by Orania Beweging | Apr 8, 2016 | Nuus |
“Westerse beskawing” het deesdae ’n omstrede uitdrukking geword. Die Weste self weet nie meer wat om daarmee te maak nie en is selfs skaam vir dié uitdrukking, omdat dit meerderwaardigheid sou veronderstel en ander nie-Westerse volke sou laat uitvoel. “Verwestering” het selfs ‘n meer negatiewe klank gekry van vernietiging van kultuur, materialisme, gelykmaking en sekularisasie. Daar is wel ‘n groot verskil tussen die Westerse beskawing en blote verwestering. Eersgenoemde is ‘n hele leefwêreld met ‘n lang tradisie waarin jy opgroei en wat jy moet koester. Laasgenoemde is slegs sekere, dikwels materialistiese uitvloeisels van die Weste. Feitlik almal trek vandag Westerse klere aan, luister na Westerse popmusiek of kyk Hollywoodflieks, wat nie Westerse waardes nie, maar permissiwiteit oordra. Almal, selfs diegene wat die Weste haat, soos Moslem-ekstremiste, maak gebruik van Westerse tegnologie. Dit maak jou egter nie ‘n Westerling nie en ook nie beskaafd nie. Dit word telkens duidelik as byvoorbeeld swartmense in swart pakke in hoogdrawende Engels debatteer oor hulle Afrikakultuur. Hulle wil nie Westers wees nie maar leef in ‘n Westerse samelewing, trek Westers aan en praat ‘n Westerse taal.
Die Weste ly ook aan ‘n skuldgevoel en verwyder toenemend dit wat eie aan die Weste is, byvoorbeeld die Christelike tradisie en nasionale gedenkdae, uit die openbare sfeer om nie aanstoot te gee aan sogenaamde minderhede nie. Ook die Afrikaner word daardeur geraak. Hier is die aanslag egter meer van buite as van binne, alhoewel ons ook oor genoeg “nesbevuilers” in eie geledere beskik wat hulle verlekker aan selfhaat en afbreuk van hulle eie mense. Ons voel dikwels verwyderd van die Weste, beklemtoon ons verbintenis met Afrika. Nogtans bly ons Westerlinge, en moet ons juis dit koester. Dit is, anders as by volke uit die nie-Westerse wêreld, nie ‘n baadjie wat aan- of uitgetrek word nie. President Zuma is ‘n tipiese voorbeeld van iemand wat gemaklik is in sy kraal en tussen sy Zulu-mense in landelike Kwazulu-Natal met sy luiperdvel aan, net om dan die volgende dag letterlik en figuurlik sy Westerse baadjie aan te trek en om ‘n internasionale konferensie in Engels toe te spreek. Die Afrikaner daarteenoor het die Westerse kultuur as deel van sy DNA gekry, natuurlik met die belangrike en kosbare ervaring van geworteldheid in Afrika.
As ons in Europa vakansie hou en ons verwonder aan katedrale en kastele, of na ‘n uitvoering van klassieke musiek deur ‘n simfonieorkes luister, hoef ons nie weemoedig te wees oor ons eie eerder beskeie en nuwerwetse argitektuur en musiek nie. Daardie prestasies is ook ons s’n en ons kan net so trots daarop wees soos Europeërs. Ons verpligting is egter om dit ook verder uit te bou. ‘n Beskawing put inspirasie uit die verlede, maar moet ook in die hede geleef word as dit wil voortbestaan. Daarom moet ons ons hoogkultuur weer koester en waak teen vervlakking. Tussen al die verbruikersgoedere, ook in die vermaaklikheidsbedryf, moet af en toe ook ‘n meesterstuk geskep word wat wys dat ons kan en dat ons verband met die Westerse beskawing nog bestaan.
Ons kan ook in ons eie, meer onlangse verlede delf en die spesifiek Afrikaanse Westerse beskawing herontdek en nuwe inhoud daaraan gee. Vir so ‘n klein volk geografies so vr verwyderd het die Afrikaner merkwaardige kulturele prestasies behaal en doen dit ook vandag nog. Dit wat beskawing onderskei van blote samelewings is die strewe na uitnemendheid, na iets wat blywend is. Daar moet flieksale wees, maar ook operahuise; kitskos, maar ook keurige, tradisionele disse; boeke vir ontspanning maar ook bekroonde literatuur; doelmatige geboue maar ook hoogs uitstaande argitektuur; lekker saamsingliedjies maar ook klassieke musiek en diep poësie; goedkoop massaprodukte en kuns met ewigheidswaarde.
