fbpx

Suid-Afrika se ontwikkeling was en is nog altyd gekoppel aan die ontginning van minerale. Alhoewel dit die uitbou van die infrastruktuur aangemoedig het en ook tot grootskaalse werk- en welvaartskepping gelei het was dit, alles in berekening gebring, eerder ‘n vloek as ‘n seën. Verskeie imperialistiese oorloë is primêr oor die toegang tot minerale geveg, by name die Tweede Vryheidsoorlog met sy groot nood en ellende wat dit vir die Afrikanervolk gebring het. Na die Tweede Vryheidsoorlog was die Afrikaners genoodsaak om as tweedeklasburgers in Brits beheerde myne te werk, omdat hulle onafhanklike landboubestaan na die vernietiging van die oorlog vir hulle onmoontlik geword het. Ook die swart volke is ontwrig en van hulle landelike bestaan ontneem. Die hele ideaal van afsonderlike ontwikkeling van elke volk op sy eie stuk grond is in ‘n groot mate deur die alewige behoefte aan goedkoop (swart) arbeid ontspoor.

Die persepsie is, om verstaanbare redes, veral in Suid-Afrika gevestig dat minerale rykdom die voorwaarde van ontwikkeling is. Om die rede is die rykdom van die land in die huidige of voormalige myngebiede rondom Johannesburg gekonsentreer en ontwikkel myndorpe soos Kathu, Ellisras en Thabazimbi vinnig. Die mynbouverwante ontwikkeling is egter ‘n valse soort ontwikkeling. Dit skep vinnig rykdom en net so vinnig weer ellende, as die pryse vir minerale daal en die myn afskaal of selfs sluit. Kyk hoe lyk wat eens ‘n voorspoedige gebied rondom Welkom was nou. Die probleem met mynbou is dat dit min volhoubare ontwikkeling skep en min waarde toevoeg. Omdat dit veral ongeskoolde en half-geskoolde werkers benodig word min in opleding belê en kan afgedankte mynwerks moeilik in ander bedrywe werk kry. Dit geld nie net vir Suid-Afrika nie, maar bykans vir die hele Afrika, wie se nasionale ekonomie omtrent almal op die ontginning van minerale gebou is. Suid-Afrika was die enigste uitsondering omdat hier behalwe die mynbou onder die Nasionale Party regering ook produksie en dienste aangemoedig is en ontwikkel het. Intussen is die voordeel egter feitlik ongedaan gemaak en het die bydrae van nywerhede tot die Brutto Nasionale Produk (BNP) gehalveer. Die relatiewe voorspoed van Suid-Afrika in die Mbeki-era het veel te doen gehad met die opkoms van Sjina en die commodity super cycle wat egter nou op sy einde is.

Die ware goud van die 21ste eeu is vaardighede. Dit is nie toevallig dat so baie hoogs gekwalifiseerde Suid-Afrikaners die land verlaat om elders, veral in die Eerste Wêreld, te werk nie. Hulle vaardighede is so gesog dat hulle amper kan kies en keur en astronomiese salarisse verdien. Omdat Suid-Afrika sy opvoeding so verwaarloos en boonop weens “regstellende aksie” wetgewing toegang tot die arbeidsmark reguleer, is daar al hoe minder oor om die plek van die emigrante te vul. Dit ten spyte van die regering se lippetaal oor de belangrikheid van opvoeding. Skole en universiteite is nie meer in die eerste plek opleidingsinstellings nie, maar ideologiese breinspoel-instansies met swak dissipline. Boonop hou te veel studente hulle met onbruikbare studies op waar hulle nêrens behalwe op ‘n universiteit kan werk kry nie. Afgesien daarvan word goed werkende Afrikaanse universiteite uit alle oorde gedruk om te “transformeer”, weg van gehalte opvoeding in Afrikaans na Engelse massa-opvoeding.

Lande wat in opvoeding belê het pleks in die ontginning van hulpbronne is vandag onder die mees welvarendste samelewings. Een voorbeeld is Singapoer, wat oor geen hulpbronne beskik nie, maar sterk klem plaas op gehalte opvoeding en opleiding, saam met die Oosterse dissipline. Dit is ‘n trekpleister vir globale kenniswerkers. Ook Taiwan en Suid-Korea plaas ‘n sterk klem op opleiding. Suid-Afrika vaar swak in internasionale toetse oor vaardighede. Dit skrik ook beleggers af.

Dit alles roep na goeie opvoeding en toepaslike opleiding. Op skoolvlak moet jy die basiese vaardighede en kennis, soos lees, skryf, wiskunde, fisika, geskiedenis aanleer en daarna moet jy spesialiseer in ‘n rigting volgens jou belangstelling en aanleg, maar veral ook volgens die behoefte. Myns insien word ’n universiteitsgraad oorskat en te veel as prestige gesien, terwyl vaardighede wat werklik skaars is nie meer aangeleer word nie. Dit is reeds duidelik dat gekwalifiseerde ambagsmanne skaars raak en die bestaandes nie meer kan voorbly met werk nie en bykans enige prys kan vra. Toe die regering egter die verantwoordelikheid vir opleiding van die maatskappye ontneem en oorgedra het aan die SETAS (Skills Education Training Authorities), het die gemors begin. Die SETAS sou in elke beroepsektor opleiding verskaf, gefinansieer deur maatskappybydrae, maar soos in meeste gevalle waar die Suid-Afrikaanse staat betrokke is, het daar min van gekom.

Orania kan ‘n sleutelrol vir opleiding speel. Ons skole vervul reeds ‘n rol vir die kinders van Orania asook van die streek, en ook wat afstandsonderrig betref vul Orania ‘n belangrike leemte. ‘n Universiteit is tans buite ons bereik maar dit is ook nie nou so nodig nie. Die groter behoefte bestaan in gekwalifiseerde ambagsmanne. In die groeifase waarin Orania homself bevind word veel gebou en ontwikkel en dit kan net gebeur as daar die regte persone is wat dit kan doen. Die tegniese skool wat tans in aanbou is en na beraming later vanjaar voltooi sal wees, kom dus op die regte tyd. As Suid-Afrika se laaste goud, ystererts en koper ontgin is sal die onuitputbare bron van goeie opleiding en opvoeding van Orania ‘n plek van uitnemendheid en ontwikkeling maak. Laat ons belê in ons kinders en ons volk se toekoms deur in hulle (Afrikaanse, Christelike en gedissiplineerde) opvoeding en opleiding te belê.vaardighede