Argentinië: verkiesingsoorwinning van Mauricio Macri lui nuwe era in. Die era van “Kirchnerisme”, verteenwoordig deur die presidentskap van Nestor en Christina Kirchner, wat mekaar opgevolg het, het van 2003 tot nou toe geduur, dus ‘n tydperk van 12 jaar. Kirchnerisme het heelwat met die huidige Zuma-bewing in gemeen is ‘n soort sosialisme met ‘n welsynstaat en ‘n korrupte familiegroep en sy ondersteuners wat die mag behou en gunsies en gawes uitdeel. Wat buitelandse beleid betref het Kirchner bondgenootskappe met ander linkse regerings in Suid-Amerika asook Sjina gesmee en ‘n duidelike anti-Amerikanisme bedryf. Die ekonomiese beleid was een van die uitvoer van grondstowwe soos olie en landbouprodukte, veral na Sjina, danksy ‘n afgradering van die Peso, wat invoer uit Argentinië goedkoop gemaak het. Dit is ‘n poging om aan die langtermyn president/diktator Juan Peron en sy stelsel van Peronisme na te maak, sonder Peron en sy vrou Eva se charisma.
Christina Kirchner het na haar man se uittrede as president in 2007 by hom oorgeneem (hy is in 2010 onverwags oorlede) en is later herkies. Sy moes egter nou weens termynbeperkings uittree. Haar aangewese kandidaat as opvolger was Daniel Scioli, goewerneur van die provinsie Buenos Aires, verreweg die grootste en belangrikste provinsie (en sy amt kan as die tweede belangrikste pos in Argentinië beskou word) en op ‘n stadium ook visepresident onder Nestor Kirchner. Scioli het nie net die steun van die Peronisteparty en die establishment nie, maar ook van ‘n geoliede verkiesingsmasjien met ‘n aggressiewe jeugbeweging en hordes voetsoldate. Die magsbasis van die Kirchner’s is die armes en afhanklikes, wat danksy hulle sosialistiese beleid aansienlik vermeerder het. Onder die lang Kirchner-bewind het die opposisie gemarginaliseer geraak en talle sterk leiers van die pre-Kirchner-era het op die agtergrond getree.
Met die eerste rondte van die presidentsverkiesing is verwag dat Scioli reeds die nodige meerderheid sal kry (ten minste 40%, en meer as 10% afstand na die naaste kandidaat), maar hy het teleurstellend gevaar met 37%, teenoor Mauricio Macri met 34% en Sergio Massa met 21 % (en ander kleiner kandidate met 3-1%).
Mauricio Macri is burgemeester van die stad Buenos Aires en ‘n sakeman en staan vir die sentrum-regse opposisiealliansie Cambiemos (laat ons verander). Hy het as “underdog” na die uitkloprondte gegaan, maar het met sy persoonlikheid, sy goeie debatvoering en sy geur van die nuwe en van veranderinge na die jare van Kirchnerisme en ekonomiese stilstand en institusionele korrupsie het hy meer en meer ingehaal.
Nou, met Sondag se uitklopverkiesing, het Macri 52% teenoor Scioli se 48% gewen. Macri se steun was veral sterk onder die middelklas en die stedelinge en in sentrums soos Buenos Aires, Cordoba en Mendoza, Scioli was veral sterk onder die armes en die landelike dele, veral in die suide en noorde.
Daar wag geweldige uitdagings vir Macri: die ekonomie is teen die planke, nasionale reserwes uitgeput, inflasie hoog, die bevolking gepolariseer en die party van Kirchner, Frente por la Victoria, het ‘n meerderheid in die parlement. Macri moet die ekonomie liberaliseer sonder om die ou gevestigde belange en groepe soos vakbonde te veel te vervreem. Sy buitelandse beleid sal wegbeweeg van die bou van ‘n linkse blok in Suid-Amerika en fiskale afhanklikheid van Sjina en sal weer meer na die VSA en Europa uitreik, met wie Kirchner gereeld gebots het. Macri sal ook ‘n nuwe styl van regeer bring. Mev. Kirchner was polariserend, aggressief en het geen kritiek en ander opinies verdra nie en haar omring met kruipers en opgetree soos ‘n koningin. Macri is meer van ‘n spanspeler en ‘n tegnokraat en iemand wat ook kritiek teen homself kan vat.
Suid-Amerika word vandag feitlik orals deur linkse regerings regeer en sowat 10 jaar gelede het ‘n golf orals linkse presidente aan bewind gebring. Die oorwinning van Mauricio Macri kan dalk ‘n teengolf aan die gang sit. Linkse regerings het in meeste lande teleur gestel en onder hulle hers korrupsie, ekonomiese insinking, misdaad en swak bestuur. Ook in Brasilië is mense na meer as 15 jaar van die linkse Arbeidersparty moeg vir president Dilma Rousseff en in Venezuela kry die sosialiste na dekade lange wanbestuur en onderdrukking die wind van voor.