Uit die aard van die saak is dit deesdae moeilik om hoogkultuur te beoefen, waar staatlike befondsing van Westerse hoogkultuur om politieke redes besnoei word. Maar ‘n volk het nie in die eerste plek ‘n staat nodig om sy kultuur tot nuwe hoogtes te lei nie. Lank voor die staat daar was, was daar al beskawings en hoogkultuur gewees. Voor jy egter self hoogkultuur kan skep, moet jy eers weet wat dit is. Die Afrikaner moet weer ‘n vertroudheid en gemaklikheid met Westerse kultuurprestasies ontwikkel en leer om die kaf van die koring te skei. Ons moet die begrip “Westerse beskawing en hoogkultuur” weer met inhoud vul.
by Orania Beweging | Apr 7, 2016 | Nuus |
Latyns-Amerika
Brasilië: storm bou op rondom president Rousseff. ‘n Gebeurtenis vergelykbaar, maar selfs erger as die herrie oor president Zuma en sy talle korrupsiesake, ontvou tans in Brasilië. Die president, mev. Dilma Rousseff, is tans 14 maande in haar tweede termyn en die druk om te bedank neem geweldig toe. Sy word beskuldig van korrupsie wat verband hou met die tyd toe sy direkteur van die staatlike oliemaatskappy Petrobras was. Petrobras het massief politici van die regerende Arbeidersparty omgekoop. Maar dit is slegs die punt van die ysberg. Daar is talle verskeie korrupsiesake behalwe die een van Petrobras. Die koalisievennoot van die regerende Arbeidersparty PTB, het uit die koalisie onttrek en die opposisie wil die president in ‘n staat van beskuldiging plaas, waarvoor ‘n tweederdemeerderheid in die parlement nodig is. Soos in Suid-Afrika word alle betogings en kritiek op die president gekonsenteer en scenarios vir die tyd na haar bedanking gemaak, met hervormers en ‘n regering van nasionale eenheid in beheer.
Net soos in Suid-Afrika is die president egter net die gesig van ‘n strukturele probleem wat nie deur die vervanging van die leier opgelos sal word nie. Daar is verbasende parallelle tussen Suid-Afrika en Brasilië: al twee is opkomende lande µm ‘n sterk multi-kulturele bevolking, groot spanning tussen sentrum en periferie en al twee is lede van die BRICS-groep. Brasilië se ekonomie en bevolking en oppervlakte is wel heelwat groter, maar al twee is ook in hulle onderskeie vastelande die streeksmoondhede. Al twee word regeer deur sosialistiese partye wat al lank aan bewind is en wat alle sleutelposisies in die staat met sy aanhangers beset het. Daar bestaan nog steeds op die opposisie en ‘n onafhanklike regsbank. Al twee regerings hou hulleself aan bewind deur massiewe welsynstoelaes vir die groot getalle armes wat met elke verkiesing vir hulle stem en dit word gefinansieer deur hoë en groeiende belasting en skuld. Die staatskwota wat werksverskaffing en begroting betref is baie hoog in al twee lande en die korrupsie en rompslomp van die regering vind sy voortsetting op provinsiale en munisipale vlak.
Beide lande se inkomste is grootliks afhanklik van hulpbronne en handel met Sjina en die insinking in aanvraag vir hulpbronne en dalende pryse tref beide lande hard. Vakbondvriendelike wetgewing en talle hindernisse vir besighede ontmoedig werkskepping en ondernemerskap.
Wat die twee lande wel onderskei is dat ras en rassisme oftewel anti-rassisme in Suid-Afrika amper alles is (volgens die regering en meningsvormers) en elke vraagstuk en probleem ‘n rasse-kinkel het, terwyl Brasilië uitgesproke nie-rassig is en dit baie sterk onderbeklemtoon.
Europa/Midde-Ooste
Armenië/Azerbaidsjan: herleef die oorlog oor Nagorno-Karabach? Een van die “gevriesde” konflikte wat deel was van die verbrokkeling van die Sowjet-Unie en die magsvakuum wat dit geskep het, die konflik rondom die enklave Nagorno-Karabach, is besig om weer te herleef.
