by Orania Beweging | Feb 24, 2016 | Nuus |
Op 23 Junie vanjaar sal Britte aan ‘n referendum kan deelneem om te bepaal of Brittanje deel van die Europese Unie moet bly. Die Britse eerste minister, David Cameron se aankondiging Vrydag dat hy ‘n nuwe ooreenkoms met die Europese Unie bereik het en dat ‘n referendum nou oor sy land se lidmaatskap van die unie gehou sal word, het ‘n lang aanloop gehad. Negatiewe gevoelens oor die Europese Unie se rol in interne Britse politiek neem reeds vir jare toe. Die afgelope paar jaar het talle Britte verder skepties oor Brittanje se rol in die Europese Unie geraak omdat meer en meer lande uit Oos-Europa lidmaatskap van die EU bekom het en burgers van hierdie lande sodoende toegang tot die arbeidsmark en talle sosiale voordele in ander Europese lande kon kry.
Cameron het kort nader hy ‘n paar jaar gelede leier van die Konserwatiewe Party geword het, belowe dat hy ‘n referendum oor sy land se lidmaatskap van die EU sal hou, sou hy tot eerste minister verkies word.
Cameron is duidelik ten gunste daarvan dat Brittanje deel van die EU moet bly. Dit is egter nie die geval vir baie lede van sy party en selfs lede van sy huidige kabinet nie. Cameron moes dus pro-aktief optree om die belofte van ‘n referendum te kon hou, maar om ook momentum aan die pro-EU stem te gee. Hy het dus verlede Donderdag en Vrydag na die hoofkantoor van die EU in Brussel gereis waar hy ‘n nuwe ooreenkoms tussen Brittanje en die Europese Unie onderhandel het. Brittanje kry volgens die ooreenkoms sekere vrystellings of korttermyntoegewings op voordele vir burgers van ander Europese lande wat in Brittanje wil woon en werk.
Cameron het Vrydagmiddag met sy aankoms in London met selfvertroue hierdie nuwe ooreenkoms as ‘n oorwinning vir Brittanje se soewereiniteit, aangekondig. Hy het ook onmiddellik die referendum aangekondig met die hoop dat sy die nuwe ooreenkoms genoeg mense sal oortuig om ten gunste van voortgesette EU-lidmaatskap te stem.
Cameron is ‘n slim politikus, maar daar lê ‘n moeilik pad vir hom voor om 50% van Britte aan sy kant te kry. Die besluit van die immergewilde burgemeester van London, Boris Johnson om nie Cameron te steun nie en om aktief steun te werf dat Brittanje die EU moet verlaat dui daarop dat talle lede van Cameron se Konserwatiewe Party nie sy kamma-groot ooreenkoms met die EU steun nie. Nog ses lede van Cameron se kabinet het reeds aangedui dat soos Johnson voel.
Peilings wys tans dat dit ‘n kop-aan-kop stryd is met beide standpunte wat steun van sowat 42% van die Britse bevolking geniet. Meer as 15% van Britte moet nog besluit hoe hulle gaan stem. Dit beteken dat daar oor die volgende 120 dae ‘n felle stryd gevoer kan word. Die voordeel hiervan is dat politieke sentralisasie en Europese burokrasie indiepte bespreek gaan word en dat die voordele van werklike federalisme en vrywillige samewerking weer aan kiesers as alternatief aangebied kan word. Die hele Europa sal baatvind by die debat oor Brittanje se lidmaatskap van die Europese Unie. Volkere wat glo dat desentralisasie en die behoud van identiteit belangrik is, kan gerus ook maar kyk wat in Brittanje gebeur.
by Orania Beweging | Feb 22, 2016 | Nuus |

Agtergrond
Dit is vandag kwalik nodig om ‘n saak vir die belang van ons kinders se onderwys uit te maak. Met die vorige groot staatkundige oorgang, die verowering van die Boererepublieke deur Groot Brittanje, het ons voorgangers Milner se verengelsing ondenkbaar gevind en met CNO-skole en Hertzog se onderwyswet daarop geantwoord. Dit het aan die grondslag van Afrikaners se suksesvolle modernisering gedurende die daaropvolgende dekades gelê en daarsonder sou ons waarskynlik in ‘n Engelstalige elite en ‘n Afrikaanse onderklas ontwikkel het. Afrikaners sou dan nie as ‘n volk met ‘n nasionale identiteit verby die vroeë moontlikhede van die negentiende eeu beweeg het nie.
Die feit dat die meer onlangse groot staatkundige oorgang, die magsoordrag van 1994, betreklik vreedsaam afgeloop het, het ongelukkig nie voorkom dat daar weer sterk verengelsende kragte op openbare onderwys losgelaat is nie. Om die waarheid te sê, daar is ‘n groeiende konsensus dat Afrikaanse onderwys in die toekoms nie aan die staat oorgelaat kan word om te oorleef nie, maar vanuit die Afrikanergemeenskap self in beskerming geneem moet. Dit is vergelykbaar met die stand van sake ná 1902, buiten dat Afrikaners nie eers ‘n Oranje Vrystaat-kolonie oorhet om sy eie onderwyswet aan te neem of toe te pas nie.
