Agtergrond
Dit is vandag kwalik nodig om ‘n saak vir die belang van ons kinders se onderwys uit te maak. Met die vorige groot staatkundige oorgang, die verowering van die Boererepublieke deur Groot Brittanje, het ons voorgangers Milner se verengelsing ondenkbaar gevind en met CNO-skole en Hertzog se onderwyswet daarop geantwoord. Dit het aan die grondslag van Afrikaners se suksesvolle modernisering gedurende die daaropvolgende dekades gelê en daarsonder sou ons waarskynlik in ‘n Engelstalige elite en ‘n Afrikaanse onderklas ontwikkel het. Afrikaners sou dan nie as ‘n volk met ‘n nasionale identiteit verby die vroeë moontlikhede van die negentiende eeu beweeg het nie.
Die feit dat die meer onlangse groot staatkundige oorgang, die magsoordrag van 1994, betreklik vreedsaam afgeloop het, het ongelukkig nie voorkom dat daar weer sterk verengelsende kragte op openbare onderwys losgelaat is nie. Om die waarheid te sê, daar is ‘n groeiende konsensus dat Afrikaanse onderwys in die toekoms nie aan die staat oorgelaat kan word om te oorleef nie, maar vanuit die Afrikanergemeenskap self in beskerming geneem moet. Dit is vergelykbaar met die stand van sake ná 1902, buiten dat Afrikaners nie eers ‘n Oranje Vrystaat-kolonie oorhet om sy eie onderwyswet aan te neem of toe te pas nie.
Bygesê, ons mense is ook nie so verarm as na die Tweede Vryheidsoorlog nie. Dit, saam met die kundigheid wat gedurende die eeu van modernisering verwerf is, stel ons in staat om op onafhanklike grondslag selfs meer te doen as wat die staat-in-wording gedurende die eerste dekades van die vorige eeu kon vermag. Die voorwaarde is egter dat daar deeglike besinning oor die onderwysvraagstuk van ons dag, sowel as van die uitdagings en geleenthede waarmee dit gepaardgaan, moet plaasvind. Die paragrawe wat volg, wil van dié sake aanraak.
Die ketting van kennis, houdings en vaardighede
Die eerste belangrike insig ten opsigte van onderwys is dat dit nie net om die oordrag van kennis, of selfs kennis én vaardighede gaan nie, maar om ‘n soort drie-eenheid van kennis-houdings-vaardighede. Dit kan net deels in ‘n formele leerplan vervat word omdat geen formele leerplan anders as binne die verband van ‘n soort informele leerplan, bestaande uit dikwels onuitgesproke prioriteite, waardes en gebruike kan funksioneer nie. Mens kan dit as die heersende kultuur van die leeromgewing beskryf, ‘n kultuur wat duidelik ook met ander aspekte van mense se etniese afkoms en breër kulturele oriëntasie saamhang. Wat byvoorbeeld as “goeie maniere” en dissipline, of ‘n gebrek daaraan, beskryf word, kan die punt illustreer.
Daarom ook dat dit nie net oor “Afrikaanse onderwys” in abstracto gaan nie, maar oor die konkrete en legitieme behoeftes van die Afrikanergemeenskap ten aansien van onderwys waarvan die belangrikste, saam met die geloofsgrondslag, inderdaad die taalmedium van onderrig is. Die beeld van ‘n ketting wat hiermee saamhang, verwys na die feit dat kennis, houdings en vaardighede, soos ook enige besondere taal, verlore sal gaan as dit nie van geslag tot geslag oorgedra word nie. Die gevaar is dat ‘n swak of afwesige skakel die hele ketting breek, ongeag hoe sterk vorige skakels dalk was of volgende skakels moontlik sou kon wees. Enige onderwyspraktisyn met ervaring van kinders wat uit ‘n agtergrond kom wat deur kultuurverlies gekenmerk word, kan hiervan getuig.
