by Orania Beweging | Mar 9, 2016 | Nuus |
Reeds gedurende die sesde eeu voor Christus het Grieke aan die kus van die Swart See in die gebied wat vandag die suid-ooste van Oekraïne uitmaak, begin vestig. Die meeste Grieke wat hier gevestig het, was vlugtelinge weens oorloë, aanvalle of erge armoede en swaarkry. Vandag, eeue later, is die oorblyfsels van hierdie vroeë Griekse vestiging een van die oudste gemeenskappe in die wêreld. Net meer as 90 000 Grieke leef steeds in die Ooste van Oekraïne waarvan die meerderheid in die Donetsk-streek woonagtig is. Die grootste deel van die huidige Griekse bevolking in Oekraïne is afkomstig van die Griekse bevolking van die Trebizonde Keiserryk, in die noorde van die huidige Turkye, wat in 1461 teen die aanslag van die Ottomane tot ‘n val gekom het.
Na die aanvanklike vestiging aan die Swart See en ernstige swaarkry het die Grieke stelselmatig gemeenskappe begin bou en ekonomiese aktiwiteite begin bedryf. Hulle het geleenthede in die streek ontgin en het so suksesvolle handelaars met ander volkere om die Swart See geword. Die Griekse bevolking van Oekraïne het deur die eeue talle aanslae en groot uitdagings beleef. Gedurende die twintigste eeu is hulle deur die Russe onderdruk, groot getalle is gedeporteer en massamoorde op die Grieke was ook algemeen.
Oor die afgelope twee jaar met die uitbreek van geweld in die ooste van Oekraïne is hierdie oeroue bevolking weer eens deur aanvalle geteiken. In een aanval Augustus verlede jaar is 170 huise in ‘n Griekse dorpie verwoes en is talle mense gedood. Griekeland het die Grieke in Oekraïne genooi om na Griekeland terug te keer, maar die vraag kan gevra word of hierdie mense werklik Grieke is en of hulle nie eerder ‘n unieke minderheidsgroep in Oekraïne geword het nie.
Die verhaal van die Grieke in Oekraïne is die verhaal van volksplanting in ‘n onbekende plek. Dit is die verhaal van die bou van nuwe gemeenskappe en die ontwikkeling van eie ekonomiese aktiwiteite. Dit is egter ook die verhaal van verlies aan taal, kultuur, tradisies en veral politieke beheer weens demografiese werklikhede. Na geforseerde assilimasie word die ou Griekse taal, wat verskil van vandag se moderne Grieks, nog slegs in enkele afgeleë dorpies in die ooste van Oekraïne gepraat. Die meeste Grieke in Oekraïne praat vandag Russies en selfs die plaaslike Griekse koerant in Donetsk word slegs in Russies gepubliseer. Kultuur en tradisie word toenemend slegs in museums uitgebeeld.
Regdeur die ooste van Oekraïne is die tekens van ‘n ou Griekse beskawing nog sigbaar. Deur dinge soos argitektuur, eetgewoontes en selfs net die voorkoms van sommige mense kan die tekens van die ou Griekse beskawing in hierdie wêrelddeel steeds bespeur word. Ou nedersettings wat meer as een duisend jaar oud is word steeds deur argeoloë in die Krimgebied gevind. Van ‘n lewendige, groeiende gemeenskap wat hul taal, kultuur en tradisies volledig uitleef, het daar egter min oorgebly.
Meer as 300 jaar geled het hier aan die suidpunt van Afrika ook ‘n volksplanting plaasgevind. Vlugtelinge en mense wat op ‘n beter lewe gehoop het, het van Nederland, Frankryk, Duitsland en ander lande gekom en uit hul is die Afrikaner gebore. Vandag sien ons egter ook die demografiese en kulturele agteruitgang. Sal daar oor ‘n paar honderd jaar dalk ook net ‘n klein groepie van minder as 100 000 Afrikaners oorwees van wie min Afrikaans kan praat en wie se kultuur en tradisies tot ‘n museum of twee beperk sal wees? Indien ons so ‘n scenario wil keer sal ons, ons huidige verlies moet erken en dit deur konsentrasie van mense, mag en daad moet teenwerk.
by Orania Beweging | Mar 4, 2016 | Nuus |
Die Amerikaanse universiteitsprofessor vir grondwetlike studies aan die gesaghebbende Notre Dame Universiteit en liberaal-konserwatiewe denker Patrick Deneen het onlangs ‘n stuk geskryf met die titel “How a generation lost its culture”.
