fbpx

IMG_7002’n Ope brief aan Afrikanerbesluitnemers

Geagte mede-Afrikaner,

Orania word vanjaar 25 jaar oud. Nie die paaie en pype en eerste geboue nie, dié is nader aan 50 jaar oud, maar die huidige vryheidsgerigte Afrikanergemeenskap wat in 1991 ’n tweede lewe aan die leë dop van ’n verlate konstruksiedorp kom gee het. Die poging om daarvan ’n tuiste en vastrapplek vir ons strewe te maak, word vanjaar 25 jaar oud. Met ander woorde ‘n tuiste nie net vir mense nie, selfs nie net vir gesinne en families nie, maar van kerke en skole, winkels en kantore, werkswinkels en fabrieke, van Radio Orania, die Maatskaplike Raad, Elim, ’n Koöperatiewe bank, die Groeifonds … en so kan ek voortgaan.

Orania is na 25 jaar ‘n suksesvolle plaaslike gemeenskap, gebou op eie grond, eie arbeid en eie ins-tellings. As sodanig is Orania ’n werklikheid én ’n wegwyser. Orania vergestalt ’n nuwe denkwyse wat aan die einde van die vorige eeu na vore getree het om ons mense uit die doodloopstraat van onvolhoubare minderheidsoorheersing te lei, ’n denkwyse wat in werking gestel moes word om ernstig geneem te kan word. Orania moes wys dit is moontlik om so ’n eie bestaan te voer en na 25 jaar kan ons van die dakke af verkondig: Dit is moontlik! En wat meer is: as ’n handjievol pioniers se idealisme dít kon vermag wat vandag hier staan, dink net wat kan ons mense in hulle tiendui-sende nie vermag en help vermag as hulle hulle gewig daaragter ingooi nie.

Orania moet nie net groei nie, selfs nie net blom nie. Orania moet floreer. Dit is die gees waarin hierdie derde volk-staatbetoog aan Burgerraadslede en Afrikanerbesluitnemers gerig word.

Dít saam met die ervaring dat nuwe denkbeelde nie vinnig vestig nie, iets waarmee ons deurgaans rekening moet hou. Orania beweeg op die snykant van idees en ervaar elke dag watter eise deur die harde werklikheid aan ons drome en ideale gestel word. Ons ervaar dat mense veel eerder by die gebaande weë bly solank dit maar moontlik is, dat ons mense dikwels oë toeknyp en hou wat hulle het, eerder as om, letterlik of figuurlik, die onbekende in te trek. En dan trek almal ook nie in die-selfde rigting nie! Verder, net soos amper 180 jaar gelede met die Groot Trek, net soos met elke nuwe beweging is dié wat dit begin en dié wat dit voortsit, nie altyd dieselfde mense nie – kan dit nie wees as dit ’n volksbeweging word nie.

Aan die een kant verseker nuwe mense met nuwe gedagtes dat ’n beweging soos Orania s’n nie tot stilstand kom nie, aan die ander kant moet ons jaloers waak oor die uitgangspunte, oortuigings en praktyke waarsonder die beweging koers kan verloor.

Luisteraars van Radio Orania het onlangs die voorreg gehad om na ’n volledige opname van dr Verwoerd se feesrede by die vyfde herdenking van Suid-Afrika se republiekwording in 1966, vyftig jaar gelede, te luister. Meer as een inwoner het my daarna op straat gestop met woorde soos: “Kan jy glo, hy praat soos met intelligente mense!” En: “Vyftig jaar later kan ons elke woord verstaan.” Self het ek daardeur verryk gevoel, selfs al het dit min regstreekse betrekking op vandag gehad. Daar het immers net soveel tyd verloop van dié herdenking tot met die stigting van die nuwe Orania, as van dié stigting tot vandag.

