fbpx

trumpbibleDie stryd om die Amerikaanse presidentskap skop Maandag 1 Februarie amptelik af. Lede van die groot politieke partye in die deelstaat Iowa sal op die aand van 1 Februarie by 1774 plekke regoor dié staat bymekaar kom om ʼn koukusproses, wat tot die aanwys van die partye se presidentskandidate sal lei, af te skop. Vir die volgende paar maande sal kiesers in al die vyftig deelstate deur koukusse en voorverkiesings hul voorkeurkandidate kies.

Dit beteken dat die Amerikaanse verkiesingskoors wat reeds die afgelope paar maande opbou, binne die volgende twee weke ernstige afmetings sal begin aanneem. Amerikaners neem hul verkiesingsproses ernstig op en daarom sien ons elke vier jaar hoe daar vir minstens tien maande lank voluit veldtogte gevoer word.

Vanjaar, soos ook agt jaar gelede, tree ʼn president wat sy wettige twee termyne gedien het, uit. Die praktyk dat ʼn adjunkpresident homself beskikbaar stel om dan vir president te staan is in 2008 verbreek en vanjaar is dit weer die geval. Dus sal beide die Demokrate en Republikeine vanjaar, soos in 2008, kandidate stel wat nie tans as president of adjunkpresident dien nie. Dit beloof dus om ʼn ernstige stryd te wees wat vir die volgende paar maande die nuusagenda in die VSA, maar ook internasionaal sal domineer.

Die vraag oor die relevansie van Amerikaanse presidentsverkiesings word gereeld deur Afrikaners geopper. Beskuldigings dat die Amerikaners in elk geval net oor hul eie belange besorg is en nog nooit die Afrikaner ondersteun het nie, word maklik gemaak.

Daar is egter heelwat rede waarom dit wat in Amerika gebeur vir ons belangrik is. Die voor die handliggende redes is natuurlik die omvang van die Amerikaanse ekonomie, handel tussen Suid-Afrika en die VSA en die invloed van die Amerikaanse dollar op ons eie welvaart. Amerika het ʼn groot invloed op die ekonomiese en politieke stabiliteit van ander wêrelddele. Die finansiële krisis wat in September 2008 in Amerika uitgebreek het, het op elkeen van ons ʼn effek gehad.

Daar is egter ook ander redes waarom Afrikaners gerus gebeure in Amerika kan dophou. Verskeie kommentators het die afgelope paar weke genoem dat die toekoms van die Westerse beskawing weens massa-immigrasie, lae bevolkingsaanwas en die gevolge van globalisering soos die verbrokkeling van tradisies, kulture en gemeenskappe, baie onseker is. Amerika is steeds die land in die wêreld met die meeste Christene, sowat 220 miljoen. Met sowat 223 miljoen inwoners van Westerse afkoms kan die VSA nie misgekyk word wanneer ons die vraag oor die voortbestaan van die Westerse beskawing probeer antwoord nie.

Die afgelope agt jaar het Amerika ʼn linkse regering gehad. Die aantal Christene het oor hierdie periode met 8% gedaal en massa-immigrasie uit Derde Wêreldlande het skerp toegeneem. Verder is verskeie wette wat persoonlike vryheid en die regte van Christene inperk, ingevoer en is verskeie uitsprake wat dieselfde doen deur regters gelewer.  Die keuse van Amerikaners op 8 November vanjaar kan dus ʼn groot impak op die toekoms van Westerse, Christelike waardes regoor die wêreld hê.