Hoewel ‘n hele kultuurgemeenskap nie met ‘n enkele ketting vergelyk kan word nie, maar met talle kettings wat ook met mekaar vervleg is, neem dit nie weg dat ‘n kultuur waarvan die oordrag op verskeie punte tegelyk verwaarloos of onderdruk word, onherstelbare skade kan ly nie. Bygesê dat sulke oordrag nie ‘n bloot individuele saak is nie, maar van instellings soos gesinne, families, kerke, skole, verenigings, ens. afhanklik is om plaas te vind. Meer spesifiek: die plek wat skole by moderne bevolkings inneem, bring mee dat ‘n taal-, kultuur- of geloofsgemeenskap wat nie voldoende inspraak in die aard en inhoud van formele én informele leerplanne van hulle skole het nie, ernstig agteruitgaan of selfs ondergaan.
Aansprake op beskikking oor eie onderwys mag dus in reaksie op omstandighede of optrede wees wat dit vereis, maar dít maak nog lank nie sulke aansprake of ‘n gemeenskap wat daarop aanspraak maak, reaksionêr nie. Inteendeel, geen lewenskragtige gemeenskap met ‘n gebrek aan beheer oor haar eie reproduksie in die vorm van jeugontwikkeling, sal daarmee vir lief neem nie.
Eilande van uitnemendheid
Afrikaners beskik tans, danksy die betreklik vreedsame oorgang na “die nuwe Suid-Afrika”, enigsins oor die vermoë om hoogstaande en kultuurgetroue onderwys te voorsien. Hoewel dit nie met die stand van sake onder die vorige bedeling kan vergelyk nie, is daar nog skole, selfs staatskole wat danksy gevestigde praktyke, leerder- en ouerbevolking en personeelsamestelling onderwys voorsien op maniere wat Afrikaners tevrede laat voel. Sulke skole word egter onder druk geplaas en het gedurende die afgelope twee dekades drasties verminder – tot die mate dat daar tereg van ‘n Afrikaanse onderwyskrisis sprake is.
Die rede is dat ‘n moderne, nasionale gemeenskap soos die Afrikaner nie met enkele eilande van uitnemendheid tevrede kan wees nie. Dit het nie in die verlede nie en dit gaan nie nou om die opvoeding van ‘n beperkte elite nie, maar om die breë bevolking aan wie se vlakke van opvoeding en opleiding Afrikaners hulle besondere sukses sedert die tweede helfte van die vorige eeu te danke het. Verder kan enkele eilande van voortreflikheid, nuttig soos dit is, nie bevredigend wees as dit van ‘n regering se goeie gesindheid afhanklik is om te oorleef en voortdurend onder beleg verkeer nie.
Ook onafhanklike skole wat uitnemende onderwys voorsien, is onvoldoende weens die kostefaktor wat baie leerders by voorbaat uitsluit. Selfs as aanvaar word dat die koste van konvensionele skole nie net van ouers verhaal kan word nie en dat die hele gemeenskap daarby belang het, is dit in die reël onmoontlik om staatsbefondsing met private befondsing deur mense wat ook in die eerste plek belastingpligtig is, te vervang. Dit is duidelik dat innoverende onderwysoplossings nodig gaan wees om onafhanklike, goeie onderwys, oftewel volhoubare kultuuroordrag, te verseker.
Die ideale onderwyssituasie
Dit bring ons terug na een van daardie grondliggende vrae waarna aanvanklik verwys is, naamlik hoe die ideale onderwyssituasie lyk en in hoe verre dié situasie bereikbaar is. Die moderne skoolmodel wat die uitdaging van onderwysvoorsiening aan ongekende getalle leerders die hoof moes bied, berus op ten minste drie eienskappe, naamlik institusionalisering, standaardisering en professionalisering. Wat word daarby bedoel?
“Institusionalisering” verwys na die daarstelling van skole, in die sin van geboue en personeel, vir die breë bevolking van moderniserende en moderne state waarin lees-, skryf- en syfervaardighede, sowel as sulke kennisinhoude as wat nuttig en toepaslik geag is, aan die massas oorgedra is. Een van die sleutelvrae met betrekking tot sulke skole hou dan ook verband met die getalsverhouding tussen onderwysers en leerders. Hoewel die ideale leersituasie ‘n verhouding van 1:1 sou wees, kan prakties aangevoer word dat ‘n verhouding van 1:15 ekonomies aan die onmoontlike grens, maar onder sekere omstandighede voorkom, terwyl 1:30 aan die disfunksionele grens, maar in ontwikkelende state dikwels oorskry word. Bekostigbare, dog suksevolle onderwys vind gewoonlik tussen die twee merkers plaas.
