by Orania Beweging | Mar 24, 2016 | Nuus |
In 1929 skryf die bekende Spaanse filosoof José Ortega y Gasset in sy boek Die Opstand van die Massas dat nasionalisme slegs positief beskou kan word in tye van konsolidasie. Gasset se kritiek op nasionalisme gaan oor die uitwaartse fokus wat baie keer met nasionalisme gepaardgaan. Gasset het hom in die 1920’s beywer vir ‘n sterk volkseenheid in Spanje, maar terselfdertyd was hy gekant teen imperialistiese denke wat keer op keer vernietegende gevolge vir Europese nasies gehad het. Oor Europa skryf hy dat dié kontinent en sy verskillende nasies daargestel is weens volkere se strewe na ‘n groter onderneming of projek.
Die Tweede Wêreldoorlog met sy vernietegende gevolge is ‘n voorbeeld van die soort ongesonde nasionalisme waarteen Gasset gewaarsku het. Die vernietiging van identiteit oor die afgelope paar dekades is egter ook nie die oplossing vir Europa nie. Gasset het in bogenoemde werk juis gewaarsku oor wat met Europese volkere sou gebeur indien hul hul vermoë om ‘n groot volksonderneming aan te pak, sou verloor.
Die Franse skrywer, Pierre Manent, skryf in die jongste uitgawe van die Amerikaanse tydskrif First Things oor die Franse se reaksie op die Duitse okkupasie van Frankryk in Junie 1940. Charles de Gaulle kon soos die Nederlanders en Belge die bitter nederlaag teen die Duitsers aanvaar. Hy het egter die teenoorgestelde gedoen. De Gaulle het sy volk verenig om meer te vermag as slegs die omverwerping van die Duitse okkupasie. Ge Gaulle wou weer seker maak dat elke Fransman die geestelike onafhanklikheid van Frankryk kon herleef en dat Franse hulself tot die projek om ‘n unieke en duidelik identifiseerbare Franse nasiestaat te bou, kon verbind.
Manent sê dat die era van volkseenheid en ‘n eie Franse identiteit egter tot ‘n einde gekom het met die opstande van Mei 1968. Die Franse filosoof Alain Finkielkraut skryf in sy nuutste boek, Ongelukkige identiteit, dat die opstande van 1968 waarby hyself betrokke was teen imperialisme en kapitalisme in Frankryk was. Die uiteinde hiervan was egter ‘n anti-identiteitsbeweging wat vandag in Frankryk, soos in talle Europese lande ‘n hoogtepunt bereik.
Die Amerikaanse historikus, Michael O’Meara, skryf in sy boek New Culture, New Right: Anti-Liberalism in Postmodern Europe dat die mens in post-modernistiese Europa soos ‘n stuk onaktiewe materiaal beskou word en tot ‘n kwantitatiewe abstraktheid, nie meer onderskeidbaar van ander mense op die planeet, gereduseer word.
Volens O’Meara word die moderne Europeër se lewe deur gesiglose kontraktuele ooreenkomste gereël wat hom sodanig isoleer en uit enige konteks haal dat hy geen groot strewes, soos dié waarvoor Gasset gevra het, meer oor het nie.
Beide Finkielkraut en O’Meara beweer egter dat die opkoms van nuwe identiteitsbewegings in Europa moontlik hierdie verlammende posisie kan teenwerk. Indien nie sal Europa weer in wanorde verval. Die spontane bewegings teen die instroming van onwettige immigrante is dalk net daardie groot onderneming waarna Gasset in 1929 verwys het en wat nodig is om volkere in Europa weer trots en eensgesind te maak, sonder dat nuwe imperialisme en kontinentale oorloë nodig is. ‘n Liefde vir die eie land, taal, kultuur en tradisies eerder as ‘n neo-imperialistiese nasionalisme is nou in Europa nodig.
by Orania Beweging | Mar 22, 2016 | Nuus |
Suid-Afrika gons oor die komende plaaslike verkiesing. Elke party het iets spesifiek wat hy wil bewys. Die ANC wil aantoon dat die herrie rondom president Zuma en die Gupta-familie nie hulle steun op voetsoolvlak benadeel nie; die DA wil bewys dat sy swart steun hom werklik ‘n alternatiewe regering maak; die EFF wil wys dat sy lawaaierige politiek die verbeelding van die massas aangryp.
