Onlangs het pous Franziskus op sy besoek aan Mexiko gesê dat die eis van die Republikeinse kandidaat, Donald Trump, om ‘n onoorkombare grensmuur tussen die VSA en Mexiko op te rig, onchristelik is. Of dit die pous se oortuiging is, en of hy, wat reeds na populisme neig, maar net vir die gehoor gepraat het, weet ons nie.
Ek het al ‘n paar maande gelede oor grense geskryf (Grense, nodig of nie?) en wil myself nie herhaal nie. Hier gaan dit nie so seer oor die rasionaal van grense nie, maar die christelikheid daarvan, al dan nie. Ek is nie ‘n teoloog nie en gee maar net my siening weer van hoe ek die Bybel verstaan, maar die teoloë wat dit lees is welkom om hulle kommentare te gee.
Sowel die voorstaanders asook die teenstanders van grense soek in die Bybel regverdiging vir hulle standpunte. Die Ou Testament praat dikwels van grense tussen volke wat God vasgestel het en wat nie verander moet word nie (byvoorbeeld Numeri 34, Deuterinomium 32, Josua 15, Spreuke 22, Esegiël 47). Nehemia het spesifiek die muur om Jerusalem herbou om die Heilige Stad teen die vyande te beskerm, voor die tempel herbou kon word. Die woord muur kom uitermate baie in die Ou Testament voor, alhoewel dit in meeste gevalle nie na ‘n grensmuur verwys nie.
In die Nuwe Testament word die woord grens glad nie genoem nie. Die woord muur word een keer met ‘n negatiewe betekenis genoem, naamlik in Effesiërs 2:14: “Christus is ons vrede, Hy wat die twee, Jode en nie-Jode, een gemaak het. Deur sy liggaam te gee, het Hy die vyandskap afgebreek wat vroeër soos ‘n muur skeiding gemaak het.” In Openbaring word die hoë mure van die nuwe Jerusalem beskryf (alhoewel sy poorte permanent oopstaan).
Die woord skeiding word net vier keer in die Bybel genoem, en verwys, soos die muur in Effesiërs, na die skeiding tussen God en mens wat deur Christus opgehef is. Christus het inderdaad gekom, gesterf en opgestaan om die skeiding tussen God en mens, maar ook tussen Jode en nie-Jode af te breek, wat beteken dat die Heil en verlossing oop is vir almal wat God aanneem (wat egter nie alle mense is nie). Om daaruit egter af te lei dat Christus ‘n voorstaander van oop grense was, en dat die huidige opening van grense in Europa spesifiek vir Moslems ‘n christelike daad is, is ‘n bietjie vêr gevat. Ook teoloë volg dikwels die gees van die tyd, en dit is nie toevallig dat kerke vandag deel is van die skare wat skreeu: “Breek die mure af, ons is almal mense!” Ook word deur moderne teoloë die gelykenis van die barmhartige Samaritaan tot die kernboodskap van die Bybel verhef en is “die naaste” by implikasie altyd “die ander”. Dat nie almal wat oor die grense stroom slagoffers is soos die beseerde man langs die pad in die gelykenis nie, word daarby graag verswyg.
Grense moet in die eerste plek jou en jou geliefdes beskerm teen die bose daarbuite. Nie alles daarbuite is boos nie, maar ook nie alles is goed nie. Grense en mure het altyd ook poorte waardeur die mense en dinge kan inkom wat jy graag by jou wil hê. Geen normale grens is ondeurdringbaar nie, maar is wel daar vir ‘n rede. Soos wat die kring van jou vriende of mense met wie jy in vrede leef groter word, kan mure afgebreek word, maar iewers sal wel ‘n grens wees. In die Middeleeue het elke stad sy eie muur gehad, vandag sorg goeie landsgrense (ideaal gesproke) daarvoor dat alle stede en dorpe binne die gebied veilig is. Om egter te beweer dat die hele mensdom een groot familie is en mure daarom onchristelik is, is absurd.
