by Orania Beweging | Jan 30, 2016 | Nuus |
Die hoofstroommedia wat bekende koerante, tydskrif en televisiekanale insluit het die afgelope tyd heelwat van jul geloofwaardigheid ingeboet. In die VSA het 71% van mense nog in die jaar 2002 gesê dat hulle vertroue in die groot mediahuise het. Hierdie vertroue het onlangs tot onder 50% gedaal.
Saam met die daling in vertroue stuur mense toenemend ʼn sterk boodskap aan die hoofstroommedia deur eenvoudig nie meer sommige koerante te koop of na sekere televisiekanale te kyk nie. ʼn Groot koerant soos die New York Times verkoop vandag 625 000 koerante teenoor die 1,5 miljoen wat hulle twintig jaar gelede verkoop het. Op televisie het Fox News ʼn paar jaar gelede reeds by die hoofstroomkanale soos CNN in kykergetalle verbygesteek.
Ook in Europa daal die vertroue in die media soos wat gewone gemense eerder hul nuus by alternatiewe media kry. ʼn Goeie voorbeeld hiervan is die beriggewing in Duitsland oor die onlangse aanvalle deur ʼn groot groep mans op vroue in Keulen. Die meeste hoofstroomkoerante en –televisiekanale het eers die voorvalle geïgnoreer. Verder het hulle aanvanklik die feit dat die aanvallers almal immigrante uit Noord-Afrika en die Midde-Ooste is, geïgnoreer. Gewone Duitsers het egter deur sosiale media van die aanvalle uitgevind.
Mense kry deesdae toenemend hulle nuus deur sosiale media, alternatiewe nuuswebbladsye en nuwe televisiekanale en radiostasies. Hierdie alternatiewe media gee nuus dus sonder ʼn filter deur aan almal wat daarin belangstel.
Navorsing oor die afgelope paar jaar het bewys tot watter mate mense in die verlede gevolgtrekkings gemaak het na aanleiding van die manier waarop nuus aan hulle weergegee is. Navorsing in die VSA het bewys dat die algemene vooroordeel van hoofstroommedia en spesifiek hul beriggewing in die aanloop tot verkiesings meebring dat die Demokrate ʼn outomatiese 5%-voorsprong bo Republikeine het.
Die hoofstroommedia in meeste Westerse lande word reeds vir dekades deur joernaliste en bestuurders wat hulself aan die linkerkant van die politieke spektrum bevind, gedomineer. Dit het vir lank meegebring dat nuus deur ʼn soort polities-korrekte filter aan die publiek deurgegee is.
Beriggewing die afgelope jaar oor die immigrantekrisis in Europa het bewys tot watter vlakke van selektiewe beriggewing sommige media-instellings sal gaan ten einde hul eie politieke doelwitte te bereik. Talle bekende televisienuuskanale het byvoorbeeld byna eksklusief gefokus op vroue en kinders wat met bote in Griekeland aankom. Wat hulle egter nie berig het nie, is dat sowat 75% van sogenaamde vlugtelinge wat in 2015 in Europa aangekom het jong mans was. ʼn Klein deeltjie van vlugtelinge is dus weerlose vroue, kinders en bejaardes. Voorts het die hoofstroommedia ook min, indien enige, moeite gedoen om te berig oor die plekke waar vlugtelinge vandaan kom. Dit het maar deur alternatiewe media bekend geword dat talle sogenaamde vlugtelinge van lande waar daar geen oorlog heers nie, afkomstig is.
Die toenemende teenkanting teen die instroming van asielsoekers in Europa en die onverwagse steun vir Donald Trump in Amerika is maar twee onlangse dinge wat wys hoe die hoofstroommedia sy greep op die openbare mening verloor. Ook in Suid-Afrika sal alternatiewe media soos Pretoria FM en Maroela Media toenemend die toon aangee.
by Orania Beweging | Jan 27, 2016 | Nuus |
Taiwan: aardskuddingsverkiesing ontsetel “staatsparty” Kuomintang (KMT). Die pas afgelope presidents- en parlementsverkiesing in Taiwan het ‘n politieke aardskudding veroorsaak. Dit is die eerste keer sedert die moderne staat Taiwan se bestaan in 1948 dat die Kuomintang sy meerderheid in die parlement verloor het. Dit het wel al gebeur dat die president, wat gelyktydig, maar deur die bevolking en nie die parlement verkies word nie, van ‘n ander party is, maar nog nooit dat al twee setels van mag uit die KMT se hande is.