En die Vryheidsfront Plus? Die VF Plus wil aantoon dat Afrikaners toenemend deur hulleself op die politieke verhoog verteenwoordig wil word. Dat die strategie om jou stem aan iemand toe te vertrou wat wel nie jy is nie, maar darem jou belange sal dien, uitgedien is; dat die party ook as spreekbuis vir ander minderhede kan dien.
Oor die jare het die VF Plus aan die beginsel van sellfbeskikking verbind gebly. Rondom 1994 is groot drome van ‘n volkstaat gekoester, een wat “in die lewe geroep” of “verklaar” sou kon word. Dat die Vryheidsfront nie hierdie wonderwerk kon verrig nie, terwyl die NP se kulkunsies ook nie minderheidsbelange kon vestig nie, het die Afrikanervolk in 1999 as’t ware polities laat ontbind. As alternatief het hulle die liberale Demokratiese Party (later die Demokratiese Alliansie, of DA) gekies.
Hoopvolle waarnemers het dit as ‘n tydelike flirtasie met liberale politiek beskryf. Dit was nie. In die Suid-Afrika van na 1994 het klassieke liberale waardes, wat kleur en kultuur miskyk om net meriete raak te sien, skielik vir goed opgeleide, welvarende Afrikaners goed gelyk. Die Vryheidsfront het die Vryheidsfront Plus geword en met elke verkiesing veld gewen, maar die DA het steeds die meeste Afrikanerstemme getrek.
Naas die VF Plus het ook die Solidariteit Beweging (spesifiek AfriForum) Afrikanerbelange behartig, veral deur hofaksies. Hulle het juis die liberale kenmerke van die Suid-Afrikaanse grondwet aangewend om Afrikaners ten minste op ‘n gelyke speelveld te probeer hou.
Daarby het Orania onvermoeid aan die skepping van ‘n alternatiewe bedeling vir Afrikaners gewerk. ‘n Gemeenskap wat voldoen aan die voorwaardes vir langtermynoorlewing, is geskep. Orania het selfs in 2000, met die nuwe “kant-tot-wal” munisipale bedeling politieke erkenning gekry, toe die Orania Verteenwoordigende Raad (OVR) in die lewe geroep is om oor die gemeenskap se munisipale status te onderhandel.
Oraniërs het die kans op selfstandigheid aangegryp en hou sedertdien sy eie verkiesing, telkens wanneer Suid-Afrika munisipale rade verkies. Dit is nie omdat Oraniërs hulle isoleer nie. Inteendeel, Orania skakel juis deurlopend met al die betrokke owerhede en neem aan nasionale en provinsiale verkiesings deel.
Die kinkel in die kabel is dat, met die munisipale verkiesings, ook distriksrade verkies word. Orania erken dat hy deel van die Pixley ka Seme Distriksmunisipaliteit is, maar Oraniërs is nie tevore gemobiliseer om vir daardie raad te stem nie. Dit gaan in 2016 verander.
In die Noord-Kaap is die VF Plus in proses om kandidate in elke munisipaliteit te stel. Dit sal Afrikaners wat vir hulleself kant wil kies, geleentheid te gee om dit te doen. Hoewel die party nie Oraniërs gaan mobiliseer om vir die Tembelihle Munisipale Raad (waarvan die owerhede soms beweer Orania deel is) te stem nie, geld die teenoorgestelde vir die distriksmunisipaliteit.
