In die vorige aflewering van Agtergrond is Orania binne breër verband in behandeling geneem. Daarby is veral na ons verhouding met mede-Afrikaners, met Suid-Afrika as staatkundige entiteit en met die wêreldwye gemeenskap van volke, nasies en state verwys. In elke geval sal die verhoudinge wat ons vestig, bepalend wees vir die erkenning wat ons nodig het om van selfstandigheid vryheid te maak.
Twee ander kwessies waarna verwys is, maar wat verdere besinning verdien, is die vraag van plek, ligging en omvang en die vraag van die verlede en van ons toekomsverwagtings. Die noodsaak van ’n stedelike kern vir ’n Afrikanergebied is vermeld met die vooruitsig dat daar verder oor besin sal word.
Maar dit is nie wat ek in hierdie Agtergrond wil doen nie. Eers wil ek die vraag van verlede en toekoms, van waar ons vandaan kom en waar ons heen gaan verder oorweeg. Nie dat `n mens die vraagstukke van mense, tyd en plek waterdig van mekaar kan skei nie, dit is juis asof politiek uit die saamweef van die drie sake bestaan. Daarom dat ek die vraag konkreet stel: Waar kom ons vandaan en waar gaan ons heen? En natuurlik kan so ’n vraag op ’n veelheid van maniere aangepak word en ek wil maar een toepaslike, en vir my noodsaaklike, perspektief ontgin. Dit het te make met hoe die verhouding tussen ons en die ander in die verlede ingerig is om ons selfbehoud te verseker en wat ons in die toekoms moet doen om steeds ons selfbehoud te verseker.
In navolging van dr GD Scholtz se monumentale “Die ontwikkeling van die politieke denke van die Afrikaner”, in besonder van Deel I wat oor die tydperk van 1652–1806 handel, wil ek na twee faktore verwys wat die grondslag gelê het vir ons verhoudinge sedertdien. Die eerste is ’n besluit wat in 1657 al in werking gestel is, naamlik dat slawe na die Kaap ingevoer word om die harde arbeid te verrig. Die tweede is ’n besluit in 1706 om verdere Europese immigrasie af te raai en te beperk. Dit is deur WA van der Stel aanbeveel en deur die VOC vasgelê.
Die logiese gevolge van die eerste besluit was dat die Afrikanervolk sedert sy ontstaan nie alle vorme van arbeid uit eie geledere verrig het nie, maar slawe en inboorlinge, meestal swart, daarvoor gebruik het. Die Europese oorheersing van die wêreldtoneel het vir die volgende drie eeue of wat van hierdie verhouding tussen ’n dominante wit en ’n onderhorige swart bevolking die norm gemaak. Nadat slawerny afgeskaf is, het loonarbeid die plek daarvan ingeneem, maar arbeiders se onderhorigheid het in baie opsigte nie verander nie. Dit sou eers sedert 1945 begin verander en daarby was Suid-Afrika, wat onder Afrikaners se politieke beheer en Engelse en Jode se ekonomiese beheer was, nie op die voorpunt nie.
Die logiese gevolg van die tweede besluit was dat die Afrikanervolk nooit ’n talryke volk sou word nie. Hoewel immigrasie uit die moederlande nie heeltemal tot stilstand gekom het nie, was daar teen 1706 nog geen 2000 Europeërs aan die Kaap nie en moes die bevolking daarna hoofsaaklik by wyse van natuurlike aanwas groei. Dit is maklik om by terugskoue te sien hoe anders sake later daar sou uitsien as ’n bevolking van net 20 000 of 10 000, of selfs net 4000 vroeg in ons geskiedenis aan die Kaap sou gevestig het. Indertyd is egter aangevoer dat die land te onvrugbaar is en die ekonomie te klein om meer mense in te neem – veral aangesien die meeste werk in elk geval deur slawe verrig word.
Die doel van my verwysing is egter nie ’n treurmare oor verkeerde besluite in die verlede nie; daarmee sal ons (maar ook ons nakemelinge!) hulle vir altyd kan besig hou sonder om die toekoms beter te maak. Die doel is om te verstaan hoe dit gekom het dat Afrikaners hulle verhouding tot mede-Suid-Afrikaners aan die hand van ’n swart-wit en baas-klaasverdeling verstaan het (en dikwels nog verstaan) en waarom ons by vrae van selfbehoud so oormatig skerp kan reageer. Uit die geskiedenis weet ons baie goed wie is ons en wie is hulle en bring ons klein getalle, sowel as ons ongunstige verhouding tot hulle getalle, mee dat ons alles gedoen het om te verhoed dat ons aan die meerderheid ondergeskik gestel word. Dit was die ander kant van die munt van ons vryheidstrewe.
