kan baie leer uit die Duitse geskiedenis, sowel as uit die Oostenryk-Hongaarse Ryk.