Kort oorsig en agtergrond: Armenië en Azerbaidsjan is al twee voormalige Sowjet-republieke (etniese deelstate) wat na die ontbinding van die Sowjet-Unie onafhanklik geword het. Onmiddelik het hulle in konflik gekom oor die enklave Nagorno-Karabach, ‘n gebied met sowat 200 000 inwoners en ? km² wat territoriaal deel van Azerbaidsjan is, maar wat deur etniese Armeniërs bewoon word wat graag by hulle moederland wou aansluit. Behalwe die etniese verskille is daar ook godsdienstige verskillende tussen die Christelike Armeniërs en die Moslem Azeris. Kultureel en taalkundig is die Armeniërs ‘n oeroue en unieke volk, terwyl die Azeris deel is van die Turk-volke uit Sentraal-Asië en Turkye tradisioneel hulle vriend (en Armenië se vyand) is. Met behulp van sowel Armenië en Rusland kon die Armeniërs van Karabach egter daarin slaag om die Azerbaidsjan-beheer uit te dryf en hulleself eensydig onafhanklik te verklaar na ‘n oorlog in die vroeë 1990’s met 30 000 gesneuweldes. In praktyk het Nagorno-Karabach egter by Armenië aangesluit en die gebied tussen Armenië en Karabach is ook verower. In 1994 is ‘n wapenstilstand onderhandel maar die konflik is net gevries omdat Azerbaidsjan nie die verlies van sy grondgebied aanvaar het nie. Vir meer as 2 dekades het die twee lande vir mekaar gegrom. Turkye het die grens met Armenië gesluit en die land het ekonomies swaar gekry en het net via Georgië ‘n lewenslyn na buite gehad.
Huidige situasie: Nou het die konflik weer warm geraak, met gevegte wat oor die naweek langs die wapenstilstand linie uitgebreek het. Sowat 30 soldate en enkele burgerlikes is so vêr in die gevegte dood. Wie daarvoor verantwoordelik is, is nie duidelik nie, maar Azerbaidsjan, wat die vorige oorlog verloor het, het belang in ’n hervatting van die militêre konflik, terwyl Armenië tevrede is met die status quo. Azerbaidsjan het die afgelope paar jaar sy inkomste uit olieverkope gebruik om op groot skaal wapens aan te koop. Rusland verskaf wapens aan al twee kante, maar is polities ‘n ondersteuner van Armenië, terwyl Turkye en ander Moslem-lande aan Azerbaidsjan se kant is. Die twee lande lê op ‘n breuklyn tussen twee beskawings, naamlik die Russiese beskawing en die Moslem-beskawing en die oorlog is nie net ’n konflik tussen twee onbelangrike klein lande nie, maar ‘n potensiële streekskonflik. Sedert die afskiet van ’n Russiese vegvliegtuig deur Turkye het die twee lande in elk geval ‘n byltjie om te slyp en as die twee moondhede ingryp dan is nog ‘n volgende brand in die reeds uiters labile gebied gestig.
by Orania Beweging | Apr 4, 2016 | Nuus |
Baie word deesdae gepraat van die Westerse Beskawing en die Westerse waardes. Dit het natuurlik te doen met die aanslag op dié beskawing deur die stroom Moslem-immigrante uit die Midde-Ooste en Afrika. Ek wil nie weer oor die “botsing van beskawings” skryf nie, ek het dit reeds gedoen. Dit is egter belangrik om die Westerse beskawing en grense van beskawings kortliks te beskryf, omdat daar deesdae so gereeld daarna verwys word en almal iets anders daarmee bedoel.
