Opvoeding is die sleutel tot ontwikkeling

Suid-Afrika se ontwikkeling was en is nog altyd gekoppel aan die ontginning van minerale. Alhoewel dit die uitbou van die infrastruktuur aangemoedig het en ook tot grootskaalse werk- en welvaartskepping gelei het was dit, alles in berekening gebring, eerder ‘n vloek as ‘n seën. Verskeie imperialistiese oorloë is primêr oor die toegang tot minerale geveg, by name die Tweede Vryheidsoorlog met sy groot nood en ellende wat dit vir die Afrikanervolk gebring het. Na die Tweede Vryheidsoorlog was die Afrikaners genoodsaak om as tweedeklasburgers in Brits beheerde myne te werk, omdat hulle onafhanklike landboubestaan na die vernietiging van die oorlog vir hulle onmoontlik geword het. Ook die swart volke is ontwrig en van hulle landelike bestaan ontneem. Die hele ideaal van afsonderlike ontwikkeling van elke volk op sy eie stuk grond is in ‘n groot mate deur die alewige behoefte aan goedkoop (swart) arbeid ontspoor.

Die persepsie is, om verstaanbare redes, veral in Suid-Afrika gevestig dat minerale rykdom die voorwaarde van ontwikkeling is. Om die rede is die rykdom van die land in die huidige of voormalige myngebiede rondom Johannesburg gekonsentreer en ontwikkel myndorpe soos Kathu, Ellisras en Thabazimbi vinnig. Die mynbouverwante ontwikkeling is egter ‘n valse soort ontwikkeling. Dit skep vinnig rykdom en net so vinnig weer ellende, as die pryse vir minerale daal en die myn afskaal of selfs sluit. Kyk hoe lyk wat eens ‘n voorspoedige gebied rondom Welkom was nou. Die probleem met mynbou is dat dit min volhoubare ontwikkeling skep en min waarde toevoeg. Omdat dit veral ongeskoolde en half-geskoolde werkers benodig word min in opleding belê en kan afgedankte mynwerks moeilik in ander bedrywe werk kry. Dit geld nie net vir Suid-Afrika nie, maar bykans vir die hele Afrika, wie se nasionale ekonomie omtrent almal op die ontginning van minerale gebou is. Suid-Afrika was die enigste uitsondering omdat hier behalwe die mynbou onder die Nasionale Party regering ook produksie en dienste aangemoedig is en ontwikkel het. Intussen is die voordeel egter feitlik ongedaan gemaak en het die bydrae van nywerhede tot die Brutto Nasionale Produk (BNP) gehalveer. Die relatiewe voorspoed van Suid-Afrika in die Mbeki-era het veel te doen gehad met die opkoms van Sjina en die commodity super cycle wat egter nou op sy einde is.

Die ware goud van die 21ste eeu is vaardighede. Dit is nie toevallig dat so baie hoogs gekwalifiseerde Suid-Afrikaners die land verlaat om elders, veral in die Eerste Wêreld, te werk nie. Hulle vaardighede is so gesog dat hulle amper kan kies en keur en astronomiese salarisse verdien. Omdat Suid-Afrika sy opvoeding so verwaarloos en boonop weens “regstellende aksie” wetgewing toegang tot die arbeidsmark reguleer, is daar al hoe minder oor om die plek van die emigrante te vul. Dit ten spyte van die regering se lippetaal oor de belangrikheid van opvoeding. Skole en universiteite is nie meer in die eerste plek opleidingsinstellings nie, maar ideologiese breinspoel-instansies met swak dissipline. Boonop hou te veel studente hulle met onbruikbare studies op waar hulle nêrens behalwe op ‘n universiteit kan werk kry nie. Afgesien daarvan word goed werkende Afrikaanse universiteite uit alle oorde gedruk om te “transformeer”, weg van gehalte opvoeding in Afrikaans na Engelse massa-opvoeding.

Lande wat in opvoeding belê het pleks in die ontginning van hulpbronne is vandag onder die mees welvarendste samelewings. Een voorbeeld is Singapoer, wat oor geen hulpbronne beskik nie, maar sterk klem plaas op gehalte opvoeding en opleiding, saam met die Oosterse dissipline. Dit is ‘n trekpleister vir globale kenniswerkers. Ook Taiwan en Suid-Korea plaas ‘n sterk klem op opleiding. Suid-Afrika vaar swak in internasionale toetse oor vaardighede. Dit skrik ook beleggers af.

