by Orania Beweging | Apr 26, 2016 | Nuus |
Ek het onlangs die aangrypende dokumentêr “Boere op die Aardsdrempel” gekyk, wat handel oor die nasate van die Boere (hulle het hulleself destyds nog nie Afrikaners genoem nie) wat na die neerlaag in die Tweede Vryheidsoorlog na Patagonië, ‘n streek in Argentinië, geëmigreer het om nie onder Britse beheer te staan nie. Dit is die enigste historiese Afrikaanse gemeenskap buite Afrika, met ander woorde, die enigste Afrikaners wat Suid-Afrika as groep verlaat het voor die post 1994-emigrasiegolf. Daar was ook kort na die Tweede Vryheidsoorlog ‘n groep Boere wat na Tansanië, destyds nog ‘n Duitse kolonie, uitgewyk het, maar hulle is almal in die 1960’s, toe die land onafhanklik geword het, terug na Suid-Afrika. Ook van die Boere in die Argentinië is enkeles na die stigting van die Unie van Suid-Afrika in 1910 terug na Suid-Afrika, maar die meeste het agtergebly. Vandag is daar nog sowat 300 Boere-nasate wat nog Afrikaans praat oor, maar heelwat meer as hulle Spaanssprekende kinders en kleinkinders bygetel word.
Die nasate, meesal ou mense wat nog Afrikaans praat soos Thys Dickason en Jan Myburgh, vertel hoe hulle ouers of grootouers met die skepe in die hawedorp Commodore Rivadavia in die verre, ongenaakbare suide van Argentinië aangekom het en van daaraf in die omgewing gevestig het, meesal as skaapboere soos wat dit destyds gebruiklik was (en wat destyds die enigste ekonomiese aktiwiteit in die streek was). Die meeste van hulle het swaar gekry maar hulle het wel as gemeenskap saamgestaan en vir meer as honderd jaar hulle tradisies en gewoontes behou.
Die handjievol Boere-nasate is nog steeds ‘n gemeenskap en hou gesamentlike kuiertjies en selfs ‘n jaarlikse boeresportdag om hulle tradisies lewend te hou, maar slegs die ou mense praat nog Afrikaans of boer, hulle kinders en veral kleinkinders kan slegs Spaans praat en is gewoonlik met Argentyne van Spaanse afkoms getroud en woon in dorpe. Die jonger generasies het nog steeds ‘n mate van trots in hulle afkoms, maar dit is meer folkloristies van aard as wat dit werklik deel van hulle identiteit is. Die godsdiens, wat vir die Boere so sentraal staan, het nie juis ter sprake gekom nie en die kerk as saambindende faktor speel nie meer so ‘n groot rol soos vroeër nie. Ook die byeenkomste en uitlewing van kultuur word geleidelik minder en by talle van die nasate is die Afrikaanse of Suid-Afrikaanse identiteit sekondêr.
Veral aangrypend is die deel waar Thys en Jan, wat die meeste in die dokumentêr voorkom, genooi word om Suid-Afrika die eerste keer in hulle lewe te besoek en om by hulle familie te kuier, en om te sien hoe hulle die land van hulle voorwaders ervaar. Opvallend daarby is hoe welvarend hulle neefs en niggies in Kaapstad, Philipstown en Hartebeespoortdam is en hoe voorspoedig, georganiseerd en netjies dit in teenstelling met hulle eie armoedige omstandighede is, maar ook hoe die taal en die familiebande hulle verbind.
Enkele lesse vir emigrante in die algemeen en vir Afrikaners in die besonder kom uit die dokumentêr na vore:
- Jy kan jou taal, jou godsdiens en jou kultuur met veel moeite vir ‘n generasie of twee behou, maar uiteindelik word jy soos jou omgewing. Die Afrikaner-emigrante se genepoel was ook te klein en dus moes hulle noodgedwonge met die mense van hulle nuwe tuisland vermeng, en die jonger generasie, veral waar hulle in plaaslike skole is en die taal van die nuwe land gemakilk praat, meng vrylik.
- Om ‘n nuwe begin in ‘n ander land te maak is swaar, en welvaart is baie selde vir die eerste of selfs vir die tweede generasie beskore.