Die groot oorwinnaar is die Democratic Progressive Party (DPP), wat 68 van 113 parlementssetels gewen het (teenoor 35 vir die KMT) en daarmee ‘n stewige volstrekte meerderheid het. ‘n Nuwe party, die New Power Party, wat ontstaan het uit ‘’n studente-protesbeweging, het 5 setels gekry. Ook in die verkiesing vir die president het die DPP se kandidaat, mev. Ts’ai Ing-wen, vêr gewen met 56% teenoor die KMT se Eric Chu met 31% (en nog ‘n kandidaat met 13%). Dit is ook die eerste keer dat ‘n vrou Taiwan lei.
Die president tot dusvêr, Ma ying-jeou van die KMT, kon na twee termyne nie weer verkies word nie. Hy was van alle presidente wat Taiwan gehad het die een wat die meeste na Sjina uitgereik het. Hy was ook die eerste Taiwanese president wat persoonlik die Sjinese leier Xi Jinping ontmoet het en ‘n ooreenkoms oor samewerking onderteken het. Die DPP daarteenoor staan vir onafhanklikheid van Taiwan, selfs sonder Sjina se goedkeuring as dit moet. Hierdie verkiesingsuitslag is dus slegte nuus vir Sjina, wat Taiwan nog altyd as ‘n opstandige provinsie beskou wat in die toekoms weer deel van Sjina moet word, verkieslik deur onderhandeling, maar as dit moet dan ook met wapengeweld. Mev. Tsai het egter in haar oorwinningstoespraak geen melding gemaak van spoedige stappe in die rigting van onafhanklikheid, om nie die spanning nog te verhoog. Die DPP se groot oorwinning was die boodskap van die kiesers dat hulle nie aan Sjina uitverkoop wil word nie en dat hulle nè hou van mnr. Ma se toegeeflikheid teenoor die groot buurland nie. Die sukkelende ekonomie en stygende pryse was egter ook ‘n rede vir teleurstelling met die KMT, asook ‘n gevoel dat dit tyd is vir iets nuuts.
Die DPP en mev. Tsai wil die ekonomie weer op dreef kry en die eensydige afhanklikheid van Sjina verminder. Dit beteken sterker bande met ander lande in die streek en ook met die VSA. Die DPP is eerder links ingestel en sal ook heelwat maatskaplike projekte ter armoedeverligting loods. Die kwessie van onafhanklikheid sal toenemend na vore kom, al probeer die politici dit onderspeel om Sjina nie kwaad te maak nie. Taiwan het ‘n politieke verskuiwing ondergaan wat ook met die opkoms van ‘n nuwe generasie te doen het. Die ou generasie het nog sterk bande met Sjina en was afkomstig vanaf Sjina. Taiwan was net ‘n tydelike toevlugsoord en daar is eerder van die Demokratiese Republiek van Sjina” gepraat (alhoewel dit tot 1985 ‘n diktatorskap was) as van Taiwan. Die nuwe generasie ken egter nie meer Sjina nie en sien hulle as Taiwanese. Die ooreenkoms van 1992, waar sowel Rooi Sjina asook Taiwan erken dat al twee lande Sjina is en dat hulle net ideologies verskil 9en dus, soos Oos- en Wes-Duitsland, vorentoe kan herenig) word deur mev. Tsai verwerp.
Sjina het ten spyte van die duidelike uitslag nie werklik gereageer nie. Die land kan nou sanksies teen Taiwan en die lande wat dit diplomaties erken, toepas, maar sal daardeur die mense van Taiwan nog meer vervreem. Sjina het in die laaste tyd eerder die beleid gevolg om Taiwan van die voordele om deel van Sjina te wees, al is dit in ‘n soort federasie, te oortuig as om hulle te boelie.
Taiwan het 23 miljoen inwoners en is de facto lankal onafhanklik, alhoewel die land net deur ‘n minderheid state erken word. Reeds sedert sy stigting in 1949 het die land die pad van anti-kommunisme, vryemark en binding aan die Weste gevolg en was vooruitstrewend in tye waar Sjina in die donkerte van Mao se harde kommunisme was.
by Orania Beweging | Jan 20, 2016 | Nuus |
Die stryd om die Amerikaanse presidentskap skop Maandag 1 Februarie amptelik af. Lede van die groot politieke partye in die deelstaat Iowa sal op die aand van 1 Februarie by 1774 plekke regoor dié staat bymekaar kom om ʼn koukusproses, wat tot die aanwys van die partye se presidentskandidate sal lei, af te skop. Vir die volgende paar maande sal kiesers in al die vyftig deelstate deur koukusse en voorverkiesings hul voorkeurkandidate kies.