Buiten vir ’n hele idioom wat mens hier nie kan beskryf nie en vir die debat oor ’n volksleier se kritiek op kunstenaars wat die ontvangs destyds oorheers het, is daar ’n treffende punt wat my bygebly het en wat van belang is vir ons strewe vandag. Dr Verwoerd voer aan dat die verrassend vinnige gebeure rondom Republiekwording, wat Suid-Afrika soos ’n “bliksemslag” getref het, slegs kon plaasvind danksy jare en dekades se gisting en voorbereiding wat dit voorafgegaan het. Toe die geleentheid hom dus voordoen, was leiers gereed om dit aan te gryp en te doen wat gedoen moes word sodat die toekoms verder op ’n heel ander grondslag tegemoet gegaan kon word.

Aan die een kant getuig die onbeholpenheid waarmee ’n volgende geslag NP-leiers dertig jaar later op die eise en omstandighede van hulle tyd gereageer het, van ’n akute gebrek aan gisting en voor-bereiding sodat nie hulle nie, maar hulle opponente die toekoms soos met ’n donderslag verander het. “Gisting en voorbereiding” kom duidelik nie vanself nie en dit is moontlik om ongereed te wees, om in ’n groef te verval en die slagoffer van die geskiedenis te word. Wie nie erns maak met die eise van sy tyd en omstandighede én ’n visie het wat daarbo uittroon nie, kan nie skeppend op sy eie toekoms ingryp nie. Die visie wat Republiekwording moontlik gemaak het, was een van vryheid vir ons volk. Dít is ook die visie waarmee ons nou weer die tyd en omstandighede te-gemoetgaan en ons gereed maak om elke kans wat dit bied, aan te gryp.

Hoe lank dit sal neem, weet ons nie, maar dat ons gereed en beweeglik moet wees vir elke ge-leentheid wat hom voordoen, staan vas. Juis met die oog daarop moet Orania floreer.

Agtergrond: 2015

Om meer spesifiek te wees oor 2016 en wat ons vanjaar te doen staan, sal dit ons baat om kortliks bestek opneem van waarmee 2015 ons gelaat het. Sonder om oordrewe swartgallig te wees, moet `n mens erken dat die jaar gekenmerk is deur onmoedgewende voorspellings – wat in vervulling begin gaan het. Ek verwys na enkele merkers eerder as om elke besonderheid te probeer uitspel.
Die eerste en opspraakwekkende reeks gebeure wat ter sake is, was die studente-opstande van 2015. Koloniale simbole en studiefooie het onder skoot gekom en naas Rhodes en ander grondleggers van universiteite moes ook die fooie val en toegang tot universiteite aan die eis van “gelykheid” onderwerp word. Dit kan as ’n uitbreiding van reeds heersende dienste-opstande wat in onlangse jare regoor Suid-Afrika plaasgevind het, beskou word. ’n Hele nuwe sektor van die samelewing is egter daarby betrek en dit het opnuut die klem geplaas op strukturele spannings wat Suid-Afrika kenmerk. Die verwagting dat die opkomende swart middelklas ’n teenrewolusionêre uitwerking sal hê en dat die gevestigde belange wat die afgelope twintig jaar deur die ANC verteenwoordig word, wet en orde sal verseker, is wreed deur die studente se optrede, wat dikwels krasser was as wat in die media gerapporteer is, ontnugter.

Die tweede stel gebeure hang met die regering se middeltermynbegroting saam en met die ontvangs wat die Minister van Finansies, Nhlanhla Nene, vir sy boodskap dat die geld op is, gekry het. Die bisarre gebeure wat op sy afdanking gevolg het, die aanstelling en afdanking dae later van sy onbekende opvolger en die uiteindelike heraanstelling teen pres Zuma se wens van ’n vorige Minister van Finansies, Pravin Gordhan, kon ’n mens laat lag as die gevolge vir die ekonomie nie so vernietigend was nie.

