fbpx

Die Duitse uitgewer en joernalis Johannes Gross het eens op ‘n tyd gesê dat hoe langer die sogenaamde Derde Ryk (Hitler se bewind) teruglê, des te hewiger word die weerstand daarteen.

Dieselfde kan gesê word oor rassisme. Hoe meer rassisme uit die openbaar verdwyn, hoe meer histeries tree mense en groepe op oor elke moontlike en verbeelde rassistiese handeling. Rassisme is ook nie meer beperk tot diskriminasie van swart mense nie, maar sluit alles en almal in (alle soorte seksuele oriëntasies, vroue, kinders, gestremdes, armes, vegetariërs, daggarokers, alle gelowe behalwe die Christendom ens.), trouens almal behalwe heteroseksuele, christelike wit mans word as slagoffer in verskillende grade gereken. Waar die stryd in die verlede teen kru institusionele rassisme gegaan het soos die alombekende voorbeelde van werklike apartheid in Suid-Afrika in die 1960’s, of 1970’s, of segregasie in die Amerikaanse Suide in die eerste helfte van die 20ste eeu (wat al twee historiese tydperke is wat net so min terugkom soos die Middeleeue), word vandag teen alles en almal geveg wat as bevoorreg gesien word. Blykbaar is selfs ‘n taal rassisties. Daar moet weggedoen word met Afrikaans, nie omdat enige iemand weens Afrikaans uitgesluit word nie (alle universiteite het ook die opsie van Engels, maar talle is slegs Engels), maar uit nyd op die enigste inheemse Afrika-taal (met Westerse wortels) wat kon ontwikkel tot ‘n volwaardige wetenskapstaal. Omdat wit rektore per sê tot die bevoorregte groep behoort en dus verdag is, is hulle gewoonlik die ywerigste laksmanne van Afrikaans om hulle op die manier as nuttig vir die bewindhebbers aan te beveel.

Die hele rassisme-debat, wat nie net Suid-Afrikaanse kampusse oorheers nie, maar selfs kampusse in Europa en die VSA, waar hoofsaaklik blankes studeer en selfaangestelde aktiviste hulle aangebore skuld deur selfhaat wil afwas, is lastig en intellektueel vlak. Niemand bevraagteken dat daar institusionele rassisme was en op individuele vlak ten spyte van wetgewing nog steeds kan voorkom. Anders as wat aktiviste vir ons wil laat glo is rassisme iets wat redelik algemeen verwerp word en al hoe minder voorkom. In die afgelope 50 jaar is ook geen nuwe insigte tot die debat toegevoeg nie en akademies instellings wat alewig oor en oor in dieselfde trant oor rassisme stry (met die skuldige en die slagoffer wat reeds vasstaan) produseer warm lug en mors tyd. ‘n Universiteit is nie ‘n terapiesentrum vir mense met ‘n ingeboude minderwaardigheidsgevoel en vaderwoede nie, maar ‘n plek van leer en uitnemendheid.

Ons hoor gereeld hoe apartheid en rassisme swartmense se waardigheid aangetas het en dit is seker so. Maar dit is tog ironies dat diegene wat die meeste oor ras en rassisme aangaan, diegene is wat nie eens die era van apartheid beleef het nie, mense onder 30. Wit studente skaam hulle oor iets wat hulle nie veroorsaak het nie, en swart studente eis vergoeding vir iets (institusionele rassisme) wat hulle nie ervaar het nie en wil wraak neem op diegene wat nie daarvoor verantwoordelik was nie.

Ons behoort die hele kunsmatige debat met minagting te verwerp en te erken wat dit is: ‘n desperate poging van die regering om sy power rekord te verbloem en ‘n weerligafleier of sondebok te soek, of van beroepsaktiviste wat hulle lewensdoel verloor as hulle ophou “struggle” en ‘n sinvolle werk doen.

Net soos met die woord demokrasie word aan die woord rassisme ook enige betekenis gegee. Om die rede is dit belangrik om te definieer wat rassisme eintlik is, nie wat die ANC, EFF, DA, Menseregtekommissie of wie ook al daaronder verstaan nie. Volgens die Oxford Woordeboek is rassisme “Vooroordeel, diskriminasie of vyandigheid wat teen iemand van ‘n ander ras gerig is in die oortuiging dat jou eie ras verhewe is”. (Prejudice, discrimination, or antagonism directed against someone of a different race based on the belief that one’s own race is superior).

In ‘n rassensitiewe samelewing soos Suid-Afrika word kritiek teen dade van ‘n persoon van ‘n ander ras dikwels as rassisme gesien en daardeur probeer om die geldigheid van die argument te betwis en die bordjies te verhang. Opmerkings oor “ape op die strande” is beslis rassisme en so ook die oproep van sekere swart mense tot volksmoord op blankes. Om egter te beweer dat die land beter was onder vorige leiers is ‘n opinie wat debatteerbaar is, maar beslis nie rassisme nie.

Dit is elkeen se verantwoordelikheid om hom of haarself van rassistiese uitsprake te weerhou, maar dit sou fataal wees as almal nou selfsensuur toepas en te bang is om enige daad van ‘n persoon van ‘n ander ras, by implikasie die regering, te kritiseer. Die hele rassedebat bied geen oplossings nie en dit is nogal jammer dat talle partye en organisasies in die ANC se slaggat getrap het en op die party se tuisveld wil meeding, soos die DA wat heeltemal oorreageer met iemand soos Dianne Kohler-Barnard en nou orals rassiste probeer uitsnuffel, of die NG kerk wat nou weer skuld by wit mense soek en dit wil bely.

Orania steur hom nie aan die debat nie en bly daar uit (en hierdie standpunt is nie bedoel om die debat aan te vuur nie maar om juis dit te verwerp en die belaglikheid daarvan uit te wys). Ons het baie werk om te doen. Ons mense moet gehuisves word en werk kry, hulle kultuur moet bewaar en uitgeleef word, kinders het christelike, Afrikaanse onderwys nodig en ons moet ‘n groter vlak van selfstandigheid bereik. As ons ons die hele tyd sou ophou met debatte en beskuldigings wie wat in die verlede verkeerd gedoen en ons te nagekom het, dan sal ons nooit daarby uitkom wat nou gedoen moet word. Ja, rassisme in Suid-Afrika is ‘n probleem, maar dit is in vergelyking met die erge misdaad, swak dienste, verval van morele waardes, vernietiging van infrastruktuur, korrupsie en werkloosheid (en vele ander) ‘n redelike klein probleem.racism