Dit alles roep na goeie opvoeding en toepaslike opleiding. Op skoolvlak moet jy die basiese vaardighede en kennis, soos lees, skryf, wiskunde, fisika, geskiedenis aanleer en daarna moet jy spesialiseer in ‘n rigting volgens jou belangstelling en aanleg, maar veral ook volgens die behoefte. Myns insien word ’n universiteitsgraad oorskat en te veel as prestige gesien, terwyl vaardighede wat werklik skaars is nie meer aangeleer word nie. Dit is reeds duidelik dat gekwalifiseerde ambagsmanne skaars raak en die bestaandes nie meer kan voorbly met werk nie en bykans enige prys kan vra. Toe die regering egter die verantwoordelikheid vir opleiding van die maatskappye ontneem en oorgedra het aan die SETAS (Skills Education Training Authorities), het die gemors begin. Die SETAS sou in elke beroepsektor opleiding verskaf, gefinansieer deur maatskappybydrae, maar soos in meeste gevalle waar die Suid-Afrikaanse staat betrokke is, het daar min van gekom.

Orania kan ‘n sleutelrol vir opleiding speel. Ons skole vervul reeds ‘n rol vir die kinders van Orania asook van die streek, en ook wat afstandsonderrig betref vul Orania ‘n belangrike leemte. ‘n Universiteit is tans buite ons bereik maar dit is ook nie nou so nodig nie. Die groter behoefte bestaan in gekwalifiseerde ambagsmanne. In die groeifase waarin Orania homself bevind word veel gebou en ontwikkel en dit kan net gebeur as daar die regte persone is wat dit kan doen. Die tegniese skool wat tans in aanbou is en na beraming later vanjaar voltooi sal wees, kom dus op die regte tyd. As Suid-Afrika se laaste goud, ystererts en koper ontgin is sal die onuitputbare bron van goeie opleiding en opvoeding van Orania ‘n plek van uitnemendheid en ontwikkeling maak. Laat ons belê in ons kinders en ons volk se toekoms deur in hulle (Afrikaanse, Christelike en gedissiplineerde) opvoeding en opleiding te belê.vaardighede

Terugskou 2015

2015 was in talle opsigte ‘n moeilike jaar, vir Afrikaners, Suid-Afrikaners en vir die wêreld in sy geheel.

Wêreldwyd het die Islamitiese terrorisme, wat reeds in 2014 erg was, net vererger en is daar nou ‘n totale oorlog van Islamiete teen alles wat hulle as vyande beskou: die Weste, Christene, sekulêre regerings in die Moslem-wêreld, selfs Moslem-minderhede of –sektes. Terwyl Al-Kaïda vir lank die hoof terroristegroep was, het intussen die nog meer brutale Islamitiese Staat (IS) hulle die loef afgesteek en voer ‘n skrikbewind in Sirië en Irak asook orals waar sy terroriste toeslaan. Ook Boko Haram voer sy gruweldade in Noord-Nigerië en sy buurlande uit. Dan praat ons nog nie eers van al die ander, kleiner terroristiese organisasies wat feitlik orals bedrywig is. Frankryk is hierdie jaar twee keer getref, eers die Charlie Hebdo aanval, dan meer onlangs die aanvalle op die Bataclan teater en ander vermaakplekke in Parys. Maar ook ander Europese lande, selfs tot dusvêr vreedsame lande soos Denemarke, is getref. Ontvoerings, onthoofdings, die opblaas van ‘n vliegtuig, skieterye en bomontploffings veral in die Midde-Ooste was egter nog erger. Selfs die VSA het nie ongeskonde gebly nie. Alhoewel state nou meer en meer saamwerk om die Islamitiese aanslag af te weer, is dit ‘n lang en bloedige stryd en ontbreek enige patentresep hoe om dit aan te spreek.

Die vlugtelinggolf wat Europa tref het ook verrykende implikasies. Die vasteland Europa, vir dekades voorspoedig, veilig en verwyderd van die wêreld se konflikte, sit skielik met honderde duisende, selfs al miljoene mense uit die Derde Wêreld wat nie net arm en desperaat is nie, maar ook ‘n heel ander kultuur en mentaliteit met hulle saambring, en dikwels die etniese en godsdienstige konflikte waarvan hulle wil ontvlug, in Europa voortsit. Alhoewel ‘n mens nog nie weet hoe die vlugtelingkrisis verder gaan ontwikkel nie, is dit nou al seker dat Europa nie meer dieselfde gaan wees. Dit wil voorkom asof die Westelike helfte meer en meer multi-kultureel raak, terwyl die Oostelike helfte ‘n nasionalistiese oplewing ervaar en nie vreemdelinge soek nie.

Vir Suid-Afrika was 2015 veral ekonomies ‘n moeilike jaar. Die pryse en vraag vir grondstowwe en minerale neem af, ook weens Sjina se stadiger ekonomiese groei, die rand val en werkloosheid neem toe. Die ANC-regering bestuur die land uiters swak en korrupsie is buite beheer. Voeg daarby nog die ergste droogte in dekades, wat natuurlik die reeds hoë voedselpryse gaan verder verhoog en die lot van veral armes verder gaan vererger.