Bygesê, ons mense is ook nie so verarm as na die Tweede Vryheidsoorlog nie. Dit, saam met die kundigheid wat gedurende die eeu van modernisering verwerf is, stel ons in staat om op onafhanklike grondslag selfs meer te doen as wat die staat-in-wording gedurende die eerste dekades van die vorige eeu kon vermag. Die voorwaarde is egter dat daar deeglike besinning oor die onderwysvraagstuk van ons dag, sowel as van die uitdagings en geleenthede waarmee dit gepaardgaan, moet plaasvind. Die paragrawe wat volg, wil van dié sake aanraak.
Die ketting van kennis, houdings en vaardighede
Die eerste belangrike insig ten opsigte van onderwys is dat dit nie net om die oordrag van kennis, of selfs kennis én vaardighede gaan nie, maar om ‘n soort drie-eenheid van kennis-houdings-vaardighede. Dit kan net deels in ‘n formele leerplan vervat word omdat geen formele leerplan anders as binne die verband van ‘n soort informele leerplan, bestaande uit dikwels onuitgesproke prioriteite, waardes en gebruike kan funksioneer nie. Mens kan dit as die heersende kultuur van die leeromgewing beskryf, ‘n kultuur wat duidelik ook met ander aspekte van mense se etniese afkoms en breër kulturele oriëntasie saamhang. Wat byvoorbeeld as “goeie maniere” en dissipline, of ‘n gebrek daaraan, beskryf word, kan die punt illustreer.
Daarom ook dat dit nie net oor “Afrikaanse onderwys” in abstracto gaan nie, maar oor die konkrete en legitieme behoeftes van die Afrikanergemeenskap ten aansien van onderwys waarvan die belangrikste, saam met die geloofsgrondslag, inderdaad die taalmedium van onderrig is. Die beeld van ‘n ketting wat hiermee saamhang, verwys na die feit dat kennis, houdings en vaardighede, soos ook enige besondere taal, verlore sal gaan as dit nie van geslag tot geslag oorgedra word nie. Die gevaar is dat ‘n swak of afwesige skakel die hele ketting breek, ongeag hoe sterk vorige skakels dalk was of volgende skakels moontlik sou kon wees. Enige onderwyspraktisyn met ervaring van kinders wat uit ‘n agtergrond kom wat deur kultuurverlies gekenmerk word, kan hiervan getuig.
Hoewel ‘n hele kultuurgemeenskap nie met ‘n enkele ketting vergelyk kan word nie, maar met talle kettings wat ook met mekaar vervleg is, neem dit nie weg dat ‘n kultuur waarvan die oordrag op verskeie punte tegelyk verwaarloos of onderdruk word, onherstelbare skade kan ly nie. Bygesê dat sulke oordrag nie ‘n bloot individuele saak is nie, maar van instellings soos gesinne, families, kerke, skole, verenigings, ens. afhanklik is om plaas te vind. Meer spesifiek: die plek wat skole by moderne bevolkings inneem, bring mee dat ‘n taal-, kultuur- of geloofsgemeenskap wat nie voldoende inspraak in die aard en inhoud van formele én informele leerplanne van hulle skole het nie, ernstig agteruitgaan of selfs ondergaan.
Aansprake op beskikking oor eie onderwys mag dus in reaksie op omstandighede of optrede wees wat dit vereis, maar dít maak nog lank nie sulke aansprake of ‘n gemeenskap wat daarop aanspraak maak, reaksionêr nie. Inteendeel, geen lewenskragtige gemeenskap met ‘n gebrek aan beheer oor haar eie reproduksie in die vorm van jeugontwikkeling, sal daarmee vir lief neem nie.
Eilande van uitnemendheid
Afrikaners beskik tans, danksy die betreklik vreedsame oorgang na “die nuwe Suid-Afrika”, enigsins oor die vermoë om hoogstaande en kultuurgetroue onderwys te voorsien. Hoewel dit nie met die stand van sake onder die vorige bedeling kan vergelyk nie, is daar nog skole, selfs staatskole wat danksy gevestigde praktyke, leerder- en ouerbevolking en personeelsamestelling onderwys voorsien op maniere wat Afrikaners tevrede laat voel. Sulke skole word egter onder druk geplaas en het gedurende die afgelope twee dekades drasties verminder – tot die mate dat daar tereg van ‘n Afrikaanse onderwyskrisis sprake is.
