Die aanslag op die intellektueles is deesdae weer met ons. Terwyl die populisme Westerse politiek toenemend besoedel hoor ons gereeld mense sê: Ag die geleerdes wat hulle tog so slim hou. Of: Die mense wat so uit die boeke uit praat en nie weet hoe om dinge prakties toe te pas nie. Filosowe word verag omdat beweer word dat die intellektueles die mense verraai het.
Hierdie is egter ‘n ernstige denkfout. Eerstens moet daar onderskei word tussen filosofie en wetenskap. Ons leef vandag in ‘n tyd waar wetenskap die ‘hoe’’-vraag oor byna elke aspek van ons lewe probeer beantwoord. Daarteenoor probeer die filosofie die byna onmoontlike ‘waarom’-vraag ontleed en beantwoord. Beide hierdie aspekte is nodig indien ons werklik ‘n beter lewe wil lei.
Die tweede rede waarom die populistiese aanslag op intellektueles verkeerd is, is dat gewone mense partykeer onder die verkeerde indruk verkeer oor wie werklik die intellektueles in hul gemeenskap is. In die Afrikaanse wêreld lees ons byna daagliks die groot denke van Max du Preez, Piet Croucamp en Christi van der Westhuizen, maar is hulle werklik intellektueles? ‘n Deeglike ontleding sal wys dat hierdie quasi-denkers eintlik veel eerder politieke aktiviste wat deur ‘n spesifieke agenda eerder as die behoefte om moeilike ‘waarom’-vrae te beantwoord, gedryf word.
Die beskuldiging in talle Westerse lande deur gewone burgers dat hulle deur die intellektuele klas uitverkoop is, is dus verkeerd. Hulle is eerder deur politieke aktiviste wat hulle met slimpraatjies besig hou uitverkoop. Politici vandag is meestal mense met besonderse vaardighede in een of ander wetenskap of noem dit nou maar ‘praktiese beroep’. Hoeveel verkose politici het egter al Dante, Aristotles en Plato gelees en het werklik die vermoë om die ‘waarom’-vraag te beantwoord, bemeester?
Die openbare dialoog in die meeste Westerse lande en ook in die Afrikaanse leefwêreld word gedomineer deur hierdie quasi-denkers aan die een kant en die populiste aan die ander kant. Hoewel ons heelwat werklik intellektuele denkers in die Afrikaanse gemeenskap het, sien ons heeltemal te min van hulle.
Terwyl die wetenskap ‘n pragtige voorbeeld is van hoe die mens sy Godgegewe vermoëns gebruik om beter te verstaan hoe die wêreld werk en daardeur antwoorde op praktiese uitdagings te skep, het die mens ook ‘n wonderlike brein. Die filosofie is niks anders as ons vermoë om ons brein volledig te gebruik om ernstig oor dinge te dink nie.
Terwyl die modernisme steeds oor ons spoel en individue vasgevang word in hul rol as klein meganismes in ‘n groot wetenskaplike stelsel waar politici hul soos marionette beheer en slegs populiste hul frustrasies kan verwoord, sal mense weer ernstige vrae oor die lewe begin vra. Dit is dalk eers dan wanneer ons weer die filosowe en denkers in ons gemeenskap ernstig sal opneem, hul tot ons leiers sal verhef en sal besef hoe ons vir lank deur qausi-denkers om die bos gelei is.
Die dien van God begin by die vra van eerlike vrae en ondersoek, nie by blinde aanvaarding nie!
Denkers se bydrae het verdwyn, of is nie meer gehoor nie, sedert die opkoms van die massamedia. Dis nie toevallig dat, as ons aan filosowe en denkers moet dink, min van die 20ste eeu opkom, die eeu van die massamedia. Nou, waar elke Jan Rap en sy maat ‘n blog kan bedryf en sy sienings kan verkondig, is dit nog moeiliker om tussen die geraas die nugter stemme van denkers te hoor.Die Orania Beweging as idee-beweging kan en moet egter leiding gee om die kaf van die koring te skei.
Dankie vir die artikel Jaco.
Maar, ai, mag daar tog ook deur dit alles ‘n praktiese plan vir volksoorlewing en selfbestuur op die grond uitkom.