Die staatsrede is, soos `n jaar gelede ook die geval was, gekenmerk deur verskeie onderbrekings. Herhaalde versoeke vir insette op `n “punt van orde” het vanuit opposisiebanke opgeklink. Dit was veral lede van die EFF wat vir die meeste ontwrigting gesorg het en uiteindelik die Nasionale Vergadering verlaat het met `n nuwe strydlied: “Zupta must fall.” `n Uur nadat die staatsrede veronderstel was om te begin kon President Jacob Zuma eers sonder onderbreking praat.
Enkele ure voor die chaos in die parlement word `n skrywe uit die pen van Carel Boshoff per e-pos aan bykans 15 000 intekenare versprei. Dit word ook op die Orania Beweging se facebookblad met 25 000 volgelinge geplaas. Dié skrywe in die vorm van `n opebrief aan Afrikanerbesluitnemers neem in `n mate die vorm van `n staatsrede aan. Carel beskryf dit as die Orania Beweging se volk-staatbetoog. Nie `n staatsrede nie maar `n volksrede wat 2016 se uitdagings saamvat en riglyne bied oor hoe dit oorkom kan word.
Die reaksie op dié skrywe was oorweldigend positief. Daar is vergelykings getref tussen die suksesse in Orania wat Carel lys en die stand van sake in die res van die land. Die feit dat daar nie weggeskram is van ongemaklike uitdagings nie staan ook in skrille kontras met Zuma se staatsrede waarin die droogte byvoorbeeld erkenning geniet maar geen voorbeelde van hoe dit aangespreek word genoem is nie.
As `n Oraniër verstaan ek baie goed dat ons nie in isolasie bestaan nie. Ek besef dat die staatsrede en die besluite in die parlement ook `n invloed op my het aangesien ek steeds ook `n Suid-Afrikaner is. Maar ek besef ook dat ek nie my volle vertrou in die funksionering (al dan nie) van die parlement kan plaas nie. My toekoms kan nie uitgelewer wees aan punte van orde en strydkrete wat Zuma se ondergang bepleit nie. Ek kan ook nie vertrou dat opposiepartye se repliek op die staatsrede vir my `n beter toekoms kan verseker nie. Daar moet `n alternatief wees.
Orania het 25 jaar gelede as `n groeipunt vir Afrikanerselfbeskikking begin. In 1991 was die kritici en skeptici se menings duidelik. Daar is gereken dat Orania tot `n klein groepie beperk sal wees wat oor die volgende paar jaar sou uitsterf. Daar is gesê dat Orania gedoem is om te misluk. Met toenemende verstedeliking geniet die meeste plattelandse dorpe `n negatiewe groeikoers. Waar daar wel bevolkingsgroei voorkom is dit selde meer as 2% per jaar terwyl Orania `n gemiddelde groei van 10% per jaar geniet. Daarmee saam vestig verskeie entrepreneurs nuwe ondernemings wat werkskepping en ekonomiese groei bevorder.
Vanjaar vier Orania hierdie besondere mylpaal en word daar ook aan die toekoms beplan. Ons gaan van Orania `n stad maak om aan minstens 10 000 Afrikaners `n tuiste te bied. Daar kan reeds gesien word hoe die infrastruktuur uitgebrei word om by te bly met die groei wat die gemeenskap tans beleef. Daar word dienste aangelê na nuwe ontwikkelings en navrae van voornemende intrekkers stroom in. Orania groei!
Die staatsrede beskik oor die vermoë om Afrikaners met `n swaar gemoed te laat. Hoe kan daar groei wees met soveel chaos? Hoe is soveel wanorde moontlik met soveel ‘punte van orde’? Dan is dit belangrik om tot die besef te kom dat ons toekoms in ons eie hande is en jou betrokkenheid kan help om `n volhoubare alternatief te vestig. Om uit Carel se volk-staatbetoog aan te haal: “Orania moes wys dit is moontlik om so ’n eie bestaan te voer en na 25 jaar kan ons van die dakke af verkondig: Dit is moontlik! En wat meer is: as ’n handjievol pioniers se idealisme dít kon vermag wat vandag hier staan, dink net wat kan ons mense in hulle tienduisende nie vermag en help vermag as hulle hulle gewig daaragter ingooi nie.”