fbpx

globalisationDie Duitse ekonoom Thomas Straubhaar (wat eerder vanuit ‘n links-liberale paradigma skryf) skryf in die koerant Welt oor aanduidings dat die era van globalisering tot ‘n einde kom. Ander publikasies soos Washington Post het verlede jaar al soortgelyke artikels geskryf. Globalisering het sowel ‘n ekonomiese asook ‘n politieke sy. Die kernidee van globalisering is om die wêreld soos een plek te hanteer. Dit beteken die maksimale verbinding tussen mense, state, besighede ensovoorts en die ophef van grense op alle terreine. In die ekonomie vind globalisering sy uitdrukking in die ophef van staatlike beheer en in wêreldwye handel en uitruil van produkte en dienste sonder inagname van nasionale grense en nasionaliteit. Talle groot maatskappye is vandag heeltemal globalisties van aard, hulle bestuur, hulle personeel, hulle nedersettings is orals ter wêreld te vinde. Polities vind globalisering sy uitdrukking in die verlies van grense en die samewerking van state met die uiteindelike doel om alle grense op te hef. Die EU, aanvanklik ‘n hoofsaaklik ekonomiese alliansie van state, verander toenemend in ‘n soort superstaat wat alle nasies dieselfde hanteer en wat nasionale grense en nasionale regerings betekenisloos wil maak.

Globalisering se segetog het veral in die 1990’s begin. Die internet was daarvoor van kardinale belang, wat ongekende moontlikhede oopgemaak het. Polities was die einde van die Koue Oorlog en die opkoms van die “nuwe wêreldorde” (George Bush snr.) en “die einde van die geskiedenis” (Francis Fukuyama) die wagwoorde. Die hoop en verwagting was dat ‘’n wêreldwye verbruikersamelewing ontstaan. Dit is wel so dat intussen meer mense as ooit toegang tot kommunikasie en die internet het, dat wêreldwye toerisme en die uitruil van goedere hoër is as ooit en dat die lewenstandaarde oor die algemeen toeneem. Meer mense as ooit het toegang tot verbruikersgoedere, ook danksy die opkoms van Sjina as fabriek van die wêreld. Die voorwaarde vir globalisering is ekonomiese groei wat almal bevoordeel. Volgens die globalistiese logika word dinge soos godsdiens, volksidentiteit, waardes ensovoorts minder belangrik in ‘n toenemend materialistiese samelewing (en uit die oogpunt is dit positief, omdat volgens die logika oorlog minder waarskynlik maak. Waar almal iets het, wil niemand iets verloor nie en waar “irrasionele” dinge soos godsdiens en etnisiteit minder belangrik word, is daar meer gemeenskaplike grond en dus minder rede vir konflik).

Volgens Straubhaar, ’n aanhanger van dié logika, dui gebeure van die afgelope tyd egter in ‘n ander rigting. Die aanduiding is dat wêreldwye ekonomiese groei verlangsaam en nie meer tred hou met bevolkingsgroei nie. Ook die wêreldwye handel neem af. Dit het reeds in 2008 met die wêreld finansiële krisis ‘n duik gekry en daarna wel weer herstel, amar nie meer tot vlakke voor 2008 nie. Veral Sjina, die nuwe enjin van die wêreldekonomie, begin probleme kry. Onlangs was daar weer ‘n skerp daling in die aandelebeurs en data oor ekonomiese groei lyk minder belowend as waaraan ’n mens gewoond was. Ook ander belowende opkomende lande uit die BRICS-groep, by name Brasilië, Rusland en natuurlik Suid-Afrika, struikel. As die ekonomie steier, beteken dit dat konflikte oor materiële dinge weer gaan uitbreek. Mense kom nie in opstand omdat hulle arm is nie, maar as hulle verwagtings van ‘n beter lewe teleurgestel word. Sulke omstandighede skep weer gulde geleenthede vir populiste, wat mense rondom klas, ras, nasie, volkskap of godsdiens opsweep. (En, anders as wat meeste meningsvormers beweer, kan populiste sowel regs asook links wees. Julius Malema is ‘n voorbeeld vir die laasgenoemde.) Veral die geweldige oplewing van fundamentalistiese Islam is in 1990 nie verwag nie en is die oorsaak van talle konflikte sedertdien.

