fbpx

Seker die bekendste uitspraak van Afrikaners oor Afrikaners is: “Ons kan nie saamstaan nie!” Variasies daarop is grappe oor twee Afrikaners op ‘n eiland wat drie partye, kerke en organisasies stig, of die stelling: “Ons het nie ‘n leier nie!”. Ook die uitspraak: “Hoekom kan al die (stupid) klein Afrikanerorganisasies nie maar een groot organisasie vorm nie?” het ek al verskeie kere gehoor. ‘n Paar jaar gelede het ‘n party met die naam “Afrikaner-Eenheidsbeweging” steun gewerf met die sentiment van “alle Afrikaners saam in een kraal”. Ook besoekers aan Orania is dikwels teleurgesteld om te verneem dat hier nie een staatskerk is nie, maar talle kerke, en dat nie alle inwoners elke vergadering en funksie bywoon nie.

Die onderliggende sentiment is die hunkering na die tyd waar feitlik alle Afrikaners vir die NP gestem het, lede van die NGkerk en die ATKV was en waar die Afrikaner as een blok opgetree het. Daarby word egter vergeet dat daardie “goue era” eintlik net ‘n uitsondering in die Afrikaner se geskiedenis was en hoogstens tot die 1950’s tot 1970’s beperk was. Van naderby bekyk was dit eintlik net die enkele jare rondom die Republiekwording in 1961 en die wegkwyn van die VP as opposisieparty, en voor die opkoms van die KP en ander, regse opposisie tot die NP, waar daar ‘n groot mate van Afrikaner-eenheid was. Die hoogtepunt van daardie eenheid was seker die 5-jaar Republiekefees by die Voortrekkermonument in 1966. Daar was seker ‘n gevoel van eenheid in die genoemde dekades waar die Afrikaner opgang gemaak en Suid-Afrika grootliks beheer het, maar die verbeelde “ons is almal saam en strewe na een doel” was daar nooit nie. Trouens, dit is die kenmerk van totalitêre state dat almal dieselfde stem, dink en sê. Daarmee word nie gesê dat verdeeldheid ‘n goeie ding is nie. Juis omdat die Afrikaner so min is en so met die rug teen die muur staan, is saamstaan rondom gedeelde belange en rondom ‘n gemeenskaplike erfenis, taal en volkskap belangrik.

Dit is egter onder die huidige omstandighede van gemarginaliseerde status dalk goed dat nie alle Afrikaners in een organisasie verenig is nie. As ‘n mens nou militêre strategie as vergelyking wil gebruik: as jy min troepe het, is dit dalk juis goed om nie almal saam te marsjeer nie, waar die vyand jou kan aanval en uitwis. Al in die 19de eeu het die Pruissiese generaal-veldmarskalk en militêre strateeg Helmuth von Moltke die militêre leuse “Getrennt marschieren, vereint schlagen” (apart marsjeer, gesamentlik veg) uitgegee en met groot sukses in die oorloë teen Denemarke, Oostenryk en Frankryk toegepas. Marsjeer eerder in klein groepies wat nie maklik vasgevang kan word nie, en al word een groep vernietig, is daar nog talle ander wat voortveg. As jy egter aanval, doen dit gesamentlik en bring al die klein groepies vinnig bymekaar. Daarby is dit egter belangrik dat die verskeie groepe mekaar bystaan en nie mekaar beveg nie, iets wat nog te dikwels onder Afrikaners gebeur.

Dit sou vir ons fataal wees as alle Afrikaners nog in die NP, die NGkerk en ATKV was. Omdat talle Afrikaners die NP betyds verlaat het en alternatiewe soos die Vryheidsfront gestig het, het die (self-)vernietiging van die NP nie die einde van die Afrikanerdom beteken nie, al het swart en Engelse kommentators dit so vertolk. Die groot gebou is vernietig, maar die mense het reeds voor die tyd pad gegee en rig weer nuwe, kleiner geboue op. Ook die huidige gevegte in die NGkerk en die agteruitgang in ledegetalle beteken nie dat die Afrikaner as christelike volk as sodanig tot niet gaan nie, want Afrikaners is nou lede van talle verskillende kerke en die geloof is lewendig.

As die geweervuur van jou teenstander nie kan fokus nie, dan is dit goed vir jou oorlewing. Kort-kort spring daar weer nuwe organisasies op, dikwels met ‘n kort lewensduur, maar dit wys ten minste dat daar nog lewe is en dit maak die aanslag op die Afrikaner vir ons teenstanders moeilik. Dit word geillustreer deur byvoorbeeld die onlangse aanval van die studenteraadsvoorsitter van Kovsies op die ATKV. Hy veg teen ‘n hersenskim. Die ATKV is lankal nie meer dit wat hy in die 1970’s en 1980’s was nie en die organisasie roem op sy talle nie-tradisionele lede en sy groot vordering met transformasie. Die kultuurvaste Afrikaners het hulle lankal in ander, minder bekende organisasies tuisgemaak wat onder die radar isAfrikaner-eenheid.

Die vertakking van ‘n organisasie soos Solidariteit Beweging is voordelig, want elke onder-organisasie kan doeltreffend op ‘n spesifieke terrein veg, maar hulle kan kapasiteite deel en hulle aksies koördineer. Talle ander, kleiner Afrikanerorganisasies is weer informeel verbind aan mekaar en as een aangeval word, dan kan hulle vir mekaar in die bres tree of ‘n nuwe front open. Wie sou byvoorbeeld vroeër kon gedink het dat Breyten Breytenbach voorloop om Afrikaans as universiteitstaal te beskerm?

Vergeet van die groot leier wat die volk soos een man lei. Raak eerder betrokke by ‘n groep of organisasie waar jy tuisvoel tot uitbouing van Afrikaner-vryheid, behoud van ons christelike godsdiens en beskerming van die taal.

5 Comments

  1. Carel Boshoff

    ‘n Interessante aanhaling uit “From the Earth to the Moon” van Jules Verne:
    “Wanneer ‘n Amerikaner ‘n idee het, soek hy dadelik ‘n tweede Amerikaner wat dit deel. As daar drie van hulle is, verkies hulle dadelik ‘n president en twee sekretarisse. Met vier, stel hulle ‘n penningmeester aan, en die kantoor is in werking; met vyf, roep hulle ‘n Algemene Vergadering uit, en die organisasie is gestig.”
    Klink dit bekend? En dit het darem nie te sleg vir die Yanks geëindig nie.

    Reply

Submit a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.

four × five =