“Standaardisering” verwys na aspekte soos die inhoud van leerplanne, skedulering van die leerproses en uitruilbaarheid van onderwysers. Dit behels oordele oor leerders en onderwysers se vermoëns, die nuttigheid en toepaslikhed van kennisinhoude en die doelmatigheid van werkswyses. Een van die sleutelvrae met betrekking tot ‘n gestandaardiseerde onderwysopset, is hoe toepaslik dit op die verwagte werksomgewing met die oog waarop die skoling plaasvind, is. Net soos ‘n skool per definisie nie vir die individuele leerder daargestel is nie, is die gestandaardiseerde aanbieding per definisie nie met die spesifieke werksplek in gedagte ontwikkel nie, maar met die oog op vaardighede wat in die algemeen wenslik en bruikbaar sal wees. Sommige skole en stelsels slaag beter as ander daarin om leerders vir die werklike arbeidsmark of verdere studie voor te berei.
“Professionalisering” verwys na die opleiding en toerusting van onderwyspersoneel met die oog op die funksionering van skole en die oordrag van inhoude. Die veronderstelling is dat ‘n preofessionele onderwyser, soos die lede van ander professies, in staat sal wees om die onderwyskundige probleme waarmee hy of sy te kampe het, selfstandig en bevredigend op te los. Beide die institusionalisering van massa-onderwys as die standaardisering van leerinhoude werk egter die professionalisering van onderwyspersoneel teen en maak van die onderwyser dikwels eerder ‘n agent wat namens onderwysowerhede optree as ‘n professionele persoon wat die onderwysuitdagings selfstandig tegemoet tree. Dit geld veral waar state spesifieke sosiale of politieke oogmerke nastreef.
Wanneer skole se prestasie nie aan state se agenda’s nie, maar aan die mark gemeet word, verander die verhouding tussen en betekenis van institusionalisering, standaardisering en professionalisering enigsins, maar nie noodwendig in die guns van goeie onderwys of volhoubare kultuuroordrag nie. Dan word die kragte wat ontsluit word ten gunste van die instelling se winsgewendheid in die kleine, of die arbeids- of kennismark in die grote ingespan, maar nie per se ten gunste van die gemeenskap se behoefte aan reproduksie nie. Die ideale onderwyssituasie is een waar ‘n balans tussen gemeenskapsvorming, leerderspesifieke oordrag van kennis, houdings en vaardighede en doelgerigte voorbereiding vir spesifieke werks- of studiegeleenthede nagejaag word. Dit gedy egter nie, maar word steeds aan ander oorwegings ondergeskik gestel.
Volkskool Orania
By die huidige Orania se vestiging moes ‘n besondere onderwysuitdaging die hoof gebied word. Dit was om onafhanklike, dus ongesubsidiëerde onderwys aan ‘n klein getal leerders, versprei oor ‘n groot aantal grade en met wyd uiteenlopende vermoëns te voorsien. Hoewel dit nie anders kon as om institusionele beslag in ‘n skool te kry nie en hoewel ‘n mate van standaardisering, veral van leerplan, ‘n gegewe was, het die soeke na ‘n oplossing van onderwyskundige professionaliteit uitgegaan. Dit het op twee terreine plaasgevind, naamlik die ontwikkeling van onderwyskundige hulpmiddels en leermateriaal en die onderwyser se rol as begeleier meer as dosent.
‘n Ander belangrike paradigmaverskuiwing moes egter plaasvind om die elemente van professioneel ontwikkelde hulpmiddels en die begeleide onderwyser in ‘n werkende stelsel saam te vat. Dit het met die rol en verantwoordelikheid van die leerder te doen. Die vereiste is dat die leerder ‘n groot en toenemende mate van eienaarskap van sy of haar onderwysloopbaan neem en op ‘n pad van ontdekking en selfontplooiing geplaas word. Op dié pad stel die beskikbare hulpmiddels die begeleidende onderwyser in staat om die leerder se toenemende selfstandigheid te bevorder en die verwerwing van kennis, houdings en vaardighede te bemiddel eerder as aan te dryf.