Armoede en werkloosheid is lankal, ook deur ons voorgangers in die Orania Beweging, as ’n tydbom beskryf. Dit wil voorkom asof die tyd gekom het en ’n mens kan maar dink watter uitwerking voedseltekorte, wat ’n verdere gevolg van swak regering, ekonomiese terugslae en droogte kan wees, op die ontevrede jong bevolking kan hê. Om die waarheid te sê, RW Johnson se “How long can South-Africa survive” (Junie 2015) laat mens al meer soos iemand voel wat ’n moordverhaal lees en vind dat hy self deel van die storie is, waarskynlik die slagoffer. Dit lyk asof `n mens na ’n jaar of twee nie sal onthou of jy voorspelling of geskiedenis gelees het nie.

Net soos met die joernalis/skrywer Justice Malala se “We have now begun our descent” (2015) lyk die beste moontlike uitkoms van huidige verwikkelinge nie net onwaarskynlik nie maar ook uit ons oogpunt nie te gunstig nie. Malala gaan uit van ’n diepe lojaliteit aan Suid-Afrika en sy mense, maar staar hom blind teen die eise van eenheid wat een, sentralistiese Suid-Afrika stel. Lees Johnson en Malala verder saam met die Nederlandse politikus en skrywer Martin Bosma se boek “Minderheid in eigen land” (Mei 2015) waarin die versuikerde mites wat oor die anti-apartheidstryd verkondig is en word, ontmasker word, en daar bly min rede oor om ’n positiewe wending vir Suid-Afrika soos ons dit sedert 1910 geken het, te verwag.

AfriForum se dokumentêre film “Tainted Heroes” wat vroeg vanjaar bekendgestel is, voer die ontmaskering wat onder andere deur die liberale navorser, dr Anthea Jeffreys gedoen is, verder en sal die pretensies van ’n onkritiseerbare postkoloniale bedeling mettertyd vernietig. Uit die Orania Beweging se oogpunt is die probleem egter dat slegte verwagtings wat in vervulling gaan, nog geen waarborg vir ons sukses is nie; inteendeel, dit kan die aanvaarding van Orania as ’n positiewe en onbestrede alternatief vir ’n disfunksionele Suid-Afrika bemoeilik eerder as bevorder. Daarom dat ons nie daaroor juig nie, maar gereed moet wees as dit gebeur.

Intussen is dit asof baie van ons mense ’n onuitputlike vermoë om by omstandighede aan te pas openbaar, eerder as om drastiese aanpassings aan hulle denkwyse en praktyke te maak. Een so ’n aanpassing is om te emigreer na waar ’n soortgelyke lewenstyl as wat Blankes in Suid-Afrika geken het, nog gehandhaaf kan word. Nog een is onttrekking aan die politiek en openbare sake en ’n oënskynlike berusting in die nuwe omstandighede. Selfs waar ons mense teen die stroom in hulle eie identiteit wil behou en beskerm, is dit soms aan die hand van ou, uitgediende denkbeelde wat ons in die verlede al in die steek gelaat het.

Hoewel die wending na Orania versnel, moet dit vir baie mense deur ’n katarsis voorafgegaan word om nie bloot op ’n poging om ou maniere op ’n kleiner skaal te herhaal, neer te kom nie. Daarom dat nuwe denkbeelde so noodsaaklik is.

Vooruitsigte vir 2016

Van 2016 kan ons dus verwag, en sien ons reeds die tekens, dat onderlinge verhoudinge tussen Suid-Afrikaners, veral Swart en Wit, steeds gaan verswak. “Rassisme” het nie net die gunstelingsonde onder die nuwe Fariseërs geword nie, dit is deurentyd besig om ’n breër betekenis te kry. Vir die Suid-Afrikaanse establishment verwys dit reeds na enige vorm van selfbehoud waarop ’n identifiseerbare groep aanspraak maak. Vir die Jong Turke verwys dit dalk al na die blote lidmaatskap van so ’n groep. Die gevolg is dat Orania se uitgesproke verwerping van rassisme in die sin van onbehoorlike of ontoepaslike gebruik van afkoms as maatstaf vir ’n mens se optrede hom nie vrywaar van die ewige beskuldiging dat hy in die sonde van rassisme ontvang en gebore is en in werklikheid onbestaanbaar is nie.

