fbpx

CrisisOfModernityTalle vraagstukke wat Westerse lande vandag in die gesigstaar hou direk verband met die modernisme. Ons sien in besonder in Europa, maar ook ander Westerse lande hoe bevolkings verouder weens ʼn bevolkingsaanwas laer as die vervangingskoers. Dit skep ekonomiese uitdagings en gaan in die toekoms lei tot ʼn wesenlike tekort aan arbeid en ʼn tekort aan hulpbronne om na ʼn groot bejaarde bevolking om te sien.

Nog ʼn probleem van die tye is die groter afwysing van identiteit, groter individualisme en ʼn gevolglike verlies aan die talle voordele van gemeenskaplike belange. Oor die afgelope paar dekades is tradisie en modernisme teen mekaar opgestel. Westerlinge kies toenemend die pad van die modernisme en tree daarmee verby hul eie tradisie en identiteit.

Beide die demografiese en die identiteitsvraagstukke speel vandag voor ons oë af. Waarom laat Duitsland miljoene Moslems uit die Midde-Ooste en Afrika toe om op ʼn onwettige manier hul dorpe en stede binne te trek? Die antwoord is eenvoudig: Hulle het jong arbeid nodig en weens die verlies aan identiteit en tradisie beskou hulle alle mense as sodanig gelyk dat hulle blind is vir die kultuurverskille wat tussen hulself en immigrante heers.

Carlo Lancellotti, ʼn professor in Wiskunde by die Stadsuniversiteit in New York het onlangs ʼn uitstekende versameling van artikels en lesings deur die Italiaanse filosoof, Augusto Del Noce, in Engels gepubliseer. Del Noce, wat in 1989, oorlede is, het ʼn uitstekende aanvoeling vir die krisis wat Westerse lande nog sou tref, gehad toe hy in die tydperk na die Tweede Wêreldoorlog die uitdagings van modernisme bespreek het.

Die boek, The Crisis of Modernity, hanteer drie belangrike temas. Eerstens kyk dit na die modernisme en die gevolglike revolusie en sekularisering van die Westerse samelewing. Sy tweede tema is die opkoms van die tegnokratiese samelewing en as derde tema hanteer hy die vraag oor die oorlewing van die Westerse beskawing.

Del Noce het Marxisme as die kern van vandag se probleme beskou. Volgens hom was Marx se denke alles gebaseer op die beginsel dat vryheid slegs moontlik is indien jy slegs van selfskepping afhanklik is. Afhanklikheid van eksterne magte, en in besonder van God, moes volgens Marx volledig verwerp word.

Hierdie denke het ʼn groot rol gespeel in die kontrakultuurbeweging van die 1960’s wat sekularisasie in Westerse lande versnel het. Del Noce het egter nie net Marxistiese denke blameer nie. Ook Freudiaanse denke wat die tradisionele rol van seksuele verhoudings vernietig het, het ʼn groot rol gespeel in die skep van vandag se uitdagings, soos die lae bevolkingsaanwas in Europa.

Die Britse filosoof en skrywer, Roger Scruton, sluit in sy boek A Political Philosophy: Arguments for Conservatism, hierby aan deurdat hy die linkse veldtogte van die 1960’s in Europa beskryf as ʼn proses wat daarop uit was om instellings, soos die kerk, te vernietig ten einde ʼn sekulêre stelsel van identiteitlose individue te skep.

Hierdie prosesse is tans besig om in Suid-Afrika en onder Afrikaners te versnel. Konserwatiewe denkers, instellings en individue sal moet saamwerk om die kontrakultuurbeweging hier teen te werk anders sal ook ons tot sekulêre, identiteitlose wesens gereduseer word.