Spanje: 40 jaar van die einde van die Franco-bewind. 40 jaar gelede, op 20 November 1975, is die Spaanse diktator Francisco Franco na ‘n siekbed oorlede. ‘n Hele era, wat as Francisme bekendstaan en wat amper 40 jaar geduur het, het daarmee tot ‘n einde gekom. Spanje was die laaste land in Wes-Europa wat nie ‘n demokrasie was nie (Portugal se diktatorskap het ’n jaar vroeër tot ‘’n val gekom) en dit het dit ‘n soort anakronisme en oorblyfsel van die tyd voor die 2de Wêreldoorlog gemaak. Dit moet egter ook genoem word dat ook onder Franco modernisering en geleidelike liberalisering plaasgevind het en dat Spanje in die middel 1970’s nie met Spanje van die 1950’s vergelyk kan word, al was die politieke stelsel en sy hoof dieselfde.
Die Franco-era kan in 2 duidelike fases ingedeel word, die tyd van 1939 (Franco se oorwinning in die burgeroorlog) tot 1960 en die een en ‘n halwe dekade van 1960 tot 1975. In die eerste fase was Franco die diktator wat ‘n ultra-konserwatiewe en sterk katolieke en nasionalistiese bestel opgerig het en opposisie hardhandig onderdruk het. Ekonomies is outarkie voorgestaan, ook weens sanksies, maar dit het vele opofferings van die bevolking vereis. Spanje was internasionaal geïsoleerd, ekonomies agterlik en meesal arm en argaïes in talle opsigte. Na 1960, veral toe die isolasie in die verband van die koue oorlog opgebreek is en Spanje ‘n bondgenoot van die Weste geword het, het dinge begin verander. Die 1960’s was ook ‘n tyd van ongekende ekonomiese groei, massaverbuik en modernisering en ‘n goue tydperk. Dit was, terloops, in Suid-Afrika in dieselfde tydperk die geval en al twee lande, ten spyte van politieke isolasie, het van die hoogste groei in die wêreld gehad. In die geval van Suid-Afrika was dit veral danksy die sterk goudprys, in die geval van Spanje die opkoms van massa-toerisme. Die ekonomiese voorspoed was te danke aan Franco se ekonomiese liberalisering en die vrye hand vir tegnokrate om te hervorm (Franco self was ‘n militêr van opleiding en het min van ekonomie verstaan).
Die Franco-era het na die dood van Franco vinnig plek gemaak vir demokratisering. Franco het homself eintlik net as plekhouer vir die monargie (wat sedert die burgeroorlog “op ys” was) gesien en het die jong prins Juan Carlos as sy opvolger aangewys. Juan Carlos het ‘n proses van demokratisering ingelui en reeds ‘n jaar en ‘n half na Franco se dood het vrye verkiesings plaasgevind, wat die Christen-Demokraat Adolfo Suarez gewen het. ‘n Jaar later is ‘n nuwe grondwet aanvaar. Die einde van die Franco-era was ‘n bestuurde en evolusionêre proses, ten spyte van talle linkse pogings tot omvêrwerping van die gevestigde orde. Die ou garde het die proses aanvaar (met enkele uitsonderings na, soos ‘n staatsgreeppoging in 1981) omdat geen te radikale politieke verandering plaasgevind het nie. Franco se familie en hulle sakebelange is onaangeraak gelaat, straatname en monumente uit die Franco-era is behou (tot en met die regering van die sosialis Zapatero in 2004 en daarna) en oor die burgeroorlog is ‘n kombers getrek en die verlede begrawe. Tot vandag toe bestaan daar ‘n soort konsensus dat die ou wonde nie oopgekrap moet word nie, omdat elke familie verskeur was tussen Franco-aanhangers en teenstanders. Die meeste Spanjaarde aanvaar Franco as deel van hulle geskiedenis, maar daar is min Franco-bewonderaars. Van amptelike kant word die diktatorskap egter as iets gesien waaroor eerder geswyg moet word, die wonde is nog nie genees nie. Apologete vir Franco verwys egter te reg daarop dat in die konteks van die tyd die Franco-bewind beter vir Spanje was as ‘n kommunistiese en pro-sowjetiese bewind. In die burgeroorlog was daar geen keuse vir ‘n liberale demokrasie nie, net twee euwels, waarvan Franco en sy nasionalistiese en ultra-konserwatiewe bewind die kleiner een was. Die hervormings van die 1960’s het die Franco-era vir meeste mense heel aanvaarbaar gemaak, anders as die wrede onderdrukking en hongersnood wat terselfdertyd in Sjina, Rusland en Oos-Europa geheers het.