Afrikaners word natuurlik ook deur die ekonomiese omstandighede getref en Afrikaner-boere ly onder die droogte. Afgesien van die ekonomiese sy was dit ook andersins ‘n slegte jaar vir Afrikaners. Die EFF van Julius Malema het begin met aanslae op Afrikanermonumente (asook monumente vir die Britse erfenis) en president Zuma het met sy gewraakte Jan van Riebeek uitspraak en ander soortgelyke opmerkings laat blyk dat Afrikaners eintlik maar die nakomelinge van onderdrukkers is en net verdra word. Afrikaans as akademiese taal het verder agteruitgegaan by die universiteite. Dit is net ‘n kwessie van tyd tot Afrikaans by die laaste Afrikaanse onderwysinstelling deur Engels vervang word.

Soos altyd, skep konflikte ook geleenthede. Niks is so skadelik vir ‘n volk en land as tye van aanhoudende voorspoed wat lei tot selftevredenheid en luiheid, selfs dekadensie. Bedreiging en verlies van dit wat jy as vanselfsprekend ervaar het (soos Afrikaanse universiteite) spoor mense egter ook aan om dit wat nog oor is te beskerm, en om dit wat hulle reeds verloor het, te herskep. Orania staan veral vir laasgenoemde, vir die opstaan uit die as, en is daarom ook nie ‘n reaksionêre maar eerder ‘n revolusionêre projek (alhoewel op evolusionêre manier). Anders gestel, ons voer nie agterhoedegevegte nie, maar bou iets nuuts, wel met sekere boustene uit die verlede, maar nie as ‘n kopie van die verlede nie. Meer en meer Afrikaners besef dat selfbeskikking die pad is om te loop. Daarom was 2015 ook ‘n besonder goeie jaar vir Orania. Daar was groei op talle terreine. Verskeie, indrukwekkende eiendomsontwikkelings is voltooi of van stapel gestuur, op die terrein van opvoeding vorder die tegniese skool, nuwe besighede het ontstaan en bestaandes het uitgebrei. Die werk van erfenisbewaring gaan aan en nuwe kapasiteit is by Epog en die Orania Beweging geskep. Ook die inwonergetal neem toe. Die instellings groei, sowel finansieel en in getalle, maar ook in diepte. In tye van knellende droogte het ons die rivier en ‘n dorpsraad wat werk. Ons het baie om voor dankbaar te wees en kan ten spyte van alle slegte nuus 2016 hoopvol en in vertroue op God, ons Beskermer en Onderhouer, tegemoet gaan.

Blik an Buite. Verkiesings in Spanje en Venezuela

Spanje: parlementsverkiesings lewer geen duidelikheid nie. Die pas afgelope parlementsverkiesing was ‘n neerlaag vir die regerende konserwatiewe Volksparty (PP, Partido Popular) en sy leier Mariano Rajoy, maar ook vir die amptelike opposisie, die Sosialiste (PSOE) en hulle leier Pedro Sanchez. Die PP het 123 setels uit 252 gekry teenoor 186 verlede keer. 176 setels is nodig vir ‘n volstrekte meerderheid. Dit kom neer op 28 %, teenoor 48% die vorige keer. Die Sosialiste het egter nie gebaat by die terugsak van die PP nie en het self ook steun verloor en slegs 90 setels gekry (teenoor 110 verlede keer), of 22%. Die groot wenner is die nuwe, vêrlinkse party Podemos (“Ons kan”) wat ontstaan het uit studentebetogings teen die regering se ekonomiese beleid en besnoeiings. Hulle het uit die stand 69 setels gekry of 20%. Die ander nuwe party wat ook goed gedoen het, is die gematigde Ciudanos (die Burgers) met 40 setels of 14%. Na die groot 4 volg ‘n reeks streekspartye wat veral in Katalonië en Baskeland aftrek kry en wat almal minder as 10 verteenwoordigers elk parlement toe stuur.

Dit val op dat Spanje geen vêrregse party het wat baat by die krisis nie, soos wat dit in talle ander Europese lande (soos onlangs in Frankryk) die geval is. In Spanje kom die protes teen die gevestigde orde gewoonlik van links, soos Podemos. PP vang ook heelwat konserwatiewe kiesers op en spreek met sy beleid van Spaanse territoriale eenheid ook die Spaans-nasionalistiese sentimente aan. Verder is passievolle nasionalisme in Spanje veral streeksgebonde, soos die Baske en Katalane en dikwels links van aard. Die vlugtelingkrisis, wat elders in Europa mense in skare na regse en nasionalistiese partye laat stroom, speel in Spanje nie ‘n groot rol nie. Spanje is al lankal ‘n roete vir vlugtelinge uit Afrika via Marokko na Spanje en verder noord, maar die regering tree streng op en die instroming het aansienlik verminder en is tans goed onder beheer. Die ekonomiese krisis is die hoofvraagstuk in Spanje en vêrregse partye is selde besonder geïnteresseerd in die ekonomie.