Hy bekla daarin die huidige generasie se onkunde oor hulle geskiedenis, hulle godsdiens, kultuur en filosofie, kortom hulle beskawing waarvan hulle ‘n produk is. Die fondasie van Westerse denke bestaan vir meeste studente nie meer nie. En hy skryf as dosent by een van die top-universiteite oor die klein groep elite-studente met wie hy te doen het, nie oor die gewone “man op straat” nie. Wat vir Amerika geld, geld in vergelykbare mate ook vir Europa en Suid-Afrika. Hedendagse studente, wat verondersteld is om die leiers van die toekoms en die elite van ‘n land te wees, het geen benul van Plato, Aristoteles, Paulus van Tarsus, Martin Luther, Michelangelo, Abraham Lincoln en wat hulle gedoen of gedink het, om maar enkeles te noem.
Gewoonlik word die swak opvoedingstelsel vir die onkunde van jongmense geblameer, maar Deneen skryf dat die opvoedingsisteem presies sy doel bereik, naamlik om jongmense te skep wat geen geskiedenis, geen idee van die toekoms, geen ideale as volk of groep en geen beskawing meer het nie. Hulle is wel goed en gaaf, het besonder goeie punte en is presteeerders op baie terreine, het geleer om konflik te vermy en om sekere leë terme soos “diversiteit” en “verdraagsaamheid” hulle eie te maak en te respekteer, sonder om te weet wat dit eintlik beteken. Hulle is kundig op sekere gebiede maar het geen holistiese kennis en begrip wat vir hulle vertel wie en wat hulle is behalwe individue, en waar hulle vandaan kom behalwe van ma en pa, en wat hulle doel is, behalwe om die lewe te geniet, geld te maak en niemand aanstoot te gee nie.
Die Afrikaanse filosoof en eweneens professor (vir Godsdienswetenskappe), Danie Goosen bespreek ‘n soortgelyke toestand van kultuur- en identiteitslose mense in sy boek “Oor gemeenskap en plek”. Gemeenskap word op die agtergrond geskuif en daarmee saam ook kultuur, want kultuur word kollektief beoefen en uitgeleef en sonder ‘n gemeenskap van watter aard ook al kan daar nie ‘n kultuur wees nie. Sonder ‘n gemeenskap is daar ook nie ‘n geskiedenis, ‘n identiteit wat verder strek as sekere persoonlike voorkeure en sienings en ook nie ‘n strewe na ‘n toekoms vir die nageslag nie.
Kennis van jou kultuur en jou geskiedenis maak jou trots en moedig jou aan om daarop voort te bou. Juis dit moet verhoed word volgens die elite wat aan die hoof van opvoeding staan. Swak opvoeding is program, want sulke studente bevraagteken nie meer die samelewing waarin hulle leef nie.
Die simptome is ook in Suid-Afrika en ook onder talle jong Afrikaners aanwesig. Nie net dat hulle algemene kennis oor die geskiedenis en volkskultuur of wyer Westerse beskawing beperk is, hulle ervaar dat teen hulle gediskrimineer word en hulle wêreld uitmekaarval, maar weet nie hoekom nie en hoe om daarop te reageer nie. Te dikwels hoor ‘n mens die onbeholpe verdediging dat hulle nie verantwoordelik is vir apartheid nie (en dus net as individue beoordeel wil word) en dat dinge weer moet wees soos onder Mandela, waar almal gelyk behandel is en almal net Suid-Afrikaners was, volgens die terugskouende waarneming.
Dis nie toevallig dat geen behoorlike geskiedenis meer geleer word nie, nie op skool en toenemd ook nie meer op universiteit nie, net nog ‘n soort Mandela-bevrydingsprokie. Dis ook nie toevallig dat sigbare tekens van Afrikaner en ook Britse erfenis vernietig word. Mense sonder kultuur, passie, erfenis, geskiedenis en agtergrond maak goeie onderdane en is orals aanwendbaar soos ‘n soort “minions”.