Voeg daarby dat dit vanjaar weer ’n verkiesingsjaar is en dat die ANC, soos reeds in ’n vorige betoog van hierdie aard aangevoer, deur opposisie van links aan sy eie radikale wortels herinner sal word, dan is dit nie moeilik om te sien dat druk op goeie verhoudings tussen mense van verskillende agtergronde in Suid-Afrika sal toeneem nie. Met ons mense se ervaring van verswelging, wat die eenvoudige gevolg van ou vestigingspatrone, nuwe vestigingspatrone en aanwasverskille tussen Swart en Wit is, en hulle ongeneëntheid tot onderdanigheid, moet wonderwerke ook nie van dié kant verwag word nie.

Dit is juis in hierdie opsig dat Orania iets onvervangbaar verteenwoordig: ’n platform vir wedersydse erkenning waarop goeie verhoudinge op ’n volhoubare grondslag gebou kan word. Om dit reg te kry sal egter nie net toewyding en geduld nie, maar bo alles selfvertroue verg. Mense wat in hulleself onseker is, is makliker vatbaar vir stereotipering met betrekking tot beide hoe hulle ander sien en hoe ander hulle sien. Stereotipering staan in die weg van realistiese wedersydse erkenning en word slegs deurbreek deur iemand wie se selfbeeld uit meer bronne as net dié met wie hulle op ’n gegewe tydstip omgaan, bepaal word. Daarom kan ons nooit na binne ons vormingsideaal prysgee en na buite nalaat om daaraan uitdrukking te gee nie.

Ekonomiese vooruitsigte lyk inderdaad ook nie te rooskleurig vir Suid-Afrika nie, deels as gevolg van internasionale tendense en kommoditeitsbehoeftes en deels te wyte aan swak regering en korrupsie. Nie een van die twee verskynsels is oppad om oornag te verander nie en sal meer arm mense, waarvan die grootste getal swart sal wees, op die staat aangewese laat voel vir lewensmiddele en versorging. Ons sien dit immers reeds gebeur. Dit terwyl die staat se bronne uitgeput is en daar min aanmoediging is vir buitelandse of selfs binnelandse beleggings in Suid-Afrika. Hoewel dit op ’n erge vereenvoudiging van komplekse ekonomiese gegewens neerkom, is dit duidelik dat die Suid-Afrikaanse regering nie aan die opkomende swart jeug se verwagtinge van welvaart kan voldoen nie en dit tot politieke onstabiliteit sal bydra.

Afrikaners beskik oor die vermoë om ’n groot bydrae tot ’n stabiele Suid-Afrika lewer maar word juis deur swak regering en korrupsie op ’n afstand daarvan gehou en moet nie ydele drome van onmisbaarheid droom nie. Waar individue hulle soms nog in ’n posisie van betreklike onmisbaarheid bevind, sal dit nie van ’n groep mense met die etiket “rassis” om die nek aanvaar word nie. Welvarende Afrikaners moet eerder verwag om as sondebokke beskou te word as om te verwag dat hulle as redders verwelkom sal word. Ons het reeds ’n ongekarteerde landskap betree en sal ons gesonde verstand moet gebruik om nie te verdwaal nie.

Strategiese fokus vir 2016

Op grond van die ietwat neerdrukkende vooruitsigte vir 2016 moet die Orania Beweging, maar ook elke Afrikaner in ’n besluitnemende hoedanigheid, ten minste op die volgende belangrike sake fokus:

• Ons moet nuwe denkbeelde ontwikkel en vestig en die probleme van ons dag nie met die oplossing van gister en eergister tegemoetgaan nie. Dié denkbeelde hoef nie uit die niet geskep te word nie, maar kan aansluiting vind by werk wat die afgelope jare binne sowel as buite die Orania Beweging gedoen is om na die eise van ons tyd op te lewe. Groot probleme kan nie met klein oplossings tegemoetgegaan word nie en ons moet die eise wat die toekoms aan ons gaan stel, nie onderskat nie. Om baie spesifiek te wees: denkbeelde wat van die vryswewende individu uitgaan en ’n oplossing in die gewaande grondwetlike waarborge van sulke individue se regte soek, is nie in staat om ons mense se veiligheid te verseker of ons vryheid te bemiddel nie. Dit wil ons daarenteen onderhorig hou aan ’n bedeling wat ons vermoë om na mekaar en na onsself om te sien, ondermyn omdat dit ons gemeenskapsgrondslag geringskat of ontken.