Die agteruitgang van PP het te doen met verskeie korrupsieskandale, iets wat blykbaar onvermydelik is as ‘n party al ‘n paar jaar regeer en sy magsposisie as vanselfsprekend aanvaar en met die ekonomiese krisis wat nog vêr van oor is. Spanje gaan steeds gebuk onder die uitwerkings van die ekonomiese krisis wat in 2012 begin het, die vou van die banke en die ineenstort van die eiendomsmark asook hoë werkloosheid, alhoewel dinge nou geleidelik beter gaan danksy streng besparingsmaatreëls onder premier Mariano Rajoy. Vir talle mense bied Podemos egter die maklike en mooiklinkende linkse belofte van voorspoed vir almal deur die gewone resep van belasting van “die rykes” en die oploop van skuld. Podemos is in dieselfde kraal as die Griekse Syriza, wat die land net vêrder in die moeilikheid laat beland het.

Die uitslag het nogal ‘n beduidende verskuiwing tot gevolg. Dit is die eerste keer in Spanje sedert die einde van die Franco-bewind 40 jaar gelede dat geen van die twee hoofstroom linkse of regse partye die meerderheid het nie en dat ‘n koalisieregering nodig sal word. Daar is egter geen natuurlike koalisievennote nie, of die somme klop nie. PSOE en Podemos as linkse blok asook PP en Ciudanos as regs/liberale blok het te min setels vir ‘n volstrekte meerderheid. ‘n Koalisie tussen die grootste twee partye PP en PSOE, soos in Duitsland, is weens die sterk ideologiese en persoonlike verskille tussen die leiers onwaarskynlik. Daar is dus ‘n moontlikheid dat binnekort weer gestem sal word. Ook ’n minderheidsregering van die PP is denkbaar.

 

 

fecha-elecciones-generales-2015-en-espanaVenezuela: burgerlike opposisie wen parlementsverkiesing. ‘n Politieke aardskudding het Venezuela getref. Die opposisie Demokratiese Eenheidsalliansie het die parlementsverkiesing met ‘n ⅔ meerderheid gewen. Met die laaste verkiesing in 2010 het die Sosialiste 98 setels gewen teenoor die opposisie se 65. Nou is die bordjies verhang, met 122 setels vir die Eenheidsalliansie en slegs 55 vir die Sosialiste.

Die verkiesing beteken egter nog nie die einde van die sosialistiese bewind nie, maar wel die begin van die einde. Die president word nie saam met die parlement en ook nie deur die parlementslede verkies nie en die huidige president, Nicholas Maduro van die Sosialiste, sal nog tot 2018 aan bewind wees. Daar sal dus nou 2 pole van mag wees wat teen mekaar werk. Die Sosialiste sal ook nog die laaste paar weke voor die nuwe parlement vergader gebruik om gou nog wetgewing deurgevoer te kry wat hulle pas en om nog meer regters wat aan hulle kant is, aan te stel. Dit is ook moontlik dat hulle die magte van die president om per dekreet te regeer sal uitbrei en die parlement se reeds beperkte magte sal verder besnoei. Nietemin, die oorwinning stuur ‘n bemoedigende boodskap uit dat die demokratiese prosesse wel stadig werk, maar dat verandering moontlik is.

Sedert 1999 word Venezuela deur die Sosialiste regeer. Die langtermyn-leier, Hugo Chavez, ‘n soort linkse outokraat, het 13 jaar regeer en is na sy dood in 2013 deur sy visepresident Nicholas Maduro opgevolg. Verskeie kere is die opposisie kort voor ‘n verwagte oorwinning deur massiewe manipulasie van kiesers en boelie-taktieke van die regering uitgeknikker. Talle opposisieleiers is tans in aanhouding.

Venezuela is deur die lang sosialistiese bewind feitlik geruïneer. Die talle welsynsuitgawes en die swak bestuur het die staatskas leeg gesuig. Swak ekonomiese beleid maak dat selfs basiese lewensmiddele nie meer beskikbaar is en Venezuela nou ‘n wafferse “sosialistiese paradys” is soos Kuba, met leë winkelrakke en ‘n skaduekonomie. Inflasie is hemelhoog en so ook misdaad.

