fbpx

‘n Kernbeginsel van feitlik enige funksionerende gemeenskap is die beginsel van solidariteit (wederkerige ondersteuning, eensgesindheid, omgee en steun vir mense met wie jy verbonde voel). Dit begin al by die gesin, in feitlik alle samelewings en kulture. Ouers maak hulle kinders groot en sorg vir hulle tot hulle in hulle laat tienerjare (in Westerse samelewings gewoonlik nog later) op hulle eie voete kan staan. Die kinders sorg vir hulle ouers as hulle oud en siek raak. In premoderne samelewings is die sorg dikwels direk: kinders huisves hulle ouers en deel hulle inkomste of opbrengs met hulle. Die sorg vir jou ouers as ‘n soort terugbetaling daarvoor dat hulle vir jou gesorg het toe jy klein was, het in die moderne samelewings uitgebrei tot ‘n geformaliseerde stelsel van pensioene en mediese fondsbydraes wat deur die werknemers en werkgewers betaal word. Dit kan as ‘n verdrag tussen die generasies, wat ook toekomstige generasies insluit, beskryf word. So ‘n verdrag is gebou op solidariteit en op bande soos familie of volkskap. Jy is (behalwe as jy ‘n egoïs is) bereid om vir diegene wat vir jou gesorg het, terug te gee. Dit is nie net jou onmiddellike familie nie, maar sluit ook die volk in waarmee daar ‘n band bestaan. Omdat vorige geslagte ‘n beter land opgebou en ‘n beter lewe vir jou moontlik gemaak het, sal jy dieselfde vir volgende geslagte doen in die verwagting dat hulle weer dieselfde doen vir hulle kinders.

Hierdie beginsel van solidariteit, wat oorspronklik in families en sibbes voorgekom het en met die ontstaan van die moderne staat toenemend geformaliseer is deur sosiaal-maatskaplike wetgewing en instellings soos werkloosheidsversekering, pensioen- en mediese fondsbydraes, werk eintlik net in ‘n homogene gemeenskap. Dit is nie toevallig dat veral (histories gesproke) etnies homogene samelewings met ‘n gegroeide volksgevoel, soos Nederland, die Skandinawiese lande, Frankryk, Oostenryk, Duitsland ‘n sterk welsynstaat kon ontwikkel. Die inwoners was bereid was om te gee vir die nageslag, omdat die voorgeslagte vir hulle gegee het. Ook by Afrikaners was dit die geval. Gesamentlike pogings om mekaar by te staan, soos die Reddingsdaadbond, die ekonomiese Volkskongres, die koöperasies ensovoorts getuig daarvan. In lande wat ontstaan het deur immigrasie van uiteenlopende volke, soos die VSA, Australië, Brasilië en ander was dit eerder ‘n geval van “elkeen vir homself, omdat geleenthede onbeperk is”. Watter stelsel beter is, is hier nie ter sake nie, dit gaan daaroor dat die beginsel van solidariteit net in ‘n gemeenskap (met die etnies homogene volk as die grootste eenheid van ‘n gemeenskap) funksioneer, nie in ‘n oop en multi-kulturele samelewing nie.

Die solidariteitbeginsel moet onderskei word van die beginsel van deernis of barmhartigheid. Solidariteit is teenoor jou gemeenskap en is ‘n proses van wederkerigheid (dikwels indirek en uitgestel), barmhartigheid is teenoor mense wat niks met jou te doen het nie maar wat jy eenvoudig jammer kry. Talle mense deur al die eeue het geroepe gevoel om juis die te help wat vêr van hulle was. Sendelinge het mense wat hulle dikwels wou doodmaak (en partymaal ook daarin geslaag het) gehelp, filantrope het hulle beywer vir die bevryding van slawe en die opheffing van mense uit ander kulture. Dit is edel en christelik om enige iemand te help: jy gee iets vir iemand omdat jy hom jammer kry, nie omdat hy vorentoe weer iets vir jou sal doen nie.

Die dilemma is dat barmhartigheid en solidariteit intussen totaal en al vermeng geraak het. As byvoorbeeld nou vlugtelinge na Europa stroom en mense voel dat hulle van hulle rykdom wil gee omdat hulle barmhartig wil wees, is dit reg. Dit was deur al die eeu so. Dit is egter verkeerd dat regerings hulle burgers deur middel van belasting en die opgebruik van fondse wat vir die volgende geslag bedoel is dwing om solidariteit met mense te toon wat niks tot die fondse bygedra het nie en ook nie sal bydra nie. Dit het selfs die negatiewe effek dat die gevoel van barmhartigheid in kilheid verander, en dat die beginsel van solidariteit ondermyn word en mense egoïsties raak omdat hulle bedrieg voel. Die vlugtelinge weer ken nie die beginsel van solidariteit vir die volk nie (hoogstens vir hulle eie familie) en ondermyn die stelsel daardeur verder. Ook in Suid-Afrika is die regering besig om pensioenfondse te beskou as ‘n bron van onbenutte kapitaal wat vir die armes gebruik kan word, al is dit deur Afrikaners oor geslagte heen opgebou.

In Orania geld die beginsel van solidariteit ook. Die hele idee van ‘n volkstaat is ondenkbaar as ‘n selfsugtige projek en dit kan nie sonder opofferings gedoen word. Diegene wat die opofferings maak moet egter te reg daarop kan reken dat hulle, of ten minste hulle kinders eendag die vrugte pluk. Om jare lank lid te wees van die Orania Beweging of om Orania en sy gemeenskap op ander maniere as ‘n “uitwoner” te ondersteun het bygedra tot die huidige suksesverhaal, waarvan die vrugte begin ryp word. Dat mense wat nog nooit iets vir Orania gevoel of gedoen het vanaf die oomblik waar hulle in die moeilikheid is hulle na Orania wend vir hulp krap die ander tereg om. Die beginsel van barmhartigheid geld ook in Orania, maar wens ons beperkte kapasiteit ook net beperk. Die beginsel van solidariteit teenoor jou eie en diegene wat bygedra het weeg sterker.