Die dikwels verkondigde doelwit van die regerings en meningsvormers, dat die wat in die verlede geminag en gemarginaliseer is, nou ook tot hulle reg moet kom en daarom alles wat wit, Westers en christelik is eers moet terugtree, is ten beste skynheilig. As dit so was, sou byvoorbeeld swart tale bevorder en Afrika-gewoontes en kultuur herontdek word, Afrika-kuns en literatuur sou blom. Dit alles gebeur net as ‘n randverskynsel. En vir een kultuur om te blom is in elk geval die vernietiging van ‘n ander een glad nie ‘n voorvereiste nie. In teendeel, niks kan blom onder rookwolke en op slagvelde nie.
Die doelwit is veel eerder om ‘n soort mens volgens die kommunistiese ideaal te skep: ononderskeibaar, sonder eie opinie, net materialisties ingestel, sonder verlede, geskiedenis en ‘n hoop op meer as net die bekende teenwoordige lewe. Juis omdat dit wat ons in Orania doen so lynreg teen daardie doelwit indruis word ons so gehaat deur die selfaangestelde elite, nie omdat ons teen iemand sou diskrimineer nie.
by Orania Beweging | Mar 3, 2016 | Nuus |
2016 is ʼn verkiesingsjaar. Dit beteken per definisie dat geweld en onluste plek-plek sal opvlam soos populistiese politici en hul organiseerders intimidasie gebruik en openbare geweld aanhits om kiesers vir die komende verkiesing te mobiliseer.
Plaas dit binne die konteks van die voorafgaande aanslag op Afrikanererfenis en ons was dit te wagte dat Afrikaners as sondebok ingespan sal word wanneer die EFF en die ANC mekaar aan die linkerflank probeer verbysteek met retoriek en beleid. Tog is dit die vlaag openbare geweld op universiteitskampusse wat ons heeltemal onkant betrap het en so ontstel.
Verlede week lees ek hoe Pieter du Toit van Netwerk 24 op Twitter – met die aanhaling van ʼn ander twiet – skryf dat Afrikaanssprekendes mooi moet besin of moedertaalonderrig in Afrikaans nie ter wille van vrede prysgegee moet word nie.
Met hierdie skrywe wil ek nie poog om AfriForum se benadering in antwoord op die geweld te bespreek nie – Kallie Kriel doen dit alreeds hier. Ek wil ook nie die meriete van Afrikaans as onderrigmedium op universiteitsvlak probeer bespreek nie – prof. Danie Goosen doen dit hier.
Wat ek wel wil doen, is om konteks aan hierdie gebeure te gee, wat ons dan hopelik in staat sal stel om dit in ons eie gedagtes te verwerk om ʼn gepaste antwoord op stellings soos dié van Pieter te formuleer.
Die feitelike konteks
Soos reeds hierbo vermeld, het die huidige vlaag geweld op kampusse nie in ʼn vakuum plaasgevind nie. Dit is voorafgegaan deur ander verskynsels van openbare geweld en vandalisme.
Die eerste bedekte aanval op die Afrikaanse karakter van sekere kampusse is in Februarie 2014 geloods deur Adrian Basson, die destydse redakteur van Beeld, met sy valse beriggewing van ʼn sogenaamde Nazi-saluut op die NWU-Potchefstroom kampus. Dit is vervolgens gebruik as regverdiging om die ideologie van transformasie by die NWU vastrapplek te gee.
Die geweld op kampusse is op 9 Maart 2015 afgeskop met die Rhodes Must Fall-veldtog by die UK. Hierna het ʼn vlaag vandalisme gevolg, waartydens Afrikanererfenis landswyd geteiken is. In April 2015 het die Minister van Kuns en Kultuur genoop gevoel om voor te stel “koloniale” erfenis moet eerder uit openbare gebiede verwyder en in ʼn konsentrasiekamp aangehou moet word.
Afrikaners skop vas teen dié voorstel by die vergadering in Freedom Park, maar op die UK kry die geweldenaars hulle sin en die standbeeld van Rhodes word verwyder.
In Augustus 2015 stel Open Stellenbosch hulle dokumentêr “Luister” vry, wat die fokus op die “rassisme” van Afrikaanse klasse op Stellenbosch plaas.
