fbpx

TaiwanTaiwan: aardskuddingsverkiesing ontsetel “staatsparty” Kuomintang (KMT). Die pas afgelope presidents- en parlementsverkiesing in Taiwan het ‘n politieke aardskudding veroorsaak. Dit is die eerste keer sedert die moderne staat Taiwan se bestaan in 1948 dat die Kuomintang sy meerderheid in die parlement verloor het. Dit het wel al gebeur dat die president, wat gelyktydig, maar deur die bevolking en nie die parlement verkies word nie, van ‘n ander party is, maar nog nooit dat al twee setels van mag uit die KMT se hande is.
Die groot oorwinnaar is die Democratic Progressive Party (DPP), wat 68 van 113 parlementssetels gewen het (teenoor 35 vir die KMT) en daarmee ‘n stewige volstrekte meerderheid het. ‘n Nuwe party, die New Power Party, wat ontstaan het uit ‘’n studente-protesbeweging, het 5 setels gekry. Ook in die verkiesing vir die president het die DPP se kandidaat, mev. Ts’ai Ing-wen, vêr gewen met 56% teenoor die KMT se Eric Chu met 31% (en nog ‘n kandidaat met 13%). Dit is ook die eerste keer dat ‘n vrou Taiwan lei.
Die president tot dusvêr, Ma ying-jeou van die KMT, kon na twee termyne nie weer verkies word nie. Hy was van alle presidente wat Taiwan gehad het die een wat die meeste na Sjina uitgereik het. Hy was ook die eerste Taiwanese president wat persoonlik die Sjinese leier Xi Jinping ontmoet het en ‘n ooreenkoms oor samewerking onderteken het. Die DPP daarteenoor staan vir onafhanklikheid van Taiwan, selfs sonder Sjina se goedkeuring as dit moet. Hierdie verkiesingsuitslag is dus slegte nuus vir Sjina, wat Taiwan nog altyd as ‘n opstandige provinsie beskou wat in die toekoms weer deel van Sjina moet word, verkieslik deur onderhandeling, maar as dit moet dan ook met wapengeweld. Mev. Tsai het egter in haar oorwinningstoespraak geen melding gemaak van spoedige stappe in die rigting van onafhanklikheid, om nie die spanning nog te verhoog. Die DPP se groot oorwinning was die boodskap van die kiesers dat hulle nie aan Sjina uitverkoop wil word nie en dat hulle nè hou van mnr. Ma se toegeeflikheid teenoor die groot buurland nie. Die sukkelende ekonomie en stygende pryse was egter ook ‘n rede vir teleurstelling met die KMT, asook ‘n gevoel dat dit tyd is vir iets nuuts.
Die DPP en mev. Tsai wil die ekonomie weer op dreef kry en die eensydige afhanklikheid van Sjina verminder. Dit beteken sterker bande met ander lande in die streek en ook met die VSA. Die DPP is eerder links ingestel en sal ook heelwat maatskaplike projekte ter armoedeverligting loods. Die kwessie van onafhanklikheid sal toenemend na vore kom, al probeer die politici dit onderspeel om Sjina nie kwaad te maak nie. Taiwan het ‘n politieke verskuiwing ondergaan wat ook met die opkoms van ‘n nuwe generasie te doen het. Die ou generasie het nog sterk bande met Sjina en was afkomstig vanaf Sjina. Taiwan was net ‘n tydelike toevlugsoord en daar is eerder van die Demokratiese Republiek van Sjina” gepraat (alhoewel dit tot 1985 ‘n diktatorskap was) as van Taiwan. Die nuwe generasie ken egter nie meer Sjina nie en sien hulle as Taiwanese. Die ooreenkoms van 1992, waar sowel Rooi Sjina asook Taiwan erken dat al twee lande Sjina is en dat hulle net ideologies verskil 9en dus, soos Oos- en Wes-Duitsland, vorentoe kan herenig) word deur mev. Tsai verwerp.
Sjina het ten spyte van die duidelike uitslag nie werklik gereageer nie. Die land kan nou sanksies teen Taiwan en die lande wat dit diplomaties erken, toepas, maar sal daardeur die mense van Taiwan nog meer vervreem. Sjina het in die laaste tyd eerder die beleid gevolg om Taiwan van die voordele om deel van Sjina te wees, al is dit in ‘n soort federasie, te oortuig as om hulle te boelie.
Taiwan het 23 miljoen inwoners en is de facto lankal onafhanklik, alhoewel die land net deur ‘n minderheid state erken word. Reeds sedert sy stigting in 1949 het die land die pad van anti-kommunisme, vryemark en binding aan die Weste gevolg en was vooruitstrewend in tye waar Sjina in die donkerte van Mao se harde kommunisme was.