Die rede is dat ‘n moderne, nasionale gemeenskap soos die Afrikaner nie met enkele eilande van uitnemendheid tevrede kan wees nie. Dit het nie in die verlede nie en dit gaan nie nou om die opvoeding van ‘n beperkte elite nie, maar om die breë bevolking aan wie se vlakke van opvoeding en opleiding Afrikaners hulle besondere sukses sedert die tweede helfte van die vorige eeu te danke het. Verder kan enkele eilande van voortreflikheid, nuttig soos dit is, nie bevredigend wees as dit van ‘n regering se goeie gesindheid afhanklik is om te oorleef en voortdurend onder beleg verkeer nie.
Ook onafhanklike skole wat uitnemende onderwys voorsien, is onvoldoende weens die kostefaktor wat baie leerders by voorbaat uitsluit. Selfs as aanvaar word dat die koste van konvensionele skole nie net van ouers verhaal kan word nie en dat die hele gemeenskap daarby belang het, is dit in die reël onmoontlik om staatsbefondsing met private befondsing deur mense wat ook in die eerste plek belastingpligtig is, te vervang. Dit is duidelik dat innoverende onderwysoplossings nodig gaan wees om onafhanklike, goeie onderwys, oftewel volhoubare kultuuroordrag, te verseker.
Die ideale onderwyssituasie
Dit bring ons terug na een van daardie grondliggende vrae waarna aanvanklik verwys is, naamlik hoe die ideale onderwyssituasie lyk en in hoe verre dié situasie bereikbaar is. Die moderne skoolmodel wat die uitdaging van onderwysvoorsiening aan ongekende getalle leerders die hoof moes bied, berus op ten minste drie eienskappe, naamlik institusionalisering, standaardisering en professionalisering. Wat word daarby bedoel?
“Institusionalisering” verwys na die daarstelling van skole, in die sin van geboue en personeel, vir die breë bevolking van moderniserende en moderne state waarin lees-, skryf- en syfervaardighede, sowel as sulke kennisinhoude as wat nuttig en toepaslik geag is, aan die massas oorgedra is. Een van die sleutelvrae met betrekking tot sulke skole hou dan ook verband met die getalsverhouding tussen onderwysers en leerders. Hoewel die ideale leersituasie ‘n verhouding van 1:1 sou wees, kan prakties aangevoer word dat ‘n verhouding van 1:15 ekonomies aan die onmoontlike grens, maar onder sekere omstandighede voorkom, terwyl 1:30 aan die disfunksionele grens, maar in ontwikkelende state dikwels oorskry word. Bekostigbare, dog suksevolle onderwys vind gewoonlik tussen die twee merkers plaas.
“Standaardisering” verwys na aspekte soos die inhoud van leerplanne, skedulering van die leerproses en uitruilbaarheid van onderwysers. Dit behels oordele oor leerders en onderwysers se vermoëns, die nuttigheid en toepaslikhed van kennisinhoude en die doelmatigheid van werkswyses. Een van die sleutelvrae met betrekking tot ‘n gestandaardiseerde onderwysopset, is hoe toepaslik dit op die verwagte werksomgewing met die oog waarop die skoling plaasvind, is. Net soos ‘n skool per definisie nie vir die individuele leerder daargestel is nie, is die gestandaardiseerde aanbieding per definisie nie met die spesifieke werksplek in gedagte ontwikkel nie, maar met die oog op vaardighede wat in die algemeen wenslik en bruikbaar sal wees. Sommige skole en stelsels slaag beter as ander daarin om leerders vir die werklike arbeidsmark of verdere studie voor te berei.
“Professionalisering” verwys na die opleiding en toerusting van onderwyspersoneel met die oog op die funksionering van skole en die oordrag van inhoude. Die veronderstelling is dat ‘n preofessionele onderwyser, soos die lede van ander professies, in staat sal wees om die onderwyskundige probleme waarmee hy of sy te kampe het, selfstandig en bevredigend op te los. Beide die institusionalisering van massa-onderwys as die standaardisering van leerinhoude werk egter die professionalisering van onderwyspersoneel teen en maak van die onderwyser dikwels eerder ‘n agent wat namens onderwysowerhede optree as ‘n professionele persoon wat die onderwysuitdagings selfstandig tegemoet tree. Dit geld veral waar state spesifieke sosiale of politieke oogmerke nastreef.
Wanneer skole se prestasie nie aan state se agenda’s nie, maar aan die mark gemeet word, verander die verhouding tussen en betekenis van institusionalisering, standaardisering en professionalisering enigsins, maar nie noodwendig in die guns van goeie onderwys of volhoubare kultuuroordrag nie. Dan word die kragte wat ontsluit word ten gunste van die instelling se winsgewendheid in die kleine, of die arbeids- of kennismark in die grote ingespan, maar nie per se ten gunste van die gemeenskap se behoefte aan reproduksie nie. Die ideale onderwyssituasie is een waar ‘n balans tussen gemeenskapsvorming, leerderspesifieke oordrag van kennis, houdings en vaardighede en doelgerigte voorbereiding vir spesifieke werks- of studiegeleenthede nagejaag word. Dit gedy egter nie, maar word steeds aan ander oorwegings ondergeskik gestel.