- Die stryd vir vryheid moet ‘n aksie van die volk as geheel wees, en dit vind plaas in die moederland, of daar waar die grootste konsentrasie is. Die lot van die Jodse volk, byvoorbeeld, word in Israel bepaal, nie in die VSA of in Europa nie.
- Die wiel draai. Die Boere wat na Argentinië verhuis het om nie onder Britse beheer te staan nie, het nie geweet dat hulle volk sowat 50 jaar later weer in volle beheer van die land sou wees nie en ‘n tyd van voorspoed en hoogbloei sou beleef, terwyl hulle in Argentinië begin wegkwyn het.
- Die gras is nie altyd groener aan die ander kant nie. Die immigrasie na Patagonië was ‘n ontnugtering en die bittereinders het weer bitterbeginners geword in ‘n streek wat nog harder en meer uiters as die Karoo is. Hulle stryd was vir ekonomiese oorlewing, nie vir politieke vryheid nie, want die politieke stryd van die Afrikaners is in Suid-Afrika geveg en gewen.
- Elke land sorg eerste vir sy eie mense. Immigrante moet gewoonlik tevrede wees met die oorskiet. Die Boere in Patagonië het die dele gekry wat die Argentyne nie voor kans gesien het nie. Toe later olie op hulle grond gevind is, is dit deur die regering opgeeis en ontgin, en die Boere-nasate kon hoogstens werkers in die oliebedryf word.
Ek het groot deernis met die Boere-nasate en hou van die mense wat in die dokumentêr gewys word. Hulle is op ‘n manier nog steeds “onse mense”, hulle het hartlikheid, ongekunsteldheid, eerlikheid, liefde vir die grond en gasvryheid wat so kenmerkend van die Afrikaners is, maar dit voel soos ‘n kooltjie wat uit die vuur geruk en eenkant gegooi is en daar alleen stadig doodgaan. Daarom is konsentrasie so belangrik.
Terloops, “Boere op die Aardsdrempel” is beskikbaar by Orania Beweging se boekwinkel.
by Orania Beweging | Apr 25, 2016 | Nuus |
Tans is die Orania Beweging besig met ‘n suksesvolle veldtog om die belangrikheid van grond by Afrikaners tuis te bring. Nuwe lede van die Orania Beweging ontvang ‘n sleutelhouer met ‘n bietjie grond uit Orania in om daardeur te sê dat Orania-grond hulle grond is, Afrikaner-grond.
Die klem wat ons op grond plaas is in teenstelling met die post-moderne tendens van ongebondenheid, van ‘n lewe wat as ‘t ware permanent vloeiend is, van mense wat geen tuiste het nie en ewe gemaklik in alle wêreldstede is en wie se tuiste ‘n hotelkamer met wi-fi is. Geld word virtueel met “idees” gemaak en geld hoef nie eers meer regte valuta wees nie, dit kan selfs die virtuele Bitcoin wees. Ten spyte van die geweldige moontlikhede wat die virtuele wêreld bied, bly ek maar skepties en sou ook nooit in ‘n maatskappy belê wat niks op sy naam het behalwe ‘n webblad en ‘n jong bleeksiel as CEO nie. Die siklus van “boom and bust” raak al hoe vinniger met hierdie soort denke, waar geld in iets belê word wat niks produseer en niks tasbaar verkoop nie.
Die post-moderne mens beskou grond as oorbodig: kos kom van ‘n internasionale kettingwinkel en toenemend per aflewering na bestelling oor die net en dit kan op enige plek, selfs sonder grond in ‘n laboor gekweek wees. Die werklikheid is veral virtueel: vir die internet en alles wat daarmee saamgaan het jy nie meer geboue en nog minder grond nodig: jy plaas virtuele geld virtueel oor, lees boeke op jou slimfoon, gesels via skype, luister musiek oor die internet ensovoorts. Selfs in die kringe van behoudende Afrikaners is die virtuele sterk teenwoordig, uit gebrek aan alternatiewe: op facebook kan jy vir ure oor ‘n volkstaat gesels en kaarte en modelle optrek, maar dit bring jou nie nader aan die werklikheid wat in Orania uitgeleef word nie.
