Wanorde midde punte van orde: `n Alternatief op die chaos

EFF_Parly_SONADie staatsrede is, soos `n jaar gelede ook die geval was, gekenmerk deur verskeie onderbrekings. Herhaalde versoeke vir insette op `n “punt van orde” het vanuit opposisiebanke opgeklink. Dit was veral lede van die EFF wat vir die meeste ontwrigting gesorg het en uiteindelik die Nasionale Vergadering verlaat het met `n nuwe strydlied: “Zupta must fall.” `n Uur nadat die staatsrede veronderstel was om te begin kon President Jacob Zuma eers sonder onderbreking praat.

Enkele ure voor die chaos in die parlement word `n skrywe uit die pen van Carel Boshoff per e-pos aan bykans 15 000 intekenare versprei. Dit word ook op die Orania Beweging se facebookblad met 25 000 volgelinge geplaas. Dié skrywe in die vorm van `n opebrief aan Afrikanerbesluitnemers neem in `n mate die vorm van `n staatsrede aan. Carel beskryf dit as die Orania Beweging se volk-staatbetoog. Nie `n staatsrede nie maar `n volksrede wat 2016 se uitdagings saamvat en riglyne bied oor hoe dit oorkom kan word.

Die reaksie op dié skrywe was oorweldigend positief. Daar is vergelykings getref tussen die suksesse in Orania wat Carel lys en die stand van sake in die res van die land. Die feit dat daar nie weggeskram is van ongemaklike uitdagings nie staan ook in skrille kontras met Zuma se staatsrede waarin die droogte byvoorbeeld erkenning geniet maar geen voorbeelde van hoe dit aangespreek word genoem is nie.

As `n Oraniër verstaan ek baie goed dat ons nie in isolasie bestaan nie. Ek besef dat die staatsrede en die besluite in die parlement ook `n invloed op my het aangesien ek steeds ook `n Suid-Afrikaner is. Maar ek besef ook dat ek nie my volle vertrou in die funksionering (al dan nie) van die parlement kan plaas nie. My toekoms kan nie uitgelewer wees aan punte van orde en strydkrete wat Zuma se ondergang bepleit nie.  Ek kan ook nie vertrou dat opposiepartye se repliek op die staatsrede vir my `n beter toekoms kan verseker nie. Daar moet `n alternatief wees.

Orania het 25 jaar gelede as `n groeipunt vir Afrikanerselfbeskikking begin. In 1991 was die kritici en skeptici se menings duidelik. Daar is gereken dat Orania tot `n klein groepie beperk sal wees wat oor die volgende paar jaar sou uitsterf. Daar is gesê dat Orania gedoem is om te misluk. Met toenemende verstedeliking geniet die meeste plattelandse dorpe `n negatiewe groeikoers. Waar daar wel bevolkingsgroei voorkom is dit selde meer as 2% per jaar terwyl Orania `n gemiddelde groei van 10% per jaar geniet. Daarmee saam vestig verskeie entrepreneurs nuwe ondernemings wat werkskepping en ekonomiese groei bevorder.

Vanjaar vier Orania hierdie besondere mylpaal en word daar ook aan die toekoms beplan. Ons gaan van Orania `n stad maak om aan minstens 10 000 Afrikaners `n tuiste te bied. Daar kan reeds gesien word hoe die infrastruktuur uitgebrei word om by te bly met die groei wat die gemeenskap tans beleef. Daar word dienste aangelê na nuwe ontwikkelings en navrae van voornemende intrekkers stroom in. Orania groei!

Die staatsrede beskik oor die vermoë om Afrikaners met `n swaar gemoed te laat. Hoe kan daar groei wees met soveel chaos? Hoe is soveel wanorde moontlik met soveel ‘punte van orde’? Dan is dit belangrik om tot die besef te kom dat ons toekoms in ons eie hande is en jou betrokkenheid kan help om `n volhoubare alternatief te vestig. Om uit Carel se volk-staatbetoog aan te haal: “Orania moes wys dit is moontlik om so ’n eie bestaan te voer en na 25 jaar kan ons van die dakke af verkondig: Dit is moontlik! En wat meer is: as ’n handjievol pioniers se idealisme dít kon vermag wat vandag hier staan, dink net wat kan ons mense in hulle tienduisende nie vermag en help vermag as hulle hulle gewig daaragter ingooi nie.”

Agtergrond: Waar ons vandaan kom en waar ons heen gaan

In die vorige aflewering van Agtergrond is Orania binne breër verband in behandeling geneem. Daarby is veral na ons verhouding met mede-Afrikaners, met Suid-Afrika as staatkundige entiteit en met die wêreldwye gemeenskap van volke, nasies en state verwys. In elke geval sal die verhoudinge wat ons vestig, bepalend wees vir die erkenning wat ons nodig het om van selfstandigheid vryheid te maak.

 

Twee ander kwessies waarna verwys is, maar wat verdere besinning verdien, is die vraag van plek, ligging en omvang en die vraag van die verlede en van ons toekomsverwagtings. Die noodsaak van ’n stedelike kern vir ’n Afrikanergebied is vermeld met die vooruitsig dat daar verder oor besin sal word.

 

Maar dit is nie wat ek in hierdie Agtergrond wil doen nie. Eers wil ek die vraag van verlede en toekoms, van waar ons vandaan kom en waar ons heen gaan verder oorweeg. Nie dat `n mens die vraagstukke van mense, tyd en plek waterdig van mekaar kan skei nie, dit is juis asof politiek uit die saamweef van die drie sake bestaan. Daarom dat ek die vraag konkreet stel: Waar kom ons vandaan en waar gaan ons heen? En natuurlik kan so ’n vraag op ’n veelheid van maniere aangepak word en ek wil maar een toepaslike, en vir my noodsaaklike, perspektief ontgin. Dit het te make met hoe die verhouding tussen ons en die ander in die verlede ingerig is om ons selfbehoud te verseker en wat ons in die toekoms moet doen om steeds ons selfbehoud te verseker.