Gedurende hierdie tyd (Augustus/September 2015) vlam geweld by Elsenburg-kollege op, met klasse wat ontwrig word en wit studente wat aangerand word.
In Oktober 2015 volg die Fees Must Fall-veldtog, wat by Wits begin en uitkring na verskeie universiteite landswyd. Op 23 Oktober 2015 kondig president Zuma aan dat klasgelde nie verhoog sal word nie.
In Januarie vanjaar het die Outsourcing Must Fall-veldtog by Tukkies begin. Die bestuur van die universiteit het toegegee aan die eis en die betrokke werkers is permanent deur die universiteit in diens geneem.
Tans woed die Afrikaans Must Fall-veldtog by Tukkies, terwyl slagspreuke soos “Fuck All Whites” en “Kill All Whites” die rondte doen by nie-Afrikaanse universiteite soos Wits en die UK. Dit is daarom opvallend dat selfs waar Afrikaans nie teenwoordig is nie, die geweldenaars genoeg gronde kry om hul optrede te regverdig.
Geboue op die NWU se Mafikeng-kampus het ook verlede week in vlamme opgegaan, met studente wat aandring om op die Potchefstroom-kampus klas te draf. Klasse word nie in Afrikaans by die Mafikeng-kampus aangebied nie, maar wel by die Potchefstroom-kampus.
Elkeen wat objektief na hierdie. feite kyk behoort daarom drie redelike afleidings te maak:
- Die teenwoordigheid van Afrikaans op kampus is nie die rede vir onluste nie, maar slegs die verskoning. Waar klasse glad nie in Afrikaans aangebied word nie, is daar armsvol ander redes.
- Om bloot aan die geweldenaars se eise toe te gee, ontlont nie die geweld nie, maar gee aanleiding tot nuwe eise en gronde vir geweld.
- Dit is daarom duidelik hierdie is verkiesingspolitiek à la “people’s war” en Afrikaans en “whiteness” word baie effektief deur populiste gebruik om geweld aan te blaas. Om dit anders te stel – dis nie ons sienings en menings wat teen ons gebruik word om geweld aan te hits nie, maar eerder wie en wat ons is.
Nou begin sommige mense vra of dit nie beter sal wees om “ter wille van vrede” beginsels soos moedertaalonderrig prys te gee nie. Binne die konteks van hierdie vraag sal dit dalk goed wees om net weer na die Grondwet te kyk, asook sekere feite daarom.
Die Grondwetlike konteks
Artikel 6(5)(a) van die Grondwet gee die mandaat vir die skepping van ʼn Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad wat onder andere “die ontwikkeling en gebruik bevorder en omstandighede skep vir die ontwikkeling en gebruik van alle amptelike tale” (eie beklemtoning).
Artikel 29(2) van die Grondwet “waarborg” die reg om in openbare onderwysinstellings onderwys te ontvang in die amptelike taal of tale van eie keuse waar daardie onderwys doenlik is.
Hoofstuk 9 van die Grondwet maak voorsiening vir staatinstellings ter ondersteuning van grondwetlike demokrasie. Dit sluit onder meer die Artikel 185-Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van die Regte van Kultuur-, Godsdiens- en Taalgemeenskappe in.
Op 14 Januarie 2016 het die Minister van Kuns en Kultuur, Nathi Mthethwa, egter die raad van PanSAT met onmiddellike effek ontbind, omdat hy dink “die raad het nie die verhouding tussen die uitvoerende gesag en die raad begryp nie en nie by die raamwerk aangesluit nie”.
Hy het verder in Orwelliaans verduidelik, “Die ontwikkeling van ons taal en bevordering van veeltaligheid in Suid-Afrika moet versnel word. Die jaar 2016 moet tasbare resultate oplewer …”
Dit het alles gebeur nadat die nuutverkose PanSAT-raad ʼn forensiese verslag laat opstel het oor vorige korrupsie en misbruik van geld by PanSAT.
Verskeie van die Hoofstuk 9-grondwetlike instellings is bloot “wit olifante”, wat slegs die illusie skep dat dit onder andere taalregte beskerm en bevorder, maar in werklikheid net ʼn groot personeelkorps in diens hou.