Die VF Plus se werwing vir die distriksmunisipale verkiesing, vul Orania se strewe aan, soos met die OVR, die Orania Beweging en die Orania Dorpsraad ooreengekom. Laat ons elke Afrikaner, ook elke Oraniër, geleentheid bied om vir vryheid te stem.
by Orania Beweging | Mar 18, 2016 | Nuus |
Orania is vanjaar 25 jaar oud. Terwyl ons die groei en ontwikkeling van ons gemeenskap en breër beweging sal vier, sal baie mense ook kritiek lewer omdat Orania nog klein is en omdat ons nou nie juis gedoen het of vermag het wat hulle graag sou wou sien gebeur nie.
Daar is natuurlik goeie redes vir beide reaksies. Orania staan vandag kop en skouer uit bo enige ander poging tot Afrikanerselfbeskikking. Deur harde werk met eie Afrikanerarbeid en met slegs ons eie kapitaal tot ons beskikking is ‘n afgeleë, verwaarloosde konstruksiekamp omskep in ‘n groeiende, selfstandige gemeenskap van meer as 1300 mense wat hier woon, werk en leef. Meer as 100 klein ondernemings bestaan in Orania, meer as 300 kinders ontvang hier onderrig en die Orania Dorprsraad se begroting het van net meer as R1 miljoen in 2001 tot meer as R27 miljoen in 2015 gegroei. Lang lyste ander prestasies kan opgestel word.
Aan die ander kant is Afrikaners reg om groot te dink en te vra waarom Orania nog nie meer inwoners het of nog nie meer onafhanklik is nie. Waarom betaal julle nog belasting? Waarom het julle nog nie ‘n hospitaal of ‘n universiteit gebou nie? Afrikaners is Westerlinge wat aan die beste gewoond is.
Persone wat negatief oor Orania se vordering voel kan gerus die President van ons Beweging, Carel Boshoff, se boek Verder as Vryheid wat verlede jaar verskyn het, gaan lees. Daarin neem hy deeglik in oënskou die geleenthede wat die Afrikaner gehad het om selfbeskikking in die verlede deur grondwetlike en ander onderhandelings moontlik te maak.
Daar was in ons verlede keer op keer goeie kanse om ‘n Volkstaat moontlik te maak. Selfs net ‘n vorm van federalisme of beperkte territoriale selfbeskikking kon in die vroeë 1990’s beding word. Die vensterperiode vir enige van hierdie opsies het egter jare gelede reeds gesluit en die Afrikaner was meestal weens sy eie hardkoppigheid en interne verdeeldheid daarvoor verantwoordelik dat niks van hierdie geleenthede gekom het nie.
Die probleem waarmee ons vandag sit is dat baie Afrikaners steeds nie besef hoe groot ons verlies was nie. Die verlies aan beheer oor ons eie instellings en die vermoë om ons eie taal, kultuur en beskawing instand te hou, is baie groter as wat meeste Afrikaners besef. Om net te dink dat Kerkplein in Pretoria nog ‘n soort Afrikanerruimte is en dat President Kruger se standbeeld vir altyd daar sal bly staan dui op die naïewe hoop van Afrikaners dat ons nog beheer het oor dinge en plekke wat ons lankal verloor het.
Waar in Suid-Afrika is daar ‘n dorp, ‘n munisipaliteit, ‘n museum, ‘n universiteit of ‘n openbare skool waar die Afrikaner volledig in beheer is? Ons het alles aan die meerderheid afgestaan en onsself tot ‘n minderheid met slegs private beheervermoëns gereduseer.
