Die hoofstroommedia wat bekende koerante, tydskrif en televisiekanale insluit het die afgelope tyd heelwat van jul geloofwaardigheid ingeboet. In die VSA het 71% van mense nog in die jaar 2002 gesê dat hulle vertroue in die groot mediahuise het. Hierdie vertroue het onlangs tot onder 50% gedaal.
Saam met die daling in vertroue stuur mense toenemend ʼn sterk boodskap aan die hoofstroommedia deur eenvoudig nie meer sommige koerante te koop of na sekere televisiekanale te kyk nie. ʼn Groot koerant soos die New York Times verkoop vandag 625 000 koerante teenoor die 1,5 miljoen wat hulle twintig jaar gelede verkoop het. Op televisie het Fox News ʼn paar jaar gelede reeds by die hoofstroomkanale soos CNN in kykergetalle verbygesteek.
Ook in Europa daal die vertroue in die media soos wat gewone gemense eerder hul nuus by alternatiewe media kry. ʼn Goeie voorbeeld hiervan is die beriggewing in Duitsland oor die onlangse aanvalle deur ʼn groot groep mans op vroue in Keulen. Die meeste hoofstroomkoerante en –televisiekanale het eers die voorvalle geïgnoreer. Verder het hulle aanvanklik die feit dat die aanvallers almal immigrante uit Noord-Afrika en die Midde-Ooste is, geïgnoreer. Gewone Duitsers het egter deur sosiale media van die aanvalle uitgevind.
Mense kry deesdae toenemend hulle nuus deur sosiale media, alternatiewe nuuswebbladsye en nuwe televisiekanale en radiostasies. Hierdie alternatiewe media gee nuus dus sonder ʼn filter deur aan almal wat daarin belangstel.
Navorsing oor die afgelope paar jaar het bewys tot watter mate mense in die verlede gevolgtrekkings gemaak het na aanleiding van die manier waarop nuus aan hulle weergegee is. Navorsing in die VSA het bewys dat die algemene vooroordeel van hoofstroommedia en spesifiek hul beriggewing in die aanloop tot verkiesings meebring dat die Demokrate ʼn outomatiese 5%-voorsprong bo Republikeine het.
Die hoofstroommedia in meeste Westerse lande word reeds vir dekades deur joernaliste en bestuurders wat hulself aan die linkerkant van die politieke spektrum bevind, gedomineer. Dit het vir lank meegebring dat nuus deur ʼn soort polities-korrekte filter aan die publiek deurgegee is.
Beriggewing die afgelope jaar oor die immigrantekrisis in Europa het bewys tot watter vlakke van selektiewe beriggewing sommige media-instellings sal gaan ten einde hul eie politieke doelwitte te bereik. Talle bekende televisienuuskanale het byvoorbeeld byna eksklusief gefokus op vroue en kinders wat met bote in Griekeland aankom. Wat hulle egter nie berig het nie, is dat sowat 75% van sogenaamde vlugtelinge wat in 2015 in Europa aangekom het jong mans was. ʼn Klein deeltjie van vlugtelinge is dus weerlose vroue, kinders en bejaardes. Voorts het die hoofstroommedia ook min, indien enige, moeite gedoen om te berig oor die plekke waar vlugtelinge vandaan kom. Dit het maar deur alternatiewe media bekend geword dat talle sogenaamde vlugtelinge van lande waar daar geen oorlog heers nie, afkomstig is.
Die toenemende teenkanting teen die instroming van asielsoekers in Europa en die onverwagse steun vir Donald Trump in Amerika is maar twee onlangse dinge wat wys hoe die hoofstroommedia sy greep op die openbare mening verloor. Ook in Suid-Afrika sal alternatiewe media soos Pretoria FM en Maroela Media toenemend die toon aangee.
Mooi opgesom Jaco!
Hierdie neiging het ook ‘n ander baie interessante analogie tot die Orania beweging in die VSA tot gevolg. Hulle het ook nou ‘n “Free State” beweging waar hulle mense van Libertarian oortuiging wil vestig. Lees meer hieroor: https://freestateproject.org/ Hulle se dat hul reeds 20 000 mense het wat belowe om hulself binne vyf jaar daar te vestig.
Ek het heelwat toesprake van Donald Trump geluister. Ek kan verstaan hoekom die Amerikaners van hom hou – ek sou waarskeinlik ook vir hom gestem het. Ek het ook gesien hoe blatant die media sy woorde verdraai om hom van allerande valse dinge te beskuldig. Hy praat baie sin as dit kom by beleidsake.
Al wat my van hom pla is dat hy beweer om ‘n Christen te wees. (En dis skokkend om te sien hoeveel “evangelicals” hom glo!!) Buiten vir sy duidelike narsistiese neiging, is dit ook duidelik uit die bietjie wat hy oor sy geloof gesê het dat hy nie die vaagste benul het waaroor die Bybel gaan nie.
Oeps – dit was nie veronderstel om ‘n reaksie op iemand se kommentaar te wees nie, maar op die artikel.