Volkskool Orania
By die huidige Orania se vestiging moes ‘n besondere onderwysuitdaging die hoof gebied word. Dit was om onafhanklike, dus ongesubsidiëerde onderwys aan ‘n klein getal leerders, versprei oor ‘n groot aantal grade en met wyd uiteenlopende vermoëns te voorsien. Hoewel dit nie anders kon as om institusionele beslag in ‘n skool te kry nie en hoewel ‘n mate van standaardisering, veral van leerplan, ‘n gegewe was, het die soeke na ‘n oplossing van onderwyskundige professionaliteit uitgegaan. Dit het op twee terreine plaasgevind, naamlik die ontwikkeling van onderwyskundige hulpmiddels en leermateriaal en die onderwyser se rol as begeleier meer as dosent.
‘n Ander belangrike paradigmaverskuiwing moes egter plaasvind om die elemente van professioneel ontwikkelde hulpmiddels en die begeleide onderwyser in ‘n werkende stelsel saam te vat. Dit het met die rol en verantwoordelikheid van die leerder te doen. Die vereiste is dat die leerder ‘n groot en toenemende mate van eienaarskap van sy of haar onderwysloopbaan neem en op ‘n pad van ontdekking en selfontplooiing geplaas word. Op dié pad stel die beskikbare hulpmiddels die begeleidende onderwyser in staat om die leerder se toenemende selfstandigheid te bevorder en die verwerwing van kennis, houdings en vaardighede te bemiddel eerder as aan te dryf.
Die bostaande beskrywing mag teoreties klink, maar dit het oor die afgelope byna 25 jaar in Volkskool Orania se klasse beslag gekry. Dit het die groeipyne van ‘n nuwe werkswyse deurgegaan en foute is gemaak en herstel. Eksterne leerplanveranderings het die skool ook telkens voor die eis om nuwe ontwikkelingswerk gestel en dit byna onmoontlik gemaak om op die klein skaal wat hy werksaam was, kop bo water te hou. Tog het toegewyde personeel en lojale ondersteuners dié sentrum van innoverende onderwysoplossings in staat gestel om sy besondere werkswyse tot ‘n werkende stelsel uit te bou en aan te bied. Dit was eintlik ‘n gegewe dat hierdie stelsel ideaal geskik sou wees vir leerders in tuisskoolverband, hoewel leersentrums en volskaalse skole ook daarvan gebruik sal kan maak. Dit word tans aangebied as Volkskool Orania se Afstandleer Plus.
Die senior sertifikaat en SACAI
Leerders wat hulle skoolloopbaan voltooi, lê hulle senior sertifikaateksamen by SACAI (Suid-Afrikaanse Komprehensiewe Assesseringsinstituut), een van twee geregistreerde, onafhanklike eksamenowerhede in Suid-Afrika, af. SACAI het redelik onlangs op die onderwystoneel verskyn en het onder andere uit die SAOU (Suid-Afrikaanse Onderwysersunie) ontstaan. Dit stel enige suksesvolle kandidaat in staat om, met genoegsame prestasie, vir verdere studie aan ‘n universteit of ‘n ander instelling vir hoër onderwys te kwalifiseer. Volkskool Orania geniet die professionele ondersteuning en toesig van SACAI, by name vir grade 10-12 wat by Volkskool as die Afrondingsfase bekend staan.
‘n Skole-UNISA
Met sy Afstandleer Plus het Volkskool Orania die grondslag gelê vir ‘n belangrike deel van wat Afrikaners se omvattende onderwysoplossing vir die toekoms kan wees. Dit berus daarop dat leerders ook nie-residensiëel by Volkskool kan inskryf en as leerders van die skool by wyse van handboeke, studiegidse en hulpmiddels in staat gestel word én begelei word om hulle werk te bemeester en daarvoor geassesseer te word. Begeleiding bestaan tipies nie uit lesings wat aangebied word nie, maar uit e-pos, telefoniese en ander elektroniese skakeling soos Skype en WhatsApp, om haakplekke uit te stryk en groepwerk en besprekings te fasiliteer.
Waar ouers die primêre verantwoordelikheid vir begeleiding en ondersteuning aanvaar, word hulle professioneel deur Volkskool se personeel bygestaan en stel dit hulle in staat om die ideale een-tot-een leersituasie te nader. Daarby, afhangend van die ouers se eie situasie en ingesteldheid, kan die leerder in regstreekse verbinding met die omgewing waarop die leerproses gerig is, gebring word. Onderwys, veral in die senior grade, hoef dan nie op ‘n afstand van die werksplek of geïsoleerd van verder studie plaas te vind, soos dikwels met massa-skole die geval is nie, maar kan regstreeks daarop afgestem wees.