Die EU se beste tye is blykbaar ook verby, want die Griekeland-krisis en nog meer die vlugtelingskrisis wys dat die lomp superstaat nie doeltreffend kan optree nie en dat die leiers nie eensgesind is nie. Mense vertrou weer eerder die nasionale regerings, wat in elk geval meer legitimiteit besit. Die dogma van oop grense wys nou sy nadeel. Dit is lekker om in die hele EU sonder kontroles te reis, maar dit beteken ook dat vlugtelingstrome nie meer beheer kan word nie. Van Europese solidariteit en gesamentlike optrede is geen sprake meer nie en regerings tree weer in eie belang op. Dit beteken dat lande teen mekaar opgestel word, soos reeds gebeur met die Oos-Europese teenoor die Wes-Europese dele van die EU. Eersgenoemde wil slegs die ekonomiese voordeel van die EU sonder die politieke magsoordrag hê en laasgenoemde wil in ruil vir hulle geld besluitnemingsfunksies oordra aan die EU. Die soort nasionale belangepolitiek benadeel natuurlik ook handel en uitruil van dienste en wêreldwye werksverdeling en spesialisasie.

Vir diegene wat die volkstaat-ideaal al vir baie jare verkondig, kom die toedrag van sake as ‘n soort bevestiging dat ons op die regte pad is. Dit is nie die geval dat ‘n mens hoop vir meer konflikte en vir ‘n inkrimping van die wêreldekonomie nie. Dit is wel die geval dat die stigters van Orania en die voorstanders van ‘n eie staat vir Afrikaners (en van die beginsel van selfbeskikking vir alle volke) die werklikhede verreken het. Dit kan as  ‘n soort “politieke natuurwette” van die wêreld gesien word wat deur die geskiedenis bewys is. Die kort tyd van post 1994 euforie of die opkoms van globalisering en die materiële voordele daarvan maak die politieke natuurwette nie ongedaan nie. Suid-Afrika het ontwikkel soos die sogenaamde regses van die 1980’s en 1990’s dit voorspel het. Nie presies volgens dieselfde tydskedule nie, maar wel in dieselfde rigting. Ons ideaal kan nie slaag in ‘n wêreld waar mense kultuur, volkskap en godsdiens as uitgedien beskou nie en ekonomiese selfstandigheid as onhaalbaar en onnodig afmaak. Ons was vir lank teen die stroom in gewees, maar dit lyk asof die gety nou draai.

 

9 Comments

  1. hanno visagie

    Hoewel weergebore Christene, in afwagting op die eersdaagse wegraping, teen die antichris-humanistiese globalisme moet bly weerstand bied, sal, volgens die Bybel, dit eers tot ‘n ware einde kom aan die einde vd eersdaagse sewe jaar verdrukking deur die Antichris weens Christus se sigbare weerkoms en die aanvang van Sy aardse duisendjarige vrederyk. Lees gerus prof Johan Malan se Bible Guidance artikels (1) ’n Dertienpuntplan vir Wêreldoorname – http://www.bibleguidance.co.za/Afrboeke/Die%20Koninkryk%20van%20Satan/Geesteswereld7.htm en (2) Globalisme en Die Regering van die Antichris – http://www.bibleguidance.co.za/Afrartikels/Tegnokrasie.htm

    Reply
    • Ebert Terblanche

      hanno, sien my skrywe hieronder.

      Reply
  2. Ebert Terblanche

    Hanno Visagie,

    Konsepte soos die wegraping en die sewe jaar van verdrukking is in die Kerkgeskiedenis redelike onlangse nuutskeppinge.

    Die Bybel verwys self nie na ‘n sogenaamde wegraping nie en die voorstaanders van die gedagte maak redelike geloofspronge met enkele verse om hul seining ‘n kleed van geloofwaardigheid te probeer gee.

    Jy sal ook nie enige verwysing na ‘n wegraping of sewe jaar van verdrukking in die Gereformeerde Geloofsbelydenisse vind nie.