Die omswaai in Venezuela bevestig ‘n tendens wat reeds begin het met die Argentynse presidentsverkiesing ‘n paar weke gelede, naamlik die val van wat eens ‘n soliede linkse blok in Suid-Amerika was. Venezuela was een, indien nie die sleutelland om ‘n sosialistiese opmars in Suid-Amerika te lei. Dit was veral die intussen oorlede leier Hugo Chavez wat die voortou geneem het en deur middel van Venezuela se olierykdom allerhande linkse regimes of bewegings ondersteun het in Ecuador, Bolivië, Argentinië, Peru, Kolombië (wat as een van die min lande in burgerlik-konserwatiewe hande gebly het). Sy belangrikste bondgenoot was Lula da Silva van Brasilië, wat eweneens Brasilië se politieke en ekonomiese gewig gebruik het om sosialisme en anti-Amerikanisme in die streek te bevorder. Chavez se ideologie van ‘n “Bolivariaanse rewolusie” en “Sosialisme van die 21ste eeu” was niks anders as die ou Derde Wêreld Sosialisme en Derde Wêreld Solidariteit wat sedert die 1960’s en 1970’s prominent was in Afrika en Asië en later in onguns verval het na die val van die Sowjet-Unie en sy bondgenote. Chavez het ook die Suid-Amerikaanse weergawe van Pan-Afrikanisme bevorder en gedroom van die herstel van Simon Bolivar se kortstondige Gran Colombia bestaande uit Venezuela, Kolombië en Ecuador. Sowel da Silva asook Chavez was charismatiese leiers en hulle opvolgers, Dilma Rousseff en Nicholas Maduro onderskeidelik kon nie hulle skoene volstaan nie en het geen charisma en oefen geen betowering op die massas uit nie. Die val in die olieprys en ander kommoditeite het die mat onder die sosialistiese regimes uitgepluk. Hulle swak bestuur kon deur die oliegeld verdoesel word en bondgenote kon gekoop word. Dit alles is nou nie meer moontlik nie.

Westerse kultuurtrots nou nodig

suicide-of-the-westDonald Trump, Amerikaanse presidentskandidaat, maak toe die voorstel dat geen Moslems verder in Amerika toegelaat moet word alvorens die land se immigrasiekrisis opgelos is nie. Trump se opmerking, wat skokgolwe deur die Amerikaanse politieke landskap gestuur het en koerantredakteurs van New York tot in Seattle in hul espresso’s laat stik het, volg op die massamoord twee weke gelede in San Bernardino waar veertien persone deur twee swaar gewapende Moslemekstremiste doodgeskiet is.

Die oplossing vir hierdie soort terroriste-aanvalle lê natuurlik nie in Trump se populistiese voorstel nie. In die meeste aanvalle deur Moslemterroriste in Westerse lande het die aanvallers in daardie land groot geword.

Charles Moore, skryf ʼn paar dae gelede in die Britse koerant, The Telegraph, dat die oorsaak vir ekstremisme juis in die die swak kulturele selfvertroue van Westerse leiers lê. In talle lande het leiers en instellings die afgelope paar dekades die Christelike karakter wat Westerse samelewings gesimboliseer het, uitgewis.

Die grootskaalse immigrasie van Moslems die afgelope twee tot drie dekades na Westerse lande is moontlik gemaak deur Westerse lande se oordrewe fokus op akkommodasie eerder as ʼn eie kultuurtrots en eis vir assimilasie van alle immigrante.

Moore skryf dat Moslemleiers in Engeland vandag daarop kan aandring dat geen Moslem in die Britse weermag teen ʼn Moslemland mag gaan veg nie. Moslembroederskap word deur Britse leiers beskerm, maar Christenbroederskap bestaan lankal nie meer nie.

Moore tref ʼn onderskeid tussen Islam as ʼn geloof en Islamisme wat ʼn ideologie is waarvolgens sekere tekste uit die Koran letterlik uitgevoer moet word en waarvolgens Islam tot ʼn politieke idee wat die wêreld moet regeer, uitgelig word. Die Islamisme word veral gedryf deur ekstremistiese leiers soos die Iranse Ajatolla. Terwyl Westerse lande nie ʼn werklike identiteitsalternatief vir Moslemimmigrante bied nie, kry die Islamisme ʼn voet in die deur.

Die Nederlandse skrywer, Gerry van der Lust skryf verlede week in die gesaghebbende nuustydskrif Elsevier, dat die liberale siening in Westerse lande dat alle mense gelyk is en dat daar verby grense en nasionaliteit gekyk moet word, nie regtig realiseer nie. Hy sê dat selfs in liberale Nederland mense gefokus sal wees op die dinge wat hul landgenote raak. Na ʼn vliegongeluk wil almal weet: Hoeveel Nederlanders was betrokke? Tans heers daar in Nederland ongelukkigheid met die groot bedrae geld wat op vlugtelinge spandeer word terwyl baie Nederlandse bejaardes swaarkry. Die omgee vir die eie is steeds sterk aanwesig, hoewel niemand dit mag erken nie.