• Ons moet Orania se posisie as ’n derde punt buite die spanningsvelde wat Suid-Afrika kenmerk en Suid-Afrikaners ontmagtig, uitwerk en ontgin. Orania kan byvoorbeeld nie sonder meer met welvaart uit die verlede vereenselwig word nie en worstel ook met armoede; Orania kan nie met sienings van wit meerderwaardigheid verbind word nie en is bewus van ons eie beperkings; Orania wil nie die meerderheid Suid-Afrikaners die geleentheid misgun om oor hulle eie toekoms te beslis nie en wil ook nie beskikking oor sy eie toekoms prysgee nie. Orania kan op ’n sinvolle wyse met ander Suid-Afrikaners saampraat oor werkskepping, armoedeverligting en gemeenskapsbemagtiging – en moet dit ook doen ter bevordering van sy eie belange.

• Ons moet Afrikaners se posisie in die wêreld en in Afrika vanuit Orania help verseker en bevorder. Al beskik ons nog nie oor `n groot vermoë om dit te doen nie, moet ons skakeling ten behoewe van Afrikaners in verstrooiing duidelik wys dat daar ’n onbetwisbare Afrikanertuiste en Afrikanerbelang is en dat dit deur gesamentlike optrede in beskerming geneem word waar en wanneer dit bedreig word. Skakeling moet nie net op Westerse lande fokus nie, maar ook en veral op Afrika omdat ons, soos ons voorouers aan dié vasteland verbonde is, ons mense ook oor Afrika verspreid is en ons lot op talle maniere met mede-Afrikane verbonde is. Ons kan kwalik verwag om elders in die wêreld goeie verhoudings te vestig as ons nie in staat is om dit in ons nadere omgewing ook te doen nie.

• Ons moet gebeurlikheidsplanne vir diensonderbrekings en sporadiese konflik te ontwikkel en in werking stel wanneer nodig. Dit moet met ons mense se moontlike nood aan kos, skuiling, energie en veiligheid rekening hou. Orania is nie in staat om Afrikaners waar hulle ookal is, te beskerm nie en wens organisasies wat hulle dit ten doel stel alles van die beste toe, maar Orania bly ’n veilige hawe en heenkome vir talle Afrikaners wat dit elder nie meer het nie en moet voortgaan om vir ons mense in nood uitkoms te bied. Dit is waar konsentrasie eenvoudig beter as verspreiding is.

• Ons moet die geleentheid om vanjaar weer ons eie Orania Verteenwoordigende Raad te verkies, met groot erns en ywer benader. Ons moet verteenwoordigers op dié Raad aanwys wat ’n betekenisvolle rol in die vestiging van Orania se praktiese selfstandigheid, sowel as in die politieke erkenning van ons gemeenskap se selfstandigheid, kan speel.

• Met die oog al die voorgaande moet ons die hulpbronne waaroor ons beskik vermeerder en vennootskappe met instelling wat ons idioom van selfstandigheid ondersteun, versterk. Die Afrikaner se toekoms sal nie bepaal word deur die sukses van klein groepe en organisasies wat in isolasie van mekaar werk nie, maar deur samewerking met ’n gemeenskaplike doel voor oë. Die doel is om die goeie te doen en die kwaad te vermy, iets wat mens net in vryheid kan doen.

Vanuit die Orania Beweging wens ons u elkeen ’n vrugbare en veilige 2016 toe en vertrou dat die besluite wat u, apart of gesamentlik moet neem, telkens ’n tree op ons volk se vryheidspad sal verteenwoordig.

Met beste wense
Carel Boshoff
President van die Orania Beweging