fbpx

KarabachLatyns-Amerika

Brasilië: storm bou op rondom president Rousseff. ‘n Gebeurtenis vergelykbaar, maar selfs erger as die herrie oor president Zuma en sy talle korrupsiesake, ontvou tans in Brasilië. Die president, mev. Dilma Rousseff, is tans 14 maande in haar tweede termyn en die druk om te bedank neem geweldig toe. Sy word beskuldig van korrupsie wat verband hou met die tyd toe sy direkteur van die staatlike oliemaatskappy Petrobras was. Petrobras het massief politici van die regerende Arbeidersparty omgekoop. Maar dit is slegs die punt van die ysberg. Daar is talle verskeie korrupsiesake behalwe die een van Petrobras. Die koalisievennoot van die regerende Arbeidersparty PTB, het uit die koalisie onttrek en die opposisie wil die president in ‘n staat van beskuldiging plaas, waarvoor ‘n tweederdemeerderheid in die parlement nodig is. Soos in Suid-Afrika word alle betogings en kritiek op die president gekonsenteer en scenarios vir die tyd na haar bedanking gemaak, met hervormers en ‘n regering van nasionale eenheid in beheer.

Net soos in Suid-Afrika is die president egter net die gesig van ‘n strukturele probleem wat nie deur die vervanging van die leier opgelos sal word nie. Daar is verbasende parallelle tussen Suid-Afrika en Brasilië: al twee is opkomende lande µm ‘n sterk multi-kulturele bevolking, groot spanning tussen sentrum en periferie en al twee is lede van die BRICS-groep. Brasilië se ekonomie en bevolking en oppervlakte is wel heelwat groter, maar al twee is ook in hulle onderskeie vastelande die streeksmoondhede. Al twee word regeer deur sosialistiese partye wat al lank aan bewind is en wat alle sleutelposisies in die staat met sy aanhangers beset het. Daar bestaan nog steeds op die opposisie en ‘n onafhanklike regsbank. Al twee regerings hou hulleself aan bewind deur massiewe welsynstoelaes vir die groot getalle armes wat met elke verkiesing vir hulle stem en dit word gefinansieer deur hoë en groeiende belasting en skuld. Die staatskwota wat werksverskaffing en begroting betref is baie hoog in al twee lande en die korrupsie en rompslomp van die regering vind sy voortsetting op provinsiale en munisipale vlak.

Beide lande se inkomste is grootliks afhanklik van hulpbronne en handel met Sjina en die insinking in aanvraag vir hulpbronne en dalende pryse tref beide lande hard. Vakbondvriendelike wetgewing en talle hindernisse vir besighede ontmoedig werkskepping en ondernemerskap.

Wat die twee lande wel onderskei is dat ras en rassisme oftewel anti-rassisme in Suid-Afrika amper alles is (volgens die regering en meningsvormers) en elke vraagstuk en probleem ‘n rasse-kinkel het, terwyl Brasilië uitgesproke nie-rassig is en dit baie sterk onderbeklemtoon.

Europa/Midde-Ooste

Armenië/Azerbaidsjan: herleef die oorlog oor Nagorno-Karabach? Een van die “gevriesde” konflikte wat deel was van die verbrokkeling van die Sowjet-Unie en die magsvakuum wat dit geskep het, die konflik rondom die enklave Nagorno-Karabach, is besig om weer te herleef.

Kort oorsig en agtergrond: Armenië en Azerbaidsjan is al twee voormalige Sowjet-republieke (etniese deelstate) wat na die ontbinding van die Sowjet-Unie onafhanklik geword het. Onmiddelik het hulle in konflik gekom oor die enklave Nagorno-Karabach, ‘n gebied met sowat 200 000 inwoners en ? km² wat territoriaal deel van Azerbaidsjan is, maar wat deur etniese Armeniërs bewoon word wat graag by hulle moederland wou aansluit. Behalwe die etniese verskille is daar ook godsdienstige verskillende tussen die Christelike Armeniërs en die Moslem Azeris. Kultureel en taalkundig is die Armeniërs ‘n oeroue en unieke volk, terwyl die Azeris deel is van die Turk-volke uit Sentraal-Asië en Turkye tradisioneel hulle vriend (en Armenië se vyand) is. Met behulp van sowel Armenië en Rusland kon die Armeniërs van Karabach egter daarin slaag om die Azerbaidsjan-beheer uit te dryf en hulleself eensydig onafhanklik te verklaar na ‘n oorlog in die vroeë 1990’s met 30 000 gesneuweldes. In praktyk het Nagorno-Karabach egter by Armenië aangesluit en die gebied tussen Armenië en Karabach is ook verower. In 1994 is ‘n wapenstilstand onderhandel maar die konflik is net gevries omdat Azerbaidsjan nie die verlies van sy grondgebied aanvaar het nie. Vir meer as 2 dekades het die twee lande vir mekaar gegrom. Turkye het die grens met Armenië gesluit en die land het ekonomies swaar gekry en het net via Georgië ‘n lewenslyn na buite gehad.

Huidige situasie: Nou het die konflik weer warm geraak, met gevegte wat oor die naweek langs die wapenstilstand linie uitgebreek het. Sowat 30 soldate en enkele burgerlikes is so vêr in die gevegte dood. Wie daarvoor verantwoordelik is, is nie duidelik nie, maar Azerbaidsjan, wat die vorige oorlog verloor het, het belang in ’n hervatting van die militêre konflik, terwyl Armenië tevrede is met die status quo. Azerbaidsjan het die afgelope paar jaar sy inkomste uit olieverkope gebruik om op groot skaal wapens aan te koop. Rusland verskaf wapens aan al twee kante, maar is polities ‘n ondersteuner van Armenië, terwyl Turkye en ander Moslem-lande aan Azerbaidsjan se kant is. Die twee lande lê op ‘n breuklyn tussen twee beskawings, naamlik die Russiese beskawing en die Moslem-beskawing en die oorlog is nie net ’n konflik tussen twee onbelangrike klein lande nie, maar ‘n potensiële streekskonflik. Sedert die afskiet van ’n Russiese vegvliegtuig deur Turkye het die twee lande in elk geval ‘n byltjie om te slyp en as die twee moondhede ingryp dan is nog ‘n volgende brand in die reeds uiters labile gebied gestig.

 

0 Comments

Submit a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.

2 × four =