Tog besef Westerse leiers nie watter krag daar in ʼn kultuurtrots kan lê nie. Net soos wat Islam nie Islamisme hoef te wees nie, hoef ʼn Duitse kultuurtrots nie tot ʼn nuwe Nazi-beweging te lei nie. ʼn Trots op die Christelike wortels van Westerse lande hoef ook nie tot die volgende kruistog te lei nie. Solank as wat Westerse leiers en instellings egter voortgaan om identiteit, grense en ʼn liefde vir die eie af te takel, terwyl Moslemimmigrasie op groot skaal toeneem, sal daar ʼn teelaarde vir ekstremisme aanwesig wees wat noodgedwonge tot baie meer soortgelyke terroriste-aanvalle as dié in San Bernardino in die VSA, sal lei.

Die beginsels van solidariteit en barmhartigheid.

‘n Kernbeginsel van feitlik enige funksionerende gemeenskap is die beginsel van solidariteit (wederkerige ondersteuning, eensgesindheid, omgee en steun vir mense met wie jy verbonde voel). Dit begin al by die gesin, in feitlik alle samelewings en kulture. Ouers maak hulle kinders groot en sorg vir hulle tot hulle in hulle laat tienerjare (in Westerse samelewings gewoonlik nog later) op hulle eie voete kan staan. Die kinders sorg vir hulle ouers as hulle oud en siek raak. In premoderne samelewings is die sorg dikwels direk: kinders huisves hulle ouers en deel hulle inkomste of opbrengs met hulle. Die sorg vir jou ouers as ‘n soort terugbetaling daarvoor dat hulle vir jou gesorg het toe jy klein was, het in die moderne samelewings uitgebrei tot ‘n geformaliseerde stelsel van pensioene en mediese fondsbydraes wat deur die werknemers en werkgewers betaal word. Dit kan as ‘n verdrag tussen die generasies, wat ook toekomstige generasies insluit, beskryf word. So ‘n verdrag is gebou op solidariteit en op bande soos familie of volkskap. Jy is (behalwe as jy ‘n egoïs is) bereid om vir diegene wat vir jou gesorg het, terug te gee. Dit is nie net jou onmiddellike familie nie, maar sluit ook die volk in waarmee daar ‘n band bestaan. Omdat vorige geslagte ‘n beter land opgebou en ‘n beter lewe vir jou moontlik gemaak het, sal jy dieselfde vir volgende geslagte doen in die verwagting dat hulle weer dieselfde doen vir hulle kinders.

Hierdie beginsel van solidariteit, wat oorspronklik in families en sibbes voorgekom het en met die ontstaan van die moderne staat toenemend geformaliseer is deur sosiaal-maatskaplike wetgewing en instellings soos werkloosheidsversekering, pensioen- en mediese fondsbydraes, werk eintlik net in ‘n homogene gemeenskap. Dit is nie toevallig dat veral (histories gesproke) etnies homogene samelewings met ‘n gegroeide volksgevoel, soos Nederland, die Skandinawiese lande, Frankryk, Oostenryk, Duitsland ‘n sterk welsynstaat kon ontwikkel. Die inwoners was bereid was om te gee vir die nageslag, omdat die voorgeslagte vir hulle gegee het. Ook by Afrikaners was dit die geval. Gesamentlike pogings om mekaar by te staan, soos die Reddingsdaadbond, die ekonomiese Volkskongres, die koöperasies ensovoorts getuig daarvan. In lande wat ontstaan het deur immigrasie van uiteenlopende volke, soos die VSA, Australië, Brasilië en ander was dit eerder ‘n geval van “elkeen vir homself, omdat geleenthede onbeperk is”. Watter stelsel beter is, is hier nie ter sake nie, dit gaan daaroor dat die beginsel van solidariteit net in ‘n gemeenskap (met die etnies homogene volk as die grootste eenheid van ‘n gemeenskap) funksioneer, nie in ‘n oop en multi-kulturele samelewing nie.

Die solidariteitbeginsel moet onderskei word van die beginsel van deernis of barmhartigheid. Solidariteit is teenoor jou gemeenskap en is ‘n proses van wederkerigheid (dikwels indirek en uitgestel), barmhartigheid is teenoor mense wat niks met jou te doen het nie maar wat jy eenvoudig jammer kry. Talle mense deur al die eeue het geroepe gevoel om juis die te help wat vêr van hulle was. Sendelinge het mense wat hulle dikwels wou doodmaak (en partymaal ook daarin geslaag het) gehelp, filantrope het hulle beywer vir die bevryding van slawe en die opheffing van mense uit ander kulture. Dit is edel en christelik om enige iemand te help: jy gee iets vir iemand omdat jy hom jammer kry, nie omdat hy vorentoe weer iets vir jou sal doen nie.