 

In navolging van dr GD Scholtz se monumentale “Die ontwikkeling van die politieke denke van die Afrikaner”, in besonder van Deel I wat oor die tydperk van 1652–1806 handel, wil ek na twee faktore verwys wat die grondslag gelê het vir ons verhoudinge sedertdien. Die eerste is ’n besluit wat in 1657 al in werking gestel is, naamlik dat slawe na die Kaap ingevoer word om die harde arbeid te verrig. Die tweede is ’n besluit in 1706 om verdere Europese immigrasie af te raai en te beperk. Dit is deur WA van der Stel aanbeveel en deur die VOC vasgelê.

 

Die logiese gevolge van die eerste besluit was dat die Afrikanervolk sedert sy ontstaan nie alle vorme van arbeid uit eie geledere verrig het nie, maar slawe en inboorlinge, meestal swart, daarvoor gebruik het. Die Europese oorheersing van die wêreldtoneel het vir die volgende drie eeue of wat van hierdie verhouding tussen ’n dominante wit en ’n onderhorige swart bevolking die norm gemaak. Nadat slawerny afgeskaf is, het loonarbeid die plek daarvan ingeneem, maar arbeiders se onderhorigheid het in baie opsigte nie verander nie. Dit sou eers sedert 1945 begin verander en daarby was Suid-Afrika, wat onder Afrikaners se politieke beheer en Engelse en Jode se ekonomiese beheer was, nie op die voorpunt nie.

 

Die logiese gevolg van die tweede besluit was dat die Afrikanervolk nooit ’n talryke volk sou word nie. Hoewel immigrasie uit die moederlande nie heeltemal tot stilstand gekom het nie, was daar teen 1706 nog geen 2000 Europeërs aan die Kaap nie en moes die bevolking daarna hoofsaaklik by wyse van natuurlike aanwas groei. Dit is maklik om by terugskoue te sien hoe anders sake later daar sou uitsien as ’n bevolking van net 20 000 of 10 000, of selfs net 4000 vroeg in ons geskiedenis aan die Kaap sou gevestig het. Indertyd is egter aangevoer dat die land te onvrugbaar is en die ekonomie te klein om meer mense in te neem – veral aangesien die meeste werk in elk geval deur slawe verrig word.

 

Die doel van my verwysing is egter nie ’n treurmare oor verkeerde besluite in die verlede nie; daarmee sal ons (maar ook ons nakemelinge!) hulle vir altyd kan besig hou sonder om die toekoms beter te maak. Die doel is om te verstaan hoe dit gekom het dat Afrikaners hulle verhouding tot mede-Suid-Afrikaners aan die hand van ’n swart-wit en baas-klaasverdeling verstaan het (en dikwels nog verstaan) en waarom ons by vrae van selfbehoud so oormatig skerp kan reageer. Uit die geskiedenis weet ons baie goed wie is ons en wie is hulle en bring ons klein getalle, sowel as ons ongunstige verhouding tot hulle getalle, mee dat ons alles gedoen het om te verhoed dat ons aan die meerderheid ondergeskik gestel word. Dit was die ander kant van die munt van ons vryheidstrewe.

 

Hierdie verhouding tussen ons en die ander is in die een woord, naamlik “apartheid” saamgevat. Selfs nadat Afrikanerleiers soos dr Verwoerd, wat ook vir die swart volke vryheid in hulle eie gebiede in die vooruitsig gestel het, van dié woord wou afstap en dit met “afsonderlike ontwikkeling” probeer vervang het, het “apartheid” ’n internasionale woord geword om politieke bedelings te beskryf wat ’n wesenlike deel van ’n staat se bevolking van deelname uitsluit. In Suid-Afrika is elke klein maatreël wat swart- en witmense uitmekaar gehou het onder die vergrootglas geplaas en is aangetoon hoe dit tot die voordeel van die een en tot die nadeel van die ander uitgewerk het.

 

Min eerlike Afrikaners met ’n historiese bewussyn kan vandag sê dat hulle dié orde onbegryplik vind, selfs al het hulle mettertyd tot die besef gekom dat dit nie net onvolhoubaar is nie, maar ook nadelig vir toekomstige verhoudings. Maar dat hulle dit begryplik vind, beteken nie dat sulke Afrikaners apartheidsmaatreëls weer in werking wil sien nie. Selfs nadat die afskaffing daarvan tot baie van die gevolge gelei het wat destyds gevrees is en waarteen apartheidsmaatreëls die blanke minderheid probeer beskerm het, het denkbeelde van universele menseregte en gelykheid sedert die Tweede Wêreldoorlog oorheersend geword en wil min van ons mense dit ignoreer, selfs al sou hulle kon.

 

Afrikaners wat hulle dus vandag vir selfbehoud beywer, kan aan die een kant nie val vir die liberale fiksie dat daar in werklikheid geen ons en hulle meer is nie en dat die hele mensdom een groot ons geword het nie. Aan die ander kant sal ons egter ook nie ons selfbehoud dien as ons die verlede in die vorm van apartheidsmaatreëls probeer herstel nie, inteendeel, ons sal al die kragte wat die ou Suid-Afrika nie meer kon trotseer nie – en meer – op ons fokus en ons hele strewe tot ’n stuk verrinneweerde nostalgie verskraal. En wat vir selfbehoud geld, geld te meer vir vryheid, want die eise wat dit stel is nog strenger. Die rede is dat vryheid nie net na binne werksaam is nie, maar ook na buite. ’n Volk se vryheid vereis erkenning ook van diegene van wie ’n bedreigde gemeenskap hom dalk nog in privaatheid sou kon afkeer. Maar daaroor is verlede keer genoeg gesê.