Terwyl inskakeling by Volkskool Orania se programme nie die plek van daaglikse skoolbywoning inneem nie, word daar op die voordele van so ‘n leersituasie gekonsentreer. Dit is vir leerders steeds waardevol om by ‘n instelling, wat aan hulle werk struktuur gee, ingeskakel te wees en die jaarlikse slypskool vir matrieks, matriekafskeid ingesluit, bied ‘n gulde geleentheid vir moderering van portefeulêers en skakeling met medeleerders en onderwysers. Daarom dat dit so gou moontlik ook na ander grade uitgebrei behoort te word.
Algemene inskakeling by die gemeenskap is in die tuisskoolopset die ouers se verantwoordelikheid. Alhoewel almal hulle nie eweveel daarin onderskei nie, is daar tallose voorbeelde van gelukkige en welaangespaste jongmense wat hulle skoling tuis ondergaan het. Tuisskoolentoesiaste voer dikwels aan dat tuisleerders beter as skoliere by die werklike gemeenskap inskakel juis omdat hulle dit nie langs die omweg van ‘n kunsmatige skoolgemeenskap doen nie. Volkskool Orania kan vir die groeiende getal ouers en leerders wat besluit om dié weg te volg, ‘n waardevolle vennoot word.
by Orania Beweging | Feb 19, 2016 | Nuus |
Onlangs het pous Franziskus op sy besoek aan Mexiko gesê dat die eis van die Republikeinse kandidaat, Donald Trump, om ‘n onoorkombare grensmuur tussen die VSA en Mexiko op te rig, onchristelik is. Of dit die pous se oortuiging is, en of hy, wat reeds na populisme neig, maar net vir die gehoor gepraat het, weet ons nie.
Ek het al ‘n paar maande gelede oor grense geskryf (Grense, nodig of nie?) en wil myself nie herhaal nie. Hier gaan dit nie so seer oor die rasionaal van grense nie, maar die christelikheid daarvan, al dan nie. Ek is nie ‘n teoloog nie en gee maar net my siening weer van hoe ek die Bybel verstaan, maar die teoloë wat dit lees is welkom om hulle kommentare te gee.
Sowel die voorstaanders asook die teenstanders van grense soek in die Bybel regverdiging vir hulle standpunte. Die Ou Testament praat dikwels van grense tussen volke wat God vasgestel het en wat nie verander moet word nie (byvoorbeeld Numeri 34, Deuterinomium 32, Josua 15, Spreuke 22, Esegiël 47). Nehemia het spesifiek die muur om Jerusalem herbou om die Heilige Stad teen die vyande te beskerm, voor die tempel herbou kon word. Die woord muur kom uitermate baie in die Ou Testament voor, alhoewel dit in meeste gevalle nie na ‘n grensmuur verwys nie.
In die Nuwe Testament word die woord grens glad nie genoem nie. Die woord muur word een keer met ‘n negatiewe betekenis genoem, naamlik in Effesiërs 2:14: “Christus is ons vrede, Hy wat die twee, Jode en nie-Jode, een gemaak het. Deur sy liggaam te gee, het Hy die vyandskap afgebreek wat vroeër soos ‘n muur skeiding gemaak het.” In Openbaring word die hoë mure van die nuwe Jerusalem beskryf (alhoewel sy poorte permanent oopstaan).
Die woord skeiding word net vier keer in die Bybel genoem, en verwys, soos die muur in Effesiërs, na die skeiding tussen God en mens wat deur Christus opgehef is. Christus het inderdaad gekom, gesterf en opgestaan om die skeiding tussen God en mens, maar ook tussen Jode en nie-Jode af te breek, wat beteken dat die Heil en verlossing oop is vir almal wat God aanneem (wat egter nie alle mense is nie). Om daaruit egter af te lei dat Christus ‘n voorstaander van oop grense was, en dat die huidige opening van grense in Europa spesifiek vir Moslems ‘n christelike daad is, is ‘n bietjie vêr gevat. Ook teoloë volg dikwels die gees van die tyd, en dit is nie toevallig dat kerke vandag deel is van die skare wat skreeu: “Breek die mure af, ons is almal mense!” Ook word deur moderne teoloë die gelykenis van die barmhartige Samaritaan tot die kernboodskap van die Bybel verhef en is “die naaste” by implikasie altyd “die ander”. Dat nie almal wat oor die grense stroom slagoffers is soos die beseerde man langs die pad in die gelykenis nie, word daarby graag verswyg.