Net so kan vrae gevra word oor wat die Artikel 185 Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van die Regte van Kultuur-, Godsdiens- en Taalgemeenskappe se daaglikse werk behels en waarom dit nie tot die debat oor Afrikaans op kampus toegetree het nie. Is daar ʼn les te leer uit wat met PanSAT gebeur het toe hulle effektief wou wees?
Wat nou gemaak wanneer die grondwetlike instellings nie bevoeg of by magte is om ons verskanste grondwetlike regte te beskerm en/of te bevorder nie?
Die opneem en afdwing van regte
Wat Afrikaners leer uit die anti-Afrikaanse sentiment van die onluste op sekere kampusse en sekere universiteitsbesture se geneigdheid om voor intimidasie te swig en aan onredelike eise toe te gee, is dat grondwetlike regte nie ʼn gegewe is nie.
Die blote feit dat ’n reg swart-op-wit iewers opgeteken staan, gee nie uiting daaraan nie. Dit beteken nie dat iemand noodwendig daardie reg van jou gaan respekteer nie, of dat die grondwet jou sal beskerm wanneer jou regte geskend word nie.
Vir ʼn geruime tyd is daar baie moeite deur die hoofstroommedia gedoen om die begrip “Afrikaner” met negatiewe assosiasies en konnotasies te vul. Vir lank is daar bepleit dat ons eerder ons identiteit rondom Afrikaans as Afrikaanses of Afrikaanssprekendes moet vorm. Die Afrikaner se kultuur is verdag, maar minstens is Afrikaans as taal verteerbaar.
Wel, hier is ons nou. Ongeag die bepalings van die Handves van Regte in die Grondwet, is Afrikaans as taal ook nou problematies binne ʼn populistiese politieke landskap wat teen ʼn stink spoed na links skuif.
Die vraag wat gevolglik onwillekeurig na vore tree is: As ons nou selfs moedertaalonderrig in Afrikaans sou prysgee, wat is volgende? Die Onteieningswet is sopas deur die parlement goedgekeur … Waar word die perk gestel? Waar sê mens “tot hier toe en nie verder nie”?
Vir Oraniërs is hierdie verskynsel egter ou nuus. Die afgelope drie dekades moes ons ervaar hoe Artikel 235 van die Grondwet selfbeskikking as ʼn reg erken, maar hoe hierdie reg in die media as “rassisties” of “ ʼn terughunkering na apartheid” beskryf en verdag gemaak word wanneer ons hierdie reg opneem en ʼn Afrikanerinhoud daaraan gee.
Die les wat Orania ons geleer het, is dat ons uiteindelik net op onsself aangewese is. Dit waarvoor ons nie bereid is om self te stry en te werk nie, sal nie deur ander aan ons gegee of selfs gewaarborg kan word nie. Om gesag aan ʼn “papierreg” te gee, moet ons dit met erns opneem, inhoud daaraan gee en dit dan uitbou.
Volgens die spreekwoord is die pen magtiger as die swaard, maar niks kom by die troffel nie. Die troffel versinnebeeld hoop. ʼn Verslane mens, sonder hoop, bou nie.
Die “slim” kommentators en joernaliste kan in hul rubrieke maar raas, blaas en verdagmaak nes hulle wil, maar met ons oë gerig na Bo sal ons, troffel in die hand, ʼn toekoms vir ons kinders in Afrika bou. Vry, veilig en voorspoedig…
Ons kan maar aan ons eie kant wees – ons lewens hang daarvan af.
Hierdie artikel is aanvanklik deur Maroela Media gepubliseer. U kan dit hier besigtig.
by Orania Beweging | Mar 2, 2016 | Nuus |
Volgens ‘n bekende legende is die stad Rome in die jaar 753 voor Christus deur Romulus tot stand gebring nadat hy sy broer Remus vermoor het. Op 1 Maart 752 BC wen hy as koning van Rome sy eerste oorlog teen die inwoners van Sabine nadat hy tydens ‘n fees sy manskappe opdrag gegee het om al die maagde van drie dorpe in Sabine te vang en hulle aan sy eie manskappe uit te deel. Romulus wen die oorlog wat daarna uitbreek toe hy die koning van Caenina, een van die dorpe in Sabine, vermoor. Romulus sou uiteiendelik op ‘n vreemde wyse verdwyn. Hy is waarskynlik deur sy eie volgers om die lewe gebring.