Dit beteken dat die Amerikaanse verkiesingskoors wat reeds die afgelope paar maande opbou, binne die volgende twee weke ernstige afmetings sal begin aanneem. Amerikaners neem hul verkiesingsproses ernstig op en daarom sien ons elke vier jaar hoe daar vir minstens tien maande lank voluit veldtogte gevoer word.
Vanjaar, soos ook agt jaar gelede, tree ʼn president wat sy wettige twee termyne gedien het, uit. Die praktyk dat ʼn adjunkpresident homself beskikbaar stel om dan vir president te staan is in 2008 verbreek en vanjaar is dit weer die geval. Dus sal beide die Demokrate en Republikeine vanjaar, soos in 2008, kandidate stel wat nie tans as president of adjunkpresident dien nie. Dit beloof dus om ʼn ernstige stryd te wees wat vir die volgende paar maande die nuusagenda in die VSA, maar ook internasionaal sal domineer.
Die vraag oor die relevansie van Amerikaanse presidentsverkiesings word gereeld deur Afrikaners geopper. Beskuldigings dat die Amerikaners in elk geval net oor hul eie belange besorg is en nog nooit die Afrikaner ondersteun het nie, word maklik gemaak.
Daar is egter heelwat rede waarom dit wat in Amerika gebeur vir ons belangrik is. Die voor die handliggende redes is natuurlik die omvang van die Amerikaanse ekonomie, handel tussen Suid-Afrika en die VSA en die invloed van die Amerikaanse dollar op ons eie welvaart. Amerika het ʼn groot invloed op die ekonomiese en politieke stabiliteit van ander wêrelddele. Die finansiële krisis wat in September 2008 in Amerika uitgebreek het, het op elkeen van ons ʼn effek gehad.
Daar is egter ook ander redes waarom Afrikaners gerus gebeure in Amerika kan dophou. Verskeie kommentators het die afgelope paar weke genoem dat die toekoms van die Westerse beskawing weens massa-immigrasie, lae bevolkingsaanwas en die gevolge van globalisering soos die verbrokkeling van tradisies, kulture en gemeenskappe, baie onseker is. Amerika is steeds die land in die wêreld met die meeste Christene, sowat 220 miljoen. Met sowat 223 miljoen inwoners van Westerse afkoms kan die VSA nie misgekyk word wanneer ons die vraag oor die voortbestaan van die Westerse beskawing probeer antwoord nie.
Die afgelope agt jaar het Amerika ʼn linkse regering gehad. Die aantal Christene het oor hierdie periode met 8% gedaal en massa-immigrasie uit Derde Wêreldlande het skerp toegeneem. Verder is verskeie wette wat persoonlike vryheid en die regte van Christene inperk, ingevoer en is verskeie uitsprake wat dieselfde doen deur regters gelewer. Die keuse van Amerikaners op 8 November vanjaar kan dus ʼn groot impak op die toekoms van Westerse, Christelike waardes regoor die wêreld hê.
by Orania Beweging | Jan 14, 2016 | Nuus |
Oudpresident Thabo Mbeki het onlangs ‘n artikel geskryf wat op sy Facebookblad en deur die Sunday Times-koerantgroep gepubliseer is. Daarin verdedig hy sy presidentskap en hy voer aan dat mense wat nouer betrokke was by die gebeure meer moet skryf sodat die geskiedenis nie alleen deur kommentators wat verwyder was van die gebeure beskryf moet word nie.
Oorwinnaars
Die sin in sy skrywe wat my die meeste opgeval het was die volgende: “It was inevitable that the whole process which led to the defeat of the white minority regime in our country, and the aftermath of this, would have their own historians, each with his or her political or ideological orientation.”
Ek beklemtoon hier die woord “defeat”, omdat die verslaning van iemand iets heel anders beteken as woorde soos “onderhandelde skikking”, “kompromie” en “magsdeling.” Hierdie kan dalk vir u as ‘n skok kom, maar indien die gematigde en belese Mbeki glo dat ons as wit minderheid oorwin is, dan kan ek u waarborg dat die res van die ANC en die swart meerderheid dit ook glo.