Grense moet in die eerste plek jou en jou geliefdes beskerm teen die bose daarbuite. Nie alles daarbuite is boos nie, maar ook nie alles is goed nie. Grense en mure het altyd ook poorte waardeur die mense en dinge kan inkom wat jy graag by jou wil hê. Geen normale grens is ondeurdringbaar nie, maar is wel daar vir ‘n rede. Soos wat die kring van jou vriende of mense met wie jy in vrede leef groter word, kan mure afgebreek word, maar iewers sal wel ‘n grens wees. In die Middeleeue het elke stad sy eie muur gehad, vandag sorg goeie landsgrense (ideaal gesproke) daarvoor dat alle stede en dorpe binne die gebied veilig is. Om egter te beweer dat die hele mensdom een groot familie is en mure daarom onchristelik is, is absurd.
Grense en mure is nie net fisies nie, maar ook moreel en kultureel. Elke samelewing het sy eie reëls en straf verkeerde en skadelike gedrag. Die ophef van fisiese grense wat tans in Europa gebeur maak ook die daarstel van algemeen aanvaarde reëls en ‘n gedragskode onmoontlik, byvoorbeeld wat die verhouding tussen mans en vroue betref.
Dit is nie christelik om alle grense af te breek en juis die swakkes binne jou poorte bloot te stel aan die gewelddadiges van buite, wat saam met die hulpbehoewendes inkom nie. Dit is christelik om uit jou gemaksone en jou veilige tuiste uit te gaan en diegene wat in nood is, te help. Diegene wat het, moet vrywillig gee vir die wat nie het nie, binne en buite hulle poorte, maar dit sou dwaas wees om jou mure af te breek en jou welvaart en veiligheid in die naam van naastenliefde vir plunderaars oop te stel.
by Orania Beweging | Feb 17, 2016 | Nuus |
Die aanslag op die intellektueles is deesdae weer met ons. Terwyl die populisme Westerse politiek toenemend besoedel hoor ons gereeld mense sê: Ag die geleerdes wat hulle tog so slim hou. Of: Die mense wat so uit die boeke uit praat en nie weet hoe om dinge prakties toe te pas nie. Filosowe word verag omdat beweer word dat die intellektueles die mense verraai het.
Hierdie is egter ‘n ernstige denkfout. Eerstens moet daar onderskei word tussen filosofie en wetenskap. Ons leef vandag in ‘n tyd waar wetenskap die ‘hoe’’-vraag oor byna elke aspek van ons lewe probeer beantwoord. Daarteenoor probeer die filosofie die byna onmoontlike ‘waarom’-vraag ontleed en beantwoord. Beide hierdie aspekte is nodig indien ons werklik ‘n beter lewe wil lei.
Die tweede rede waarom die populistiese aanslag op intellektueles verkeerd is, is dat gewone mense partykeer onder die verkeerde indruk verkeer oor wie werklik die intellektueles in hul gemeenskap is. In die Afrikaanse wêreld lees ons byna daagliks die groot denke van Max du Preez, Piet Croucamp en Christi van der Westhuizen, maar is hulle werklik intellektueles? ‘n Deeglike ontleding sal wys dat hierdie quasi-denkers eintlik veel eerder politieke aktiviste wat deur ‘n spesifieke agenda eerder as die behoefte om moeilike ‘waarom’-vrae te beantwoord, gedryf word.
Die beskuldiging in talle Westerse lande deur gewone burgers dat hulle deur die intellektuele klas uitverkoop is, is dus verkeerd. Hulle is eerder deur politieke aktiviste wat hulle met slimpraatjies besig hou uitverkoop. Politici vandag is meestal mense met besonderse vaardighede in een of ander wetenskap of noem dit nou maar ‘praktiese beroep’. Hoeveel verkose politici het egter al Dante, Aristotles en Plato gelees en het werklik die vermoë om die ‘waarom’-vraag te beantwoord, bemeester?
Die openbare dialoog in die meeste Westerse lande en ook in die Afrikaanse leefwêreld word gedomineer deur hierdie quasi-denkers aan die een kant en die populiste aan die ander kant. Hoewel ons heelwat werklik intellektuele denkers in die Afrikaanse gemeenskap het, sien ons heeltemal te min van hulle.
Terwyl die wetenskap ‘n pragtige voorbeeld is van hoe die mens sy Godgegewe vermoëns gebruik om beter te verstaan hoe die wêreld werk en daardeur antwoorde op praktiese uitdagings te skep, het die mens ook ‘n wonderlike brein. Die filosofie is niks anders as ons vermoë om ons brein volledig te gebruik om ernstig oor dinge te dink nie.
Terwyl die modernisme steeds oor ons spoel en individue vasgevang word in hul rol as klein meganismes in ‘n groot wetenskaplike stelsel waar politici hul soos marionette beheer en slegs populiste hul frustrasies kan verwoord, sal mense weer ernstige vrae oor die lewe begin vra. Dit is dalk eers dan wanneer ons weer die filosowe en denkers in ons gemeenskap ernstig sal opneem, hul tot ons leiers sal verhef en sal besef hoe ons vir lank deur qausi-denkers om die bos gelei is.
by Orania Beweging | Feb 16, 2016 | Nuus |
‘n Marokkaanse reisiger, Ibn Battuta, wat meer as 700 jaar gelede geleef het, het oor reis gesê: Dit laat jou sprakeloos en dan maak dit van jou ‘n storieverteller.