Die dilemma is dat barmhartigheid en solidariteit intussen totaal en al vermeng geraak het. As byvoorbeeld nou vlugtelinge na Europa stroom en mense voel dat hulle van hulle rykdom wil gee omdat hulle barmhartig wil wees, is dit reg. Dit was deur al die eeu so. Dit is egter verkeerd dat regerings hulle burgers deur middel van belasting en die opgebruik van fondse wat vir die volgende geslag bedoel is dwing om solidariteit met mense te toon wat niks tot die fondse bygedra het nie en ook nie sal bydra nie. Dit het selfs die negatiewe effek dat die gevoel van barmhartigheid in kilheid verander, en dat die beginsel van solidariteit ondermyn word en mense egoïsties raak omdat hulle bedrieg voel. Die vlugtelinge weer ken nie die beginsel van solidariteit vir die volk nie (hoogstens vir hulle eie familie) en ondermyn die stelsel daardeur verder. Ook in Suid-Afrika is die regering besig om pensioenfondse te beskou as ‘n bron van onbenutte kapitaal wat vir die armes gebruik kan word, al is dit deur Afrikaners oor geslagte heen opgebou.

In Orania geld die beginsel van solidariteit ook. Die hele idee van ‘n volkstaat is ondenkbaar as ‘n selfsugtige projek en dit kan nie sonder opofferings gedoen word. Diegene wat die opofferings maak moet egter te reg daarop kan reken dat hulle, of ten minste hulle kinders eendag die vrugte pluk. Om jare lank lid te wees van die Orania Beweging of om Orania en sy gemeenskap op ander maniere as ‘n “uitwoner” te ondersteun het bygedra tot die huidige suksesverhaal, waarvan die vrugte begin ryp word. Dat mense wat nog nooit iets vir Orania gevoel of gedoen het vanaf die oomblik waar hulle in die moeilikheid is hulle na Orania wend vir hulp krap die ander tereg om. Die beginsel van barmhartigheid geld ook in Orania, maar wens ons beperkte kapasiteit ook net beperk. Die beginsel van solidariteit teenoor jou eie en diegene wat bygedra het weeg sterker.

Identiteit en grense as antwoord op ekstremisme

ISISSedert die einde van die Tweede Wêreldoorlog is een Europa, waar mense, streke en lande sodanig geïntegreerd is dat hulle ook van mekaar afhanklik is, as die antwoord op konflik en oorlog aangebied. Die Verenigde Nasies, die Europese Unie, die Eurosone en die Schengen-ooreenkoms het almal die lig gesien as deel van hierdie poging om Europeërs een te maak.

 

Daar is mense en organisasies wat hierdie idee van eenheid as antwoord op konflik selfs verder vat en wat hoop op ʼn verenigde wêreld waar almal sodanig afhanklik van mekaar is dat oorloë tot ʼn einde sal kom en dat mense almal saam in vrede sal leef. Vir baie van hierdie denkers behels so ʼn verenigde wêreld natuurlik die vernietiging van identiteit en grense.

 

Gebeure in verskeie wêrelddele wys egter vir ons hoe verkeerd hierdie utopiese denke is. Verlede week storm ʼn Moslempaartjie by ʼn sentrum in Kalifornië in en skiet 14 mense dood en wond verskeie ander. Na dae van bespiegeling word dit duidelik dat hierdie aanval ʼn terroriste-aanval was. Die vrou was ʼn geradikaliseerde Moslemekstremis. Haar man, gebore in die VSA, het in sy soeke na identiteit die afgelope paar jaar toenemend geradikaliseer. Na ʼn onlangse besoek aan Saoedi-Arabië het hy homself duidelik tot die Islamekstremisme bekeer. Gedurende Julie vanjaar skiet ʼn jong Moslemman, wat ook in Amerika groot geword het en beskou kon word as ʼn tipiese jong Amerikaner, vier soldate in Tennessee dood. Ook hy het êrens in ʼn soeke na identiteit homself by tot die Islamekstremisme bekeer.

 

Die vraag moet gevra word hoekom Moslems in ʼn soeke na identiteit so maklik by terroristegroepe betrokke raak. Die antwoord lê in die onvermoë van moderne Westerse multikulturele samelewings om werklik ʼn identiteitsalternatief aan immigrante te bied. Immigrante kan en wil nie integreer nie en daarom gaan soek hulle hul identiteit in Saoedi-Arabië, Sirië, Yemen en ander Moslemlande. Dit is veral interessant om te sien dat baie van hierdie jong Moslems wat radikaliseer tweede en derde generasie inwoners van Westerse lande is. Westerse lande bied egter nie meer ʼn sterk identiteit wat mense aantrek nie. Die sekulêre en identiteitlose samelewing stuur mense na verkeerde plekke in hul poging om aan iets te behoort.