Blankes in die algemeen sal egter vinnig uitwys dat ons as voormalige politieke magshebbers nooit op die oorlogsveld verslaan is nie en dat ons vrywillig aan die Nasionale Party ‘n mandaat gegee het om met die ANC te onderhandel vir ‘n nuwe Suid-Afrika wat aan almal beter geleenthede sou bied.
Tog is ek verplig om koue water op hierdie argument te gooi. Indien ons nie op die oorlogsveld verslaan is nie, is ons beslis by die onderhandelingstafel verslaan. As u my nie glo nie vra ek graag: Wie beheer die R900 miljard staatsbegroting? Wie stel die Polisie en Weermag aan en wie gee vir hul bevele? Wie bepaal wat die name van die dorpe en strate is? Wie bepaal uiteindelik wat die onderrigtaal aan die publieke universiteite en skole is? Wie bepaal wat ons kinders aan die skole moet leer? Wie bepaal watter poste jy mag vul en nie mag vul nie? Wie bepaal of jou kind medies mag gaan studeer? Wie besluit wanneer jy mense van jou grond mag verwyder en wanneer nie? Wie bepaal of die boere droogtehulp gaan ontvang of nie? Wie besluit of jou plaas, waterregte, minerale regte, besigheid, huis, bankbalans of pensioenfonds joune kan bly of aan iemand anders gegee moet word? Wie besluit of jy ‘n vuurwapen mag besit of nie? Vir wie sal jy moet vra vir ‘n bed indien jy jouself in die tronk sou bevind? Waar hierdie bevoegdhede as alleenreg uitgeoefen word, is dit die alleenvoorreg van oorwinnaars.
Oorlogsbuit
Wanneer ‘n groep mense oorwin word, word hulle nie in vrede en rus gelaat na die stryd nie. Die stryd word opgevolg deur ‘n proses waartydens oorlogsbuit van die verslaande afgeneem word. Die wins van oorwinning is rykdom. Die prys van oorgawe is armoede. So was dit nog altyd.
Die ANC het as oorwinnaars die staatskas oorgeneem en help hulleself mildelik daaruit. Munisipaliteite en staatsmaatskappye is tot by bankrotskap geneem. Aandelebeleggings in genoteerde maatskappy se waarde is verwater met BEE transaksies (tot soveel as ‘n derde van die waarde van bestaande aandele is vernietig deur nuwe uitgifte wat aan SEB-begunstigdes oorgedra is teen min of geen teenprestasie) terwyl die pensioenfondse van publieke amptenare geplunder is. Grond is oorgedra aan begunstigdes van grondhervorming.
Stellings deur president Zuma dat grond deur boere gesteel is en Julius Malema wat grond en banke wil onteien sonder vergoeding dui aan dat die proses om oorlogsbuit te plunder nog lank nie afgehandel is nie.
Dit is ‘n ope vraag hoe lank ons grondwet ons nog gaan beskerm. Die ANC en die EFF kan saam reeds met die seën van die oorgrote meerderheid Suid-Afrikaners die grondwet wysig om hul te pas. Die munisipale verkiesing gaan in hierdie opsig ‘n interessante weerhaan wees wat sal aandui hoe naby die storm is. Indien die ANC in sekere munisipaliteite minder as 50% van die stemme kry, verwag baie kommentators dat die EFF en die DA ‘n koalisie sal vorm om die plaaslike regering aldaar oor te neem. Hulle is immers die opposisie en indien dit wel gebeur is die ergste ten minste vir ‘n paar jaar uitgestel. Indien die EFF egter besluit om sy rug op die DA te keer en eerder saam met die ANC in die bed te spring, sal die gort gaar wees, want die kanse is groter dat die ANC bereid sal wees om die EFF se radikale beleide oor onteiening in ‘n koalisieregering te aanvaar.
Hulp uit die buiteland?
Die internasionale finansiële markte bied waarskynlik vir ons meer volhoubare beskerming as wat die grondwet op sy eie sal kan bied. Dit het ons gesien met die vernederende ommeswaai wat president Zuma moes maak toe hy sy derde minister van finansies binne een week moes aanstel.
Die tyd sal leer hoe lank die respek vir die internasionale markte die lus na nog oorlogsbuit in bedwang gaan hou. Zuma se stelling dat hy die ANC eerste stel voor Suid-Afrika stel nie my gemoed gerus nie.