 

Die punt is dat ons selfbehoud, wat die voorwaarde vir vryheid is, op twee antwoorde op die twee groot vraagstukke van ons vroeë geskiedenis berus. Dié twee antwoorde is selfwerksaamheid en konsentrasie. Die rede is dat dit apartheidsmaatreëls soos van ouds en al die probleme wat dit meebring, oorbodig maak. Verder word ons verhouding tot die ander nie deur ’n gevoel van bedreiging en verdringing bepaal nie, maar deur veiligheid en selfvertroue. Dan kan `n mens, by wyse van spreke, bekostig om gasvry te wees, wat meebring dat die pad van erkenning gee en erkenning verkry, oop voor ons lê. Eers dan maak selfbehoud die deur na vryheid oop.Domein-Simon-van-der-Stel

Die Orania Beweging se volk-staatbetoog vir 2016

IMG_7002’n Ope brief aan Afrikanerbesluitnemers

Geagte mede-Afrikaner,

Orania word vanjaar 25 jaar oud. Nie die paaie en pype en eerste geboue nie, dié is nader aan 50 jaar oud, maar die huidige vryheidsgerigte Afrikanergemeenskap wat in 1991 ’n tweede lewe aan die leë dop van ’n verlate konstruksiedorp kom gee het. Die poging om daarvan ’n tuiste en vastrapplek vir ons strewe te maak, word vanjaar 25 jaar oud. Met ander woorde ‘n tuiste nie net vir mense nie, selfs nie net vir gesinne en families nie, maar van kerke en skole, winkels en kantore, werkswinkels en fabrieke, van Radio Orania, die Maatskaplike Raad, Elim, ’n Koöperatiewe bank, die Groeifonds … en so kan ek voortgaan.

Orania is na 25 jaar ‘n suksesvolle plaaslike gemeenskap, gebou op eie grond, eie arbeid en eie ins-tellings. As sodanig is Orania ’n werklikheid én ’n wegwyser. Orania vergestalt ’n nuwe denkwyse wat aan die einde van die vorige eeu na vore getree het om ons mense uit die doodloopstraat van onvolhoubare minderheidsoorheersing te lei, ’n denkwyse wat in werking gestel moes word om ernstig geneem te kan word. Orania moes wys dit is moontlik om so ’n eie bestaan te voer en na 25 jaar kan ons van die dakke af verkondig: Dit is moontlik! En wat meer is: as ’n handjievol pioniers se idealisme dít kon vermag wat vandag hier staan, dink net wat kan ons mense in hulle tiendui-sende nie vermag en help vermag as hulle hulle gewig daaragter ingooi nie.

Orania moet nie net groei nie, selfs nie net blom nie. Orania moet floreer. Dit is die gees waarin hierdie derde volk-staatbetoog aan Burgerraadslede en Afrikanerbesluitnemers gerig word.

Dít saam met die ervaring dat nuwe denkbeelde nie vinnig vestig nie, iets waarmee ons deurgaans rekening moet hou. Orania beweeg op die snykant van idees en ervaar elke dag watter eise deur die harde werklikheid aan ons drome en ideale gestel word. Ons ervaar dat mense veel eerder by die gebaande weë bly solank dit maar moontlik is, dat ons mense dikwels oë toeknyp en hou wat hulle het, eerder as om, letterlik of figuurlik, die onbekende in te trek. En dan trek almal ook nie in die-selfde rigting nie! Verder, net soos amper 180 jaar gelede met die Groot Trek, net soos met elke nuwe beweging is dié wat dit begin en dié wat dit voortsit, nie altyd dieselfde mense nie – kan dit nie wees as dit ’n volksbeweging word nie.

Aan die een kant verseker nuwe mense met nuwe gedagtes dat ’n beweging soos Orania s’n nie tot stilstand kom nie, aan die ander kant moet ons jaloers waak oor die uitgangspunte, oortuigings en praktyke waarsonder die beweging koers kan verloor.

Luisteraars van Radio Orania het onlangs die voorreg gehad om na ’n volledige opname van dr Verwoerd se feesrede by die vyfde herdenking van Suid-Afrika se republiekwording in 1966, vyftig jaar gelede, te luister. Meer as een inwoner het my daarna op straat gestop met woorde soos: “Kan jy glo, hy praat soos met intelligente mense!” En: “Vyftig jaar later kan ons elke woord verstaan.” Self het ek daardeur verryk gevoel, selfs al het dit min regstreekse betrekking op vandag gehad. Daar het immers net soveel tyd verloop van dié herdenking tot met die stigting van die nuwe Orania, as van dié stigting tot vandag.

Buiten vir ’n hele idioom wat mens hier nie kan beskryf nie en vir die debat oor ’n volksleier se kritiek op kunstenaars wat die ontvangs destyds oorheers het, is daar ’n treffende punt wat my bygebly het en wat van belang is vir ons strewe vandag. Dr Verwoerd voer aan dat die verrassend vinnige gebeure rondom Republiekwording, wat Suid-Afrika soos ’n “bliksemslag” getref het, slegs kon plaasvind danksy jare en dekades se gisting en voorbereiding wat dit voorafgegaan het. Toe die geleentheid hom dus voordoen, was leiers gereed om dit aan te gryp en te doen wat gedoen moes word sodat die toekoms verder op ’n heel ander grondslag tegemoet gegaan kon word.

Aan die een kant getuig die onbeholpenheid waarmee ’n volgende geslag NP-leiers dertig jaar later op die eise en omstandighede van hulle tyd gereageer het, van ’n akute gebrek aan gisting en voor-bereiding sodat nie hulle nie, maar hulle opponente die toekoms soos met ’n donderslag verander het. “Gisting en voorbereiding” kom duidelik nie vanself nie en dit is moontlik om ongereed te wees, om in ’n groef te verval en die slagoffer van die geskiedenis te word. Wie nie erns maak met die eise van sy tyd en omstandighede én ’n visie het wat daarbo uittroon nie, kan nie skeppend op sy eie toekoms ingryp nie. Die visie wat Republiekwording moontlik gemaak het, was een van vryheid vir ons volk. Dít is ook die visie waarmee ons nou weer die tyd en omstandighede te-gemoetgaan en ons gereed maak om elke kans wat dit bied, aan te gryp.

