Daar is talle etniese en godsdienstige minderhede oor die wêreld heen. Minderhede is dikwels weens hulle klein getalle polities magteloos en maak daarvoor op deur op die ekonomie te fokus en sodoende hulleself te bemagtig. Dit maak hulle egter dikwels nog meer gehaat en die teiken vir aanvalle en diskriminerende wetgewing. Die voorbeelde is legio.
Die bekendste een is seker die voorbeeld van die Jode en veral hulle situasie in Duitsland voor en tydens die Tweede Wêreldoorlog. Alhoewel hulle in die ekonomie oorverteenwoordig was, was hulle maar slegs 1% van die bevolking. Die meeste mense het nie eens Jode geken nie omdat hulle so min was en boonop was hulle in sekere stede gekonsentreer. Ook die feit dat meeste Jode lojale landsburgers was, in die oorlog vir hulle land geveg en belasting betaal het, het hulle nie gehelp nie.
Minder bekend is die lot van die Jode in Rusland en Oos-Europa, waar hulle wel nie op groot skaal uitgeroei is nie (menende voor die Duitse verowering van die gebiede), maar ook maar gereeld onder aanvalle en diskriminasie moes deurloop. Die feit dat hulle al vir eeue daar leef het niks tot hulle veiligheid bygedra nie. Ook in die Midde-Ooste, vir eeue die plek van sterk Joodse minderheidsgemeenskappe, is Jode verdryf, aangeval en word teen gediskrimineer, sodat daar feitlik geen Jode buite Israel meer oor is in die Midde-Ooste nie. Die Armeniërs is soortgelyk soos die Jode gehaat en benadeel in die Midde-Ooste en selfs op groot skaal vermoor omdat hulle ‘n meer welvarende en godsdienstig unieke minderheid was.Nou is dit Arabiese Christene se beurt om die sondebok te wees.
Meer onlangse minderhede in veral die Derde Wêreld is die blankes in verskeie lande in Afrika soos Kenya, Zimbabwe, Kongo, Angola, om maar enkeles te noem. Hulle was die politieke en ekonomiese elite tot en met die einde van Europese beheer kort na die Tweede Wêreldoorlog en het daarna gepoog om ekonomies die lande aan die gang te hou en daardeur hulle plek in die lande te verseker. Alhoewel hulle getalle orals gering was (selde meer as 5% van die bevolking) en meeste van hulle lojale landsburgers was en uiters versigtig was om swart mense te na te kom, is hulle gedurig geteiken en as bedreiging vir nasiebou en ekonomiese bevryding uitgekryt en deur diskriminerende wetgewing aan bande gelê.
Ook nie-blanke minderhede, soos Arabiere, Libanese, Indiërs, wat selfs nog meer op die ekonomie gefokus het, was op dun ys. Die bekendste voorbeeld is die uitdrywing van die Indiërs uit Uganda onder Idi Amin, maar pleks van die “ekonomiese bevryding” vir die inheemse bevolking wat dit sou meebring het die ekonomie in duie gestort of het ander minderhede die gaping gevul.
In die Verre-Ooste vervul die Sjinese in lande soos Maleisië die rol van die ondernemers en daar volg dit dieselfde patroon as in Afrika: aanvalle, haatveldtogte en diskriminerende wetgewing deur die etniese en dikwels armer meerderheid.
In Suid-Afrika mag ons dalk voel dat die situasie effens anders is. Immers is die Afrikaners ’n inheemse volk, lojaal aan Suid-Afrika, het self gestem vir vreedsame en beheerde magsoorgawe en deur middel van die grondwet sekere basiese regte verskans. Ten spyte van sekere strelende woorde van leiers soos Mandela of Zuma oor die lojaliteit, waarde en inheemsheid van die Afrikaners is die situasie nie wesenlik anders as vir ander minderhede nie. Die Afrikaner het die politieke mag prysgegee en het hom op die ekonomie toegespits. Die meerderheid is egter nie tevrede om die ekonomie vir die minderheid te los, net so min soos in Kenya, Zimbabwe, Kongo of waar ook al. Die patroon van opruiende haatspraak, brutale aanvalle en diskriminerende wette is in wese dieselfde as elders. Dit wil voorkom asof minderhede keer op keer dieselfde, verkeerde strategie volg van politieke onbetrokkenheid aan die eenkant en ekonomiese bedrywigheid aan die ander kant.
Anders as meeste ander minderhede het die Afrikaner geen moederland om na terug te gaan nie. Dit weerhou swart nasionaliste egter nie daarvan om hulle te hanteer soos die ander “settlers”.
Wat die Afrikaner moet doen is om sy eie werklikhede te skep. Nie net as individu nie, maar as groep, nie vir die volgende paar jaar nie, maar vir die volgende geslag, nie in afhanklikheid van (en ook nie in vyandskap teen) die meerderheid nie, maar daarsonder, so vêr dit moontlik is. Dus: konsentreer waar jou getalle ‘n verskil maak, bemagtig jou nie net ekonomies nie, maar ook kultureel, polities en op onderwysgebied en veral wat arbeid betref en maak jouself as volk selfstandig. Dan is jy nie meer ‘n onbenydenswaardige minderheid wat hoop op genade van die meerderheid nie, maar ‘n vrye volk op eie grond.
Dankie Sebastiaan. Dit is ‘n puik artikel wat werklik die enigste rigting vir Afrikaners aandui op oorlewing.
Baie dankie Sebastiaan. Veral jou laaste paragraaf maak baie sin.
Innige geroete