Hierdie verhouding tussen ons en die ander is in die een woord, naamlik “apartheid” saamgevat. Selfs nadat Afrikanerleiers soos dr Verwoerd, wat ook vir die swart volke vryheid in hulle eie gebiede in die vooruitsig gestel het, van dié woord wou afstap en dit met “afsonderlike ontwikkeling” probeer vervang het, het “apartheid” ’n internasionale woord geword om politieke bedelings te beskryf wat ’n wesenlike deel van ’n staat se bevolking van deelname uitsluit. In Suid-Afrika is elke klein maatreël wat swart- en witmense uitmekaar gehou het onder die vergrootglas geplaas en is aangetoon hoe dit tot die voordeel van die een en tot die nadeel van die ander uitgewerk het.
Min eerlike Afrikaners met ’n historiese bewussyn kan vandag sê dat hulle dié orde onbegryplik vind, selfs al het hulle mettertyd tot die besef gekom dat dit nie net onvolhoubaar is nie, maar ook nadelig vir toekomstige verhoudings. Maar dat hulle dit begryplik vind, beteken nie dat sulke Afrikaners apartheidsmaatreëls weer in werking wil sien nie. Selfs nadat die afskaffing daarvan tot baie van die gevolge gelei het wat destyds gevrees is en waarteen apartheidsmaatreëls die blanke minderheid probeer beskerm het, het denkbeelde van universele menseregte en gelykheid sedert die Tweede Wêreldoorlog oorheersend geword en wil min van ons mense dit ignoreer, selfs al sou hulle kon.
Afrikaners wat hulle dus vandag vir selfbehoud beywer, kan aan die een kant nie val vir die liberale fiksie dat daar in werklikheid geen ons en hulle meer is nie en dat die hele mensdom een groot ons geword het nie. Aan die ander kant sal ons egter ook nie ons selfbehoud dien as ons die verlede in die vorm van apartheidsmaatreëls probeer herstel nie, inteendeel, ons sal al die kragte wat die ou Suid-Afrika nie meer kon trotseer nie – en meer – op ons fokus en ons hele strewe tot ’n stuk verrinneweerde nostalgie verskraal. En wat vir selfbehoud geld, geld te meer vir vryheid, want die eise wat dit stel is nog strenger. Die rede is dat vryheid nie net na binne werksaam is nie, maar ook na buite. ’n Volk se vryheid vereis erkenning ook van diegene van wie ’n bedreigde gemeenskap hom dalk nog in privaatheid sou kon afkeer. Maar daaroor is verlede keer genoeg gesê.
Die punt is dat ons selfbehoud, wat die voorwaarde vir vryheid is, op twee antwoorde op die twee groot vraagstukke van ons vroeë geskiedenis berus. Dié twee antwoorde is selfwerksaamheid en konsentrasie. Die rede is dat dit apartheidsmaatreëls soos van ouds en al die probleme wat dit meebring, oorbodig maak. Verder word ons verhouding tot die ander nie deur ’n gevoel van bedreiging en verdringing bepaal nie, maar deur veiligheid en selfvertroue. Dan kan `n mens, by wyse van spreke, bekostig om gasvry te wees, wat meebring dat die pad van erkenning gee en erkenning verkry, oop voor ons lê. Eers dan maak selfbehoud die deur na vryheid oop.
Carel as ek mag; Een moontlike denk fout is die aanname dat “die hulle” ooit weer gelukkig sal wees om ook die son oor ons te sien skyn. Die teorie klink goed, maar daardie wederkerige respek sal na my mening nimmer meer bestaan nie. Slegs ‘n gedwonge verdraagsaamheid by hulle tot ‘n eensydige doel vir hulle sal ons voorsienbare toekoms wees, veral as ons binne die bestel bly. Ek sou ook graag God se wil wou sien reflekteer in hierdie mening stuk, aangesien Sy wette ons maatstaf behoort te wees en nie ‘n aanslag wat neig na poloties korrek en hoop op gelykmatige behandeling nie. Groete