Grense en mure is nie net fisies nie, maar ook moreel en kultureel. Elke samelewing het sy eie reëls en straf verkeerde en skadelike gedrag. Die ophef van fisiese grense wat tans in Europa gebeur maak ook die daarstel van algemeen aanvaarde reëls en ‘n gedragskode onmoontlik, byvoorbeeld wat die verhouding tussen mans en vroue betref.
Dit is nie christelik om alle grense af te breek en juis die swakkes binne jou poorte bloot te stel aan die gewelddadiges van buite, wat saam met die hulpbehoewendes inkom nie. Dit is christelik om uit jou gemaksone en jou veilige tuiste uit te gaan en diegene wat in nood is, te help. Diegene wat het, moet vrywillig gee vir die wat nie het nie, binne en buite hulle poorte, maar dit sou dwaas wees om jou mure af te breek en jou welvaart en veiligheid in die naam van naastenliefde vir plunderaars oop te stel.
Dankie vir die skrywe, Sebastiaan. Ek het nie jou vorige skrywe onder oë gehad nie so verskoon my as ek jou herhaal. Om aan te sluit by die “Christelike plig” van Europa om sy grense oop te gooi vir Moslemvlugtelinge en -migrante: Die uitbuiting van gewone Europeërs se simpatie deur beelde van verdronke kinders en dies meer wil die boodskap tuisbring dat jy óf medemenslik (Christelik) is en onvoorwaardelik jou grense oopgooi, óf haatdraend is en jou rug keer op die ellende. Wat die veldtog egter nalaat om ooit te noem is dat die Moslem migrant geen behoefte het om ‘n Christelike leefstyl aan te neem nie sowel as die feit dat Moslem-gesinne tipies meer kinders het as die Christen buur-gesin. Die uitkoms is tog duidelik dat die ‘demokratiese’ beginsel dit onvermydelik sal maak dat die Moslem-waardes van die toekomstige meerderheid die status quo sal bepaal. Grense dan, hetsy fisies of kultureel het ook ten doel om die gekose leefstyl van groepe te beskerm. Dié reg van Europeërs word egter nie geredelik meer deur kontemporere humanistiese teoloë erken nie.
Stem heeltemal saam met jou, Willem.
Willem, hier is my vorige bydrae oor die onderwerp van grense:
http://www.oraniablog.co.za/grense-nodig-of-nie/
Pragtig gestel Sebastiaan
Dankie Anton
Baie dankie vir hierdie artikel, Sebastiaan. Dit is baie insiggewend. Dié artikel kom, wat my aanbetref, op die regte oomblik.
Ek het onlangs oor hierdie onderwerp begin wonder en dink. In die Weste neig die christelike beginsel van naastenliefde sterk tot universalisme op te roep. Maar net soos die Westerse individualisme is hierdie universalisme waarskynlik ‘n gevolg van ‘n Westelike ‘verinheemsing’ van die christelike leer. Dit pas by ‘n etiese besef wat reeds teenwoordig was onder dié volkere, voordat hulle gekersten was.
As ‘n mens immers meer oostelik in Europa kyk, sien ons ‘n Christendom wat eerder op groepsidentiteite en groepsetiek gefokus is. In Roemenië, Servië en Hongarye is dit, byvoorbeeld, júis christelik om jou eie volk te beskerm en om dit met die hulp van God te behou. Dit is immers God wat dit so beskik het dat jou volk in hierdie land mag lewe.
Ek het onlangs ‘n opstel oor hierdie materie geskryf. Dit gaan daaroor dat etniese minderhede in Noord- en Wes-Europa hulself al beter in etniese kollektiewe groepeer, terwyl ons vir onsself individualisme en onbaatsugtigheid nastrewe – en onsself daarmee verswak.
Ek hoop dit sal Nederlanders wys hoe tipies Westerse individualisme en universalisme hoegenaamd nie universeel of tipies christelik hoef te wees nie: http://www.roepstem.net/verlichting.html
Ek weet nie hoekom die pous kla oor Donald se beplande muur nie. Die Vatikaanstad het ‘n reuse muur. Reg rondom ! nie net aan die suidekant nie. Kyk self daarna op Google se Sreetview.
Het hy dubbele standaarde of beteken dit hy is ook nie “christian” nie ?
Ek wonder maar net.
Ek dink sy onderrok hang uit.