Tog is daar Orania. Die dorp, sy munisipaliteit, skole, museums, grond, monumente en ander instellings word deur Afrikaners beheer en slegs deur Afrikaners bearbei. Alles wat jy in Orania sien is uit Afrikanerkapitaal ontwikkel. Almal van ons sal graag meer grond, meer instellings (‘n hospitaal en universiteit is hoog op die lysie) en minder belasting aan die Suid-Afrikaanse staat wil sien gebeur. Dink net wat ons kan doen as ons net 20% of 30% van ons belasting van die staat terug kan kry. Die werklikheid is egter dat die tyd vir groot gebeure vir die Afrikaner verby is. Dalk kry ons nog groot negatiewe dinge oor ons volkie se pad, maar die groot positiewe dinge soos ‘n vergunning oor territoriale selfbeskikking is vandag onmoontlik. Ons groot kans op selfbeskikking as ‘n gebeurtenis het in die 1990’s verstryk. Dit is nog net ‘n paar populiste en organisasietjies wat agter rekenaars en faksmasjiene opskiet wat nog by die staat kan gaan aandring dat ons vryheid vir ons op ‘n skinkbord gegee moet word.
Dit is dan ook waarom die Orania-model van selfbeskikking die enigste model is wat die toets van die tyd deurstaan het. Ons model en ons boodskap is nie populisties nie. Ons skree nie Vryheid! van ons dakke af en wag dan dat dit in ons skote val nie. Ons werk hard deur ‘n sterk netwerk van inwoners, omwoners en uitwoners wat almal ‘n bydrae lewer tot die groterwordende selfstandigheid van Orania.
Ons het goeie rede om vanjaar fees te vier oor die groeiende Afrikanerstad Orania se 25 ste verjaardag. Ons het ook rede om die onweerswolke raak te sien en te besef dat ons nog harder moet werk om Orania vinniger groter en sterker te maak.
by Orania Beweging | Mar 15, 2016 | Nuus |
Sondag het een uit elke vier kiesers in die Duitse deelstaat Sakse-Anhalt besluit om vir ‘n politieke party te stem vir wie hulle nog nie voorheen kon stem nie. Ook wesenlike dele van die kieserskorps in Baden-Württemberg en Rynland-Palts het dieselfde gedoen. Vyf jaar gelede met die vorige verkiesing in hierdie deelstate het die Alternatief vir Duitsland nog nie bestaan nie.
Duitsers is bekend daarvoor dat hulle nie sommer maklik vir nuwe politieke partye stem nie. Die regerende Christen-Demokrate van die bondskanselier Angela Merkel en die hoofopposisiepartye die Sosiaal-Demokrate regeer reeds vir dekades in Duitsland.
Die afgelope paar maande het ‘n groot politieke verskuiwing egter in Duitsland begin plaasvind. Met die instroming van onwettige immigrante uit Noord-Afrika en die Midde-Ooste het Merkel aangevoer dat Duitsland weens sy verlede, natuurlik verwysend na die Tweede Wêreldoorlog en die volksmoord op die Jode, moet wys dat hy as land werklik verander het. Hiermee het Merkel bedoel dat die behoud van identiteit nie meer ‘n prioriteit in Duitsland is nie en dat die inneem van meer as een miljoen immigrante uit Derde Wêrellande dus ‘n goeie ding kan wees.
Sedert Merkel hierdie standpunt ingeneem het en Duitsland se grense oopgegooi is, het die harde gevolge van massa-immigrasie uit Derde Wêreldse Moslemlande in gemeenskappe regdeur Duitsland begin afspeel. Die massa-aanranding en molestering van Duitse vroue deur immigrante in Keulen op die aand van 31 Desember 2015 was maar net die grootste van honderde indien nie duisende soortgelyke gevalle nie.
Behalwe vir die groot toename in misdaad deur immigrante het dit die afgelope tyd ook aan die lig gekom dat terroristegroepe soos die Islamitiese Staat reeds duisende van hul vegters, vermom as asielsoekers, na Duitsland gestuur het. Potensiële terroristeaanvalle word gereeld gefnuik.
