Deur dr. Wynand Boshoff
In Suid-Afrika word selfbeskikking dikwels as ‘n begrip beskou waarby slegs Afrikaners belang het en wat hoofsaaklik (alleenlik) deur Orania en die Vryheidsfront Plus nagestreef word. ‘n Onlangse beraad in Springbok wat deur ses bruin gemeenskappe sowel as Orania bygewoon is, bewys egter die teendeel. Dié beraad, onder beskerming van die Stigting vir Nasionale Minderhede, het juis manier bespreek waarop ‘n gemeenskap sy selfstandigheid in ‘n sentralistiese bestel kan uitbou.
Die gemeenskappe wat betrokke was, is Komaggas, Concordia, Steinkopf, Pella, Mier, Eksteenskuil en Orania. Eersgenoemde vyf is bruin gemeenskappe wat in die negentiende eeu tot stand gekom het. Tradisionele Khoisan-strukture was reeds ernstig onder druk van swart stamme, toe blanke veeboere op die toneel verskyn het. Militêre aksie het uiteindelik nie die grootste skade aangerig nie, maar wel verwoestende pokke-epidemies wat met skepe uit Europa binnegekom het.
Met stamstrukture wat uitmekaar geval het, en met Europese opvattings oor grondbesit wat die botoon gevoer het, was daar sendelinge (veral uit Duitsland en Engeland) wat dié stamme onder beskerming geneem het. Hulle Europese agtergrond het hulle in staat gestel om hulle volgelinge se belange doeltreffend te beskerm, maar ook hulle ekonomiese aktiwiteit by die nuwe sosiale omstandighede aan te pas. So het dertien gebiede in die Wes-Kaap, agt in die Noord-Kaap en drie in die Vrystaat hulleself gehandhaaf en is uitgebou.
In 1959 is die betrokke gronde aan die Minister van Naturelle Sake as trustee oorgedra. Na 1984 is dit na die Raad van Verteenwoordigers oorgedra, wat die funksionering daarvan in Wet nommer 9 uitgestippel het. In 1998 is die Wet op die Transformasie van Sekere Landelike Gebiede (TRANCRAA volgens die Engelse benaming) aangeneem. Daar is beweer dat die wet se doel is om grond aan die gemeenskappe terug te gee, maar uiteindelik kom dit meer op ‘n oordrag van grond na die omringende munisipaliteite neer. Dit werk soos volg:
Gemeenskappe kon kies of die munisipaliteit volle beheer oor hulle grond moes neem, of hulle ‘n Gemeenskapseiendomsvereniging vir die doel wou skep, en of hulle ‘n alternatief wou voorstel. Die Gemeenskapseiendomsvereniging sou egter slegs eienaars van die “plaasgedeeltes” of buitemeent word, aangesien die nedersettings of binnemeent buitendien deur die munisipaliteite oorgeneem is. Strukture vir dienslewering en geskilbeslegting wat vir dekades goed gewerk het, is eensklaps met munisipale dienste van buite vervang – waarvoor betaal moet word, sonder bevredigende lewering van dienste. In effek het die TRANCRAA-wetgewing die hart uit die gemeenskappe geruk.
Twintig jaar gelede het die sogenaamde Wet nommer nege Gebiede waarskynlik nie voorsien dat hulle in die toekoms by dié beraad se ander deelnemers aansluiting sou vind nie. Na elke afvaardiging bekendgestel is, was die eerste deelnemer dr. Pieter Mulder van die Vryheidsfron Plus. Hy het ‘n uiteensetting gegee van die roetekaart na selfbeskikking, om aan te dui dat dit ‘n reg is wat wel in abstrakte terme bestaan, maar wat stukkie vir stukkie konkreet verwerf moet word. Met die oog daarop is sowel die VF se aanvanklike deurbrake in die onderhandelingsproses rondom 1994 belangrik, as veldtogte wat sedertdien gevoer is. Hy het homself en sy party beskikbaar gestel om sake wat hierdie gemeenskappe raak, na die parlement te neem.
Mnr. Carel Boshoff was die volgende deelnemer. Hy het ‘n uiteensetting van Orania se identiteit en stryd om erkenning gegee. Die belangrikste daarvan is die verskillende instellings wat tot stand gebring is, vir ‘n wye verskeidenheid van doelwitte. Van die aandeleblok waarin die gemeenskap aanvanklik ‘n regspersoon gekry het, na die Orania Beweging wat as kultuur-politieke voertuig vir Orania optree, na verskillende verenigings, tot die koöperatiewe bank as ekonomiese drywer is bespreek. Die vertrekpunt was nie om te sê wat ander gemeenskappe moet doen nie, maar om aan te dui watter aksies vir Orania meer en minder suksesvol was.
Mnr. Danie Coetzee is ‘n internasionaal erkende kundige op die gebied van alternatiewe energie. Hy het aangedui hoe hie verre westelike dele van die Noord-Kaap in ‘n unieke posisie is om sonkrag op te wek wanneer die behoefte daaraan in Gauteng op die hoogste is. Verder het hy die huidige stand van tegnologiese ontwikkeling, die regulatoriese omgewing en die moontlike ekonomiese impak van sonkrag projekte uitgelig.
Elke bydrae is met lewendige bespreking opgevolg. Dit is duidelik dat elkeen van die gemeenskappe ywerig is om nie meer te wag dat ander mense se aksies tot hulle voordeel strek nie, maar om hulle toekoms in hulle eie hande te neem. Leiers het ooreengestem om na hulle gemeenskappe terug te gaan, sodat die gesprek in 2016 voortgesit kan word.
Intussen het Komaggas, onder leiding van mnr. Clifton van Rheenen reeds die grondwerk vir sonkragontwikkeling begin doen. Aanduidings is dat die eerste treë geneem is op ‘n pad wat Noord-Kaapse gemeenskappe meer selfstandig, maar ook meer interafhanklik, kan maak.
Orania se betrokkenheid by hierdie aksies versterk net Orania se posisie. Gelukkig het Orania steeds versiende leiers net soos Prof Boshoff n versiende leier was. Doen so voort.
Dankie Jaco. Jy slaan die spyker op die kop.
Om deel te word van n Noord-Kaapse samehangende belange-eenheid is polities intelligent. Uiteindelik sal dit al hoe moeiliker raak vir die Nasionale regering om versoeke vanaf so n streeksfront te ignoreer.
Deur na hierdie Noord-Kaap gemeenskappe uit te reik kan potensieel tot selfs groter voordeel strek as die uitreik na die Xhosa gemeenskap in die Oos-Kaap. Nie dat laasgenoemde onbelangrik was nie. Inteendeel, indien ons nie dit eerste aangepak het nie, sou ons waarskynlik minder voorbereid gewees het vir hierdie poging. Geluk aan Orania met jul inisiatief. Daar sal natuurlik diegene wees wat beswaard gaan reageer, maar dankie tog hulle is nie Oraniers nie. Orania is nie vir sussies nie, nog minder n plek vir verkramptes. Doen so voort!
“Orania is nie vir sussies(sissies?) nie…..”
Die ontmoeting met orania was vir ons noordkaapse leiers n vooreg dankie aan Waynand en Karel Bosoff,Danie en die ander teenwoordig ek dink die tyd het aab gebreek dat ons hande vat en die pad saam stap eendrag maak mag.Ons as bruin gemeenskap wil op selfstandigheid en selfbeskiking vestig.