Vir meer direkte of tasbare steun moet ons egter nie asem ophou nie. Dit is duidelik dat die Weste hul hande vol het in die midde-Ooste, en dat selfs daar hul betrokkenheid uiters halfhartig is.
Frans Cronjé van die Instituut van Rasseverhoudinge het reeds in Augustus 2015 genoem dat Suid-Afrikaners na ‘n “plan B” moet kyk, daarmee saam het hy emigrasie as sy “plan B” uitgelig. Emigrasie blyk egter om vir al minder Afrikaners ‘n uitkoms te kan bied. Terwyl die Suid-Afrikaanse ekonomie spartel en die Rand vryval, beweeg die res van die wêreld aan. Gedurende Julie 2015 het die gemiddelde prys van ‘n tweeslaapkamerhuis (vrystaande huis, woonstel of skakelhuis) in Australië op $658 000 te staan gekom. Teen vandag se wisselkoers is dit R8 miljoen. In Sydney is dit R11.3 miljoen vir ‘n gemiddelde huis. Tydens die huidige vlugtelingkrisis was Australië slegs bereid om 10 duisend vlugtelinge te aanvaar. Hoeveel Afrikaners het werklik ‘n hoop om Suid-Afrika te verlaat wanneer dinge sleg raak?
Skep jou toekoms self
Flip Buys skryf vandag op Maroelamedia dat die geskiedenis ons leer dat daar altyd ‘n toekoms is. Onverwagse gebeure verander dikwels die verloop van sake, maar indien ons sake in ons guns wil draai is dit belangrik dat jy nie net op die toekoms moet wag nie. Hy skryf verder: “Die grootste uitdaging vir Afrikaners is om hul oorspronklike politieke verbeelding in te span en verby Nkandla en die huidige werklikheid ‘n nuwe toekoms raak te sien. Bepaal self hoe jy die koms wil hê, skep sterk organisasies en neem aktief deel aan die vorming van ‘n toekoms waarin jy ook vry, veilig en voorspoedig sal kan leef. Want die enigste toekoms wat jy kan voorspel, is die een wat jy self bou.”
Orania vier vanjaar sy 25ste bestaansjaar. Na baie gespot en belediging is dit duidelik dat Orania besig is om ‘n trotse tuiste vir al meer Afrikaners te word. Orania se grondleggers het die Afrikanisering van Suid-Afrika lank reeds voorsien en daarmee saam die negatiewe uitwerking wat dit op Afrikaners gaan hê. Orania is daarom ideaal geplaas om die werklikhede van demografie en meerderheidsregering in Afrikaners se guns te draai. Die aanvoorwerk is lank reeds begin. Met u bystand is ons potensiaal onbeperk.
by Orania Beweging | Jan 12, 2016 | Nuus |
Die tema van onwettige immigrasie na Europa het gedurende 2015 die internasionale nuus oorheers. Daarmee saam was die talle oorloë en geweld in die Midde-Ooste en terrorisme in Westerse lande belangrike nuustemas.
Sommige kommentators voorspel reeds dat hierdie belangrike internasionale gebeure en hoe hulle in 2016 voortgesit gaan word die toekoms van die Westerse beskawing kan bepaal.
In ʼn onderhoud wat Sondag in die koerant Bild am Sonntag in Duitsland gepubliseer is, sê die Duitse minister van ontwikkeling, Gerd Müller, dat Westerse lande moet aanvaar dat hul sukses in die verlede op die rug van ontwikkelende en dus meestal Derde Wêreldlande gebou is. Daarom beweer hy dat lande soos Duitsland geen ander keuse het as om hul skuld vir die wêreld se armoede en konflik te aanvaar en sy grense vir asielsoekers oop te gooi nie. Volgens Müller het slegs 10% van potensiële asielsoekers sover Europa bereik en is nog tussen 8 en 10 miljoen vanjaar op pad na dié vasteland. Müller gaan selfs sover om te sê dat hierdie massa-immigrasie ʼn soort permanente proses kan raak weens die voortdurende bevolkingsontploffing en gepaardgaande armoede in Afrika. Europa moet dus haar skuld vir die uitbuiting van arm lande betaal deur soveel as moontlik vlugtelinge uit Derde Wêreldlande in te neem.
