globalisationDie Duitse ekonoom Thomas Straubhaar (wat eerder vanuit ‘n links-liberale paradigma skryf) skryf in die koerant Welt oor aanduidings dat die era van globalisering tot ‘n einde kom. Ander publikasies soos Washington Post het verlede jaar al soortgelyke artikels geskryf. Globalisering het sowel ‘n ekonomiese asook ‘n politieke sy. Die kernidee van globalisering is om die wêreld soos een plek te hanteer. Dit beteken die maksimale verbinding tussen mense, state, besighede ensovoorts en die ophef van grense op alle terreine. In die ekonomie vind globalisering sy uitdrukking in die ophef van staatlike beheer en in wêreldwye handel en uitruil van produkte en dienste sonder inagname van nasionale grense en nasionaliteit. Talle groot maatskappye is vandag heeltemal globalisties van aard, hulle bestuur, hulle personeel, hulle nedersettings is orals ter wêreld te vinde. Polities vind globalisering sy uitdrukking in die verlies van grense en die samewerking van state met die uiteindelike doel om alle grense op te hef. Die EU, aanvanklik ‘n hoofsaaklik ekonomiese alliansie van state, verander toenemend in ‘n soort superstaat wat alle nasies dieselfde hanteer en wat nasionale grense en nasionale regerings betekenisloos wil maak.

Globalisering se segetog het veral in die 1990’s begin. Die internet was daarvoor van kardinale belang, wat ongekende moontlikhede oopgemaak het. Polities was die einde van die Koue Oorlog en die opkoms van die “nuwe wêreldorde” (George Bush snr.) en “die einde van die geskiedenis” (Francis Fukuyama) die wagwoorde. Die hoop en verwagting was dat ‘’n wêreldwye verbruikersamelewing ontstaan. Dit is wel so dat intussen meer mense as ooit toegang tot kommunikasie en die internet het, dat wêreldwye toerisme en die uitruil van goedere hoër is as ooit en dat die lewenstandaarde oor die algemeen toeneem. Meer mense as ooit het toegang tot verbruikersgoedere, ook danksy die opkoms van Sjina as fabriek van die wêreld. Die voorwaarde vir globalisering is ekonomiese groei wat almal bevoordeel. Volgens die globalistiese logika word dinge soos godsdiens, volksidentiteit, waardes ensovoorts minder belangrik in ‘n toenemend materialistiese samelewing (en uit die oogpunt is dit positief, omdat volgens die logika oorlog minder waarskynlik maak. Waar almal iets het, wil niemand iets verloor nie en waar “irrasionele” dinge soos godsdiens en etnisiteit minder belangrik word, is daar meer gemeenskaplike grond en dus minder rede vir konflik).

Volgens Straubhaar, ’n aanhanger van dié logika, dui gebeure van die afgelope tyd egter in ‘n ander rigting. Die aanduiding is dat wêreldwye ekonomiese groei verlangsaam en nie meer tred hou met bevolkingsgroei nie. Ook die wêreldwye handel neem af. Dit het reeds in 2008 met die wêreld finansiële krisis ‘n duik gekry en daarna wel weer herstel, amar nie meer tot vlakke voor 2008 nie. Veral Sjina, die nuwe enjin van die wêreldekonomie, begin probleme kry. Onlangs was daar weer ‘n skerp daling in die aandelebeurs en data oor ekonomiese groei lyk minder belowend as waaraan ’n mens gewoond was. Ook ander belowende opkomende lande uit die BRICS-groep, by name Brasilië, Rusland en natuurlik Suid-Afrika, struikel. As die ekonomie steier, beteken dit dat konflikte oor materiële dinge weer gaan uitbreek. Mense kom nie in opstand omdat hulle arm is nie, maar as hulle verwagtings van ‘n beter lewe teleurgestel word. Sulke omstandighede skep weer gulde geleenthede vir populiste, wat mense rondom klas, ras, nasie, volkskap of godsdiens opsweep. (En, anders as wat meeste meningsvormers beweer, kan populiste sowel regs asook links wees. Julius Malema is ‘n voorbeeld vir die laasgenoemde.) Veral die geweldige oplewing van fundamentalistiese Islam is in 1990 nie verwag nie en is die oorsaak van talle konflikte sedertdien.

Die EU se beste tye is blykbaar ook verby, want die Griekeland-krisis en nog meer die vlugtelingskrisis wys dat die lomp superstaat nie doeltreffend kan optree nie en dat die leiers nie eensgesind is nie. Mense vertrou weer eerder die nasionale regerings, wat in elk geval meer legitimiteit besit. Die dogma van oop grense wys nou sy nadeel. Dit is lekker om in die hele EU sonder kontroles te reis, maar dit beteken ook dat vlugtelingstrome nie meer beheer kan word nie. Van Europese solidariteit en gesamentlike optrede is geen sprake meer nie en regerings tree weer in eie belang op. Dit beteken dat lande teen mekaar opgestel word, soos reeds gebeur met die Oos-Europese teenoor die Wes-Europese dele van die EU. Eersgenoemde wil slegs die ekonomiese voordeel van die EU sonder die politieke magsoordrag hê en laasgenoemde wil in ruil vir hulle geld besluitnemingsfunksies oordra aan die EU. Die soort nasionale belangepolitiek benadeel natuurlik ook handel en uitruil van dienste en wêreldwye werksverdeling en spesialisasie.

Vir diegene wat die volkstaat-ideaal al vir baie jare verkondig, kom die toedrag van sake as ‘n soort bevestiging dat ons op die regte pad is. Dit is nie die geval dat ‘n mens hoop vir meer konflikte en vir ‘n inkrimping van die wêreldekonomie nie. Dit is wel die geval dat die stigters van Orania en die voorstanders van ‘n eie staat vir Afrikaners (en van die beginsel van selfbeskikking vir alle volke) die werklikhede verreken het. Dit kan as  ‘n soort “politieke natuurwette” van die wêreld gesien word wat deur die geskiedenis bewys is. Die kort tyd van post 1994 euforie of die opkoms van globalisering en die materiële voordele daarvan maak die politieke natuurwette nie ongedaan nie. Suid-Afrika het ontwikkel soos die sogenaamde regses van die 1980’s en 1990’s dit voorspel het. Nie presies volgens dieselfde tydskedule nie, maar wel in dieselfde rigting. Ons ideaal kan nie slaag in ‘n wêreld waar mense kultuur, volkskap en godsdiens as uitgedien beskou nie en ekonomiese selfstandigheid as onhaalbaar en onnodig afmaak. Ons was vir lank teen die stroom in gewees, maar dit lyk asof die gety nou draai.

 

0
    0
    Jou Mandjie
    Jou mandjie is leegKeer terug na Winkel