Die bostaande beskrywing mag teoreties klink, maar dit het oor die afgelope byna 25 jaar in Volkskool Orania se klasse beslag gekry. Dit het die groeipyne van ‘n nuwe werkswyse deurgegaan en foute is gemaak en herstel. Eksterne leerplanveranderings het die skool ook telkens voor die eis om nuwe ontwikkelingswerk gestel en dit byna onmoontlik gemaak om op die klein skaal wat hy werksaam was, kop bo water te hou. Tog het toegewyde personeel en lojale ondersteuners dié sentrum van innoverende onderwysoplossings in staat gestel om sy besondere werkswyse tot ‘n werkende stelsel uit te bou en aan te bied. Dit was eintlik ‘n gegewe dat hierdie stelsel ideaal geskik sou wees vir leerders in tuisskoolverband, hoewel leersentrums en volskaalse skole ook daarvan gebruik sal kan maak. Dit word tans aangebied as Volkskool Orania se Afstandleer Plus.
Die senior sertifikaat en SACAI
Leerders wat hulle skoolloopbaan voltooi, lê hulle senior sertifikaateksamen by SACAI (Suid-Afrikaanse Komprehensiewe Assesseringsinstituut), een van twee geregistreerde, onafhanklike eksamenowerhede in Suid-Afrika, af. SACAI het redelik onlangs op die onderwystoneel verskyn en het onder andere uit die SAOU (Suid-Afrikaanse Onderwysersunie) ontstaan. Dit stel enige suksesvolle kandidaat in staat om, met genoegsame prestasie, vir verdere studie aan ‘n universteit of ‘n ander instelling vir hoër onderwys te kwalifiseer. Volkskool Orania geniet die professionele ondersteuning en toesig van SACAI, by name vir grade 10-12 wat by Volkskool as die Afrondingsfase bekend staan.
‘n Skole-UNISA
Met sy Afstandleer Plus het Volkskool Orania die grondslag gelê vir ‘n belangrike deel van wat Afrikaners se omvattende onderwysoplossing vir die toekoms kan wees. Dit berus daarop dat leerders ook nie-residensiëel by Volkskool kan inskryf en as leerders van die skool by wyse van handboeke, studiegidse en hulpmiddels in staat gestel word én begelei word om hulle werk te bemeester en daarvoor geassesseer te word. Begeleiding bestaan tipies nie uit lesings wat aangebied word nie, maar uit e-pos, telefoniese en ander elektroniese skakeling soos Skype en WhatsApp, om haakplekke uit te stryk en groepwerk en besprekings te fasiliteer.
Waar ouers die primêre verantwoordelikheid vir begeleiding en ondersteuning aanvaar, word hulle professioneel deur Volkskool se personeel bygestaan en stel dit hulle in staat om die ideale een-tot-een leersituasie te nader. Daarby, afhangend van die ouers se eie situasie en ingesteldheid, kan die leerder in regstreekse verbinding met die omgewing waarop die leerproses gerig is, gebring word. Onderwys, veral in die senior grade, hoef dan nie op ‘n afstand van die werksplek of geïsoleerd van verder studie plaas te vind, soos dikwels met massa-skole die geval is nie, maar kan regstreeks daarop afgestem wees.
Terwyl inskakeling by Volkskool Orania se programme nie die plek van daaglikse skoolbywoning inneem nie, word daar op die voordele van so ‘n leersituasie gekonsentreer. Dit is vir leerders steeds waardevol om by ‘n instelling, wat aan hulle werk struktuur gee, ingeskakel te wees en die jaarlikse slypskool vir matrieks, matriekafskeid ingesluit, bied ‘n gulde geleentheid vir moderering van portefeulêers en skakeling met medeleerders en onderwysers. Daarom dat dit so gou moontlik ook na ander grade uitgebrei behoort te word.
Algemene inskakeling by die gemeenskap is in die tuisskoolopset die ouers se verantwoordelikheid. Alhoewel almal hulle nie eweveel daarin onderskei nie, is daar tallose voorbeelde van gelukkige en welaangespaste jongmense wat hulle skoling tuis ondergaan het. Tuisskoolentoesiaste voer dikwels aan dat tuisleerders beter as skoliere by die werklike gemeenskap inskakel juis omdat hulle dit nie langs die omweg van ‘n kunsmatige skoolgemeenskap doen nie. Volkskool Orania kan vir die groeiende getal ouers en leerders wat besluit om dié weg te volg, ‘n waardevolle vennoot word.