Die tema van onwettige immigrasie na Europa het gedurende 2015 die internasionale nuus oorheers. Daarmee saam was die talle oorloë en geweld in die Midde-Ooste en terrorisme in Westerse lande belangrike nuustemas.
Sommige kommentators voorspel reeds dat hierdie belangrike internasionale gebeure en hoe hulle in 2016 voortgesit gaan word die toekoms van die Westerse beskawing kan bepaal.
In ʼn onderhoud wat Sondag in die koerant Bild am Sonntag in Duitsland gepubliseer is, sê die Duitse minister van ontwikkeling, Gerd Müller, dat Westerse lande moet aanvaar dat hul sukses in die verlede op die rug van ontwikkelende en dus meestal Derde Wêreldlande gebou is. Daarom beweer hy dat lande soos Duitsland geen ander keuse het as om hul skuld vir die wêreld se armoede en konflik te aanvaar en sy grense vir asielsoekers oop te gooi nie. Volgens Müller het slegs 10% van potensiële asielsoekers sover Europa bereik en is nog tussen 8 en 10 miljoen vanjaar op pad na dié vasteland. Müller gaan selfs sover om te sê dat hierdie massa-immigrasie ʼn soort permanente proses kan raak weens die voortdurende bevolkingsontploffing en gepaardgaande armoede in Afrika. Europa moet dus haar skuld vir die uitbuiting van arm lande betaal deur soveel as moontlik vlugtelinge uit Derde Wêreldlande in te neem.
Wat Müller probeer doen is om ʼn morele plig op Duitsers en ander Europeërs te plaas. Hierdie tegniek dateer uit die 1960’s toe die linkse bewegings in talle Europese lande momentum begin kry, het. Die Nederlandse politikus, Martin Bosma, skryf in sy boek Minderheid in Eigen Land dat die linkse anti-Afrikanerbeweging in Nederland suksesvol was omdat hulle ʼn gevoel van witskuld onder Nederlanders kon vestig. Die regstelling van Westerlinge se skuld teenoor die Derde Wêreld het dus gelei tot Nederlanders se steun vir die ANC en die anti-apartheidsbeweging.
Jean Raspail het reeds in 1973 in sy boek Le Camp des Saints wat in Afrikaans vertaal is as Omsingel die Laer van die Heiliges voorspel dat massa-immigrasie die Westerse wêreld sal vernietig. Raspail het immigrante wat na Europa gaan, beskryf as mense wat nie met dankbaarheid in Europa aankom en vra wat hulle kan bydra nie, maar eerder daar arriveer met aanspraak op voordele gebou op die persepsie van Westerse skuld.
Raspail som Westerlinge se toekomsvisie op aan die hang van hul voortdurende soeke na die ware betekenis om ʼn Westerling te wees en die vraag oor of dit die moeite werd is om die Westerse beskawing teen massa-immigrasie te beskerm.
Dit is presies hierdie vrae wat vanjaar beantwoord sal moet word. Massa-immigrasie na Europa sal waarskynlik sodra die lente in die Noordelike Halfrond aanbreek weer skerp toeneem. Die Midde-Ooste se probleme sal nie verdwyn nie en terrorisme sal eerder toeneem as afneem. Vanjaar mag egter die laaste geleentheid vir Westerlinge wees om hul skuldgevoel van die afgelope vier of vyf dekades af te skud en weer beheer oor hul grense te neem. Die alternatief sal wees dat Westerse lande binne ʼn dekade of twee in ʼn multikulturele staat van chaos kan verval.
Jy het die dilemma goed saamgevat, Jaco. Aan die een kant is ek half bly dat die links-liberalisme homself nou blootgestel het as ‘n selfmoordhouding. Daar is ook baie onnoukeurigheid in die redenasie dat die Weste sy welvaart op die Derde Wereldlande se uitbuiting opgebou het. Daar is oneindig baie konstruktiewe tegniese en kulturele kundigheid van die Weste aan daardie lande oorgedra. Soos die mite van die slawehandel, waar die Weste die sondebok moes wees, terselfdertyd het die swart en arabierse magshebbers hierdie slawe met groot winste aan die Weste verkoop.
Die wansituasie met die immigrasie in Duitsland spruit uit ‘n oordrewe skuldgevoel wat deur die linkse media aangeblaas word, en die feit dat Duitsland sedert die 2de Wereldoorlog nog geen soewereine staat geword het nie.
Cornelia,
Stem 100% met jou saam. Dit is verstommend dat so baie klem deur die linkse pers op die sogenaamde regte van ‘benadeeldes’ geplaas word, terwyl hulle verpligtinge geriefliker wys 100% misgekyk word.
Innige groete
revo
Die probleem van die Weste (veral NW-Europa) is dat ons tydens en na die sogenoemde ’verligting’ God verlaat het. Die Here sê in Sy Woord dat as ons Hom nie wil volg en na Sy stem nie wil luister nie: “Steeds meer zal de vreemdeling in uw midden u te boven gaan, terwijl gij al dieper zinkt” (Deuteronomium 28:43, Nederlandse vertaling). Dis nie toevallig nie dat vanaf die jare ’60 van die vorige eew tallose vreemdelinge (veral moslims) na Europa toegekom het en hul hier gevestig het.
Boondien is ek daarvan oortuig dat die wêreldleiers aktief beplan om ons identiteit te verwoes sodat die Nuwe Wereldorde deur hulle gevestig kan word. Suid Afrika was die eerste westerse land wat as proef hiervoor gedien het.
Die Partij van de Vrijheid (PVV) van Geert Wilders in Nederland deursien dit, maar dis jammer dat hulle nie volgens christelike prinsipes werk nie… Ek glo die enige hoop vir ons lande is as daar sprake is van ’n nasionale terugkeer na die God van die Bybel en Sy Woord. Egter, dit lyk nie baie waarskynlik nie, want die basis het in lande as Frankryk en België al eewe gelede verdwyn en het ook in Nederland baie smal geword…
Ek is getroud met Wilma uit Suid Afrika en ons woon in Nederland. Laasjaar Julie was ons in Orania. Ons wens julle God’s seën toe op die ontwikkelinge daar!
Pragtige, ware woorde, Bart.