Elke volk het sy eie kultuur, gewoontes, literatuur, kuns ensovoorts, maar is gewoonlik ingebed in ‘n beskawing wat volke met mekaar verbind. Daarom dat prof. Samuel Huntington ook gepraat het van die botsings van beskawings, nie van volke of state nie. Beskawings het gewoonlik ‘n baie langer lewensduur as state en selfs volke. Nogtans het beskawings ook al vergaan, maar dikwels leef hulle gedeeltelik voort in hulle opvolgbeskawings. Beskawings is ook nie staties nie maar verander, word beinvloed en ervaar dekadensie en herlewing. Ter will van beter begrip wil ek kortliks ‘n paar beskawings noem, om die verskil teenoor lande of volke duidelik te maak. Prof. Huntington onderskei die volgende agt beskawings:
Ten eerste uit ons perspektief die Westerse beskawing, waaroor ek later meer sal sê. Sy ontstaan was in Europa, maar het met die verspreiding van Europeërs na ander wêrelddele soos Amerika en Australië en selfs Suid-Afrika ook daar wortel geskiet. Binne die Westerse beskawing is daar weer onderverdelings tussen die Noord- en Wes-Europese oftewel Germaanse kultuursfeer, die Meditereense of Romaanse kultuursfeer en die Oos-Europese of Slawiese kultuursfeer. In watter mate laasgenoemde, met sy sterk invloed vanaf Sentraal-Asië, as deel van die Weterse Beskawing gereken kan word, is in elk geval debatteerbaar. Rusland word dikwels as eie beskawing gereken, met die Oos-Europese state wat op die breuklyn tussen die Slawiese en Westerse sfeer lê. Latyns-Amerika, alhoewel dit sterk deur die Meditereense kultuur beinvloed is en daar Europese tale (Spaans, Portugees) gepraat en die Christelike godsdiens aanhang word, word nie as deel van die Weste gereken nie, maar as eie beskawing.
Verder is daar die Midde-Oosterse beskawing, wat van Noord-Afrika tot in Sentraal-Asië strek en Islam as die gemene deler het. Verder Suid is die beskawing van Sub-Sahara Afrika of Swart Afrika. Asië het verskeie beskawings wat duidelik onderskeibaar is, soos Sjina, Japan, die Suid-Oos-Asiatiese streek (met Boeddhisme as hoofgodsdiens) en Indië en sy buurstate waar Hindoeїsme domineer. Elke beskawing het sy eie breë kenmerke wat hulle onderskei van ander beskawings, soos die godsdiens, die taalgroep en skrif, die argitektuur, die filosofie en die kuns. Natuurlik is daar ook variasies en verskillen tussen lande en streke binne die beskawings, maar die duidelikste verskille is tussen beskawings.
Binne elke beskawing is daar die gewone, alledagse lewe: gesinne wat saamwoon, die pa (en soms ma) wat werk en geld inbring, kos wat gemaak word, kinders wat opgevoed word, huise wat gebou word om in te woon, ontspanning ensovoorts. Wat beskawings egter laat uitstaan is die hoogkultuur wat binne hulle ontwikkel het en wat in stand gehou moet word. Die hoogkultuur is dit wat meer is as die gewone lewensnoodsaaklikhede en die basiese, dit wat ‘n beskawing uitmaak en wat by ander beskawings bewondering gaande maak en namaak aanwakker en wat binne die eie beskawing trots en identifikasie stig. Dit is dinge soos skeppende kuns, literatuur, argitektuur, die godsdiens en filosofie. Marxiste en ander materialiste praat juis veragtelik van die “kunsmatige superstruktuur” wat geskep is deur die elite om die armes te onderdruk en materialiste, of hulle Marxiste of globaliste is, wil juis die kenmerke van beskawing vernitig omdat dit in die pad van gelykmaking en beheer oor alles staan. Die sogemaande “Kulturele Revolusie” in Sjina, wat juis kultuur vernietig het, of die Franse Revolusie is voorbeelde van dié neiging, asook die hedendagse barbaarsheid van IS, gepleeg in die naam van Islam, maar eintlik nihilisties van aard.
Westerse beskawing en Westerse waardes is nie net die antitese tot die Islam en tot die waardes van die Orient nie, iets wat dikwels in kort slagspreuks soos “verdraagsaamheid, demokrasie, menseregte/gay-regte/vroueregte, godsdiensvryheid” weergegee word. Dit is hoogstens ‘n paar vrugte (sommige vrot) van die laaste paar dekades.
Die Westerse beskawing is iets veel groter en kom ‘n lang pad. Dit is ook nie net politieke denke en waardes nie, dit sluit ook die godsdiens, literatuur, kuns, argitektuur, musiek en vele meer in, dit wat van ‘n beskawing ‘n beskawing maak, en nie net bloot ‘n samelewing nie. Die Westere beskawing se godsdiens is (ten spyte van grootskaalse sekularisasie) tradisioneel die Christendom, maar die denke is ook sterk deur die Griekse filosofie beїnvloed. Ook in die argitektuur is sowel die Antieke (Meditereense) Grieks-Romeinse invloed asook die Middeleeuse (en Wes- en Sentraaleuropese) Gotiese styl, wat al twee ware beskawingshoogtepunte verteenwoordig, feitlik orals sigbaar. Latere style soos die Renaissance en Historisme het aangeknoop by eersgenoemde style. Die klassieke musiek is een van die pêrels van die Weste, so ook sy skeppende kuns (ten minste tot en met die opkoms van nihilisme in die 20ste eeu).