    Hierdie idees het hul ontstaan by ‘n priester van die Anglikaanse Kerk in Ierland by name John Nelson Darby wat gedurende die 1830’s hierdie idees geskep het. Op daardie stadium is sy leerstellings as vals en sonder substansie deur die Christendom beskou.

    Die tradisionele Christelike eskatologie (leer rondom die eindtye) is dat Christus met sy kruisiging die sonde verslaan het en opgevaar het na die Hemel om aan die regterhand van God te sit vanwaar hy regeer tot met sy wederkoms waartydens hy sal oordeel oor alle mense en die dooies sal opwek om ‘n nuwe aarde in ontvangs te neem. Hier is nie sprake van ‘n geleidelike agteruitgang, wegraping en verdrukking kort voor die wederkoms nie.

    Christene het tot en met 1830 in die algemeen ‘n geleidelike verbetering in hul omstandighede ervaar sedert Christus se kruisiging (vanaf vervolgde minderheid tot hoofstroom aanvaarding wat die vrugte pluk van vooruitgang in wetenskap en ekenomiese ontwikkeling). Hierdie ervaring het geen grondslag vir Darby se idees gebied nie.

    Kort na Darby sy idees ontwikkel het, het die Amerikaanse Burgeroorlog uitgebreek, wat tot die grootste menseslagting en vernietiging in menseheugenis gelei het weens die vooruitgang wat militêre tegnologie gemaak het sedert die Napoleontiese oorlog wat grootliks deur voorlaaiers geveg is. Die Suidelike state van Amerika is die swaarste getref en hulle wêreld het letterlik deur hel gegaan. Darby se idees het hier vrugbare grond gevind en vandag is die Suidelike Baptiste in die VSA die grootste voorstaanders en verkondigers van Darby se idees. Die gebeure wat Afrikaners ervaar sedert die grensoorlog en die verlies aan mag by 1994 en die daaropvolgende gevolge skep insgelyks ook onder al meer Afrikaners ‘n ontvanklike grond vir hierdie idees.

    Die grootste probleem wat ek egter met Darby se idees het (die sogenaamde eskatologie van premilleniale dispensasionalisme), is dat dit ‘n tipe fatalisme onder Christene aanmoedig.

    In die verlede het Christene dit hulle roeping gesien om Christus se lig in die wêreld in te dra en het hulle daardeur die belofte van ‘n beter wêreld wat die juk van die sonde afgooi deur hul dade verwesenlik. Christene het deur hul arbeid die wêreld ‘n beter plek gemaak.

    Vandag sien ons egter al meer Christene wat bloot hul skouers optrek terwyl hulle woorde soos “tekens van die (eind)tye” mompel, waarna hulle heeltemal tevrede is om gods water oor gods akker laat loop, want sien hoe kan ons nou die sewe jaar van verdrukking verhoed indien dit God se eindplan is?

    Reply
      • Ebert Terblanche

        Dankie vir die skakel Hanno, ek het dit interessant gevind.

        Ek het egter ‘n paar probleme daarmee.

        My grootste probleem is dat die skrywer almal wat nie oortuig is van premillennialisme nie, afmaak as mense wat nie in die wonderwerke en professië van die Bybel glo nie. Daarmee meng die skrywer twee verskillende sake, naamlik skrifbeskouing en eskatologie. Ek glo byvoorbeeld in die Bybel as die onfeilbare Woord van God, maar ek het voorbehoude oor die premillenialisme. Ek is ook nie die enigste een nie. Verwys gerus na die volgende artikels:

        http://www.thegospelcoalition.org/article/why-i-changed-my-mind-about-the-millennium

        http://blogs.thegospelcoalition.org/justintaylor/2014/08/05/9-reasons-we-can-be-confident-christians-wont-be-raptured-before-the-tribulation/