Grond staan egter vir ‘n werklikheid, vir iets waarop jy kan staan, wat vir jou vastigheid gee. Tradisioneel is grond iets wat jy bewoon, bebou en bewerk om dit aan die volgende generasie oor te dra. Dit word nie bewoon deur individue nie, maar deur groepe, gemeenskappe en volke. Jy het grond nodig om geboue soos skole, biblioteke, kerke, teaters en kuierplekke op te rig, om instansies te vestig, om kos te verbou, om vir grondwater te boor. Grond is ook deel van die mens: die mens is volgens die Bybel se skeppingsgeskiedenis uit grond gevorm, die kos wat ons eet kom uit die grond en dit wat daarvan oorbly keer terug na die grond toe.
Grond het nie net vir swartmense ‘n sterk emosionele betekenis nie, maar ook vir Afrikaners. Al is net nog ‘n klein minderheid Afrikaners in die landbou werksaam, verlang talle na ‘n lewe naby die grond en is die ideaal vir Afrikaners om in ‘n landelike opset te woon (al is dit ‘n nagebootse een, soos in die talle leefstyl landgoede teenaan die stede).
Grond moet gekoppel wees aan die mense wat daarop bly. Daarom het ons simpatie met inheemse volke wat veg daarteen dat hulle ter wille van minerale ontginning van hulle grond verwyder word. Grond moet natuurlik ook vir kommersiele doeleindes gebruik word, maar so dat die mense wat dit besit, dit ook bewerk en die vrugte daarvan pluk. In die woorde van wyle prof. Carel Boshoff: Vir die Afrikaner is grond waaroor besluit moet word meer as net landbougrond, dit is die ruimte vir sy oorlewing, waar hy stede en dorpe bou, sy instellings oprig en sy selfbeskikking uitoefen (Die Grondvraag: langtermynkeuse vir die Afrikaner. Epog grondberaad 2007).
‘n Vrye volk het eie grond nodig, ook in tye van globalisering.
by Orania Beweging | Apr 22, 2016 | Nuus |
Ek kan sekerlik nie die blaam vir die toestand van wetteloosheid en losbandigheid in ons land, asook die res van wêreld s’n, alles op een persoon lê nie. Ek gaan in elk geval probeer…
Jare gelede, in die Jakarandastad, was daar ’n verskynsel te bespeur, soortgelyk aan die Wildebees migrasie in die Serengeti. Hierdie migrasie was nie seisoenaal nie, maar het homself in sewedag-siklusse herhaal. Vyf dae van die werksweek was die normale migrasie vanuit die volk se woonplekke na hul weivelde te bespeur, gewoonlik die stadige kruip vanuit die Ooste na die Weste. Op een van hierdie migrasie roetes was daar egter weekliks, op die tweede dag, ’n anomalie. Soos die volk vloei, Oos na Wes, kon mens op die Lynnwoodweg roete hierdie ander verskynsel bespeur: Die trek van die Tokkelokke.
Die rede vir hierdie uitsonderlike trek, teen die vloei van die trop, was die feit dat tokkelokke, anders as die Christelike kerke, wat net op Sondae eredienste hou; anders as die Sabbatariërs wat die Saterdag heilig, die heilige Maandag ook gevier het. Dit is juis op so ’n heilige Maandag wat ek die oorsaak vir die huidige verval in ons land bepaal. Ground Zero as’t ware.
Op heilige Maandag trek die tokkelokke, Datsun bakkies, Toyota Conquests, ou Corollas, Peugeot 504 stasiewaens, Volkswagen Beatles en ou Golfies, teen die volk-vloei, na Pretoria Oos gemeente se kerkgebou, in die Ooste. Vanuit hoofsaaklik Sunnyside en Hatfield, verby Loftus en Tuks, Lynnwoodweg-langs beweeg hulle, altyd op die uitkyk vir mooi karre met blondines of brunette. Ons kom egter byeen vir een van die wreedste en mees angswekkende byeenkomste in die mensdom, die gevreesde klaspreek.