Elke volk behoort binne sy beskawingsparadigma te streef na hoogkultuur, dit wat was te koester en daarop voort te bou. Hoogkultuur is ‘n skans teen verval en verrotting van binne.
Deel 2 gaan meer spesifiek oor die Afrikaner binne die Westerse beskawing.
by Orania Beweging | Mar 31, 2016 | Nuus |
Orania is vanjaar 25 jaar oud. Terwyl ons die groei en ontwikkeling van ons gemeenskap en breër beweging sal vier, sal baie mense ook kritiek lewer omdat Orania nog klein is en omdat ons nou nie juis gedoen het of vermag het wat hulle graag sou wou sien gebeur nie.
Daar is natuurlik goeie redes vir beide reaksies. Orania staan vandag kop en skouer uit bo enige ander poging tot Afrikanerselfbeskikking. Deur harde werk met eie Afrikanerarbeid en met slegs ons eie kapitaal tot ons beskikking is ‘n afgeleë, verwaarloosde konstruksiekamp omskep in ‘n groeiende, selfstandige gemeenskap van meer as 1300 mense wat hier woon, werk en leef. Meer as 100 klein ondernemings bestaan in Orania, meer as 300 kinders ontvang hier onderrig en die Orania Dorprsraad se begroting het van net meer as R1 miljoen in 2001 tot meer as R27 miljoen in 2015 gegroei. Lang lyste ander prestasies kan opgestel word.
Aan die ander kant is Afrikaners reg om groot te dink en te vra waarom Orania nog nie meer inwoners het of nog nie meer onafhanklik is nie. Waarom betaal julle nog belasting? Waarom het julle nog nie ‘n hospitaal of ‘n universiteit gebou nie? Afrikaners is Westerlinge wat aan die beste gewoond is.
Persone wat negatief oor Orania se vordering voel kan gerus die President van ons Beweging, Carel Boshoff, se boek Verder as Vryheid wat verlede jaar verskyn het, gaan lees. Daarin neem hy deeglik in oënskou die geleenthede wat die Afrikaner gehad het om selfbeskikking in die verlede deur grondwetlike en ander onderhandelings moontlik te maak.
Daar was in ons verlede keer op keer goeie kanse om ‘n Volkstaat moontlik te maak. Selfs net ‘n vorm van federalisme of beperkte territoriale selfbeskikking kon in die vroeë 1990’s beding word. Die vensterperiode vir enige van hierdie opsies het egter jare gelede reeds gesluit en die Afrikaner was meestal weens sy eie hardkoppigheid en interne verdeeldheid daarvoor verantwoordelik dat niks van hierdie geleenthede gekom het nie.
Die probleem waarmee ons vandag sit is dat baie Afrikaners steeds nie besef hoe groot ons verlies was nie. Die verlies aan beheer oor ons eie instellings en die vermoë om ons eie taal, kultuur en beskawing instand te hou, is baie groter as wat meeste Afrikaners besef. Om net te dink dat Kerkplein in Pretoria nog ‘n soort Afrikanerruimte is en dat President Kruger se standbeeld vir altyd daar sal bly staan dui op die naïewe hoop van Afrikaners dat ons nog beheer het oor dinge en plekke wat ons lankal verloor het.
Waar in Suid-Afrika is daar ‘n dorp, ‘n munisipaliteit, ‘n museum, ‘n universiteit of ‘n openbare skool waar die Afrikaner volledig in beheer is? Ons het alles aan die meerderheid afgestaan en onsself tot ‘n minderheid met slegs private beheervermoëns gereduseer.