Die gevolge hiervan is dat Duitsers toenemend in vrees leef. Kinders ry nie meer met fietse skool toe nie, maar word by die skool se hek afgelaai. Dogters moet klere dra wat nie hul arms ontbloot nie omdat jong Moslemmans op hulle vloek as hulle te veel lyf wys. Duitsland het ook ‘n verouderende bevolking. Uit ‘n bevolking van net meer as 80 miljoen mense is slegs 10 miljoen jonger as 18. Reeds sedert die 1960’s vind daar voortdurend immigrasie uit Moslemlande, veral Turkye plaas. Volgens onlangse navorsing kan die Moslembevolking van Duitsland binne die volgende jaar of twee tot 10 miljoen mense styg. Dit beteken demografies dat Duitsland binne die volgende dekades ‘n Moslemland kan word.
Soos wat Duitsers vir hul eie veiligheid vrees en die demografiese werklikheid om hul begin besef, tree meer en meer van hulle verby polities korrektheid en die ou en uitgediende skuldgevoel vir sondes van die verlede. Dit bring mee dat miljoene kiesers bereid is om vir die Alternatief vir Duitsland, ‘n anti-immigrasieparty wat onwettige immigrante na hul ande van herkoms terug wil stuur, te steun. Sondag se verkiesingsuitslag in drie deelstate bewys dat Merkel se oopgrensebeleid misluk het en dat Duitsers ‘n harde boodskap vir haar wou stuur. Volgende jaar sal ‘n federale verkiesing in Duitsland plaasvind en die Alternatief vir Duitsland sal ook dan ‘n top mededinger wees.
by Orania Beweging | Mar 10, 2016 | Nuus |
Orania is gevestig en word ontwikkel met die uitsluitlike doel om vir Afrikaners ‘n ruimte te bied waar ons, ons kultuur en ons nageslag kan floreer.
Orania se ontwikkeling is inderdaad besig om te versnel namate al meer suksesse behaal word en meer Afrikaners in die ideaal belangstel en hul bydraes begin lewer. Ons bevind ons ook in die jaar waarin Orania sy 25ste verjaarsdag vier. Dit is daarom gepas om dit wat bereik is in perspektief te stel.
25 Jaar gelede was Orania ’n flenterdorp wat besig was om uitmekaar te val. Geen Afrikaners het hier gewoon nie en nadat dit deur ’n groep van die Orania Beweging gekoop is, moes infrastruktuur herstel word en ’n ekonomie uit die nuut geskep word.
Volgens die Orania Dorpsraad het Orania in 2015 ’n bevolking van 1085 inwoners gehad. Vir baie mense mag dit min klink, maar die prentjie kry effens kleur wanneer ons dit vergelyk met die hoeveelheid Afrikaanssprekendes in Australiese stede. Die Australiese statistiek is gebasseer op hul sensus van 2011 waarin hulle die moedertaal van alle huishoudings aangeteken het.

Orania vergelyk met Afrikaanssprekendes in Australiese stede
Ten spyte daarvan dat Adelaide ’n bewese ekonomie het en ’n premie vir vaardighede betaal, het daar nie veel meer Afrikaners hulself in Adelaide gevestig as in Orania nie. Die tabel hiernaas dui aan dat Adelaide 1574 Afrikaanssprekende inwoners het, terwyl Perth slegs 8 keer Orania se aantal Afrikaanssprekendes het. Wat ook opmerklik is, is dat daar veel meer Engelssprekende Suid-Afrikaners na Australië verhuis het. In totaal is daar 145 000 gebore Suid-Afrikaners in Australië waarvan slegs 35 000 Afrikaans praat.
Bogenoemde vergelyking tussen Orania en die Australiese stede se Afrikaanse bevolkings is ook interessant wanneer ons sien dat bogenoemde stede van die mees gesogte internasionale bestemmings vir Afrikaners is. Onlangse sensusdata is gebruik om vas te stel hoeveel Afrikaanssprekendes hulself in die verskeie lande bevind en soos die tweede tabel aandui, is die meeste in Australië (ongelukkig kon ek nie soortgelyke inligting vir Kanada vind nie, maar dit is onwaarskynlik dat daar meer Afrikaners in Kanada sal wees as in Australie).