 

Wat die identiteitlose strewes van liberale Westerlinge vandag verkeerd verstaan is dat die mens in sy wese identiteitgebonde is. Die persoon wat voel dat sy geloof, taal, kultuur en tradisies nie bedreig word nie, is die persoon wat nie hoef te radikaliseer nie.

 

Immigrasie was nog altyd regoor die wêreld ʼn werklikheid. Dit het egter vir lank so beperk plaasgevind dat immigrante moes integreer omdat hulle werklik in die minderheid was. In die verlede was volke en nasies ook sodanig trots op hul kultuur, taal en tradisies dat immigrante daarvan wou en moes deel word.

 

Twee dinge het egter verander wat vandag se identiteitskrisis in Westerse lande gevaarlik maak. Eerstens het beperkte immigrasie in massa-immigrasie ontaard. Immigrasie uit Westerse lande, soos byvoorbeeld immigrasie uit Europa na die VSA, is vervang deur immigrante uit die Derde Wêreld. Tweedens het Westerse lande as deel van die groot eenheidsprojek begin om hul geloof, kulture, tale en tradisies as minder belangrik te beskou. Immigrante is dus nie meer hiervan deelgemaak nie.

 

Waarmee sit ons vandag? In Frankryk is daar sowat 750 sensitiewe gebiede in stede waar die polisie nie maklik kan ingaan nie. Dit is gebiede waar byna uitsluitlik Moslems woon. Dieselfde geld in Engeland, Nederland, die VSA en meeste ander Westerse lande.

 

Immigrante wat nie integreer nie soek voortdurend na hul identiteit en vind dit toenemend op die verkeerde plekke. Westerlinge daarenteen sien met goeie rede soos wat die onlangse aanvalle in Frankryk bewys het, toenemend ʼn bedreiging in immigrante. Dus is daar ook onder gewone Westerlinge ʼn oplewing in die ons/hulle-vergelyking wat eintlik maar net weer ʼn erkenning van eie identiteit is.

 

Marine Le Pen en die Front National se groot oorwinning Sondag in streeksverkiesings in Frankryk is ʼn bewys van Franse se soeke na hul eie identiteit. Verlede week se nee-stem in Denemarke teen groter deelname in die Europese Unie is nog ʼn voorbeeld. In Swede, Nederland, Switserland en Oostenryk loop regse anti-immigrasie en pro-ideniteitspartye tans in peilings voor. In die VSA is Donald Trump ver voor in peilings om die Republikeinse Party se kandidaat in volgende jaar se presidentsverkiesing te word. Trump is is ten gunste van tradisie, kultuur, identiteit en grense.

 

Radikalisering is nie net ʼn Moslemprobleem nie. In talle Westerse lande is daar ook toenemend blanke jongmense wat weens ʼn soeke na identiteit radikaliseer en dan dom dinge doen soos om in ʼn kerk in te storm en mense dood te skiet, soos wat vroeër vanjaar in die VSA gebeur het. Hierdie jongmense word deur vervreemding gedryf omdat die samelewing waarin hulle funksioneer kultuur, geloof en tradisies tot die private beperk. Die oomblik wanneer hierdie jongmense onder druk verkeer radikaliseer hulle omdat hulle nie ʼn fondament het waarvolgens hul waardes en optrede bepaal word nie.

 

Die oplossing vir ekstremisme lê nie in minder identiteit en grense nie, maar eerder in meer identiteit en grense en ruimte vir elke geloofs-, kultuur en taalgroep om werklik ʼn plek te kan hê waar hy kan floreer. Die toekoms vir Europa is nie minder landsgrense nie, maar juis meer. Indien lande soos Spanje, België en Italië om slegs enkele te noem opgebreek word in werklike nasiestate sal daar wil volkere soos die Katalane, Baske en Vlaminge meer ruimte wees om hulself uit te leef. Irak en Sirië is die volgende twee lande wat opgebreek moet word. ʼn Oplossing vir konflik in die Midde-Ooste lê nie daarin om die Islamitiese Staat met bomme te teiken of om diktators te verwyder en demokratiese verkiesings op mense af te dwing nie. Nee dit lê daarin om vir elke volk in die streek ʼn veilige ruimte te skep waar hulle kan leef, werk en suksesvol kan wees. Ook dan behoort massa-immigrasie na Westerse lande vanself op te hou.

0
    0
    Jou Mandjie
    Jou mandjie is leegKeer terug na Winkel