Dit is vanjaar 155 jaar sedert die uitbreek van die Amerikaanse Burgeroorlog. Toe die Noorde in 1865 die oorlog wen kon hulle die geskiedenisboeke skryf en is die oorsaak vir die Burgeroorlog tot die suidelike state se beleid ten gunste van slawerny gereduseer. Die oorlog het egter oor veel meer gegaan. Die breuk tussen die noordelike en suidelike state van die VSA het met tyd ontstaan en het heelwat te doen gehad met die suide se ekonomies proteksionistiese aanslag, hul voorkeur vir die regte van state en die groterwordende kulturele verskil tussen noorde en suide. Na die oorlog is die VSA as eenheidstaat herstel. Dit het egter nie beteken dat die mense van die Suide en Noorde skielik weer een volk sou word nie.
Met die Verdrag van Sevres in 1920 het die Ottomaanse Ryk finaal tot ‘n einde gekom. Op dieselde dag wat hierdie verdrag in Sevres, Frankryk onderteken is, het die Britte, Franse en Italianers in geheim ‘n verdrag gesluit waarvolgens belangrike belange soos olieregte en die beheer van grondgebied tussen die drie lande verdeel is. Na die Verdrag van Sevres is nuwe lande soos Sirië en Irak onderleiding van die Britte en Franse geskep, nie om as nuwe nasiestate te dien nie, maar eerder uitsluitlik om in die ekonomiese, politieke en militêre behoeftes van hierdie gulsige oorwinnaars te voorsien. Die opbreek van die Oostenryk-Hongaarse Ryk en in besonder hul belange in die Balkan loop hiermee hand-aan-hand.
Wat het die totstandkoming van Rome, die einde van die Amerikaanse Burgerloorlog en die opbreek van verskeie Ryke na die Eerste Wêreldoorlog met mekaar in gemeen? Die goue draad van politieke selfbelang wat deur die wêreldgeskiedenis tot die bou en val van Ryke en state aanleiding gegee het, is die een ooreenkoms hier ter sprake. Romulus se drang na mag het ook tot sy ondergang aanleiding gegee. Vandag sien ons dat die breuk tussen suidelike en noordelike Amerikaners weer groter en groter word. Die sentrale staat en magtige Washington word in die suide verag. Na die Eerste Wêreldoorlog en die verdrae wat gevolg het, het eers die Eerste Wêreldoorlog en daarna talle oorloë in die Balkan en Midde-Ooste gevolg.
Elke kykie na die wêreldgeskiedenis moet ons herinner waarom sterk gemeenskappe, gedesentraliseerde mag en regering en ‘n diepe wantroue in outokratiese leierskap nog altyd die Afrikaner se redding was en in die toekoms moet wees.
by Orania Beweging | Feb 29, 2016 | Nuus |
Kris Kristofferson se stem is doodrustig terwyl hy my herinner : “Freedom is just another word for nothing left to lose…”.
Ek is egter vêr van rustig af, op die voorblad pryk nog ʼn ondenkbaar grusame plaasmoord, debatte op TV maak my uit as ʼn rower en ʼn gronddief, politieke speletjies veroorsaak dat party studente op hul eie kampusse geïntimideer word, en ander eis dat ʼn “anti-white” veldtog hul reg is. “Dokter vermoor, Bloemfonteiner verkrag, munisipaliteit skuldig van miljoene se korrupsie, riool loop in strate, vandale beskadig standbeeld, Afrikaans moet waai”
Ja Afrikaner. Jy is welkom in Suid-Afrika. Teken net eers hier en belowe dat jy direkte staatsinmenging in jou entrepeneurskap sal aanvaar deur BEE en kwotas, aanvaar jou verantwoordelikheid as skuldenaar vir alles wat fout is in hierdie land, belowe net dat jy sal glimlag as jou oudste nie keuring kry vir mediese studie nie want haar kleur is ongelukkig te lig om te mag leer, gee net jou woord dat jy nie minder kan omgee of jou kind in Afrikaans, Engels, of Sjinees klas kry nie, prewel net saggies “jammer” wanneer jou familieplaas na vyf geslagte onteien word.