Op hierdie heilige Maandag , staan die laer onder die koelte bome buite die kerkgebou uitgespan. Binne die gebou, in die voorste gestoeltes sit die sesde-jaar studente: Vroom, intellektueel, gevorm en diep teologies begrond. In die tweede ry sit die vyfde-jaar studente: Baadjies, dasse, tasse en notas, gereed en gerat om velle kritiek los te laat op die teiken. Agter hulle die vierdejaars, hul eerste jaar in teologie: Benoud, bleek en bekommerd. Agter hulle so ’n klompie B.A.-studente wat gekom het om die slagting te aanskou: Al wat hulle kort is popcorn. Eenkant sit die Professor in praktiese Teologie, gevrees, gerespekteerd en geduldig en voor, by die trappies van die kansel, staan die bewende student. Op heilige Maandag stop jy daar, nie om te bid vir leiding en wysheid nie maar om bewaring.
Miskien kan ek vinnig hier vertel van die herhalende drome wat elke tokkelok tydens sy studente dae gedroom het. Mens sou dink dat dit drome was van skares wat aan jou lippe hang, heidene wat tot inkeer kom onder jou inspirerende prediking, die volk wat tot bekering kom soos in Esra se tye, maar nee, die herhalende droom is van daardie tipe wat jou laat wakker skrik, sopnat gesweet en angstig. ’n Tokkelok droom van die kansel, van hoe hy daar bo staan, moet begin met die preek en tot groot benoudheid agterkom, dat hy nie sy broek aan het nie. Die sonder-broek-preek-verskynsel.
Ek is oortuig dat daardie Maandag se slagoffer tokkelok, juis in sy eerste jaar Teologie, so ’n droom gehad het. Indien nie, moes hy dalk maar eerder, want wat volg is juis rede vir my inleidende stelling.
Heel bleek en benoud pak hierdie jongman sy boeke uit, kry sy notas gereed en begin, vol valse selfvertroue, met ‘n bulderende “Ek slaan my oë op na die berge…”. Na die seëngroet afgebid is, ons mag dit nog nie uitgespreek het voordat ons as predikante bevestig is nie en ons Psalm 100 vers 1 gesing het, kondig die tokkelok die wet aan. “Geliefdes, ons toets en reël van ons dankbaarheidslewe vind ons in Exodus hoofstuk 20…”
Geduldig en gefassineer aanskou ek die jongman daar op die kansel. Ek sien hoe sy heen en weer blaai in die Bybel al hoe meer vasberade en later verbouereerd raak. Sy normale rooierige gelaat, word eers asvaal en geleidelik weer rooier en rooier soos hy rondblaai en soek. Met ’n beweging, wat na die wegraping lyk, verdwyn sy, nou reeds bloedrooi, gewaad agter die kansel en mikrofoon nog steeds aan, hoor mens sy benoude prewel en vervaarde soektog. Na, wat selfs vir ons nou al ‘n ongemaklike stilte was, verskyn sy pers gesig bo die kanselkleed, met ’n “God voorsien” in goue letters deur ’n tannie geborduur. “Professor” hoor ons sy, so ’n paar toonhoogtes te hoë, manstem. Prof…ek is jammer, maar hierdie Bybel het nie die wet in nie, Professor….Die wet is weg!
Heilige Maandag, Ground Zero, die begin van die einde, D-dag, ’n kataklismiese: Die Wet is weg! Ek kyk vandag om my rond en ek blameer hóm hiervoor.
by Orania Beweging | Apr 21, 2016 | Nuus |
In die vêr Bosveld, daar waar die mense van Potgietersrus en Warmbad as die voorwêreld praat, tref mens ’n besondere tipe boustyl aan. Dit is daardie geboue, gewoonlik wit, oorspronklik ’n vierkantige vorm, met generasies uitgebrei en aangebou om ’n “H” te maak. Hierdie geboue het gewoonlik twee deure na buite (of binne afhangende van jou bestemming) maar slegs een is in gebruik, die agterdeur of algemeen bekend as die kombuisdeur. In hierdie eerste vertrek of kombuis tref mens ‘n groot houttafel aan, met koperpotte en panne wat van ’n balk hang, gewoonlik ’n pruttende keteltjie op die koolstoof ook en teen een muur daardie yskaste wat lyk of dit ’n genepoel met ’n 1950 Plymouth deel. Die ander deur is die een wat die Dominee gebruik en lei na die fênsie sitkamer.
