fbpx

6a00d83451b31c69e2017d407cfa11970cOp 23 Junie vanjaar sal Britte aan ‘n referendum kan deelneem om te bepaal of Brittanje deel van die Europese Unie moet bly. Die Britse eerste minister, David Cameron se aankondiging Vrydag dat hy ‘n nuwe ooreenkoms met die Europese Unie bereik het en dat ‘n referendum nou oor sy land se lidmaatskap van die unie gehou sal word, het ‘n lang aanloop gehad. Negatiewe gevoelens oor die Europese Unie se rol in interne Britse politiek neem reeds vir jare toe. Die afgelope paar jaar het talle Britte verder skepties oor Brittanje se rol in die Europese Unie geraak omdat meer en meer lande uit Oos-Europa lidmaatskap van die EU bekom het en burgers van hierdie lande sodoende toegang tot die arbeidsmark en talle sosiale voordele in ander Europese lande kon kry.

Cameron het kort nader hy ‘n paar jaar gelede leier van die Konserwatiewe Party geword het, belowe dat hy ‘n referendum oor sy land se lidmaatskap van die EU sal hou, sou hy tot eerste minister verkies word.

Cameron is duidelik ten gunste daarvan dat Brittanje deel van die EU moet bly. Dit is egter nie die geval vir baie lede van sy party en selfs lede van sy huidige kabinet nie. Cameron moes dus pro-aktief optree om die belofte van ‘n referendum te kon hou, maar om ook momentum aan die pro-EU stem te gee. Hy het dus verlede Donderdag en Vrydag na die hoofkantoor van die EU in Brussel gereis waar hy ‘n nuwe ooreenkoms tussen Brittanje en die Europese Unie onderhandel het. Brittanje kry volgens die ooreenkoms sekere vrystellings of korttermyntoegewings op voordele vir burgers van ander Europese lande wat in Brittanje wil woon en werk.

Cameron het Vrydagmiddag met sy aankoms in London met selfvertroue hierdie nuwe ooreenkoms as ‘n oorwinning vir Brittanje se soewereiniteit, aangekondig. Hy het ook onmiddellik die referendum aangekondig met die hoop dat sy die nuwe ooreenkoms genoeg mense sal oortuig om ten gunste van voortgesette EU-lidmaatskap te stem.

Cameron is ‘n slim politikus, maar daar lê ‘n moeilik pad vir hom voor om 50% van Britte aan sy kant te kry. Die besluit van die immergewilde burgemeester van London, Boris Johnson om nie Cameron te steun nie en om aktief steun te werf dat Brittanje die EU moet verlaat dui daarop dat talle lede van Cameron se Konserwatiewe Party nie sy kamma-groot ooreenkoms met die EU steun nie. Nog ses lede van Cameron se kabinet het reeds aangedui dat soos Johnson voel.

Peilings wys tans dat dit ‘n kop-aan-kop stryd is met beide standpunte wat steun van sowat 42% van die Britse bevolking geniet. Meer as 15% van Britte moet nog besluit hoe hulle gaan stem. Dit beteken dat daar oor die volgende 120 dae ‘n felle stryd gevoer kan word. Die voordeel hiervan is dat politieke sentralisasie en Europese burokrasie indiepte bespreek gaan word en dat die voordele van werklike federalisme en vrywillige samewerking weer aan kiesers as alternatief aangebied kan word. Die hele Europa sal baatvind by die debat oor Brittanje se lidmaatskap van die Europese Unie. Volkere wat glo dat desentralisasie en die behoud van identiteit belangrik is, kan gerus ook maar kyk wat in Brittanje gebeur.