Jou geskiedenis, taal, geloof en kultuur gaan in die openbaar tereggestel word. Moenie protesteer nie Afrikaner, sê jammer Afrikaner, erken skuld Afrikaner!
In vroeë 1800’s was jou voorouers in ʼn soortgelyke situasie, hulle taal, geloof en kultuur was onder die heerskappy van ander. Hulle moes die knie buig onder vreemdes se wette. ʼn Paar duisend besluit genoeg is genoeg, en hulle duiwel die binneland in! Ongekarteerde grond, onsekere reis, onseker oor onbekende siektes, onseker oor onbekende vyande, onsekere omgewing. Die enigste sekerheid is Vryheid!
“Trek binneland toe vir uitstekende werksgeleenthede en behuising in puik liggings!”
Nee, daar was nooit so uitnodiging nie.
Daar was wel ander beloftes: jy sou meeste van jou welvaart verloor, jy sal dalk jou gesin aan die dood moes afstaan, jou beeste en skape sal vrekgemaak word deur leeu, luiperd en krygers, en elke bietjie gemak is vir jou verlore.
“Those who surrender freedom for security will not have, nor do they deserve, either one.” Benjamin Franklin, het jy hierdie gesê spesifiek met 2016 se Afrikaners in jou gedagtes? Jy is dalk bang oor jou werksekerheid, jy bekommer dalk oor jou inkomsteveiligheid, jy weet dalk nie so mooi of hierdie risiko’s vir jou is nie. Kyk op, kyk bo-oor jou rekenaarskerm, uit by jou venster se diefwering, kyk na jou duiwelsvurkheining, kyk na die straat daar buite, waarteen jy jou kinders daagliks waarsku. Kyk na politikusse se blink motors, hulle wette bepaal hoe jy jou besigheid moet bedryf maar kies self hoe hulle jou belastinggeld wil spandeer hierdie naweek.
Waarvoor wag jy? Nog ʼn misdaad teen jou gesin? Nog ʼn onteieningsaak teen jou plaas? Nog ʼn keer wat jou base oorweeg of jy as Afrikaner nog verdien om by hulle te werk? Nog ʼn aanslag teen jou moedertaal?
“Freedom is just another word for nothing left to lose” sing Kristofferson, wil jy éérs alles verloor voor jy vryheid kies? Is jou gemak vir jou meer werd as jou vryheid?
Die som is vir my ʼn eenvoudige een: die wie se sweet op die grond val, aan hulle sal daardie grond behoort.
by Orania Beweging | Feb 25, 2016 | Nuus |
Integrasie is tans die gonswoord in veral Europa in die aangesig van die vlugtelinggolf. Deur integrasie word al die probleme opgelos en word in ‘n kort tydperk van ‘n ongeletterde Moslem uit Afghanistan of Sirië ‘n moderne, goed opgeleide en lojale Europeër, aldus die wensdenkery van talle meningsvormers en politici. Uit die Europese perspektief beteken “integrasie” egter nie dat diegene wat inkom hulle herkoms en kultuur moet aflê nie (wat in elk geval baie moeilik is), maar dat die bestaande samelewing die inkomelinge moet akkommodeer en self moet verander om sodoende ‘n integrasie van die immigrante te kan bewerkstellig. Duitsland of Swede (natuurlik ander lande ook, maar die twee dra vrywillig die hooflas van die vlugtelinggolf) moet nie te veel eise stel nie en wen eintlik deur die nuwe burgers, omdat dit dan ‘n multi-kulturele, “oop” samelewing word wat vir almal aanvaarbaar is en beter as die ou, eens homogene samelewing, aldus dié redenasie. Meer nog, op ekonomiese gebied word dit vir die immigrante maklik gemaak om te oorleef op welsynstoelaes (en asielsoekers mag nie werk terwyl hulle aansoek afgewag word, wat jare kan duur) en dus val die belangrikste integrasiefaktor van almal, die werksplek, weg. Omdat Oos-Europa weet dat integrasie in meeste gevalle gee en neem beteken, en dat dit hulle lande sal verander, is hulle juis skepties oor immigrasie en probeer dit keer.