Afrikaanssprekendes in die buiteland
So hoeveel Afrikaners is daar dan in die wêreld en waartoe is ons teoreties in staat indien ons onsself met ander lande vergelyk met vergelykbare bevolkingsgetalle?
Die beste raming waarmee ek vorendag kan kom is dat daar digby 3 miljoen Afrikaners wêreldwyd is, waarvan 90% in Suid Afrika te vinde is volgens die beskikbare statistiek (die naasgrootste bevolking is in Namibië met 92 000 Afrikaners in 2003).
As ons na die VN se bevolkingstatistiek kyk (verwys https://en.wikipedia.org/wiki/List_of_countries_by_population_(United_Nations) ), is daar 60 erkende onafhanklike lande waarvan die bevolkings minder is as die totale aantal Afrikaners. Daar is ook 40 erkende onafhanklike lande met kleiner bevolkings as die Noord-Kaap.
Slowenië is ’n interessante voorbeeld wat vir vergelyking gebruik kan word. Die land het ’n bevolking van net meer as 2 miljoen burgers. Ten spyte daarvan dat dit ’n ontstuimige vorige eeu beleef het (eers deur Kommunistiese onderdrukking en later deur die uitmekaarval van Jugoslawië) en 144ste is wat bevolkingsgroottes betref, is die land se mense die 38ste rykste in die wêreld (op grond van die grootte van die ekonomie gedeel deur die aantal inwoners). Slowenië beskik oor 5 universiteite wat moedertaalonderrig aanbied. Die landjie gaan verder van krag tot krag, sodanig dat dit ook uitgenooi is om deel van die Europese unie te word in 2004.
Kan Afrikaners deur Orania soorgelyke prestasies behaal as die Slowene? Wel, ons het genoeg getalle, en soos hulle sê: ’n Boer maak ’n plan!
by Orania Beweging | Mar 9, 2016 | Nuus |
Dit is seker teen hierdie tyd bekend dat daar in Europa en deels ook in die VSA iets soos ‘n breedweg regse herlewing (sonder om die word “regs”, wat al te dikwels as vloekwoord gebruik is, in die negatiewe konteks te benut) plaasvind. Die media, gewoonlik die bringer van die “slegte nuus” uit hulle oogpunt, gooi almal as “regs” in een pot wat eintlik heel diverse groepe en strominge is: die streng sekulêre, pro-gay maar anti-immigrasie Partij voor de Vrijheid in Nederland, die godsdienstig-konserwatiewe Party Reg en Geregtigheid in Pole, die anti-EU en populistiese (maar sekulêre) United Kingdom Independence Party, die nasionalistiese, maar ekonomies en maatskaplik linkse Front National in Frankryk, die separatistiese Lega Nord in Italië en Vlaams Belang in België, die eerder regs-liberale Deense Volksparty en die patriotiese Vryheidsparty van Oostenryk en die konserwatiewe Switserse Volksparty, om maar enkeles te noem. Ook Donald Trump, nominaal lid van die Republikeinse Party in die VSA, maar wat opinies betref sy eie man wat sê wat hy wil, Wladimir Putin van Rusland en Victor Orban van Hongarye word in dieselfde pot gegooi. Dat daar ook aan die links-populistiese kant van die spektrum ‘n aansienlike herlewing is, byvoorbeeld Podemos in Spanje, Syriza in Griekeland en die Linke in Duitsland, om van talle links-nasionalistiese partye in Katalonië, Baskeland, Skotland e.a. nie eens te praat nie, word dikwels minder uitgebasuin. Hoe dit ook al sy, dit is ‘n feit dat die politieke sentrum oftewel die sogenaamde hoofstroom van gematigd-links tot Christendemokrate, tans uitgekalwe word. Of dit net verband hou met woede oor die “establishment” en hulle swak leierskap in sake soos die Euro-krisis of die vlugetling-instroming, of meer substansie het en van ‘n blywende aard is, sal die tyd moet leer. In sekere lande is sulke partye al goed gevestig en sal hulle die politieke storms seker oorleef (soos Front National in Frankryk), in ander is dit ‘n nuwe verskynsel wat net sowel weer kan verdwyn (soos die Alternative fuer Deutschland in Duitsland).
