“Westerse beskawing” het deesdae ’n omstrede uitdrukking geword. Die Weste self weet nie meer wat om daarmee te maak nie en is selfs skaam vir dié uitdrukking, omdat dit meerderwaardigheid sou veronderstel en ander nie-Westerse volke sou laat uitvoel. “Verwestering” het selfs ‘n meer negatiewe klank gekry van vernietiging van kultuur, materialisme, gelykmaking en sekularisasie. Daar is wel ‘n groot verskil tussen die Westerse beskawing en blote verwestering. Eersgenoemde is ‘n hele leefwêreld met ‘n lang tradisie waarin jy opgroei en wat jy moet koester. Laasgenoemde is slegs sekere, dikwels materialistiese uitvloeisels van die Weste. Feitlik almal trek vandag Westerse klere aan, luister na Westerse popmusiek of kyk Hollywoodflieks, wat nie Westerse waardes nie, maar permissiwiteit oordra. Almal, selfs diegene wat die Weste haat, soos Moslem-ekstremiste, maak gebruik van Westerse tegnologie. Dit maak jou egter nie ‘n Westerling nie en ook nie beskaafd nie. Dit word telkens duidelik as byvoorbeeld swartmense in swart pakke in hoogdrawende Engels debatteer oor hulle Afrikakultuur. Hulle wil nie Westers wees nie maar leef in ‘n Westerse samelewing, trek Westers aan en praat ‘n Westerse taal.
Die Weste ly ook aan ‘n skuldgevoel en verwyder toenemend dit wat eie aan die Weste is, byvoorbeeld die Christelike tradisie en nasionale gedenkdae, uit die openbare sfeer om nie aanstoot te gee aan sogenaamde minderhede nie. Ook die Afrikaner word daardeur geraak. Hier is die aanslag egter meer van buite as van binne, alhoewel ons ook oor genoeg “nesbevuilers” in eie geledere beskik wat hulle verlekker aan selfhaat en afbreuk van hulle eie mense. Ons voel dikwels verwyderd van die Weste, beklemtoon ons verbintenis met Afrika. Nogtans bly ons Westerlinge, en moet ons juis dit koester. Dit is, anders as by volke uit die nie-Westerse wêreld, nie ‘n baadjie wat aan- of uitgetrek word nie. President Zuma is ‘n tipiese voorbeeld van iemand wat gemaklik is in sy kraal en tussen sy Zulu-mense in landelike Kwazulu-Natal met sy luiperdvel aan, net om dan die volgende dag letterlik en figuurlik sy Westerse baadjie aan te trek en om ‘n internasionale konferensie in Engels toe te spreek. Die Afrikaner daarteenoor het die Westerse kultuur as deel van sy DNA gekry, natuurlik met die belangrike en kosbare ervaring van geworteldheid in Afrika.
As ons in Europa vakansie hou en ons verwonder aan katedrale en kastele, of na ‘n uitvoering van klassieke musiek deur ‘n simfonieorkes luister, hoef ons nie weemoedig te wees oor ons eie eerder beskeie en nuwerwetse argitektuur en musiek nie. Daardie prestasies is ook ons s’n en ons kan net so trots daarop wees soos Europeërs. Ons verpligting is egter om dit ook verder uit te bou. ‘n Beskawing put inspirasie uit die verlede, maar moet ook in die hede geleef word as dit wil voortbestaan. Daarom moet ons ons hoogkultuur weer koester en waak teen vervlakking. Tussen al die verbruikersgoedere, ook in die vermaaklikheidsbedryf, moet af en toe ook ‘n meesterstuk geskep word wat wys dat ons kan en dat ons verband met die Westerse beskawing nog bestaan.
Ons kan ook in ons eie, meer onlangse verlede delf en die spesifiek Afrikaanse Westerse beskawing herontdek en nuwe inhoud daaraan gee. Vir so ‘n klein volk geografies so vr verwyderd het die Afrikaner merkwaardige kulturele prestasies behaal en doen dit ook vandag nog. Dit wat beskawing onderskei van blote samelewings is die strewe na uitnemendheid, na iets wat blywend is. Daar moet flieksale wees, maar ook operahuise; kitskos, maar ook keurige, tradisionele disse; boeke vir ontspanning maar ook bekroonde literatuur; doelmatige geboue maar ook hoogs uitstaande argitektuur; lekker saamsingliedjies maar ook klassieke musiek en diep poësie; goedkoop massaprodukte en kuns met ewigheidswaarde.
Uit die aard van die saak is dit deesdae moeilik om hoogkultuur te beoefen, waar staatlike befondsing van Westerse hoogkultuur om politieke redes besnoei word. Maar ‘n volk het nie in die eerste plek ‘n staat nodig om sy kultuur tot nuwe hoogtes te lei nie. Lank voor die staat daar was, was daar al beskawings en hoogkultuur gewees. Voor jy egter self hoogkultuur kan skep, moet jy eers weet wat dit is. Die Afrikaner moet weer ‘n vertroudheid en gemaklikheid met Westerse kultuurprestasies ontwikkel en leer om die kaf van die koring te skei. Ons moet die begrip “Westerse beskawing en hoogkultuur” weer met inhoud vul.
Hi sebastiaan. Ek weet nie baie van die saak nie maar ek glo wel daar is n verskil tusen die weste en die huidige liberale EU. Ek stem saam met die hoog kuns maar ons moet plaaslikke kuns ondersteun. Laat my weet.
Hallo Yuri. Daar is beslis ‘n verskil tussen die Westerse tradisie wat eeue saamkom en die huidge dekadente EU met sy anti-tradisie en sekularisme. Ek beskryf dit juis in deel 1 van my stuk. Plaaslike kuns kan ook hoog-kuns wees. Die Afrikaner se kuns, argitektuur, musiek, literatuur ens is in die Westerse tradisie en dit moet sy Afrikaner- en Afrikastempel hê, nie bloot nabootsing van Europese kuns nie. Trouens, die Europese kultuur het ook dekadent geraak die laaste paar dekades. Dit gaan daaroor om die Westerse tradisie te herontdek en te herwaardeer.