Tog is daar Orania. Die dorp, sy munisipaliteit, skole, museums, grond, monumente en ander instellings word deur Afrikaners beheer en slegs deur Afrikaners bearbei. Alles wat jy in Orania sien is uit Afrikanerkapitaal ontwikkel. Almal van ons sal graag meer grond, meer instellings (‘n hospitaal en universiteit is hoog op die lysie) en minder belasting aan die Suid-Afrikaanse staat wil sien gebeur. Dink net wat ons kan doen as ons net 20% of 30% van ons belasting van die staat terug kan kry. Die werklikheid is egter dat die tyd vir groot gebeure vir die Afrikaner verby is. Dalk kry ons nog groot negatiewe dinge oor ons volkie se pad, maar die groot positiewe dinge soos ‘n vergunning oor territoriale selfbeskikking is vandag onmoontlik. Ons groot kans op selfbeskikking as ‘n gebeurtenis het in die 1990’s verstryk. Dit is nog net ‘n paar populiste en organisasietjies wat agter rekenaars en faksmasjiene opskiet wat nog by die staat kan gaan aandring dat ons vryheid vir ons op ‘n skinkbord gegee moet word.
Dit is dan ook waarom die Orania-model van selfbeskikking die enigste model is wat die toets van die tyd deurstaan het. Ons model en ons boodskap is nie populisties nie. Ons skree nie Vryheid! van ons dakke af en wag dan dat dit in ons skote val nie. Ons werk hard deur ‘n sterk netwerk van inwoners, omwoners en uitwoners wat almal ‘n bydrae lewer tot die groterwordende selfstandigheid van Orania.
Ons het goeie rede om vanjaar fees te vier oor die groeiende Afrikanerstad Orania se 25 ste verjaardag. Ons het ook rede om die onweerswolke raak te sien en te besef dat ons nog harder moet werk om Orania vinniger groter en sterker te maak.
by Orania Beweging | Mar 30, 2016 | Nuus |
Die afgelope naweek het ‘n redelike klein Afrikanersportbyeenkoms met groot simboliek plaasgevind. Die eerste onder een-en-twintig Bokkieweek rugbytoernooi het in Orania plaasgevind. Byna 150 rugbyspelers uit ses streke van die land het aan hierdie eerste byeenkoms van sy soort deelgeneem.
Bokkieweek is reeds ‘n bekende naam. Jaarliks gedurende die winterskoolvakansie neem byna 3000 Afrikanerkinders aan hierdie nasionale rugby-, netbal- en hokkietoernooi deel. Afrikaner Volkseie Sport (AVS), wat die Bokkieweek aanbied, vier vanjaar sy vyf en twintigste verjaardag.
Orania, waar die toernooi plaasgevind het, is ook vanjaar vyf en twintig jaar oud. Behalwe vir goeie rugby wat by die byeenkoms plaasgevind het, kon AVS en Orania dus ook saam hul eerste vyf en twintigjaar vier.
Die onder een en twintig toernooi is moontlik gemaak deur die borgskap en visie van AfriForum en dié instelling se leierskap. Op die sportterrein soos op talle ander terreine het politieke inmenging en diskriminerende kwotastelsels die afgelope paar jaar Afrikaners negatief geraak.
Afrikaners was nog altyd lief vir sport en soos in talle ander kulture bied deelname aan sportgeleenthede die geleentheid aan mense om van jongs af die dissipline wat sport vereis, te bemeester. Sportbyeenkomste bied egter ook die geleentheid om jou kultuur en identiteit te vier.
Selfs op die hoogste internasionale vlak soos die Olimpiese Spele en sokker-, rugby- en krieketwêreldbekerbyeenkomste vier mense hul kultuur en identiteit. In multikulturele samelewings kan verskillende kultuurgroepe of toegelaat word om met selfvertroue hul identiteit in die openbaar te vier of kan hulle ontmoedig en selfs aangevat word indien hulle dit doen.
In Suid-Afrika sien ons reeds vir jare hoe Afrikanerkultuur tot die private beperk word. Afrikanerjongmense kan nie meer by staatskole of universiteite hul kultuur uitleef nie. Afrikanerkultuur en die Afrikaanse taal word as uitsluitend of eksklusief afgemaak en lei tot georkestreerde pogings om ‘n soort Engelse, kultuurlose openbare gevoel aan elke instelling in Suid-Afrika op te dwing.
Vir hierdie rede is dit belangrik dat Afrikanerinstellings ondersteun en uitgebou moet word. Orania vier eerskomende naweek tydens hul jaarlikse karnaval dié Afrikanergemeenskap se vyf en twintigste verjaardag. Afrikaner Volkseie Sport se prestasie die afgelope kwarteeu moet ook deur elke Afrikaner gevier word. Die totstandkoming van ‘n kultuureie onder een en twintig rugbytoernooi is op beide die sport- en kultureleterrein ‘n mylpaal. Ook hierdie toernooi moet uitgebou word om in die toekoms ander sportsoorte in te sluit.