Die vraag is egter of daardie breedweg “regse herlewing” iets vir ons beteken. Vir meeste van die genoemde partye en persone gaan dit in die eerste plek oor hulle land, hulle mense en hulle belange. Die klein Afrikanervolk in Afrika verskyn vir meeste van hulle nie eens op hulle radar nie. Dit is die nadeel wat ons teenoor diegene het wat deel van die linkse spektrum is. Die ANC en ander revolusionêre bewegings kon en kan staatmaak op die reeds lank gevestigde linkse netwerk, van kommuniste tot sosiaal-demokrate en hulle fokus op internasionale solidariteit eerder op as nasionale belang.
Die nuwe regse partye is ook nog in die proses van vestiging en het tans nie veel kapasiteit om buite hulle lande groeperinge te ondersteun nie. Eers relatief onlangs kon verskeie nasionalistiese en behoudende partye vir die eerste keer ‘n gemeenskaplike fraksie in die Europese Parlement vorm (en dit bevat hoegenaamd nie alle bogenoemde partye nie). Die verdeeldheid binne regse kringe, wat in Suid-Afrika in veral die 1980’s en 1990’s kenmerkend was, geld ook vir ander lande.
Nietemin, die Orania Beweging het met sekere van die partye goed gevestigde bande, met ander is al kontak gemaak. Daar is heelwat by hulle om te leer. As hulle sterker word en meer fondse en meer invloed het, sal dit ons ook iewers baat. Daar is natuurlik ook sekere partye wat die benaming vêrregs en ekstremisties verdien en met wie ons om goeie redes nie kontak wil maak nie (soos die NPD in Duitsland of die Goue Daeraad in Griekeland).
Belangriker as direkte bande is egter die verandering van die politieke klimaat wat aan die gebeur is deur die opkoms van nasionalistiese en populistiese partye. Vir dekades het ‘n links-liberale monopolie op die openbare mening bestaan. Een van die punte van absolute konsensus, wat selfs hoofstroom sentrum-regse partye gedeel het, was dat “almal saam beter is as elkeen op sy eie” of, anders gestel, dat die holistiese beter is as die partikularistiese en meer nog, dat dit ‘n onomkeerbare proses is. Dit is die groot sentiment agter die Europese vereniging, die Verenigde Nasies (VN) met al sy onderafdelings van “globale regering” en dit staan ook agter die begeestering vir die “nuwe Suid-Afrika vir almal” en verduidelik die onaantasbare status van iemand soos Nelson Mandela.
Tans verdedig die links-liberale hoofstroom verbete hulle oppergesag oor die openbare mening, maar geleidelik verloor hulle hul magsposisie. Die oortuiging dat ‘n al hoe nouer, al hoe groter Europese Unie beter is as een van verskeie vaderlande begin toenemend steun verloor. Wêreldwye krisisse wys dat die VN se invloed nie so groot is soos hulle graag dink nie en dat hulle inmenging dinge dikwels net vererger. Ook in Suid-Afrika is dit intussen duidelik (al mag dit nog nie-amptelik erken word nie) dat die model van die groot, sentralistiese land vir almal misluk het omdat dit ‘n onoorkombare teenstrydigheid bevat. Hoe groter jy raak, hoe meer lomp en hoe minder effektief raak j yen hoe meer word minderhede afgeskeep.
Enige party, enige openbare diskurs, enige internasionale gebeurtenis wat aantoon dat lande, volke en groepe op hulle eie beter funksioneer as in ‘n gedwonge en kunsmatige eenheid, maak ons argumente meer aanvaarbaar en gee ons meer gehoor en meer steun. Ons vordering hang nie af van buitelandse steun nie, maar die verwikkelinge wat daar aan die gang is, is ‘n teken dat die gety besig is om te draai, tot ons voordeel.