Hierdie geboue staan bekend as die Plaas Opstal of die Plaashuis en die reuk van dekades se pyptabak, Dubin, droëwors en houtvuur bring altyd mens nostalgies voor die mure en mure vol familiefoto’s en die geelhout of imbuia sideboard vol Delft, porseleinklokkies en ou Keyser pype.
In juis so ’n opstal tref ons in hierdie vertelling een van my predikant kollegas aan, in die dominee-sitkamer, met die maroen fluweel bal-en-klou-stoele en bypassende koffietafel met die familie-Bybel en ’n ou FAK. Hy sit, op die half ongemaklik hoë stoel, rug teen die oop venster waar die leeu-grootte boerboel net-net nie sy hele kop kan deurdruk nie; langs die ou traporreltjie met die ou Halleluja-sangbundel oop op lied 290, Nader my God by U.
Hier sit hy, bloedrooi gebloos, skuins bo sy kop die gehekelde gelofte van 16 Desember en hy hakkel soos ’n Colyn voor ’n krygshof. In sy hand al bewyse wat nodig is vir summiere skuldigbevinding.
Miskien moet ek die tydsverloop 2 minute 18 sekondes terugspeel. Weleerwaarde heer Dominee ontvang sy spesiaal gemaakte koppie tee van die vrome ou tante. Sy beweeg, al skuifelende terug kombuis toe om boerbeskuit, Jan Smuts-koekies en droëwors te gaan haal. Hy mik mondwaarts met sy stomende koppie. In die draaikolk van sy suiker-roer gewaar hy dit. Meeste van julle sal dit ken, daardie glimmerende groen en swart bondeltjie. Binne hierdie maalkolk-koppie tee gewaar hy ‘n enorme brommer. Nou hoe waar sy vertelling is, kan ek nie bevestig nie, maar hierdie, volgens hom, sentimeter lange vlieënde gogga, laat dadelik sy maag draai. Sy dilemma is van ’n Christelik-Etiese aard: Drink hy dit, oortree hy sy eie persoonlike daar-en-dan-opgestelde reinheidsgebod; vertel hy die tante, maak hy haar gevoelens seer en stel haar in die verleentheid. Hier sit hy tussen ’n brommer en ’n harde plek en soos dit ’n goeie Dopper-dominee betaam maak hy ’n flink plan. Met een vinnige kyk meet hy die oop venster, waar De la Rey, die boerboel, se kop nou-nou ingeloer het en met ’n blitsige beweging swaai hy die koppie oor sy linkerskouer. Met dié handeling maak hy twee kardinale berekeningsfoute: Eerstens oorskat hy fine China se vermoë om vensterbank-impak te absorbeer en tweedens misgis hy sy eie mik vermoë.
Hier sit hy nou, fine China koppie-oor in sy hand; fine China koppie, stomende Vyf Rose en halfgaar brommer buite by De La Rey; met die tante se naderende geskuifel hoorbaar van die kombuis se kant af…
Sy vertelling eindig met die vraag wat ek aan julle ook wil stel: Praat jou nou uit hierdie situasie uit?
by Orania Beweging | Apr 20, 2016 | Nuus |
Ongelukkigheid in Wes-Europese lande met die instroming van onwettige immigrante uit die Midde-Ooste en Afrika blyk toenemend groter te wees as wat die hoofstroommedia oor verslag doen. Soos wat anti-immigrasiepartye se steun in Europa toeneem, begin die breë anti-immigrasiebeweging met groter selfvertroue hul misnoeë met die Duitse kanselier, Angela Merkel en die leierskap van die Europese Unie se oopgrense-beleid, te wys.
In Duitsland neem die weerstand regdeur die land vinnig toe met openbare betogings en selfs protes by munisipale raadsvergaderings wat toeneem. Talle munisipaliteite regoor die land sit met die hande in die hare omdat hulle geforseer word om sogenaamde vlugtelinge te help huisves, terwyl die burgery in wie se diens hulle staan sterk daarteen gekant is. In Nederland het talle munisipaliteite hul planne om sogenaamde asielopvangsentrum te bou weens openbare protes laat vaar.
