fbpx

Oudpresident Thabo Mbeki het onlangs ‘n artikel geskryf wat op sy Facebookblad en deur die Sunday Times-koerantgroep gepubliseer is. Daarin verdedig hy sy presidentskap en hy voer aan dat mense wat nouer betrokke was by die gebeure meer moet skryf sodat die geskiedenis nie alleen deur kommentators wat verwyder was van die gebeure beskryf moet word nie.

Oorwinnaars

Die sin in sy skrywe wat my die meeste opgeval het was die volgende: “It was inevitable that the whole process which led to the defeat of the white minority regime in our country, and the aftermath of this, would have their own historians, each with his or her political or ideological orientation.

Ek beklemtoon hier die woord “defeat”, omdat die verslaning van iemand iets heel anders beteken as woorde soos “onderhandelde skikking”, “kompromie” en “magsdeling.” Hierdie kan dalk vir u as ‘n skok kom, maar indien die gematigde en belese Mbeki glo dat ons as wit minderheid oorwin is, dan kan ek u waarborg dat die res van die ANC en die swart meerderheid dit ook glo.

Blankes in die algemeen sal egter vinnig uitwys dat ons as voormalige politieke magshebbers nooit op die oorlogsveld verslaan is nie en dat ons vrywillig aan die Nasionale Party ‘n mandaat gegee het om met die ANC te onderhandel vir ‘n nuwe Suid-Afrika wat aan almal beter geleenthede sou bied.

Tog is ek verplig om koue water op hierdie argument te gooi. Indien ons nie op die oorlogsveld verslaan is nie, is ons beslis by die onderhandelingstafel verslaan. As u my nie glo nie vra ek graag: Wie beheer die R900 miljard staatsbegroting? Wie stel die Polisie en Weermag aan en wie gee vir hul bevele? Wie bepaal wat die name van die dorpe en strate is? Wie bepaal uiteindelik wat die onderrigtaal aan die publieke universiteite en skole is? Wie bepaal wat ons kinders aan die skole moet leer? Wie bepaal watter poste jy mag vul en nie mag vul nie? Wie bepaal of jou kind medies mag gaan studeer? Wie besluit wanneer jy mense van jou grond mag verwyder en wanneer nie? Wie bepaal of die boere droogtehulp gaan ontvang of nie? Wie besluit of jou plaas, waterregte, minerale regte,  besigheid, huis, bankbalans of pensioenfonds joune kan bly of aan iemand anders gegee moet word? Wie besluit of jy ‘n vuurwapen mag besit of nie? Vir wie sal jy moet vra vir ‘n bed indien jy jouself in die tronk sou bevind? Waar hierdie bevoegdhede as alleenreg uitgeoefen word, is dit die alleenvoorreg van oorwinnaars.

Oorlogsbuit

Wanneer ‘n groep mense oorwin word, word hulle nie in vrede en rus gelaat na die stryd nie. Die stryd word opgevolg deur ‘n proses waartydens oorlogsbuit van die verslaande afgeneem word. Die wins van oorwinning is rykdom. Die prys van oorgawe is armoede. So was dit nog altyd.

Die ANC het as oorwinnaars die staatskas oorgeneem en help hulleself mildelik daaruit. Munisipaliteite en staatsmaatskappye is tot by bankrotskap geneem. Aandelebeleggings in genoteerde maatskappy se waarde is verwater met BEE transaksies (tot soveel as ‘n derde van die waarde van bestaande aandele is vernietig deur nuwe uitgifte wat aan SEB-begunstigdes oorgedra is teen min of geen teenprestasie) terwyl die pensioenfondse van publieke amptenare geplunder is. Grond is oorgedra aan begunstigdes van grondhervorming.

Stellings deur president Zuma dat grond deur boere gesteel is en Julius Malema wat grond en banke wil onteien sonder vergoeding dui aan dat die proses om oorlogsbuit te plunder nog lank nie afgehandel is nie.