Daar is tallle voorbeelde in lande soos Kanada, België, Italië, Spanje en Rusland waar diversiteit nie onderdruk word nie, maar waar minderheidsgroepe bemagtig word om deur hul eie instellings hul taal, kultuur en tradisies lewendig te hou.
As Afrikaners moet ons onsself bemagtig met goeie argumente om ons reg tot eie ruimtes, eie instellings en selfs eie sportbyeenkomste te kan bevestig. Daarmee saam moet ons nie net toeskouers bly nie, maar moet ons self betrokke raak met die bou van ons eie opleidingsinstellings, kultuurorganisasies en gemeenskapsruimtes waar Afrikaners met trots hulself kan wees en met trots na buite kan sê: Ons is hier as Afrikaners en ons is hier om te bly!
by Orania Beweging | Mar 29, 2016 | Nuus |
President Barak Obama van die VSA het onlangs Kuba besoek. Dit is ’n merkwaardige en geskiedkundige besoek, nie die gewone roetine van staatsbesoeke nie. Dit is die eerste besoek van ’n Amerikaanse president aan die Karibiese eiland sedert Calvin Coolidge se besoek in 1928. Die rede vir die lang afwesigheid is natuurlik die koue oorlog tussen die twee lande na die kommunistiese rewolusie in 1959 en die sanksies wat die VSA teen Kuba, ‘n noue bondgenoot van die Sowjet-Unie, ingestel het.
President Obama het die ontspanning met Kuba al ‘n ruk terug begin. Reeds met die begrafnis van oud-president Nelson Mandela het hy en die leier van Kuba, Raoul Castro, hande geskud. ‘n Proses van die normalisering van verhoudinge en die hervat van diplomatieke betrekkinge het daarna gevolg en vlugte na Kuba is ook weer ingestel. Die sanksies teen Kuba bly egter vir eers nog van krag. Die Amerikaanse Kongres sal daaroor moet stem en die meerderheid in beide huise is Republikeine.
Vir mnr. Obama is die voordeel van die ontspanning met Kuba die volgende: hy soek iets soos ‘n nalatenskap as president. Tans word Obama onthou as die president wat meer skuld opgehoop het as enige iemand voor hom, as iemand wat nie sy groot projek, die hervorming van die gesondheidstelsel, kon deurgevoer kry nie en wat sy buitelandse projek van vrede in die Midde-Ooste betref lyk dit ook na ‘n mislukking. Nou wil hy sy presidentskap afsluit op die hoë noot van die beëindiger van een van die VSA se ou konflikte. Natuurlik beteken die ontspanning met Kuba ook ekonomies baie vir die VSA: daar is ‘n hele land met 15 miljoen inwoners wat smag na ontwikkeling en wat gulde geleenthede vir toerisme en infrastruktuurontwikkeling.
Mnr. Obama reken dat die dekade lange sanksies teen Kuba niks gehelp het om die land van sy harde kommunistiese beleid te laat afsien nie. Inteendeel, dit het, pleks om Kuba te isoleer, eerder die VSA teenoor die res van Latyns-Amerika, wat Kuba aanvaar, geïsoleer. Die VSA reken dat verandering in Kuba eerder deur wisselwerking bereik kan word as deur isolasie.
Die ekonomie staan voorop met die besoek en saam met mnr. Obama was honderde verteenwoordigers uit die sakewêreld. Menseregtekwessies s wel as ’n nagedagte aangespreek, soos die talle politieke gevangenes wat nog in Kubaanse tronke is. Die regering van mnr. Castro ontken dit egter en die menseregtekwessie sal op hierdie stadium die nog brose verhouding vertroebel. Menseregteaktiviste in Kuba, soos die damas en blanco (dames in wit) voel dat die VSA hulle versaak ter wille van ekonomiese voordeel.
Kuba se motief vir die uitreik na die VSA is veral ekonomies van aard. Die land is op sy knieë, veral nadat een van sy min bondgenote, Venezuela, wat olie teen voorkeurtariewe aan Kuba voorsien het, self teen die planke is en dit nie meer kan doen nie. Kuba het ‘n geweldige agterstand wat modernisering betref, sy infrastruktuur is verouderd en basiese benodighede skaars.