fbpx

KubaPresident Barak Obama van die VSA het onlangs Kuba besoek. Dit is ’n merkwaardige en geskiedkundige besoek, nie die gewone roetine van staatsbesoeke nie. Dit is die eerste besoek van ’n Amerikaanse president aan die Karibiese eiland sedert Calvin Coolidge se besoek in 1928. Die rede vir die lang afwesigheid is natuurlik die koue oorlog tussen die twee lande na die kommunistiese rewolusie in 1959 en die sanksies wat die VSA teen Kuba, ‘n noue bondgenoot van die Sowjet-Unie, ingestel het.

President Obama het die ontspanning met Kuba al ‘n ruk terug begin. Reeds met die begrafnis van oud-president Nelson Mandela het hy en die leier van Kuba, Raoul Castro, hande geskud. ‘n Proses van die normalisering van verhoudinge en die hervat van diplomatieke betrekkinge het daarna gevolg en vlugte na Kuba is ook weer ingestel. Die sanksies teen Kuba bly egter vir eers nog van krag. Die Amerikaanse Kongres sal daaroor moet stem en die meerderheid in beide huise is Republikeine.

Vir mnr. Obama is die voordeel van die ontspanning met Kuba die volgende: hy soek iets soos ‘n nalatenskap as president. Tans word Obama onthou as die president wat meer skuld opgehoop het as enige iemand voor hom, as iemand wat nie sy groot projek, die hervorming van die gesondheidstelsel, kon deurgevoer kry nie en wat sy buitelandse projek van vrede in die Midde-Ooste betref lyk dit ook na ‘n mislukking. Nou wil hy sy presidentskap afsluit op die hoë noot van die beëindiger van een van die VSA se ou konflikte. Natuurlik beteken die ontspanning met Kuba ook ekonomies baie vir die VSA: daar is ‘n hele land met 15 miljoen inwoners wat smag na ontwikkeling en wat gulde geleenthede vir toerisme en infrastruktuurontwikkeling.

Mnr. Obama reken dat die dekade lange sanksies teen Kuba niks gehelp het om die land van sy harde kommunistiese beleid te laat afsien nie. Inteendeel, dit het, pleks om Kuba te isoleer, eerder die VSA teenoor die res van Latyns-Amerika, wat Kuba aanvaar, geïsoleer. Die VSA reken dat verandering in Kuba eerder deur wisselwerking bereik kan word as deur isolasie.

Die ekonomie staan voorop met die besoek en saam met mnr. Obama was honderde verteenwoordigers uit die sakewêreld. Menseregtekwessies s wel as ’n nagedagte aangespreek, soos die talle politieke gevangenes wat nog in Kubaanse tronke is. Die regering van mnr. Castro ontken dit egter en die menseregtekwessie sal op hierdie stadium die nog brose verhouding vertroebel. Menseregteaktiviste in Kuba, soos die damas en blanco (dames in wit) voel dat die VSA hulle versaak ter wille van ekonomiese voordeel.

Kuba se motief vir die uitreik na die VSA is veral ekonomies van aard. Die land is op sy knieë, veral nadat een van sy min bondgenote, Venezuela, wat olie teen voorkeurtariewe aan Kuba voorsien het, self teen die planke is en dit nie meer kan doen nie. Kuba het ‘n geweldige agterstand wat modernisering betref, sy infrastruktuur is verouderd en basiese benodighede skaars.