        Die tweede probleem is dat die skrywer voorgee dat die premillennialisme die oorspronklike, algemeen aanvaarde eskatologiese leer was. Volgens alle bronne wat ek kon nagaan is daar geen verwysing na ‘n eskatologie wat ouer is as die vroeë negentiende eeu wat die premillenniale interpretasie van die professiëe oor die eindtyd beskryf nie. Selfs Katolieke bronne bevestig dat die premillennialisme ‘n nuwerige verskynsel is. Verwys gerus na

        http://www.catholic.com/tracts/the-rapture

        Reply
        • hanno visagie

          From: Johan Malan
          Sent: Tuesday, January 19, 2016 11:51 AM
          Subject: Die einde van globalisering?
          Die Calvinistiese teologie is m.i. een van die geestelike struikelblokke in baie van die regse Afrikaners se denke en wêreldbeskouing. Hulle krities-historiese wyse van Bybeluitleg, tesame met ‘n preteristiese verklaring van Bybelse profesieë (die meeste daarvan is glo reeds in historiese tye vervul), lei daartoe dat hulle nie die eindtydse wêreldtoestande wat in die Bybel geskets word, op sigwaarde aanvaar en verstaan nie. Duidelike stellings word vergeestelik en allegories verklaar, sodat daar met die letterlike implikasies daarvan weggedoen kan word. Die gevolg is dat sulke mense tred verloor het met dit wat die Bybel uitdruklik oor die eindtyd sê.
          Enigeen wat begrip het vir die eindtydse vervulling van Openbaring se profesieë wat op die wederkoms van Christus uitloop, kan nie anders as om die globalistiese strekking van profesieë oor die regering van die Antichris raak te sien nie:
          · Die hele wêreld sal verwonderd agter hom aangaan. Hy sal dus ‘n algemeen aanvaarde wêreldleier wees (Op. 13:3).
          · Almal sal hom aanbid, en dit dui op godsdienstige globalisme (Op. 13:4, 8).
          · “Aan hom is mag gegee oor elke stam en taal en nasie”, m.a.w. politieke globalisme (Op. 13:7).
          · Alle mense op aarde sal ‘n nommer kry waarsonder hulle nie kan koop of verkoop nie, m.a.w. ekonomiese globalisme (Op. 13:16-18).
          Die hele wêreld is steeds op koers na globalisme, en maak elke dag verdere vordering op hierdie pad. Daar is egter wel ‘n klemverskuiwing, en dit is weg van die idee van ‘n wêreldstaat af sonder enige grense of plaaslike leierskap, na ‘n wêreldwye alliansie van state wat almal dieselfde wêreldleier erken. Hulle sal wel sekere bevoegdhede op plaaslike vlak behou, maar tóg ook onder die gesag van ‘n oorkoepelende wêreldregering saamwerk en saamstaan teen verdeeldheid, terrorisme, armoede, ens.
          In hierdie komende bedeling sal daar geen sprake van absolute selfbeskikkingsreg vir volke en nasies wees nie, omdat almal volgens die riglyne en beginsels van die wêreldregering sal moet optree. In die tweede helfte van die verdrukking sal die konings wat saam met die Antichris regeer het, al hulle mag en gesag aan hom oordra (Op. 17:12-13). Die gevolg hiervan sal ‘n absolute antichristelike diktatuur wees.
          Mense wat steeds volgens ‘n Calvinistiese paradigma dink, beplan en optree, sal dringend tot die besef van die inherente swakhede en beperkings daarvan moet kom. Wat van die Hervorming se credo van “Ecclesia semper reformanda”? (“Die Kerk moet aanhou hervorm”). Dit vereis dat die kerk voortdurend sy leerstellings in die lig van die Skrif moet ondersoek, sodat foute uitgeskakel en die volle waarheid verkondig kan word. Word daar van ander sienings kennis geneem en eerlik gekyk of dit Skriftuurlik is of nie? Of is die erfenis van menslik-bedinkte leerstellings belangriker as dit wat die Bybel duidelik leer?
          Groot groepe teoloë wat besef het dat die Bybel duidelik uitsprake bevat oor ‘n verdrukking van die sewe jaar onder die Antichris, gevolg deur die vrederyk van Christus, maar ook van ‘n wegraping van gelowiges voor die openbaring van die Antichris, het forums geskerp waarop hierdie feite bekend gemaak en bespreek word. Een daarvan is http://www.pre-trib.org Daar moet van hierdie inligting kennis geneem word, sonder om met ‘n Calvinistiese pen ‘n streep daardeur te probeer trek. Op hierdie subjektiewe manier sal ons nooit by die Bybels-eskatologiese werklikhede van die 21ste eeu uitkom nie.
          Johan Malan

