Vir almal wat of in die platteland woon, of as stedeling van tyd tot tyd soontoe kom, is dit duidelik hoe die platteland agteruitgaan. Afrikaners trek weg, winkels en besighede sluit (behalwe Sjinese “alles-en-nog-wat-winkels”), geboue verval, kerke loop leeg en al wat groei is onkruid, die werkloosheid en die plekkerskampe. Die stede gaan in sekere opsigte ook agteruit wat lewenskwaliteit betref, maar groei wat getalle en ontwikkeling betref.
Verstedelikking is ‘n wêreldwye verskynsel. In die sogenaamde Derde Wêreld is dit al lankal aanwesig. In die Eerste Wêreld het na ‘n fase van terugkeer na die platteland of ten minste na die voorstede in die 1970’s en 1980’s, verstedelikking in die nuwe millennium weer nuwe stukrag gekry. Terwyl in die Derde Wêreld mense na die stede kom op soek na werk en beter lewensomstandighede (wat dikwels onvervuld bly), trek mense in die Eerste Wêreld stad toe oor die gerief en die versugting na “urbaniteit” (die stedelike leefstyl). Teaters, uitstallings, plekke van kultuur en ontmoeting, winkelsentrums en andersins anonimiteit word deesdae in die Weste hoër aangeslaan as lewe naby die natuur, goeie buurmanskap en rustigheid.
In Suid-Afrika sit ons met die situasie dat veral swartmense vanaf die landelike gebiede na die stede stroom want daar is die toekoms en die kans vir opgang. Die keersy van die stede is geweld en maatskaplike probleme. Blankes is al lankal grootliks verstedelik, maar dit neem selfs nog toe. As ek net terugdink aan my studentedae in die 1990’s in Bloemfontein was talle medestudente nog afkomstig van plase en klein dorpe. Vandag woon feitlik almal van hulle in groot stede of oorsee.
Selfs die wat graag in die platteland wil woon ter wille van beter veiligheid (in sekere areas), rustigheid en selfstandigheid beskou dit as ‘n romantiese idee wat dalk eendag sal realiser as hulle afgetree is. Die hoë salarisse en die skuld wat ‘n mens aangegaan het, hou mense vas aan die stedelikke bestaan, al is die daglikse lewe alles behalwe bevredigend.
Kan ons verstedeliking omkeer? Moet ons dit omkeer? Indien ja, hoe? Kom ons wees eerlik: daar sal nie ‘n massabeweging terug na die platteland wees nie want ons mense sal nie weet hoe om op die platteland te leef nie. Die meeste Afrikaners is nou al vir ‘n paar generasies verstedelik en ken die platteland net van naweekuitstappies en sal nie meer weet van die plattelandse leefwyse nie.
Dit is egter vir ons mense (dit is nou die wat vryheidsgesind is en wat nog Afrikaners wil wees) noodsaaklik om ‘n omkeer te bedink. Ons sal nie die demografiese wedloop in die stede kan wen nie. Tans is daar nog heelwat voorstede wat oorwegend blank, selfs Afrikaans is, maar dit verander vinnig. Met ons klein getalle moet ons eerder kyk na gebiede wat deur ander volke toenemende opgegee word, en daar voor begin. Ons moet dit doen as groep, nie as enkelinge nie. Daar is reeds enkelinge wat na sekere plattelandse dorpe trek en dit ‘n nuwe lewe gee, maar dit is ‘n soort kunsmatige, post-plattelandse lewe wat feitlik net op toerisme vir stedelinge ingestel is en die dorpe se karakter vernietig. Engels vervang Afrikaans, kerke word monumente, woonhuise word gastehuise en ‘n gemeenskap word ‘n versamling dikwels boheemse individue.
Om ten minste dele van die platteland weer lewe te gee en ‘n Afrikaner-teenwoordigheid te herskep, sal dit nie help om net op landbou te fokus en om ons mense aan te sê om plase te koop nie. Landbou is gespesialiseerd en ongelukkig die bedryf wat die moeilikste kan klaarkom sonder goedkoop en ongeskoolde arbeid. Landbou moet natuurlik deel van die plattelandse ekonomie bly en kos raak vorentoe meer en meer belangrik, maar eerder as om ons mense op kibboetse te wil vestig soos die Jode dit in die vroeë 20ste eeu gedoen het, moet ons klein, plattelandse stede vestig.
Die woord “stad” in Afrikaans is misleidend. In Engels is daar “village”, “town” en “city”. In Afrikaans word sowel “village” asook “town” met “dorp” vertaal. Dus kan sowel ‘n groterige plek soos Potchefstroom of Bethlehem, asook ‘n gehuggie soos Hartbeesfontein of Tweeling (met verskoning aan die wat daar woon) ‘n dorp wees. “Stad” word gelyk gestel aan ‘n metropool met ten minste 100 000 inwoners. Die stad waarvan ons hier praat is egter die “town”, die gemoedelike plattelandse stad met ‘n paar duisend inwoners, wat egter alle geriewe en dienste het wat ‘n stad moet hê.
As ons mense binne ‘n geografies kompakte gebied in sulke plekke konsentreer en stedelike besighede van daaraf bedryf, soos internetgebaseerde spesialisdienste, verwerking, vervaardiging, onderwys, mediese dienste, aangevul deur tipies plattelandse bedrywe soos toerisme en landbou, dan kan hier klein, homogene Afrikanerstede ontstaan met ‘n mooi atmosfeer en goeie lewensgehalte.
In Europa is daar talle stede met 10 000 tot 15 000 inwoners. Hulle het ‘n stedelike karakter, maar word omring deur landelike gebiede – dus ‘n soort klein landelike stad, maar nie ‘n uitgespreide voorstedelike soort stad nie. ‘n Stad moet basiese dienste kan lewer en basiese funksies vervul en dit is heeltemal moontlik met so min as 10 000 inwoners. Gaan lees gerus oor Dokkum, een van die stede in Friesland. Jy sal die inwoners van Dokkum lelik in die gesig vat as jy na hul stad as ‘n dorp verwys.
Dankie Hanno. Dis presies my punt, daar is nie ‘n Afrikaanse word vir die “klein stad” nie. In Europa gaan stad of dorp nie so seer oor inwonergetalle nie, maar oor stadsregte wat toegeken word deur die staat (en meeste stede, selfs die met skaars 5000 inwoners, beskik al lank oor stadsregte) en oor die rol wat ‘n plek speel vir sy omgewing.
Die vereiste om “stad”te wees soos dit hier beskryf is, is om ‘n sentrum vir ‘n area te wees wat dienste en geriewe bied vir ‘n wye gebied en talle mense uit die omgewing, en om ‘n groot mate van feitlike outonomie te hê.
In Europa is ‘n stad status nie gekoppel aan die hoeveelheid inwoners nie.
Stad beteken dat die plek het ‘n mark, regeer hom self en beskerm sy inwoners van die wilde woeste wêreld daar buite. Boere sal bv. in die stad woon en sy boerdery kan buite die stad wees.
Die kleinste stad in Nederland is Bronkhorst. Met nie meer as 4 strate nie.
https://nl.wikipedia.org/wiki/Bronkhorst_(plaats)
As mense kyk na die definisie dan kan ons met trots sê Orania is reeds ‘n stad.