fbpx

0aDie afgelope naweek het ‘n redelike klein Afrikanersportbyeenkoms met groot simboliek plaasgevind. Die eerste onder een-en-twintig Bokkieweek rugbytoernooi het in Orania plaasgevind. Byna 150 rugbyspelers uit ses streke van die land het aan hierdie eerste byeenkoms van sy soort deelgeneem.

Bokkieweek is reeds ‘n bekende naam. Jaarliks gedurende die winterskoolvakansie neem byna 3000 Afrikanerkinders aan hierdie nasionale rugby-, netbal- en hokkietoernooi deel. Afrikaner Volkseie Sport (AVS), wat die Bokkieweek aanbied, vier vanjaar sy vyf en twintigste verjaardag.

Orania, waar die toernooi plaasgevind het, is ook vanjaar vyf en twintig jaar oud. Behalwe vir goeie rugby wat by die byeenkoms plaasgevind het, kon AVS en Orania dus ook saam hul eerste vyf en twintigjaar vier.

Die onder een en twintig toernooi is moontlik gemaak deur die borgskap en visie van AfriForum en dié instelling se leierskap. Op die sportterrein soos op talle ander terreine het politieke inmenging en diskriminerende kwotastelsels die afgelope paar jaar Afrikaners negatief geraak.

Afrikaners was nog altyd lief vir sport en soos in talle ander kulture bied deelname aan sportgeleenthede die geleentheid aan mense om van jongs af die dissipline wat sport vereis, te bemeester. Sportbyeenkomste bied egter ook die geleentheid om jou kultuur en identiteit te vier.

Selfs op die hoogste internasionale vlak soos die Olimpiese Spele en sokker-, rugby- en krieketwêreldbekerbyeenkomste vier mense hul kultuur en identiteit. In multikulturele samelewings kan verskillende kultuurgroepe of toegelaat word om met selfvertroue hul identiteit in die openbaar te vier of kan hulle ontmoedig en selfs aangevat word indien hulle dit doen.

In Suid-Afrika sien ons reeds vir jare hoe Afrikanerkultuur tot die private beperk word. Afrikanerjongmense kan nie meer by staatskole of universiteite hul kultuur uitleef nie. Afrikanerkultuur en die Afrikaanse taal word as uitsluitend of eksklusief afgemaak en lei tot georkestreerde pogings om ‘n soort Engelse, kultuurlose openbare gevoel aan elke instelling in Suid-Afrika op te dwing.

Vir hierdie rede is dit belangrik dat Afrikanerinstellings ondersteun en uitgebou moet word. Orania vier eerskomende naweek tydens hul jaarlikse karnaval dié Afrikanergemeenskap se vyf en twintigste verjaardag. Afrikaner Volkseie Sport se prestasie die afgelope kwarteeu moet ook deur elke Afrikaner gevier word. Die totstandkoming van ‘n kultuureie onder een en twintig rugbytoernooi is op beide die sport- en kultureleterrein ‘n mylpaal. Ook hierdie toernooi moet uitgebou word om in die toekoms ander sportsoorte in te sluit.

Daar is tallle voorbeelde in lande soos Kanada, België, Italië, Spanje en Rusland waar diversiteit nie onderdruk word nie, maar waar minderheidsgroepe bemagtig word om deur hul eie instellings hul taal, kultuur en tradisies lewendig te hou.

As Afrikaners moet ons onsself bemagtig met goeie argumente om ons reg tot eie ruimtes, eie instellings en selfs eie sportbyeenkomste te kan bevestig. Daarmee saam moet ons nie net toeskouers bly nie, maar moet ons self betrokke raak met die bou van ons eie opleidingsinstellings, kultuurorganisasies en gemeenskapsruimtes waar Afrikaners met trots hulself kan wees en met trots na buite kan sê: Ons is hier as Afrikaners en ons is hier om te bly!