Dit is ‘n ope vraag hoe lank ons grondwet ons nog gaan beskerm. Die ANC en die EFF kan saam reeds met die seën van die oorgrote meerderheid Suid-Afrikaners die grondwet wysig om hul te pas. Die munisipale verkiesing gaan  in hierdie opsig ‘n interessante weerhaan wees wat sal aandui hoe naby die storm is. Indien die ANC in sekere munisipaliteite minder as 50% van die stemme kry, verwag baie kommentators dat die EFF en die DA ‘n koalisie sal vorm om die plaaslike regering aldaar oor te neem. Hulle is immers die opposisie en indien dit wel gebeur is die ergste ten minste vir ‘n paar jaar uitgestel. Indien die EFF egter besluit om sy rug op die DA te keer en eerder saam met die ANC in die bed te spring, sal die gort gaar wees, want die kanse is groter dat die ANC bereid sal wees om die EFF se radikale beleide oor onteiening in ‘n koalisieregering te aanvaar.

Hulp uit die buiteland?

Die internasionale finansiële markte bied waarskynlik vir ons meer volhoubare beskerming as wat die grondwet op sy eie sal kan bied. Dit het ons gesien met die vernederende ommeswaai wat president Zuma moes maak toe hy sy derde minister van finansies binne een week moes aanstel.

Die tyd sal leer hoe lank die respek vir die internasionale markte die lus na nog oorlogsbuit in bedwang gaan hou. Zuma se stelling dat hy die ANC eerste stel voor Suid-Afrika stel nie my gemoed gerus nie.

Vir meer direkte of tasbare steun moet ons egter nie asem ophou nie. Dit is duidelik dat die Weste hul hande vol het in die midde-Ooste, en dat selfs daar hul betrokkenheid uiters halfhartig is.

Frans Cronjé van die Instituut van Rasseverhoudinge het reeds in Augustus 2015 genoem dat Suid-Afrikaners na ‘n “plan B” moet kyk, daarmee saam het hy emigrasie as sy “plan B” uitgelig. Emigrasie blyk egter om vir al minder Afrikaners ‘n uitkoms te kan bied. Terwyl die Suid-Afrikaanse ekonomie spartel en die Rand vryval, beweeg die res van die wêreld aan. Gedurende Julie 2015 het die gemiddelde prys van ‘n tweeslaapkamerhuis (vrystaande huis, woonstel of skakelhuis) in Australië op $658 000 te staan gekom. Teen vandag se wisselkoers is dit R8 miljoen. In Sydney is dit R11.3 miljoen vir ‘n gemiddelde huis. Tydens die huidige vlugtelingkrisis was Australië slegs bereid om 10 duisend vlugtelinge te aanvaar. Hoeveel Afrikaners het werklik ‘n hoop om Suid-Afrika te verlaat wanneer dinge sleg raak?

Skep jou toekoms self

Flip Buys skryf vandag op Maroelamedia dat die geskiedenis ons leer dat daar altyd ‘n toekoms is. Onverwagse gebeure verander dikwels die verloop van sake, maar indien ons sake in ons guns wil draai is dit belangrik dat jy nie net op die toekoms moet wag nie. Hy skryf verder: “Die grootste uitdaging vir Afrikaners is om hul oorspronklike politieke verbeelding in te span en verby Nkandla en die huidige werklikheid ‘n nuwe toekoms raak te sien. Bepaal self hoe jy die koms wil hê, skep sterk organisasies en neem aktief deel aan die vorming van ‘n toekoms waarin jy ook vry, veilig en voorspoedig sal kan leef. Want die enigste toekoms wat jy kan voorspel, is die een wat jy self bou.”

Orania vier vanjaar sy 25ste bestaansjaar. Na baie gespot en belediging is dit duidelik dat Orania besig is om ‘n trotse tuiste vir al meer Afrikaners te word. Orania se grondleggers het die Afrikanisering van Suid-Afrika lank reeds voorsien en daarmee saam die negatiewe uitwerking wat dit op Afrikaners gaan hê. Orania is daarom ideaal geplaas om die werklikhede van demografie en meerderheidsregering in Afrikaners se guns te draai. Die aanvoorwerk is lank reeds begin. Met u bystand is ons potensiaal onbeperk.