fbpx

IMG_1670Orania is vanjaar 25 jaar oud. Terwyl ons die groei en ontwikkeling van ons gemeenskap en breër beweging sal vier, sal baie mense ook kritiek lewer omdat Orania nog klein is en omdat ons nou nie juis gedoen het of vermag het wat hulle graag sou wou sien gebeur nie.

Daar is natuurlik goeie redes vir beide reaksies. Orania staan vandag kop en skouer uit bo enige ander poging tot Afrikanerselfbeskikking. Deur harde werk met eie Afrikanerarbeid en met slegs ons eie kapitaal tot ons beskikking is ‘n afgeleë, verwaarloosde konstruksiekamp omskep in ‘n groeiende, selfstandige gemeenskap van meer as 1300 mense wat hier woon, werk en leef. Meer as 100 klein ondernemings bestaan in Orania, meer as 300 kinders ontvang hier onderrig en die Orania Dorprsraad se begroting het van net meer as R1 miljoen in 2001 tot meer as R27 miljoen in 2015 gegroei. Lang lyste ander prestasies kan opgestel word.

Aan die ander kant is Afrikaners reg om groot te dink en te vra waarom Orania nog nie meer inwoners het of nog nie meer onafhanklik is nie. Waarom betaal julle nog belasting? Waarom het julle nog nie ‘n hospitaal of ‘n universiteit gebou nie? Afrikaners is Westerlinge wat aan die beste gewoond is.

Persone wat negatief oor Orania se vordering voel kan gerus die President van ons Beweging, Carel Boshoff, se boek Verder as Vryheid wat verlede jaar verskyn het, gaan lees. Daarin neem hy deeglik in oënskou die geleenthede wat die Afrikaner gehad het om selfbeskikking in die verlede deur grondwetlike en ander onderhandelings moontlik te maak.

Daar was in ons verlede keer op keer goeie kanse om ‘n Volkstaat moontlik te maak. Selfs net ‘n vorm van federalisme of beperkte territoriale selfbeskikking kon in die vroeë 1990’s beding word. Die vensterperiode vir enige van hierdie opsies het egter jare gelede reeds gesluit en die Afrikaner was meestal weens sy eie hardkoppigheid en interne verdeeldheid daarvoor verantwoordelik dat niks van hierdie geleenthede gekom het nie.

Die probleem waarmee ons vandag sit is dat baie Afrikaners steeds nie besef hoe groot ons verlies was nie. Die verlies aan beheer oor ons eie instellings en die vermoë om ons eie taal, kultuur en beskawing instand te hou, is baie groter as wat meeste Afrikaners besef. Om net te dink dat Kerkplein in Pretoria nog ‘n soort Afrikanerruimte is en dat President Kruger se standbeeld vir altyd daar sal bly staan dui op die naïewe hoop van Afrikaners dat ons nog beheer het oor dinge en plekke wat ons lankal verloor het.

Waar in Suid-Afrika is daar ‘n dorp, ‘n munisipaliteit, ‘n museum, ‘n universiteit of ‘n openbare skool waar die Afrikaner volledig in beheer is? Ons het alles aan die meerderheid afgestaan en onsself tot ‘n minderheid met slegs private beheervermoëns gereduseer.

Tog is daar Orania. Die dorp, sy munisipaliteit, skole, museums, grond, monumente en ander instellings word deur Afrikaners beheer en slegs deur Afrikaners bearbei.  Alles wat jy in Orania sien is uit Afrikanerkapitaal ontwikkel. Almal van ons sal graag meer grond, meer instellings (‘n hospitaal en universiteit is hoog op die lysie) en minder belasting aan die Suid-Afrikaanse staat wil sien gebeur. Dink net wat ons kan doen as ons net 20% of 30% van ons belasting van die staat terug kan kry. Die werklikheid is egter dat die tyd vir groot gebeure vir die Afrikaner verby is. Dalk kry ons nog groot negatiewe dinge oor ons volkie se pad, maar die groot positiewe dinge soos ‘n vergunning oor territoriale selfbeskikking is vandag onmoontlik. Ons groot kans op selfbeskikking as ‘n gebeurtenis het in die 1990’s verstryk. Dit is nog net ‘n paar populiste en organisasietjies wat agter rekenaars en faksmasjiene opskiet wat nog by die staat kan gaan aandring dat ons vryheid vir ons op ‘n skinkbord gegee moet word.

Dit is dan ook waarom die Orania-model van selfbeskikking die enigste model is wat die toets van die tyd deurstaan het. Ons model en ons boodskap is nie populisties nie. Ons skree nie Vryheid! van ons dakke af en wag dan dat dit in ons skote val nie. Ons werk hard deur ‘n sterk netwerk van inwoners, omwoners en uitwoners wat almal ‘n bydrae lewer tot die groterwordende selfstandigheid van Orania.

Ons het goeie rede om vanjaar fees te vier oor die groeiende Afrikanerstad Orania se 25 ste verjaardag.  Ons het ook rede om die onweerswolke raak te sien en te besef dat ons nog harder moet werk om Orania vinniger groter en sterker te maak.