Ons leef vandag in ‘n geglobaliseerde wêreld waar mense lysies van bestemmings het wat afgemerk moet word en waar vermaak in soveel opsigte ons vermoë om te observeer, te luister en vreemde plekke, mense en dinge te verstaan, oorheers. Vakansie het reis in baie mense se lewens vervang. Mense vlieg London of Milan toe om inkopies te gaan doen, maar sien niks meer van dié stede se katedrale as dit wat hulle deur die venster van ‘n taxi waarneem nie. Dit veroorsaak dat baie van ons vandag na ‘n lang reis slegs Iphone foto’s oor het om te wys, terwyl dié reisigers wat ware storievertellers is, al hoe minder raak.
Selfs erger as dit is die mens se toenemende onvermoë om ‘n natuurlike behoefte om plekke waarvan hy min weet te gaan ondersoek. Moderne reisigers werk met reisplanne wat van die internet afgelaai word en besoek plekke wat besoek moet word omdat dit die gewildste bestemmings in die wêreld is. Ware reisigers droom snags oor plekke waarvan hulle min weet en wat hulle wil gaan ontdek. So ‘n ontdekkingstog het heelwat meer te make met argitektuur, kos en kultuur as met die beskikbaarheid van goedkoop Chineesvervaardigde yskasmagnete en die internasionale standaard van hotelle en bekende handelsmerkrestaurante.
Sebastiaan Biehl is in Orania bekend as iemand wat dikwels teen die stroom van die modernisme ingaan. Wat reise betref is dit geen uitsondering. As vriend en kollega moet ek bieg ken ek nie juis iemand wat ‘n groter reisiger as Sebastiaan is nie. Hy hou min vakansie, maar sy talle wêrelreise maak deeglik daarvoor op.
Daarom is dit net logies dat Sebastiaan ook een van die interessantste reisbeskrywings wat ek nog gelees het, die lig laat sien het. Wierook en Sigare, is nie ‘n boek oor die beste Michelen-restaurante in duur Europese stede of die beste ‘surf-spots’aan die Amerikaanse weskus nie. Dit is ‘n boek oor vyf interessante, mistieke plekke waarheen hy die afgelope paar jaar gereis het.
Wierook en Sigare vertel jou nie watter dorpe om te besoek, in watter hotelle om oor te bly en by watter restaurante jy moet eet nie, maar dit plaas beelde in jou kop van plekke waaroor baie van ons nog maar min gedink het. Jy kry die gevoel van ‘n lang rit op ‘n Derde Wêreldse bus en terwyl jy oor Kuba lees verbeel jy jou jy ruik die koffiebone op ‘n diepplattelandse plaas.
Verder slaag Sebastiaan daarin om elk van die plekke waaroor hy skryf binne ‘n internasionale konteks te verduidelik. Plekke bestaan nie net vir mense om hulle te besoek nie. Plekke bestaan omdat daar mense bly wat deur leiers regeer word en wat ‘n rol in die wêreld speel, hetsy op ekonomiese, politieke, kulturele of welke ander terrein.
Wierook en Sigare is nie geskryf om mense te probeer oorreed om ook Suid-Oos Asië, die suide van Spanje, Kuba, Marokko en die Amasone te besoek nie, maar eerder om ‘n mens ‘n blik op die lewe in hierdie plekke te gee. Sebastiaan slaag uitstekend hierin.
Die Orania Beweging is trots daarop om as uitgewer van hierdie publikasie op te tree. Die boek sluit in 46 volkleurfoto’s en Carel Boshoff,verdien erkenning vir sy netjiese redigering en verwerking van die teks, asook die uitleg, druk en bind van Wierook en Sigare.
Teen R165 is hierdie boek ‘n winskope en definitief die soort boek wat jy graag met familie en vriende sal wil deel. Beskikbaar by oraniawinkel.co.za of stuur ‘n e-pos na ontvangs@orania.co.za.
by Orania Beweging | Feb 15, 2016 | Nuus |
Vir almal wat of in die platteland woon, of as stedeling van tyd tot tyd soontoe kom, is dit duidelik hoe die platteland agteruitgaan. Afrikaners trek weg, winkels en besighede sluit (behalwe Sjinese “alles-en-nog-wat-winkels”), geboue verval, kerke loop leeg en al wat groei is onkruid, die werkloosheid en die plekkerskampe. Die stede gaan in sekere opsigte ook agteruit wat lewenskwaliteit betref, maar groei wat getalle en ontwikkeling betref.