Hoe lank dit sal neem, weet ons nie, maar dat ons gereed en beweeglik moet wees vir elke ge-leentheid wat hom voordoen, staan vas. Juis met die oog daarop moet Orania floreer.

Agtergrond: 2015

Om meer spesifiek te wees oor 2016 en wat ons vanjaar te doen staan, sal dit ons baat om kortliks bestek opneem van waarmee 2015 ons gelaat het. Sonder om oordrewe swartgallig te wees, moet `n mens erken dat die jaar gekenmerk is deur onmoedgewende voorspellings – wat in vervulling begin gaan het. Ek verwys na enkele merkers eerder as om elke besonderheid te probeer uitspel.
Die eerste en opspraakwekkende reeks gebeure wat ter sake is, was die studente-opstande van 2015. Koloniale simbole en studiefooie het onder skoot gekom en naas Rhodes en ander grondleggers van universiteite moes ook die fooie val en toegang tot universiteite aan die eis van “gelykheid” onderwerp word. Dit kan as ’n uitbreiding van reeds heersende dienste-opstande wat in onlangse jare regoor Suid-Afrika plaasgevind het, beskou word. ’n Hele nuwe sektor van die samelewing is egter daarby betrek en dit het opnuut die klem geplaas op strukturele spannings wat Suid-Afrika kenmerk. Die verwagting dat die opkomende swart middelklas ’n teenrewolusionêre uitwerking sal hê en dat die gevestigde belange wat die afgelope twintig jaar deur die ANC verteenwoordig word, wet en orde sal verseker, is wreed deur die studente se optrede, wat dikwels krasser was as wat in die media gerapporteer is, ontnugter.

Die tweede stel gebeure hang met die regering se middeltermynbegroting saam en met die ontvangs wat die Minister van Finansies, Nhlanhla Nene, vir sy boodskap dat die geld op is, gekry het. Die bisarre gebeure wat op sy afdanking gevolg het, die aanstelling en afdanking dae later van sy onbekende opvolger en die uiteindelike heraanstelling teen pres Zuma se wens van ’n vorige Minister van Finansies, Pravin Gordhan, kon ’n mens laat lag as die gevolge vir die ekonomie nie so vernietigend was nie.

Armoede en werkloosheid is lankal, ook deur ons voorgangers in die Orania Beweging, as ’n tydbom beskryf. Dit wil voorkom asof die tyd gekom het en ’n mens kan maar dink watter uitwerking voedseltekorte, wat ’n verdere gevolg van swak regering, ekonomiese terugslae en droogte kan wees, op die ontevrede jong bevolking kan hê. Om die waarheid te sê, RW Johnson se “How long can South-Africa survive” (Junie 2015) laat mens al meer soos iemand voel wat ’n moordverhaal lees en vind dat hy self deel van die storie is, waarskynlik die slagoffer. Dit lyk asof `n mens na ’n jaar of twee nie sal onthou of jy voorspelling of geskiedenis gelees het nie.

Net soos met die joernalis/skrywer Justice Malala se “We have now begun our descent” (2015) lyk die beste moontlike uitkoms van huidige verwikkelinge nie net onwaarskynlik nie maar ook uit ons oogpunt nie te gunstig nie. Malala gaan uit van ’n diepe lojaliteit aan Suid-Afrika en sy mense, maar staar hom blind teen die eise van eenheid wat een, sentralistiese Suid-Afrika stel. Lees Johnson en Malala verder saam met die Nederlandse politikus en skrywer Martin Bosma se boek “Minderheid in eigen land” (Mei 2015) waarin die versuikerde mites wat oor die anti-apartheidstryd verkondig is en word, ontmasker word, en daar bly min rede oor om ’n positiewe wending vir Suid-Afrika soos ons dit sedert 1910 geken het, te verwag.

AfriForum se dokumentêre film “Tainted Heroes” wat vroeg vanjaar bekendgestel is, voer die ontmaskering wat onder andere deur die liberale navorser, dr Anthea Jeffreys gedoen is, verder en sal die pretensies van ’n onkritiseerbare postkoloniale bedeling mettertyd vernietig. Uit die Orania Beweging se oogpunt is die probleem egter dat slegte verwagtings wat in vervulling gaan, nog geen waarborg vir ons sukses is nie; inteendeel, dit kan die aanvaarding van Orania as ’n positiewe en onbestrede alternatief vir ’n disfunksionele Suid-Afrika bemoeilik eerder as bevorder. Daarom dat ons nie daaroor juig nie, maar gereed moet wees as dit gebeur.

Intussen is dit asof baie van ons mense ’n onuitputlike vermoë om by omstandighede aan te pas openbaar, eerder as om drastiese aanpassings aan hulle denkwyse en praktyke te maak. Een so ’n aanpassing is om te emigreer na waar ’n soortgelyke lewenstyl as wat Blankes in Suid-Afrika geken het, nog gehandhaaf kan word. Nog een is onttrekking aan die politiek en openbare sake en ’n oënskynlike berusting in die nuwe omstandighede. Selfs waar ons mense teen die stroom in hulle eie identiteit wil behou en beskerm, is dit soms aan die hand van ou, uitgediende denkbeelde wat ons in die verlede al in die steek gelaat het.

Hoewel die wending na Orania versnel, moet dit vir baie mense deur ’n katarsis voorafgegaan word om nie bloot op ’n poging om ou maniere op ’n kleiner skaal te herhaal, neer te kom nie. Daarom dat nuwe denkbeelde so noodsaaklik is.

Vooruitsigte vir 2016

Van 2016 kan ons dus verwag, en sien ons reeds die tekens, dat onderlinge verhoudinge tussen Suid-Afrikaners, veral Swart en Wit, steeds gaan verswak. “Rassisme” het nie net die gunstelingsonde onder die nuwe Fariseërs geword nie, dit is deurentyd besig om ’n breër betekenis te kry. Vir die Suid-Afrikaanse establishment verwys dit reeds na enige vorm van selfbehoud waarop ’n identifiseerbare groep aanspraak maak. Vir die Jong Turke verwys dit dalk al na die blote lidmaatskap van so ’n groep. Die gevolg is dat Orania se uitgesproke verwerping van rassisme in die sin van onbehoorlike of ontoepaslike gebruik van afkoms as maatstaf vir ’n mens se optrede hom nie vrywaar van die ewige beskuldiging dat hy in die sonde van rassisme ontvang en gebore is en in werklikheid onbestaanbaar is nie.