Politieke leiers in Europa het vir maande probeer bewys dat teenkanting teen die instroming van miljoene Moslem-immigrante slegs deur ‘n groepie regse ekstremiste bedryf word. Daardie tyd is nou verby. Die afgelope naweek het die gewilde voormalige Duitse kanselier, Helmut Kohl, ook sy teenkanting teen Merkel se beleid uitgespreek. Kohl het in ‘n rubriek in ’n Sondagkoerant die gevoel van miljoene gewone Duitsers uitgespreek. Volgens hom kan Europa nie ander streke van die wêreld se probleme oplos deur miljoene mense uit daardie streke na Europa te verskuif nie. Die oplossing vir konflik in die Midde-Ooste en ander konflikgebiede moet in daardie streke self gevind word.
Die 86-jarige Kohl het ook vroeër hierdie week met die uitgesproke president van Hongarye, Viktor Orban ontmoet. Orban is bekend vir sy passievolle stryd teen die Europese Unie en Merkel se oopgrensebeleid. In Hongarye en talle ander Europese lande is Orban besonder gewild en word hy as die laaste hoop vir die behoud van Europa beskou. Horst Seehofer, die goewerneur van Beiere, die grootste staat in Duitsland het ook verlede maand met Orban ontmoet en spreek ook toenemend kritiek teen Merkel en die voortdurende, onbeheerde instroming van onwettige immigrante, uit.
Nadat die onlangs gestigte anti-immigrasieparty, die Alternative für Deutschland verlede maand groot opgang in streeksverkiesings in Duitsland gemaak het, het dié party die afgelope week selfs ’n harder standpunt teen Moslem-immigrante begin inneem deur vir ’n verbot op die dra van die burka deur Moslemvroue te vra. Dié party hou binnekort sy jaarlikse kongres in Stuttgart en ’n sterk anti-Moslembeleid wat sal vra vir daadwerklike optrede teen Moslem-immigrasie sal waarskynlik by die kongres aanvaar word.
Die regering van Pole het onlangs aangekondig dat hulle geen vlugtelinge meer sal toelaat nie. Talle lande uit die Balkan en Oos-Europa het ook reeds sovêr gegaan, terwyl die regering in Oostenryk ook felle kritiek teen Merkel begin uitspreek het.
Die teenkanting teen onbeheerde immigrasie kan eenvoudig nie meer as regs, populistiese nasionalisme of ‘’n teruggryp na die verlede bestempel word nie. Die immigrasiekrisis het weens openbare druk ‘’n draaipunt bereik en regerings wat sal voortgaan om immigrante te ontvang en wat nie moeite gaan doen om asielsoekers na hul lande van herkoms te begin terugstuur nie, sal waarskynlik in komende verkiesings uitgestem word. Die draaipunt in die Europese migrasiekrisis is dus bereik.
by Orania Beweging | Apr 14, 2016 | Nuus |
Seker die bekendste uitspraak van Afrikaners oor Afrikaners is: “Ons kan nie saamstaan nie!” Variasies daarop is grappe oor twee Afrikaners op ‘n eiland wat drie partye, kerke en organisasies stig, of die stelling: “Ons het nie ‘n leier nie!”. Ook die uitspraak: “Hoekom kan al die (stupid) klein Afrikanerorganisasies nie maar een groot organisasie vorm nie?” het ek al verskeie kere gehoor. ‘n Paar jaar gelede het ‘n party met die naam “Afrikaner-Eenheidsbeweging” steun gewerf met die sentiment van “alle Afrikaners saam in een kraal”. Ook besoekers aan Orania is dikwels teleurgesteld om te verneem dat hier nie een staatskerk is nie, maar talle kerke, en dat nie alle inwoners elke vergadering en funksie bywoon nie.
Die onderliggende sentiment is die hunkering na die tyd waar feitlik alle Afrikaners vir die NP gestem het, lede van die NGkerk en die ATKV was en waar die Afrikaner as een blok opgetree het. Daarby word egter vergeet dat daardie “goue era” eintlik net ‘n uitsondering in die Afrikaner se geskiedenis was en hoogstens tot die 1950’s tot 1970’s beperk was. Van naderby bekyk was dit eintlik net die enkele jare rondom die Republiekwording in 1961 en die wegkwyn van die VP as opposisieparty, en voor die opkoms van die KP en ander, regse opposisie tot die NP, waar daar ‘n groot mate van Afrikaner-eenheid was. Die hoogtepunt van daardie eenheid was seker die 5-jaar Republiekefees by die Voortrekkermonument in 1966. Daar was seker ‘n gevoel van eenheid in die genoemde dekades waar die Afrikaner opgang gemaak en Suid-Afrika grootliks beheer het, maar die verbeelde “ons is almal saam en strewe na een doel” was daar nooit nie. Trouens, dit is die kenmerk van totalitêre state dat almal dieselfde stem, dink en sê. Daarmee word nie gesê dat verdeeldheid ‘n goeie ding is nie. Juis omdat die Afrikaner so min is en so met die rug teen die muur staan, is saamstaan rondom gedeelde belange en rondom ‘n gemeenskaplike erfenis, taal en volkskap belangrik.
