fbpx

Spanje: parlementsverkiesings lewer geen duidelikheid nie. Die pas afgelope parlementsverkiesing was ‘n neerlaag vir die regerende konserwatiewe Volksparty (PP, Partido Popular) en sy leier Mariano Rajoy, maar ook vir die amptelike opposisie, die Sosialiste (PSOE) en hulle leier Pedro Sanchez. Die PP het 123 setels uit 252 gekry teenoor 186 verlede keer. 176 setels is nodig vir ‘n volstrekte meerderheid. Dit kom neer op 28 %, teenoor 48% die vorige keer. Die Sosialiste het egter nie gebaat by die terugsak van die PP nie en het self ook steun verloor en slegs 90 setels gekry (teenoor 110 verlede keer), of 22%. Die groot wenner is die nuwe, vêrlinkse party Podemos (“Ons kan”) wat ontstaan het uit studentebetogings teen die regering se ekonomiese beleid en besnoeiings. Hulle het uit die stand 69 setels gekry of 20%. Die ander nuwe party wat ook goed gedoen het, is die gematigde Ciudanos (die Burgers) met 40 setels of 14%. Na die groot 4 volg ‘n reeks streekspartye wat veral in Katalonië en Baskeland aftrek kry en wat almal minder as 10 verteenwoordigers elk parlement toe stuur.

Dit val op dat Spanje geen vêrregse party het wat baat by die krisis nie, soos wat dit in talle ander Europese lande (soos onlangs in Frankryk) die geval is. In Spanje kom die protes teen die gevestigde orde gewoonlik van links, soos Podemos. PP vang ook heelwat konserwatiewe kiesers op en spreek met sy beleid van Spaanse territoriale eenheid ook die Spaans-nasionalistiese sentimente aan. Verder is passievolle nasionalisme in Spanje veral streeksgebonde, soos die Baske en Katalane en dikwels links van aard. Die vlugtelingkrisis, wat elders in Europa mense in skare na regse en nasionalistiese partye laat stroom, speel in Spanje nie ‘n groot rol nie. Spanje is al lankal ‘n roete vir vlugtelinge uit Afrika via Marokko na Spanje en verder noord, maar die regering tree streng op en die instroming het aansienlik verminder en is tans goed onder beheer. Die ekonomiese krisis is die hoofvraagstuk in Spanje en vêrregse partye is selde besonder geïnteresseerd in die ekonomie.

Die agteruitgang van PP het te doen met verskeie korrupsieskandale, iets wat blykbaar onvermydelik is as ‘n party al ‘n paar jaar regeer en sy magsposisie as vanselfsprekend aanvaar en met die ekonomiese krisis wat nog vêr van oor is. Spanje gaan steeds gebuk onder die uitwerkings van die ekonomiese krisis wat in 2012 begin het, die vou van die banke en die ineenstort van die eiendomsmark asook hoë werkloosheid, alhoewel dinge nou geleidelik beter gaan danksy streng besparingsmaatreëls onder premier Mariano Rajoy. Vir talle mense bied Podemos egter die maklike en mooiklinkende linkse belofte van voorspoed vir almal deur die gewone resep van belasting van “die rykes” en die oploop van skuld. Podemos is in dieselfde kraal as die Griekse Syriza, wat die land net vêrder in die moeilikheid laat beland het.

Die uitslag het nogal ‘n beduidende verskuiwing tot gevolg. Dit is die eerste keer in Spanje sedert die einde van die Franco-bewind 40 jaar gelede dat geen van die twee hoofstroom linkse of regse partye die meerderheid het nie en dat ‘n koalisieregering nodig sal word. Daar is egter geen natuurlike koalisievennote nie, of die somme klop nie. PSOE en Podemos as linkse blok asook PP en Ciudanos as regs/liberale blok het te min setels vir ‘n volstrekte meerderheid. ‘n Koalisie tussen die grootste twee partye PP en PSOE, soos in Duitsland, is weens die sterk ideologiese en persoonlike verskille tussen die leiers onwaarskynlik. Daar is dus ‘n moontlikheid dat binnekort weer gestem sal word. Ook ’n minderheidsregering van die PP is denkbaar.