          Reply
  3. Jaap Folmer

    Ek is Nederlander en woon in die VS. Ek vind dit baie snaaks hoe die EU deur julle blykbaar net deur die Britse bril gesien word. Is julle ‘n stukkie British Empire? Dit klink so: ”..Die EU se beste tye is blykbaar ook verby..” Regtig? Ek dink ons moet net die Britte uitstoot en dan kan eindlik regtig verenig.

    Reply
    • Sebastiaan Biehl

      Geagte mnr. Folmer,

      ons Afrikaners (Boere) is tradisioneel skepties teenoor die Britte en die Afrikaner se tradisionele konserwatisme en nasionalisme het dikwels gebots met die Britte se liberalisme en internasionalisme. Ons is juis teen die idee van “empire” gekant, en dus ook teen ‘n Europese “empire”. Nietemin, wat die EU betref is dit Brittanje wat vashou aan die eintlike ideaal van ‘n hoofsaaklik ekonomiese verbond van onafhanklike state. Dit is veral Duitsland wat die praktiese sy vervang het met die ideologiese sy, naamlik die wegdoen van die vaderlande en die skep van ‘n multi-nasionale of nie-nasionale superstaat. Dit is nie net Brittanje wat ongemaklik voel daaroor nie, maar eintlik meeste state en veral meeste volke binne die EU. As daar lande is wat wil verenig, laat hulle dit doen. Maar dan moet daar ‘n referendum wees in elke land. Dit sou my egter verbaas as enige volk wat sy eie land het bereid sou wees om sy soewereiniteit op te gee. Daar is min voorbeelde in die geskiedenis waar dit gebeur het.

      Reply
  4. Dirk Breytenbach

    Ek stem volmondig met Sebastiaan saam. In my ervaring met internasionale instellings in SA en Oos Afrika was daar weinig simpatie of opbouende meelewing te bespeur was tov die lande waar hulle opereer. Inteendeel party van die internasionale maatskappye het reeds weer onttrek of verkoop met die gepaardgaande verlies van werksgeleenthede nadat winste gerepatrieer was. In sekere gevalle was daar tydens aanvanklike investering van poste ontslae geraak. Die mees onlangse voorbeeld hiervan was Barclays wat van duisende poste ontslae geraak het en nou weer wil onttrek. Hierdie is maar ‘n klein voorbeeld van hoe globalisering nooit regtig tot wedersydse voorspoed gelei het nie en eintlik ‘n selfsugtige eenrigting word. Volgens my waarnemings is die grootste enkele voordeel wat globalisering teweeg gebring of aangehelp het die internet wat geleenthede vir deel van inligting, kennis, e-handel en opleiding geweldig uitgebrei het maar ek vermoed die internet sou in elk gedy het sonder globalisering met sy sentralistiese inslag. Soos deur jou genoem is die EU nie baie tevrede met hulself nie en sukkel Afrika om eenheid te bewerkstellig in die AU wat ondermyn word deur die diversiteit en gevestigde belange van nasies wat nie maklik sal verdwyn nie. Ek voorsien ‘n wegbeweeg van die internasionale belange politiek terug na outonome nasies wat in elk geval met mekaar sal handel dryf waar ekonomiese realiteite dit noodsaak. Die kringloop is dan voltooi wat ons eindelik terugbring by ons plaaslike dilemma van ‘n volkstaat wat gevrees word deur die voorstanders sentralisme. Die tyd was nog nooit so ryp as nou vir ons kulturele en ekonomiese migrasie na ‘n beter dispensasie vir onsself nie. Orania is ‘n skitterende voorbeeld van progressiewe denke om welvaart en ‘n standhoudende toekoms te verseker binne kulturele en groepsverband waar Orania nie slegs op ‘n geografiese posisie grondslag gevestig sal word nie.

    Reply

Submit a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.

3 + seven =