Verstedelikking is ‘n wêreldwye verskynsel. In die sogenaamde Derde Wêreld is dit al lankal aanwesig. In die Eerste Wêreld het na ‘n fase van terugkeer na die platteland of ten minste na die voorstede in die 1970’s en 1980’s, verstedelikking in die nuwe millennium weer nuwe stukrag gekry. Terwyl in die Derde Wêreld mense na die stede kom op soek na werk en beter lewensomstandighede (wat dikwels onvervuld bly), trek mense in die Eerste Wêreld stad toe oor die gerief en die versugting na “urbaniteit” (die stedelike leefstyl). Teaters, uitstallings, plekke van kultuur en ontmoeting, winkelsentrums en andersins anonimiteit word deesdae in die Weste hoër aangeslaan as lewe naby die natuur, goeie buurmanskap en rustigheid.
In Suid-Afrika sit ons met die situasie dat veral swartmense vanaf die landelike gebiede na die stede stroom want daar is die toekoms en die kans vir opgang. Die keersy van die stede is geweld en maatskaplike probleme. Blankes is al lankal grootliks verstedelik, maar dit neem selfs nog toe. As ek net terugdink aan my studentedae in die 1990’s in Bloemfontein was talle medestudente nog afkomstig van plase en klein dorpe. Vandag woon feitlik almal van hulle in groot stede of oorsee.
Selfs die wat graag in die platteland wil woon ter wille van beter veiligheid (in sekere areas), rustigheid en selfstandigheid beskou dit as ‘n romantiese idee wat dalk eendag sal realiser as hulle afgetree is. Die hoë salarisse en die skuld wat ‘n mens aangegaan het, hou mense vas aan die stedelikke bestaan, al is die daglikse lewe alles behalwe bevredigend.
Kan ons verstedeliking omkeer? Moet ons dit omkeer? Indien ja, hoe? Kom ons wees eerlik: daar sal nie ‘n massabeweging terug na die platteland wees nie want ons mense sal nie weet hoe om op die platteland te leef nie. Die meeste Afrikaners is nou al vir ‘n paar generasies verstedelik en ken die platteland net van naweekuitstappies en sal nie meer weet van die plattelandse leefwyse nie.
Dit is egter vir ons mense (dit is nou die wat vryheidsgesind is en wat nog Afrikaners wil wees) noodsaaklik om ‘n omkeer te bedink. Ons sal nie die demografiese wedloop in die stede kan wen nie. Tans is daar nog heelwat voorstede wat oorwegend blank, selfs Afrikaans is, maar dit verander vinnig. Met ons klein getalle moet ons eerder kyk na gebiede wat deur ander volke toenemende opgegee word, en daar voor begin. Ons moet dit doen as groep, nie as enkelinge nie. Daar is reeds enkelinge wat na sekere plattelandse dorpe trek en dit ‘n nuwe lewe gee, maar dit is ‘n soort kunsmatige, post-plattelandse lewe wat feitlik net op toerisme vir stedelinge ingestel is en die dorpe se karakter vernietig. Engels vervang Afrikaans, kerke word monumente, woonhuise word gastehuise en ‘n gemeenskap word ‘n versamling dikwels boheemse individue.
Om ten minste dele van die platteland weer lewe te gee en ‘n Afrikaner-teenwoordigheid te herskep, sal dit nie help om net op landbou te fokus en om ons mense aan te sê om plase te koop nie. Landbou is gespesialiseerd en ongelukkig die bedryf wat die moeilikste kan klaarkom sonder goedkoop en ongeskoolde arbeid. Landbou moet natuurlik deel van die plattelandse ekonomie bly en kos raak vorentoe meer en meer belangrik, maar eerder as om ons mense op kibboetse te wil vestig soos die Jode dit in die vroeë 20ste eeu gedoen het, moet ons klein, plattelandse stede vestig.
Die woord “stad” in Afrikaans is misleidend. In Engels is daar “village”, “town” en “city”. In Afrikaans word sowel “village” asook “town” met “dorp” vertaal. Dus kan sowel ‘n groterige plek soos Potchefstroom of Bethlehem, asook ‘n gehuggie soos Hartbeesfontein of Tweeling (met verskoning aan die wat daar woon) ‘n dorp wees. “Stad” word gelyk gestel aan ‘n metropool met ten minste 100 000 inwoners. Die stad waarvan ons hier praat is egter die “town”, die gemoedelike plattelandse stad met ‘n paar duisend inwoners, wat egter alle geriewe en dienste het wat ‘n stad moet hê.
As ons mense binne ‘n geografies kompakte gebied in sulke plekke konsentreer en stedelike besighede van daaraf bedryf, soos internetgebaseerde spesialisdienste, verwerking, vervaardiging, onderwys, mediese dienste, aangevul deur tipies plattelandse bedrywe soos toerisme en landbou, dan kan hier klein, homogene Afrikanerstede ontstaan met ‘n mooi atmosfeer en goeie lewensgehalte.
