fbpx

suicide-of-the-westDonald Trump, Amerikaanse presidentskandidaat, maak toe die voorstel dat geen Moslems verder in Amerika toegelaat moet word alvorens die land se immigrasiekrisis opgelos is nie. Trump se opmerking, wat skokgolwe deur die Amerikaanse politieke landskap gestuur het en koerantredakteurs van New York tot in Seattle in hul espresso’s laat stik het, volg op die massamoord twee weke gelede in San Bernardino waar veertien persone deur twee swaar gewapende Moslemekstremiste doodgeskiet is.

Die oplossing vir hierdie soort terroriste-aanvalle lê natuurlik nie in Trump se populistiese voorstel nie. In die meeste aanvalle deur Moslemterroriste in Westerse lande het die aanvallers in daardie land groot geword.

Charles Moore, skryf ʼn paar dae gelede in die Britse koerant, The Telegraph, dat die oorsaak vir ekstremisme juis in die die swak kulturele selfvertroue van Westerse leiers lê. In talle lande het leiers en instellings die afgelope paar dekades die Christelike karakter wat Westerse samelewings gesimboliseer het, uitgewis.

Die grootskaalse immigrasie van Moslems die afgelope twee tot drie dekades na Westerse lande is moontlik gemaak deur Westerse lande se oordrewe fokus op akkommodasie eerder as ʼn eie kultuurtrots en eis vir assimilasie van alle immigrante.

Moore skryf dat Moslemleiers in Engeland vandag daarop kan aandring dat geen Moslem in die Britse weermag teen ʼn Moslemland mag gaan veg nie. Moslembroederskap word deur Britse leiers beskerm, maar Christenbroederskap bestaan lankal nie meer nie.

Moore tref ʼn onderskeid tussen Islam as ʼn geloof en Islamisme wat ʼn ideologie is waarvolgens sekere tekste uit die Koran letterlik uitgevoer moet word en waarvolgens Islam tot ʼn politieke idee wat die wêreld moet regeer, uitgelig word. Die Islamisme word veral gedryf deur ekstremistiese leiers soos die Iranse Ajatolla. Terwyl Westerse lande nie ʼn werklike identiteitsalternatief vir Moslemimmigrante bied nie, kry die Islamisme ʼn voet in die deur.

Die Nederlandse skrywer, Gerry van der Lust skryf verlede week in die gesaghebbende nuustydskrif Elsevier, dat die liberale siening in Westerse lande dat alle mense gelyk is en dat daar verby grense en nasionaliteit gekyk moet word, nie regtig realiseer nie. Hy sê dat selfs in liberale Nederland mense gefokus sal wees op die dinge wat hul landgenote raak. Na ʼn vliegongeluk wil almal weet: Hoeveel Nederlanders was betrokke? Tans heers daar in Nederland ongelukkigheid met die groot bedrae geld wat op vlugtelinge spandeer word terwyl baie Nederlandse bejaardes swaarkry. Die omgee vir die eie is steeds sterk aanwesig, hoewel niemand dit mag erken nie.

Tog besef Westerse leiers nie watter krag daar in ʼn kultuurtrots kan lê nie. Net soos wat Islam nie Islamisme hoef te wees nie, hoef ʼn Duitse kultuurtrots nie tot ʼn nuwe Nazi-beweging te lei nie. ʼn Trots op die Christelike wortels van Westerse lande hoef ook nie tot die volgende kruistog te lei nie. Solank as wat Westerse leiers en instellings egter voortgaan om identiteit, grense en ʼn liefde vir die eie af te takel, terwyl Moslemimmigrasie op groot skaal toeneem, sal daar ʼn teelaarde vir ekstremisme aanwesig wees wat noodgedwonge tot baie meer soortgelyke terroriste-aanvalle as dié in San Bernardino in die VSA, sal lei.