Wat Müller probeer doen is om ʼn morele plig op Duitsers en ander Europeërs te plaas. Hierdie tegniek dateer uit die 1960’s toe die linkse bewegings in talle Europese lande momentum begin kry, het. Die Nederlandse politikus, Martin Bosma, skryf in sy boek Minderheid in Eigen Land dat die linkse anti-Afrikanerbeweging in Nederland suksesvol was omdat hulle ʼn gevoel van witskuld onder Nederlanders kon vestig. Die regstelling van Westerlinge se skuld teenoor die Derde Wêreld het dus gelei tot Nederlanders se steun vir die ANC en die anti-apartheidsbeweging.
Jean Raspail het reeds in 1973 in sy boek Le Camp des Saints wat in Afrikaans vertaal is as Omsingel die Laer van die Heiliges voorspel dat massa-immigrasie die Westerse wêreld sal vernietig. Raspail het immigrante wat na Europa gaan, beskryf as mense wat nie met dankbaarheid in Europa aankom en vra wat hulle kan bydra nie, maar eerder daar arriveer met aanspraak op voordele gebou op die persepsie van Westerse skuld.
Raspail som Westerlinge se toekomsvisie op aan die hang van hul voortdurende soeke na die ware betekenis om ʼn Westerling te wees en die vraag oor of dit die moeite werd is om die Westerse beskawing teen massa-immigrasie te beskerm.
Dit is presies hierdie vrae wat vanjaar beantwoord sal moet word. Massa-immigrasie na Europa sal waarskynlik sodra die lente in die Noordelike Halfrond aanbreek weer skerp toeneem. Die Midde-Ooste se probleme sal nie verdwyn nie en terrorisme sal eerder toeneem as afneem. Vanjaar mag egter die laaste geleentheid vir Westerlinge wees om hul skuldgevoel van die afgelope vier of vyf dekades af te skud en weer beheer oor hul grense te neem. Die alternatief sal wees dat Westerse lande binne ʼn dekade of twee in ʼn multikulturele staat van chaos kan verval.
by Orania Beweging | Jan 12, 2016 | Nuus |
Die Duitse ekonoom Thomas Straubhaar (wat eerder vanuit ‘n links-liberale paradigma skryf) skryf in die koerant Welt oor aanduidings dat die era van globalisering tot ‘n einde kom. Ander publikasies soos Washington Post het verlede jaar al soortgelyke artikels geskryf. Globalisering het sowel ‘n ekonomiese asook ‘n politieke sy. Die kernidee van globalisering is om die wêreld soos een plek te hanteer. Dit beteken die maksimale verbinding tussen mense, state, besighede ensovoorts en die ophef van grense op alle terreine. In die ekonomie vind globalisering sy uitdrukking in die ophef van staatlike beheer en in wêreldwye handel en uitruil van produkte en dienste sonder inagname van nasionale grense en nasionaliteit. Talle groot maatskappye is vandag heeltemal globalisties van aard, hulle bestuur, hulle personeel, hulle nedersettings is orals ter wêreld te vinde. Polities vind globalisering sy uitdrukking in die verlies van grense en die samewerking van state met die uiteindelike doel om alle grense op te hef. Die EU, aanvanklik ‘n hoofsaaklik ekonomiese alliansie van state, verander toenemend in ‘n soort superstaat wat alle nasies dieselfde hanteer en wat nasionale grense en nasionale regerings betekenisloos wil maak.
Globalisering se segetog het veral in die 1990’s begin. Die internet was daarvoor van kardinale belang, wat ongekende moontlikhede oopgemaak het. Polities was die einde van die Koue Oorlog en die opkoms van die “nuwe wêreldorde” (George Bush snr.) en “die einde van die geskiedenis” (Francis Fukuyama) die wagwoorde. Die hoop en verwagting was dat ‘’n wêreldwye verbruikersamelewing ontstaan. Dit is wel so dat intussen meer mense as ooit toegang tot kommunikasie en die internet het, dat wêreldwye toerisme en die uitruil van goedere hoër is as ooit en dat die lewenstandaarde oor die algemeen toeneem. Meer mense as ooit het toegang tot verbruikersgoedere, ook danksy die opkoms van Sjina as fabriek van die wêreld. Die voorwaarde vir globalisering is ekonomiese groei wat almal bevoordeel. Volgens die globalistiese logika word dinge soos godsdiens, volksidentiteit, waardes ensovoorts minder belangrik in ‘n toenemend materialistiese samelewing (en uit die oogpunt is dit positief, omdat volgens die logika oorlog minder waarskynlik maak. Waar almal iets het, wil niemand iets verloor nie en waar “irrasionele” dinge soos godsdiens en etnisiteit minder belangrik word, is daar meer gemeenskaplike grond en dus minder rede vir konflik).
