In die vêr Bosveld, daar waar die mense van Potgietersrus en Warmbad as die voorwêreld praat, tref mens ’n besondere tipe boustyl aan. Dit is daardie geboue, gewoonlik wit, oorspronklik ’n vierkantige vorm, met generasies uitgebrei en aangebou om ’n “H” te maak. Hierdie geboue het gewoonlik twee deure na buite (of binne afhangende van jou bestemming) maar slegs een is in gebruik, die agterdeur of algemeen bekend as die kombuisdeur. In hierdie eerste vertrek of kombuis tref mens ‘n groot houttafel aan, met koperpotte en panne wat van ’n balk hang, gewoonlik ’n pruttende keteltjie op die koolstoof ook en teen een muur daardie yskaste wat lyk of dit ’n genepoel met ’n 1950 Plymouth deel. Die ander deur is die een wat die Dominee gebruik en lei na die fênsie sitkamer.
Hierdie geboue staan bekend as die Plaas Opstal of die Plaashuis en die reuk van dekades se pyptabak, Dubin, droëwors en houtvuur bring altyd mens nostalgies voor die mure en mure vol familiefoto’s en die geelhout of imbuia sideboard vol Delft, porseleinklokkies en ou Keyser pype.
In juis so ’n opstal tref ons in hierdie vertelling een van my predikant kollegas aan, in die dominee-sitkamer, met die maroen fluweel bal-en-klou-stoele en bypassende koffietafel met die familie-Bybel en ’n ou FAK. Hy sit, op die half ongemaklik hoë stoel, rug teen die oop venster waar die leeu-grootte boerboel net-net nie sy hele kop kan deurdruk nie; langs die ou traporreltjie met die ou Halleluja-sangbundel oop op lied 290, Nader my God by U.
Hier sit hy, bloedrooi gebloos, skuins bo sy kop die gehekelde gelofte van 16 Desember en hy hakkel soos ’n Colyn voor ’n krygshof. In sy hand al bewyse wat nodig is vir summiere skuldigbevinding.
Miskien moet ek die tydsverloop 2 minute 18 sekondes terugspeel. Weleerwaarde heer Dominee ontvang sy spesiaal gemaakte koppie tee van die vrome ou tante. Sy beweeg, al skuifelende terug kombuis toe om boerbeskuit, Jan Smuts-koekies en droëwors te gaan haal. Hy mik mondwaarts met sy stomende koppie. In die draaikolk van sy suiker-roer gewaar hy dit. Meeste van julle sal dit ken, daardie glimmerende groen en swart bondeltjie. Binne hierdie maalkolk-koppie tee gewaar hy ‘n enorme brommer. Nou hoe waar sy vertelling is, kan ek nie bevestig nie, maar hierdie, volgens hom, sentimeter lange vlieënde gogga, laat dadelik sy maag draai. Sy dilemma is van ’n Christelik-Etiese aard: Drink hy dit, oortree hy sy eie persoonlike daar-en-dan-opgestelde reinheidsgebod; vertel hy die tante, maak hy haar gevoelens seer en stel haar in die verleentheid. Hier sit hy tussen ’n brommer en ’n harde plek en soos dit ’n goeie Dopper-dominee betaam maak hy ’n flink plan. Met een vinnige kyk meet hy die oop venster, waar De la Rey, die boerboel, se kop nou-nou ingeloer het en met ’n blitsige beweging swaai hy die koppie oor sy linkerskouer. Met dié handeling maak hy twee kardinale berekeningsfoute: Eerstens oorskat hy fine China se vermoë om vensterbank-impak te absorbeer en tweedens misgis hy sy eie mik vermoë.
Hier sit hy nou, fine China koppie-oor in sy hand; fine China koppie, stomende Vyf Rose en halfgaar brommer buite by De La Rey; met die tante se naderende geskuifel hoorbaar van die kombuis se kant af…
Sy vertelling eindig met die vraag wat ek aan julle ook wil stel: Praat jou nou uit hierdie situasie uit?
Ek weeti mooi nie is daar dalk n papegaai in n hok mstamp hok om en lyk besorgt oor die kans dat De La Ray die ding as KFC gaan aansien.Dit is aller mits Oom Koos Pens se skou papegaai wat se bekers in die ou glas kabenet pronk… Dominee is gered en Tante se eer herstel 4
Ek hoor selfs die papegaai heel benoud “Uit dieptes gans verlore” op die ou wysie sing.
Vertel maar die waarheid … dit bly die beste… nie die lekkerste nie, maar die beste. Waarheid het kurkprop-eienskappe en gaan in elk geval iewers uitpop !
F