Voeg daarby dat dit vanjaar weer ’n verkiesingsjaar is en dat die ANC, soos reeds in ’n vorige betoog van hierdie aard aangevoer, deur opposisie van links aan sy eie radikale wortels herinner sal word, dan is dit nie moeilik om te sien dat druk op goeie verhoudings tussen mense van verskillende agtergronde in Suid-Afrika sal toeneem nie. Met ons mense se ervaring van verswelging, wat die eenvoudige gevolg van ou vestigingspatrone, nuwe vestigingspatrone en aanwasverskille tussen Swart en Wit is, en hulle ongeneëntheid tot onderdanigheid, moet wonderwerke ook nie van dié kant verwag word nie.

Dit is juis in hierdie opsig dat Orania iets onvervangbaar verteenwoordig: ’n platform vir wedersydse erkenning waarop goeie verhoudinge op ’n volhoubare grondslag gebou kan word. Om dit reg te kry sal egter nie net toewyding en geduld nie, maar bo alles selfvertroue verg. Mense wat in hulleself onseker is, is makliker vatbaar vir stereotipering met betrekking tot beide hoe hulle ander sien en hoe ander hulle sien. Stereotipering staan in die weg van realistiese wedersydse erkenning en word slegs deurbreek deur iemand wie se selfbeeld uit meer bronne as net dié met wie hulle op ’n gegewe tydstip omgaan, bepaal word. Daarom kan ons nooit na binne ons vormingsideaal prysgee en na buite nalaat om daaraan uitdrukking te gee nie.

Ekonomiese vooruitsigte lyk inderdaad ook nie te rooskleurig vir Suid-Afrika nie, deels as gevolg van internasionale tendense en kommoditeitsbehoeftes en deels te wyte aan swak regering en korrupsie. Nie een van die twee verskynsels is oppad om oornag te verander nie en sal meer arm mense, waarvan die grootste getal swart sal wees, op die staat aangewese laat voel vir lewensmiddele en versorging. Ons sien dit immers reeds gebeur. Dit terwyl die staat se bronne uitgeput is en daar min aanmoediging is vir buitelandse of selfs binnelandse beleggings in Suid-Afrika. Hoewel dit op ’n erge vereenvoudiging van komplekse ekonomiese gegewens neerkom, is dit duidelik dat die Suid-Afrikaanse regering nie aan die opkomende swart jeug se verwagtinge van welvaart kan voldoen nie en dit tot politieke onstabiliteit sal bydra.

Afrikaners beskik oor die vermoë om ’n groot bydrae tot ’n stabiele Suid-Afrika lewer maar word juis deur swak regering en korrupsie op ’n afstand daarvan gehou en moet nie ydele drome van onmisbaarheid droom nie. Waar individue hulle soms nog in ’n posisie van betreklike onmisbaarheid bevind, sal dit nie van ’n groep mense met die etiket “rassis” om die nek aanvaar word nie. Welvarende Afrikaners moet eerder verwag om as sondebokke beskou te word as om te verwag dat hulle as redders verwelkom sal word. Ons het reeds ’n ongekarteerde landskap betree en sal ons gesonde verstand moet gebruik om nie te verdwaal nie.

Strategiese fokus vir 2016

Op grond van die ietwat neerdrukkende vooruitsigte vir 2016 moet die Orania Beweging, maar ook elke Afrikaner in ’n besluitnemende hoedanigheid, ten minste op die volgende belangrike sake fokus:

• Ons moet nuwe denkbeelde ontwikkel en vestig en die probleme van ons dag nie met die oplossing van gister en eergister tegemoetgaan nie. Dié denkbeelde hoef nie uit die niet geskep te word nie, maar kan aansluiting vind by werk wat die afgelope jare binne sowel as buite die Orania Beweging gedoen is om na die eise van ons tyd op te lewe. Groot probleme kan nie met klein oplossings tegemoetgegaan word nie en ons moet die eise wat die toekoms aan ons gaan stel, nie onderskat nie. Om baie spesifiek te wees: denkbeelde wat van die vryswewende individu uitgaan en ’n oplossing in die gewaande grondwetlike waarborge van sulke individue se regte soek, is nie in staat om ons mense se veiligheid te verseker of ons vryheid te bemiddel nie. Dit wil ons daarenteen onderhorig hou aan ’n bedeling wat ons vermoë om na mekaar en na onsself om te sien, ondermyn omdat dit ons gemeenskapsgrondslag geringskat of ontken.

• Ons moet Orania se posisie as ’n derde punt buite die spanningsvelde wat Suid-Afrika kenmerk en Suid-Afrikaners ontmagtig, uitwerk en ontgin. Orania kan byvoorbeeld nie sonder meer met welvaart uit die verlede vereenselwig word nie en worstel ook met armoede; Orania kan nie met sienings van wit meerderwaardigheid verbind word nie en is bewus van ons eie beperkings; Orania wil nie die meerderheid Suid-Afrikaners die geleentheid misgun om oor hulle eie toekoms te beslis nie en wil ook nie beskikking oor sy eie toekoms prysgee nie. Orania kan op ’n sinvolle wyse met ander Suid-Afrikaners saampraat oor werkskepping, armoedeverligting en gemeenskapsbemagtiging – en moet dit ook doen ter bevordering van sy eie belange.