Europese lande het relatief min en klein golwe van immigrasie beleef (ons kan dink aan die emigrasie van Franse Hugenote weens hulle geloof na Nederland en Pruise in die 17de eeu, of van Pole weens armoede in die 19de eeu na die nywerheidsdele van Duitsland) en weet dus nie hoe om dit te hanteer nie en hoe om die nuwelinge te integreer nie. Hoe meer divers die lande raak, hoe makliker is dit vir immigrante om hulle paralelle strukture te vorm en om enige integrasie te vermy. Omdat Wes-Europa ook nie meer trots is op sy kultuur, taal en geskiedenis nie (en sy godsdiens reeds afgelê het) weet ook niemand meer wat die minimum vereistes vir integrasie is nie.
In die VSA is tradisioneel ‘n ander model van integrasie gevolg. Geen eng kulturele of godsdienstige vereistes is gestel nie. Almal wat ‘n beter toekoms en vryheid gesoek het, was in beginsel welkom, maar, en hier lê die beduidende verskil teenoor die huidige Wes-Europa, die staat het niks gedoen om vir die immigrante behuising, werk of toelaes beskikbaar te stel nie. Dit was ‘n geval van swem of sink. As jy nie kon aanpas in die nuwe wêreld nie, ekonomies of wat die leefwyse (om nie te sê kultuur nie) betref, dan moes jy maar weer teruggaan waar jy vandaan gekom het. Die VSA het ‘n groot mate van gelyke kanse vir die aankomeling gebied: of jy adelik of burgerlik of uit die laerklas was, geen spesiale vergunning op grond van stand en status is vir jou gegee nie, maar ook geen beperking op jou pad na rykdom en die uitlewing van jou persoonlike vryheid geplaas nie. Van jou is egter verwag om jou Europese vel as t’ ware af te lê. Die sogenaamde smeltkroes het sodoende ‘n nuwe volk geskep, hoofsaaklik van Wes-Europese afkoms en met Engels en die christelike geloof as kleinste gemene delers, maar heel anders as Europa.
Getalle speel by integrasie ook ‘n rol. Enkelinge is gewoonlik die beste integreerbaar want vir hulle is daar geen alternatief tot aansluiting by die nuwe kultuur nie. Introu in die nuwe volk vind da nook gewoonlik plaas. Sodra groot getalle immigrante arrivieer, vorm hulle egter parallele strukture.
In Orania sit ons ook met die kwessie van integrasie. Feitlik almal wat na Orania kom is per definisie Afrikaner en Christen (ten minste nominaal), en daar is reeds ‘n sterk en gevestigde kultuur aanwesig. Dit is dus ideale omstandighede vir die integrasie van nuwelinge. Nogtans is ook by ons die integrasie van nuwe burgers nie ‘n gegewe nie. Afrikaners het taamlik uiteenlopend geword, en die nuwe bedeling het ook maar aan ons mense, veral die jeug, afgesmeer. By sommige word Afrikaans net as mengelmoestaal gepraat, kerkbywoning het raar geword, kultuur is globalisties van aard, van geskiedenis is daar min kennis en volkseie arbeid is ‘n vreemde konsep. Dit is dus die gevestigde inwoners se taak om met die integrasie van die nuwes te help. As daar skielik groot getalle “ontstamde” Afrikaners hier aariveer, verander hulle die bestaande inwoners meer as andersom. Verder kan ons ook van die VSA-model leer dat dit vir ‘n samelewing beter is om mense te trek wat struikelblokke kan oorkom en op eie voete kan staan, as diegene wat deur ander gedra wil word. Vir integrasie is dit beter om werksgeleenthede te bied as maatskaplike toelae. Laasgenoemde moet voorbehou wees vir diegene wat te siek of te oud is om te werk. Die model wat dikwels voorgestel word, om wit plakkers deur gratis grond en behuising in groot getalle na Orania te trek sal nie werk nie. Ingerasie is selfs onder goeie omstandighede geen maklike taak nie. Die samelewings waar dit geslaag het is eerder die uitsondering teenoor diegene waar dit misluk het en waar gedurige konflik is. Die volkstaat wat ons bou moet nie net groter, maar ook stewiger word. Dit kan bereik word deur goeie integrasie.