Dit is egter onder die huidige omstandighede van gemarginaliseerde status dalk goed dat nie alle Afrikaners in een organisasie verenig is nie. As ‘n mens nou militêre strategie as vergelyking wil gebruik: as jy min troepe het, is dit dalk juis goed om nie almal saam te marsjeer nie, waar die vyand jou kan aanval en uitwis. Al in die 19de eeu het die Pruissiese generaal-veldmarskalk en militêre strateeg Helmuth von Moltke die militêre leuse “Getrennt marschieren, vereint schlagen” (apart marsjeer, gesamentlik veg) uitgegee en met groot sukses in die oorloë teen Denemarke, Oostenryk en Frankryk toegepas. Marsjeer eerder in klein groepies wat nie maklik vasgevang kan word nie, en al word een groep vernietig, is daar nog talle ander wat voortveg. As jy egter aanval, doen dit gesamentlik en bring al die klein groepies vinnig bymekaar. Daarby is dit egter belangrik dat die verskeie groepe mekaar bystaan en nie mekaar beveg nie, iets wat nog te dikwels onder Afrikaners gebeur.
Dit sou vir ons fataal wees as alle Afrikaners nog in die NP, die NGkerk en ATKV was. Omdat talle Afrikaners die NP betyds verlaat het en alternatiewe soos die Vryheidsfront gestig het, het die (self-)vernietiging van die NP nie die einde van die Afrikanerdom beteken nie, al het swart en Engelse kommentators dit so vertolk. Die groot gebou is vernietig, maar die mense het reeds voor die tyd pad gegee en rig weer nuwe, kleiner geboue op. Ook die huidige gevegte in die NGkerk en die agteruitgang in ledegetalle beteken nie dat die Afrikaner as christelike volk as sodanig tot niet gaan nie, want Afrikaners is nou lede van talle verskillende kerke en die geloof is lewendig.
As die geweervuur van jou teenstander nie kan fokus nie, dan is dit goed vir jou oorlewing. Kort-kort spring daar weer nuwe organisasies op, dikwels met ‘n kort lewensduur, maar dit wys ten minste dat daar nog lewe is en dit maak die aanslag op die Afrikaner vir ons teenstanders moeilik. Dit word geillustreer deur byvoorbeeld die onlangse aanval van die studenteraadsvoorsitter van Kovsies op die ATKV. Hy veg teen ‘n hersenskim. Die ATKV is lankal nie meer dit wat hy in die 1970’s en 1980’s was nie en die organisasie roem op sy talle nie-tradisionele lede en sy groot vordering met transformasie. Die kultuurvaste Afrikaners het hulle lankal in ander, minder bekende organisasies tuisgemaak wat onder die radar is
.
Die vertakking van ‘n organisasie soos Solidariteit Beweging is voordelig, want elke onder-organisasie kan doeltreffend op ‘n spesifieke terrein veg, maar hulle kan kapasiteite deel en hulle aksies koördineer. Talle ander, kleiner Afrikanerorganisasies is weer informeel verbind aan mekaar en as een aangeval word, dan kan hulle vir mekaar in die bres tree of ‘n nuwe front open. Wie sou byvoorbeeld vroeër kon gedink het dat Breyten Breytenbach voorloop om Afrikaans as universiteitstaal te beskerm?
Vergeet van die groot leier wat die volk soos een man lei. Raak eerder betrokke by ‘n groep of organisasie waar jy tuisvoel tot uitbouing van Afrikaner-vryheid, behoud van ons christelike godsdiens en beskerming van die taal.