• Ons moet Afrikaners se posisie in die wêreld en in Afrika vanuit Orania help verseker en bevorder. Al beskik ons nog nie oor `n groot vermoë om dit te doen nie, moet ons skakeling ten behoewe van Afrikaners in verstrooiing duidelik wys dat daar ’n onbetwisbare Afrikanertuiste en Afrikanerbelang is en dat dit deur gesamentlike optrede in beskerming geneem word waar en wanneer dit bedreig word. Skakeling moet nie net op Westerse lande fokus nie, maar ook en veral op Afrika omdat ons, soos ons voorouers aan dié vasteland verbonde is, ons mense ook oor Afrika verspreid is en ons lot op talle maniere met mede-Afrikane verbonde is. Ons kan kwalik verwag om elders in die wêreld goeie verhoudings te vestig as ons nie in staat is om dit in ons nadere omgewing ook te doen nie.

• Ons moet gebeurlikheidsplanne vir diensonderbrekings en sporadiese konflik te ontwikkel en in werking stel wanneer nodig. Dit moet met ons mense se moontlike nood aan kos, skuiling, energie en veiligheid rekening hou. Orania is nie in staat om Afrikaners waar hulle ookal is, te beskerm nie en wens organisasies wat hulle dit ten doel stel alles van die beste toe, maar Orania bly ’n veilige hawe en heenkome vir talle Afrikaners wat dit elder nie meer het nie en moet voortgaan om vir ons mense in nood uitkoms te bied. Dit is waar konsentrasie eenvoudig beter as verspreiding is.

• Ons moet die geleentheid om vanjaar weer ons eie Orania Verteenwoordigende Raad te verkies, met groot erns en ywer benader. Ons moet verteenwoordigers op dié Raad aanwys wat ’n betekenisvolle rol in die vestiging van Orania se praktiese selfstandigheid, sowel as in die politieke erkenning van ons gemeenskap se selfstandigheid, kan speel.

• Met die oog al die voorgaande moet ons die hulpbronne waaroor ons beskik vermeerder en vennootskappe met instelling wat ons idioom van selfstandigheid ondersteun, versterk. Die Afrikaner se toekoms sal nie bepaal word deur die sukses van klein groepe en organisasies wat in isolasie van mekaar werk nie, maar deur samewerking met ’n gemeenskaplike doel voor oë. Die doel is om die goeie te doen en die kwaad te vermy, iets wat mens net in vryheid kan doen.

Vanuit die Orania Beweging wens ons u elkeen ’n vrugbare en veilige 2016 toe en vertrou dat die besluite wat u, apart of gesamentlik moet neem, telkens ’n tree op ons volk se vryheidspad sal verteenwoordig.

Met beste wense
Carel Boshoff
President van die Orania Beweging

Vryheid vir die Koerde lyk toenemend moontlik

kurdistanIrak en Sirië verkeer beide tans in chaos. In Sirië heers ‘n burgeroorlog reeds vir vyf jaar en in Irak het die veiligheidsituasie nog het agteruit gegaan sedert die Amerikaners daar gaan oorlog maak het en uiteindelik stert tussen die bene die lands moes verlaat.

Irak en Sirië het beide as territoriale state na die val van die Ottomaanse Ryk tydens die Eerste Wêreldoorlog, tot stand gekom. Irak is onder Britse en Sirië onder Franse beheer geplaas en die lande se grense is so getrek dat dit hul Europese heersers sou pas. Sedert Irak in 1931 en Sirië in 1945 onafhanklik geword het, verkeer die lande egter konstant in konflik en oorlog. Die rede hiervoor is eenvoudig dat beide lande nie nasiestate is nie, maar eerder terrotoriale skeppings van Europese heersers. Verskeie volkere is dus in beide lande saamgevoeg en vrede was nog net moontlik wanneer ‘n diktator soos Saddam Hoessein of Bashar Al Assad aan bewind was.

Na eeue van onderdrukking sien verskeie volkere in lande soos Sirië en Irak ‘n geleentheid om weens die huidige konflik hul onafhanklikheidstrewe op te skerp. Die beste voorbeeld van so ‘n volk is die Koerde. Die Koerde is ‘n volk van tussen 30 en 40 miljoen mense, maar sonder ‘n eie land. Hulle woon hoofsaaklik in die noorde van Sirië, noorde van Irak, suid-ooste van Turkye en die westelike deel van Iran. In al hierdie lande maak die Koerde tussen 5 en 25% van die bevolkings uit. Daar bestaan ook ‘n wesenlike diaspora van Koerde regoor die wêreld met byvoorbeeld 800 000 Koerde wat in Duitsland woon. In die meeste Westerse lande het die Koerde ‘n positiewe beeld in vergelyking met ander volkere uit die Midde-Ooste.

Vir talle Westerse lande, veral Amerika, was die Koerde tot nou ‘n belangrike bondgenoot. Tog het die meeste Westerse lande weens hul verhouding met Turkye en weens ‘n skeptisisme jeens die vorming van nuwe nasiestate nog nooit positief teenoor ‘n onafhanklike Koerdistan gestaan nie. In die toekoms mag dit nog as ‘n verspeelde kans vir Westerse lande beskou word.

Die verswakkende verhouding tussen Turkye en Rusland en Rusland se toenemende betrokkenheid in die Midde-Ooste bring mee dat die vraag gevra moet word oor wat sal gebeur as Rusland en die Koerde bondgenote raak. Rusland sal graag sy invloed in die streek wil verhoog. Sou Irak verder in chaos verval kan ‘n onafhanklike staat, Koerdistan in die noorde van Irak tot stand kom. In ruil vir vriendskap in die streek kan die Koerde in Sirië met Rusland ooreenkom en kan die uitbreiding van Koerdistan om ook die noorde van Sirië in te sluit ‘n moontlikheid word. Daarna sal die druk op Turkye, veral vanaf aardsvyand Rusland, toeneem om Koerdiese grondgebied aan Koerdistan af te staan. Verskeie kaarte is besig om in plek te val vir die vorming van Koerdistan. Die ondersteuning van die vorming van hierdie nuwe nasiestaat en die afbreek van sinnelose terrotoriale state soos Irak en Sirië behoort verwelkom te word.

