2015 was in talle opsigte ‘n moeilike jaar, vir Afrikaners, Suid-Afrikaners en vir die wêreld in sy geheel.
Wêreldwyd het die Islamitiese terrorisme, wat reeds in 2014 erg was, net vererger en is daar nou ‘n totale oorlog van Islamiete teen alles wat hulle as vyande beskou: die Weste, Christene, sekulêre regerings in die Moslem-wêreld, selfs Moslem-minderhede of –sektes. Terwyl Al-Kaïda vir lank die hoof terroristegroep was, het intussen die nog meer brutale Islamitiese Staat (IS) hulle die loef afgesteek en voer ‘n skrikbewind in Sirië en Irak asook orals waar sy terroriste toeslaan. Ook Boko Haram voer sy gruweldade in Noord-Nigerië en sy buurlande uit. Dan praat ons nog nie eers van al die ander, kleiner terroristiese organisasies wat feitlik orals bedrywig is. Frankryk is hierdie jaar twee keer getref, eers die Charlie Hebdo aanval, dan meer onlangs die aanvalle op die Bataclan teater en ander vermaakplekke in Parys. Maar ook ander Europese lande, selfs tot dusvêr vreedsame lande soos Denemarke, is getref. Ontvoerings, onthoofdings, die opblaas van ‘n vliegtuig, skieterye en bomontploffings veral in die Midde-Ooste was egter nog erger. Selfs die VSA het nie ongeskonde gebly nie. Alhoewel state nou meer en meer saamwerk om die Islamitiese aanslag af te weer, is dit ‘n lang en bloedige stryd en ontbreek enige patentresep hoe om dit aan te spreek.
Die vlugtelinggolf wat Europa tref het ook verrykende implikasies. Die vasteland Europa, vir dekades voorspoedig, veilig en verwyderd van die wêreld se konflikte, sit skielik met honderde duisende, selfs al miljoene mense uit die Derde Wêreld wat nie net arm en desperaat is nie, maar ook ‘n heel ander kultuur en mentaliteit met hulle saambring, en dikwels die etniese en godsdienstige konflikte waarvan hulle wil ontvlug, in Europa voortsit. Alhoewel ‘n mens nog nie weet hoe die vlugtelingkrisis verder gaan ontwikkel nie, is dit nou al seker dat Europa nie meer dieselfde gaan wees. Dit wil voorkom asof die Westelike helfte meer en meer multi-kultureel raak, terwyl die Oostelike helfte ‘n nasionalistiese oplewing ervaar en nie vreemdelinge soek nie.
Vir Suid-Afrika was 2015 veral ekonomies ‘n moeilike jaar. Die pryse en vraag vir grondstowwe en minerale neem af, ook weens Sjina se stadiger ekonomiese groei, die rand val en werkloosheid neem toe. Die ANC-regering bestuur die land uiters swak en korrupsie is buite beheer. Voeg daarby nog die ergste droogte in dekades, wat natuurlik die reeds hoë voedselpryse gaan verder verhoog en die lot van veral armes verder gaan vererger.
Afrikaners word natuurlik ook deur die ekonomiese omstandighede getref en Afrikaner-boere ly onder die droogte. Afgesien van die ekonomiese sy was dit ook andersins ‘n slegte jaar vir Afrikaners. Die EFF van Julius Malema het begin met aanslae op Afrikanermonumente (asook monumente vir die Britse erfenis) en president Zuma het met sy gewraakte Jan van Riebeek uitspraak en ander soortgelyke opmerkings laat blyk dat Afrikaners eintlik maar die nakomelinge van onderdrukkers is en net verdra word. Afrikaans as akademiese taal het verder agteruitgegaan by die universiteite. Dit is net ‘n kwessie van tyd tot Afrikaans by die laaste Afrikaanse onderwysinstelling deur Engels vervang word.
Soos altyd, skep konflikte ook geleenthede. Niks is so skadelik vir ‘n volk en land as tye van aanhoudende voorspoed wat lei tot selftevredenheid en luiheid, selfs dekadensie. Bedreiging en verlies van dit wat jy as vanselfsprekend ervaar het (soos Afrikaanse universiteite) spoor mense egter ook aan om dit wat nog oor is te beskerm, en om dit wat hulle reeds verloor het, te herskep. Orania staan veral vir laasgenoemde, vir die opstaan uit die as, en is daarom ook nie ‘n reaksionêre maar eerder ‘n revolusionêre projek (alhoewel op evolusionêre manier). Anders gestel, ons voer nie agterhoedegevegte nie, maar bou iets nuuts, wel met sekere boustene uit die verlede, maar nie as ‘n kopie van die verlede nie. Meer en meer Afrikaners besef dat selfbeskikking die pad is om te loop. Daarom was 2015 ook ‘n besonder goeie jaar vir Orania. Daar was groei op talle terreine. Verskeie, indrukwekkende eiendomsontwikkelings is voltooi of van stapel gestuur, op die terrein van opvoeding vorder die tegniese skool, nuwe besighede het ontstaan en bestaandes het uitgebrei. Die werk van erfenisbewaring gaan aan en nuwe kapasiteit is by Epog en die Orania Beweging geskep. Ook die inwonergetal neem toe. Die instellings groei, sowel finansieel en in getalle, maar ook in diepte. In tye van knellende droogte het ons die rivier en ‘n dorpsraad wat werk. Ons het baie om voor dankbaar te wees en kan ten spyte van alle slegte nuus 2016 hoopvol en in vertroue op God, ons Beskermer en Onderhouer, tegemoet gaan.
Amen!