Volgens Straubhaar, ’n aanhanger van dié logika, dui gebeure van die afgelope tyd egter in ‘n ander rigting. Die aanduiding is dat wêreldwye ekonomiese groei verlangsaam en nie meer tred hou met bevolkingsgroei nie. Ook die wêreldwye handel neem af. Dit het reeds in 2008 met die wêreld finansiële krisis ‘n duik gekry en daarna wel weer herstel, amar nie meer tot vlakke voor 2008 nie. Veral Sjina, die nuwe enjin van die wêreldekonomie, begin probleme kry. Onlangs was daar weer ‘n skerp daling in die aandelebeurs en data oor ekonomiese groei lyk minder belowend as waaraan ’n mens gewoond was. Ook ander belowende opkomende lande uit die BRICS-groep, by name Brasilië, Rusland en natuurlik Suid-Afrika, struikel. As die ekonomie steier, beteken dit dat konflikte oor materiële dinge weer gaan uitbreek. Mense kom nie in opstand omdat hulle arm is nie, maar as hulle verwagtings van ‘n beter lewe teleurgestel word. Sulke omstandighede skep weer gulde geleenthede vir populiste, wat mense rondom klas, ras, nasie, volkskap of godsdiens opsweep. (En, anders as wat meeste meningsvormers beweer, kan populiste sowel regs asook links wees. Julius Malema is ‘n voorbeeld vir die laasgenoemde.) Veral die geweldige oplewing van fundamentalistiese Islam is in 1990 nie verwag nie en is die oorsaak van talle konflikte sedertdien.
Die EU se beste tye is blykbaar ook verby, want die Griekeland-krisis en nog meer die vlugtelingskrisis wys dat die lomp superstaat nie doeltreffend kan optree nie en dat die leiers nie eensgesind is nie. Mense vertrou weer eerder die nasionale regerings, wat in elk geval meer legitimiteit besit. Die dogma van oop grense wys nou sy nadeel. Dit is lekker om in die hele EU sonder kontroles te reis, maar dit beteken ook dat vlugtelingstrome nie meer beheer kan word nie. Van Europese solidariteit en gesamentlike optrede is geen sprake meer nie en regerings tree weer in eie belang op. Dit beteken dat lande teen mekaar opgestel word, soos reeds gebeur met die Oos-Europese teenoor die Wes-Europese dele van die EU. Eersgenoemde wil slegs die ekonomiese voordeel van die EU sonder die politieke magsoordrag hê en laasgenoemde wil in ruil vir hulle geld besluitnemingsfunksies oordra aan die EU. Die soort nasionale belangepolitiek benadeel natuurlik ook handel en uitruil van dienste en wêreldwye werksverdeling en spesialisasie.
Vir diegene wat die volkstaat-ideaal al vir baie jare verkondig, kom die toedrag van sake as ‘n soort bevestiging dat ons op die regte pad is. Dit is nie die geval dat ‘n mens hoop vir meer konflikte en vir ‘n inkrimping van die wêreldekonomie nie. Dit is wel die geval dat die stigters van Orania en die voorstanders van ‘n eie staat vir Afrikaners (en van die beginsel van selfbeskikking vir alle volke) die werklikhede verreken het. Dit kan as ‘n soort “politieke natuurwette” van die wêreld gesien word wat deur die geskiedenis bewys is. Die kort tyd van post 1994 euforie of die opkoms van globalisering en die materiële voordele daarvan maak die politieke natuurwette nie ongedaan nie. Suid-Afrika het ontwikkel soos die sogenaamde regses van die 1980’s en 1990’s dit voorspel het. Nie presies volgens dieselfde tydskedule nie, maar wel in dieselfde rigting. Ons ideaal kan nie slaag in ‘n wêreld waar mense kultuur, volkskap en godsdiens as uitgedien beskou nie en ekonomiese selfstandigheid as onhaalbaar en onnodig afmaak. Ons was vir lank teen die stroom in gewees, maar dit lyk asof die gety nou draai.