Rassisme en anti-rassisme – kom ons beweeg aan

Die Duitse uitgewer en joernalis Johannes Gross het eens op ‘n tyd gesê dat hoe langer die sogenaamde Derde Ryk (Hitler se bewind) teruglê, des te hewiger word die weerstand daarteen.

Dieselfde kan gesê word oor rassisme. Hoe meer rassisme uit die openbaar verdwyn, hoe meer histeries tree mense en groepe op oor elke moontlike en verbeelde rassistiese handeling. Rassisme is ook nie meer beperk tot diskriminasie van swart mense nie, maar sluit alles en almal in (alle soorte seksuele oriëntasies, vroue, kinders, gestremdes, armes, vegetariërs, daggarokers, alle gelowe behalwe die Christendom ens.), trouens almal behalwe heteroseksuele, christelike wit mans word as slagoffer in verskillende grade gereken. Waar die stryd in die verlede teen kru institusionele rassisme gegaan het soos die alombekende voorbeelde van werklike apartheid in Suid-Afrika in die 1960’s, of 1970’s, of segregasie in die Amerikaanse Suide in die eerste helfte van die 20ste eeu (wat al twee historiese tydperke is wat net so min terugkom soos die Middeleeue), word vandag teen alles en almal geveg wat as bevoorreg gesien word. Blykbaar is selfs ‘n taal rassisties. Daar moet weggedoen word met Afrikaans, nie omdat enige iemand weens Afrikaans uitgesluit word nie (alle universiteite het ook die opsie van Engels, maar talle is slegs Engels), maar uit nyd op die enigste inheemse Afrika-taal (met Westerse wortels) wat kon ontwikkel tot ‘n volwaardige wetenskapstaal. Omdat wit rektore per sê tot die bevoorregte groep behoort en dus verdag is, is hulle gewoonlik die ywerigste laksmanne van Afrikaans om hulle op die manier as nuttig vir die bewindhebbers aan te beveel.

Die hele rassisme-debat, wat nie net Suid-Afrikaanse kampusse oorheers nie, maar selfs kampusse in Europa en die VSA, waar hoofsaaklik blankes studeer en selfaangestelde aktiviste hulle aangebore skuld deur selfhaat wil afwas, is lastig en intellektueel vlak. Niemand bevraagteken dat daar institusionele rassisme was en op individuele vlak ten spyte van wetgewing nog steeds kan voorkom. Anders as wat aktiviste vir ons wil laat glo is rassisme iets wat redelik algemeen verwerp word en al hoe minder voorkom. In die afgelope 50 jaar is ook geen nuwe insigte tot die debat toegevoeg nie en akademies instellings wat alewig oor en oor in dieselfde trant oor rassisme stry (met die skuldige en die slagoffer wat reeds vasstaan) produseer warm lug en mors tyd. ‘n Universiteit is nie ‘n terapiesentrum vir mense met ‘n ingeboude minderwaardigheidsgevoel en vaderwoede nie, maar ‘n plek van leer en uitnemendheid.

Ons hoor gereeld hoe apartheid en rassisme swartmense se waardigheid aangetas het en dit is seker so. Maar dit is tog ironies dat diegene wat die meeste oor ras en rassisme aangaan, diegene is wat nie eens die era van apartheid beleef het nie, mense onder 30. Wit studente skaam hulle oor iets wat hulle nie veroorsaak het nie, en swart studente eis vergoeding vir iets (institusionele rassisme) wat hulle nie ervaar het nie en wil wraak neem op diegene wat nie daarvoor verantwoordelik was nie.

Ons behoort die hele kunsmatige debat met minagting te verwerp en te erken wat dit is: ‘n desperate poging van die regering om sy power rekord te verbloem en ‘n weerligafleier of sondebok te soek, of van beroepsaktiviste wat hulle lewensdoel verloor as hulle ophou “struggle” en ‘n sinvolle werk doen.

Net soos met die woord demokrasie word aan die woord rassisme ook enige betekenis gegee. Om die rede is dit belangrik om te definieer wat rassisme eintlik is, nie wat die ANC, EFF, DA, Menseregtekommissie of wie ook al daaronder verstaan nie. Volgens die Oxford Woordeboek is rassisme “Vooroordeel, diskriminasie of vyandigheid wat teen iemand van ‘n ander ras gerig is in die oortuiging dat jou eie ras verhewe is”. (Prejudice, discrimination, or antagonism directed against someone of a different race based on the belief that one’s own race is superior).

In ‘n rassensitiewe samelewing soos Suid-Afrika word kritiek teen dade van ‘n persoon van ‘n ander ras dikwels as rassisme gesien en daardeur probeer om die geldigheid van die argument te betwis en die bordjies te verhang. Opmerkings oor “ape op die strande” is beslis rassisme en so ook die oproep van sekere swart mense tot volksmoord op blankes. Om egter te beweer dat die land beter was onder vorige leiers is ‘n opinie wat debatteerbaar is, maar beslis nie rassisme nie.

Dit is elkeen se verantwoordelikheid om hom of haarself van rassistiese uitsprake te weerhou, maar dit sou fataal wees as almal nou selfsensuur toepas en te bang is om enige daad van ‘n persoon van ‘n ander ras, by implikasie die regering, te kritiseer. Die hele rassedebat bied geen oplossings nie en dit is nogal jammer dat talle partye en organisasies in die ANC se slaggat getrap het en op die party se tuisveld wil meeding, soos die DA wat heeltemal oorreageer met iemand soos Dianne Kohler-Barnard en nou orals rassiste probeer uitsnuffel, of die NG kerk wat nou weer skuld by wit mense soek en dit wil bely.

