fbpx

ISISSedert die einde van die Tweede Wêreldoorlog is een Europa, waar mense, streke en lande sodanig geïntegreerd is dat hulle ook van mekaar afhanklik is, as die antwoord op konflik en oorlog aangebied. Die Verenigde Nasies, die Europese Unie, die Eurosone en die Schengen-ooreenkoms het almal die lig gesien as deel van hierdie poging om Europeërs een te maak.

 

Daar is mense en organisasies wat hierdie idee van eenheid as antwoord op konflik selfs verder vat en wat hoop op ʼn verenigde wêreld waar almal sodanig afhanklik van mekaar is dat oorloë tot ʼn einde sal kom en dat mense almal saam in vrede sal leef. Vir baie van hierdie denkers behels so ʼn verenigde wêreld natuurlik die vernietiging van identiteit en grense.

 

Gebeure in verskeie wêrelddele wys egter vir ons hoe verkeerd hierdie utopiese denke is. Verlede week storm ʼn Moslempaartjie by ʼn sentrum in Kalifornië in en skiet 14 mense dood en wond verskeie ander. Na dae van bespiegeling word dit duidelik dat hierdie aanval ʼn terroriste-aanval was. Die vrou was ʼn geradikaliseerde Moslemekstremis. Haar man, gebore in die VSA, het in sy soeke na identiteit die afgelope paar jaar toenemend geradikaliseer. Na ʼn onlangse besoek aan Saoedi-Arabië het hy homself duidelik tot die Islamekstremisme bekeer. Gedurende Julie vanjaar skiet ʼn jong Moslemman, wat ook in Amerika groot geword het en beskou kon word as ʼn tipiese jong Amerikaner, vier soldate in Tennessee dood. Ook hy het êrens in ʼn soeke na identiteit homself by tot die Islamekstremisme bekeer.

 

Die vraag moet gevra word hoekom Moslems in ʼn soeke na identiteit so maklik by terroristegroepe betrokke raak. Die antwoord lê in die onvermoë van moderne Westerse multikulturele samelewings om werklik ʼn identiteitsalternatief aan immigrante te bied. Immigrante kan en wil nie integreer nie en daarom gaan soek hulle hul identiteit in Saoedi-Arabië, Sirië, Yemen en ander Moslemlande. Dit is veral interessant om te sien dat baie van hierdie jong Moslems wat radikaliseer tweede en derde generasie inwoners van Westerse lande is. Westerse lande bied egter nie meer ʼn sterk identiteit wat mense aantrek nie. Die sekulêre en identiteitlose samelewing stuur mense na verkeerde plekke in hul poging om aan iets te behoort.

 

Wat die identiteitlose strewes van liberale Westerlinge vandag verkeerd verstaan is dat die mens in sy wese identiteitgebonde is. Die persoon wat voel dat sy geloof, taal, kultuur en tradisies nie bedreig word nie, is die persoon wat nie hoef te radikaliseer nie.

 

Immigrasie was nog altyd regoor die wêreld ʼn werklikheid. Dit het egter vir lank so beperk plaasgevind dat immigrante moes integreer omdat hulle werklik in die minderheid was. In die verlede was volke en nasies ook sodanig trots op hul kultuur, taal en tradisies dat immigrante daarvan wou en moes deel word.

 

Twee dinge het egter verander wat vandag se identiteitskrisis in Westerse lande gevaarlik maak. Eerstens het beperkte immigrasie in massa-immigrasie ontaard. Immigrasie uit Westerse lande, soos byvoorbeeld immigrasie uit Europa na die VSA, is vervang deur immigrante uit die Derde Wêreld. Tweedens het Westerse lande as deel van die groot eenheidsprojek begin om hul geloof, kulture, tale en tradisies as minder belangrik te beskou. Immigrante is dus nie meer hiervan deelgemaak nie.

 

Waarmee sit ons vandag? In Frankryk is daar sowat 750 sensitiewe gebiede in stede waar die polisie nie maklik kan ingaan nie. Dit is gebiede waar byna uitsluitlik Moslems woon. Dieselfde geld in Engeland, Nederland, die VSA en meeste ander Westerse lande.

 

Immigrante wat nie integreer nie soek voortdurend na hul identiteit en vind dit toenemend op die verkeerde plekke. Westerlinge daarenteen sien met goeie rede soos wat die onlangse aanvalle in Frankryk bewys het, toenemend ʼn bedreiging in immigrante. Dus is daar ook onder gewone Westerlinge ʼn oplewing in die ons/hulle-vergelyking wat eintlik maar net weer ʼn erkenning van eie identiteit is.

 

Marine Le Pen en die Front National se groot oorwinning Sondag in streeksverkiesings in Frankryk is ʼn bewys van Franse se soeke na hul eie identiteit. Verlede week se nee-stem in Denemarke teen groter deelname in die Europese Unie is nog ʼn voorbeeld. In Swede, Nederland, Switserland en Oostenryk loop regse anti-immigrasie en pro-ideniteitspartye tans in peilings voor. In die VSA is Donald Trump ver voor in peilings om die Republikeinse Party se kandidaat in volgende jaar se presidentsverkiesing te word. Trump is is ten gunste van tradisie, kultuur, identiteit en grense.

 

Radikalisering is nie net ʼn Moslemprobleem nie. In talle Westerse lande is daar ook toenemend blanke jongmense wat weens ʼn soeke na identiteit radikaliseer en dan dom dinge doen soos om in ʼn kerk in te storm en mense dood te skiet, soos wat vroeër vanjaar in die VSA gebeur het. Hierdie jongmense word deur vervreemding gedryf omdat die samelewing waarin hulle funksioneer kultuur, geloof en tradisies tot die private beperk. Die oomblik wanneer hierdie jongmense onder druk verkeer radikaliseer hulle omdat hulle nie ʼn fondament het waarvolgens hul waardes en optrede bepaal word nie.

 

Die oplossing vir ekstremisme lê nie in minder identiteit en grense nie, maar eerder in meer identiteit en grense en ruimte vir elke geloofs-, kultuur en taalgroep om werklik ʼn plek te kan hê waar hy kan floreer. Die toekoms vir Europa is nie minder landsgrense nie, maar juis meer. Indien lande soos Spanje, België en Italië om slegs enkele te noem opgebreek word in werklike nasiestate sal daar wil volkere soos die Katalane, Baske en Vlaminge meer ruimte wees om hulself uit te leef. Irak en Sirië is die volgende twee lande wat opgebreek moet word. ʼn Oplossing vir konflik in die Midde-Ooste lê nie daarin om die Islamitiese Staat met bomme te teiken of om diktators te verwyder en demokratiese verkiesings op mense af te dwing nie. Nee dit lê daarin om vir elke volk in die streek ʼn veilige ruimte te skep waar hulle kan leef, werk en suksesvol kan wees. Ook dan behoort massa-immigrasie na Westerse lande vanself op te hou.