 

 

fecha-elecciones-generales-2015-en-espanaVenezuela: burgerlike opposisie wen parlementsverkiesing. ‘n Politieke aardskudding het Venezuela getref. Die opposisie Demokratiese Eenheidsalliansie het die parlementsverkiesing met ‘n ⅔ meerderheid gewen. Met die laaste verkiesing in 2010 het die Sosialiste 98 setels gewen teenoor die opposisie se 65. Nou is die bordjies verhang, met 122 setels vir die Eenheidsalliansie en slegs 55 vir die Sosialiste.

Die verkiesing beteken egter nog nie die einde van die sosialistiese bewind nie, maar wel die begin van die einde. Die president word nie saam met die parlement en ook nie deur die parlementslede verkies nie en die huidige president, Nicholas Maduro van die Sosialiste, sal nog tot 2018 aan bewind wees. Daar sal dus nou 2 pole van mag wees wat teen mekaar werk. Die Sosialiste sal ook nog die laaste paar weke voor die nuwe parlement vergader gebruik om gou nog wetgewing deurgevoer te kry wat hulle pas en om nog meer regters wat aan hulle kant is, aan te stel. Dit is ook moontlik dat hulle die magte van die president om per dekreet te regeer sal uitbrei en die parlement se reeds beperkte magte sal verder besnoei. Nietemin, die oorwinning stuur ‘n bemoedigende boodskap uit dat die demokratiese prosesse wel stadig werk, maar dat verandering moontlik is.

Sedert 1999 word Venezuela deur die Sosialiste regeer. Die langtermyn-leier, Hugo Chavez, ‘n soort linkse outokraat, het 13 jaar regeer en is na sy dood in 2013 deur sy visepresident Nicholas Maduro opgevolg. Verskeie kere is die opposisie kort voor ‘n verwagte oorwinning deur massiewe manipulasie van kiesers en boelie-taktieke van die regering uitgeknikker. Talle opposisieleiers is tans in aanhouding.

Venezuela is deur die lang sosialistiese bewind feitlik geruïneer. Die talle welsynsuitgawes en die swak bestuur het die staatskas leeg gesuig. Swak ekonomiese beleid maak dat selfs basiese lewensmiddele nie meer beskikbaar is en Venezuela nou ‘n wafferse “sosialistiese paradys” is soos Kuba, met leë winkelrakke en ‘n skaduekonomie. Inflasie is hemelhoog en so ook misdaad.

Die omswaai in Venezuela bevestig ‘n tendens wat reeds begin het met die Argentynse presidentsverkiesing ‘n paar weke gelede, naamlik die val van wat eens ‘n soliede linkse blok in Suid-Amerika was. Venezuela was een, indien nie die sleutelland om ‘n sosialistiese opmars in Suid-Amerika te lei. Dit was veral die intussen oorlede leier Hugo Chavez wat die voortou geneem het en deur middel van Venezuela se olierykdom allerhande linkse regimes of bewegings ondersteun het in Ecuador, Bolivië, Argentinië, Peru, Kolombië (wat as een van die min lande in burgerlik-konserwatiewe hande gebly het). Sy belangrikste bondgenoot was Lula da Silva van Brasilië, wat eweneens Brasilië se politieke en ekonomiese gewig gebruik het om sosialisme en anti-Amerikanisme in die streek te bevorder. Chavez se ideologie van ‘n “Bolivariaanse rewolusie” en “Sosialisme van die 21ste eeu” was niks anders as die ou Derde Wêreld Sosialisme en Derde Wêreld Solidariteit wat sedert die 1960’s en 1970’s prominent was in Afrika en Asië en later in onguns verval het na die val van die Sowjet-Unie en sy bondgenote. Chavez het ook die Suid-Amerikaanse weergawe van Pan-Afrikanisme bevorder en gedroom van die herstel van Simon Bolivar se kortstondige Gran Colombia bestaande uit Venezuela, Kolombië en Ecuador. Sowel da Silva asook Chavez was charismatiese leiers en hulle opvolgers, Dilma Rousseff en Nicholas Maduro onderskeidelik kon nie hulle skoene volstaan nie en het geen charisma en oefen geen betowering op die massas uit nie. Die val in die olieprys en ander kommoditeite het die mat onder die sosialistiese regimes uitgepluk. Hulle swak bestuur kon deur die oliegeld verdoesel word en bondgenote kon gekoop word. Dit alles is nou nie meer moontlik nie.