Orania steur hom nie aan die debat nie en bly daar uit (en hierdie standpunt is nie bedoel om die debat aan te vuur nie maar om juis dit te verwerp en die belaglikheid daarvan uit te wys). Ons het baie werk om te doen. Ons mense moet gehuisves word en werk kry, hulle kultuur moet bewaar en uitgeleef word, kinders het christelike, Afrikaanse onderwys nodig en ons moet ‘n groter vlak van selfstandigheid bereik. As ons ons die hele tyd sou ophou met debatte en beskuldigings wie wat in die verlede verkeerd gedoen en ons te nagekom het, dan sal ons nooit daarby uitkom wat nou gedoen moet word. Ja, rassisme in Suid-Afrika is ‘n probleem, maar dit is in vergelyking met die erge misdaad, swak dienste, verval van morele waardes, vernietiging van infrastruktuur, korrupsie en werkloosheid (en vele ander) ‘n redelike klein probleem.racism

Aan die anderkant van La-La land

Tainted

Die vliegtuigkaptein kondig aan dat ons gereed is om op te styg… Gewoonlik is dit die tyd wat ek in benoudheid ‘n vinnige skietgebedjie opsê. Tog is ek nie vandag benoud nie. Ek kan nie wag om weg te kom nie.

Gisteraand het ek die voorreg gehad om die première van Forum Films se nuwe dokumentêr Tainted Heroes te sien. Hierdie film vertel die ander kant van die geskiedenis van Suid-Afrika se sogenaamde “struggle” en die gepaardgaande “people’s war” waartydens 25 000 mense wreedaardig moes sterf as gevolg van die gierigheid en magsbeheptheid van die ANC leierskap van daardie tyd. Tydens die dokumentêr vertel slagoffers hulle verhale. Oom Naas van Eck vertel hoe hy en sy gesin op hul plaas in Messina deur ‘n landmyn opgeblaas is. Hy vertel hoe hy tot vandag toe nie sy 3 jarige seuntjie se lyk gevind het nie. Volgende verskyn die ANC se voormalige hoof van MK, Siphiwe Nyanda op die skerm en vertel hoe die ANC besluit het dat dit aanvaarbaar is om boere en hul gesinne op plase op te blaas, vermoor en te vermink. Boere is as die vyand gesien.

Die vliegtuig styg op en ‘n gevoel van vryheid spoel oor my. Ek kyk by die venster uit en sien ‘n slagveld van ontwikkeling en rykdom. Ek verwonder my aan die armoede van die ryk stadsbewoners. Ek dink aan Orania en voel nederig. 1200 inwoners. Daar was gisteraand amper so baie mense by die vertoning van Tainted Heroes. Almal was daar. Politici, akademici, filosowe en teoloë. Leiers en leiers van leiers. Daar was goeie vriende en kennisse van jare gelede, maar ek kon die ongemak nie afskud nie. Waarom voel ek nie tuis nie?

Die vliegtuig styg hoër en hoër terwyl die stad kleiner en al hoe vêrder onder my wegraak. Daardie vreemde plek waar ek gebore is en 15 jaar van my lewe spandeer het. Ons raak die wolke en in ‘n oogwink is ons in ‘n ander dimensie. Die harde realiteit van Tainted Heroes, die stad en Suid-Afrika het op slag verdwyn. La-La land. In hierdie vreemde droomwêreld tussen die wolke begin die skrille kontras tussen my vertrekpunt en my bestemming dieper as tevore insink.

Orania is nie groot nie. Orania is nie gemaklik nie. Orania is nie ryk nie. Orania is ook `n deel van die jaar nie baie mooi nie wanneer die harde winter sy oggendryp bring. Dit is soms bitter koud en ander tye bloedig warm. Tans is Orania vaal en droog weens `n gebrek aan goeie reën.  Nou waarom verlaat ek hierdie groot gemaklike en beeldskone rykdom met ‘n jubel in my hart en verlang ek na my stofdorpie in die woestyn?

In Orania woon daar 1200 mense wat gekies het om hul grootheid, skoonheid, gerief en rykdom anders te definieer. Ja, ons het geoffer om Oraniërs te wees, maar sodra mens die vrugte van ’n gesonde gemeenskap met ’n begronde waardestelsel begin proe verander alles. Ek verlang na hierdie mense. Na my hardkoppige, gromgat buurmanne en buurvroue wat dink en doen soos ek.

Ja, Orania is nie die hemel nie. Dit sê ons gereeld vir mekaar. Soms skinder ons. Soms verskil ons en veg ons. Soms is ons onredelik met mekaar. Ons het 12 kerke en twee skole. Ons het uiteenlopende politieke oortuigings. Tog, anders as in hierdie bose ou stad, ken ons mekaar. Dra ons mekaar. Ondersteun ons mekaar. Ons vryheidsideaal snoer ons inderdaad saam. Ons bly mekaar se grootste bate.

In Tainted Heroes het ek gesien hoe Afrikaners alles verloor het. In Pretoria en Johannesburg het ek gesien hoe groot rykdom en tyd bestee word om water uit ‘n sinkende skip te skep. Wat nou?

Ek ry oor die Oranjerivier, draai links by die kuslyn van verganklikheid en ry die laaste 40 kilometer “volkstaat” toe. Voor my verskyn Orania se koppie in die vêrte en ek besef dat ek dankbaar deel is van Orania en ons groot drome vir die toekoms. Oraniërs, ons moenie perspektief verloor nie. Ons is die laaste kans vir Afrikaners in Afrika. Ons dra ’n reuse verantwoordelikheid op ons skouers. Ons is ook bevoorreg om in die grootste, rykste, gerieflikste en mooiste gemeenskap in Suid-Afrika te woon. Aan hierdie kant van La-La land word waarde nie in geld, getalle en die materiële gemeet nie!

Aan alle Afrikaners vêr en wyd, dink na oor dit waarmee jy besig is. Dink oor jou toekoms. Dink oor jou plek in die wêreld en in Suid-Afrika. Dink oor jou rykdom. Dink oor jou geld. Dink oor jou lewensgehalte en veiligheid.

Dink die langste aan ONS vryheid, ONS toekoms, ONS nageslag en JOU verantwoordelikheid om dit te verwesenlik.

Sal ons antwoord op die roepstem? Sal ons offer wat dit vra? Sal ons lewe en sal ons sterwe vir ons vrye toekoms in Afrika?

 

0
    0
    Jou Mandjie
    Jou mandjie is leegKeer terug na Winkel