fbpx

IMG_1357‘n Marokkaanse reisiger, Ibn Battuta, wat meer as 700 jaar gelede geleef het, het oor reis gesê: Dit laat jou sprakeloos en dan maak dit van jou ‘n storieverteller.

Ons leef vandag in ‘n geglobaliseerde wêreld waar mense lysies van bestemmings het wat afgemerk moet word en waar vermaak in soveel opsigte ons vermoë om te observeer, te luister en vreemde plekke, mense en dinge te verstaan, oorheers. Vakansie het reis in baie mense se lewens vervang. Mense vlieg London of Milan toe om inkopies te gaan doen, maar sien niks meer van dié stede se katedrale as dit wat hulle deur die venster van ‘n taxi waarneem nie.  Dit veroorsaak dat baie van ons vandag na ‘n lang reis slegs Iphone foto’s oor het om te wys, terwyl dié reisigers wat ware storievertellers is, al hoe minder raak.

Selfs erger as dit is die mens se toenemende onvermoë om ‘n natuurlike behoefte om plekke waarvan hy min weet te gaan ondersoek. Moderne reisigers werk met reisplanne wat van die internet afgelaai word en besoek plekke wat besoek moet word omdat dit die gewildste bestemmings in die wêreld is. Ware reisigers droom snags oor plekke waarvan hulle min weet en wat hulle wil gaan ontdek. So ‘n ontdekkingstog het heelwat meer te make met argitektuur, kos en kultuur as met die beskikbaarheid  van goedkoop Chineesvervaardigde yskasmagnete en die internasionale standaard van hotelle en bekende handelsmerkrestaurante.

Sebastiaan Biehl is in Orania bekend as iemand wat dikwels teen die stroom van die modernisme ingaan. Wat reise betref is dit geen uitsondering. As vriend en kollega moet ek bieg ken ek nie juis iemand wat ‘n groter reisiger as Sebastiaan is nie. Hy hou min vakansie, maar sy talle wêrelreise maak deeglik daarvoor op.

Daarom is dit net logies dat Sebastiaan ook een van die interessantste reisbeskrywings wat ek nog gelees het, die lig laat sien het. Wierook en Sigare, is nie ‘n boek oor die beste Michelen-restaurante in duur Europese stede of die beste ‘surf-spots’aan die Amerikaanse weskus nie. Dit is ‘n boek oor vyf interessante, mistieke plekke waarheen hy die afgelope paar jaar gereis het.

Wierook en Sigare vertel jou nie watter dorpe om te besoek, in watter hotelle om oor te bly en by watter restaurante jy moet eet nie, maar dit plaas beelde in jou kop van plekke waaroor baie van ons nog maar min gedink het. Jy kry die gevoel van ‘n lang rit op ‘n Derde Wêreldse bus en terwyl jy oor Kuba lees verbeel jy jou jy ruik die koffiebone op ‘n diepplattelandse plaas.

Verder slaag Sebastiaan daarin om elk van die plekke waaroor hy skryf binne ‘n internasionale konteks te verduidelik. Plekke bestaan nie net vir mense om hulle te besoek nie. Plekke bestaan omdat daar mense bly wat deur leiers regeer word en wat ‘n rol in die wêreld speel, hetsy op ekonomiese, politieke, kulturele of welke ander terrein.

Wierook en Sigare is nie geskryf om mense te probeer oorreed om ook Suid-Oos Asië, die suide van Spanje, Kuba, Marokko en die Amasone te besoek nie,  maar eerder om ‘n mens ‘n blik op die lewe in hierdie plekke te gee. Sebastiaan slaag uitstekend hierin.

Die Orania Beweging is trots daarop om as uitgewer van hierdie publikasie op te tree. Die boek sluit in 46 volkleurfoto’s en Carel Boshoff,verdien erkenning vir sy netjiese redigering en verwerking van die teks, asook die uitleg, druk en bind van Wierook en Sigare.

Teen R165 is hierdie boek ‘n winskope en definitief die soort boek wat jy graag met familie en vriende sal wil deel. Beskikbaar by oraniawinkel.co.za of stuur ‘n e-pos na ontvangs@orania.co.za.