fbpx

Boere in ArgentiniëEk het onlangs die aangrypende dokumentêr “Boere op die Aardsdrempel” gekyk, wat handel oor die nasate van die Boere (hulle het hulleself destyds nog nie Afrikaners genoem nie) wat na die neerlaag in die Tweede Vryheidsoorlog na Patagonië, ‘n streek in Argentinië, geëmigreer het om nie onder Britse beheer te staan nie. Dit is die enigste historiese Afrikaanse gemeenskap buite Afrika, met ander woorde, die enigste Afrikaners wat Suid-Afrika as groep verlaat het voor die post 1994-emigrasiegolf. Daar was ook kort na die Tweede Vryheidsoorlog ‘n groep Boere wat na Tansanië, destyds nog ‘n Duitse kolonie, uitgewyk het, maar hulle is almal in die 1960’s, toe die land onafhanklik geword het, terug na Suid-Afrika. Ook van die Boere in die Argentinië is enkeles na die stigting van die Unie van Suid-Afrika in 1910 terug na Suid-Afrika, maar die meeste het agtergebly. Vandag is daar nog sowat 300 Boere-nasate wat nog Afrikaans praat oor, maar heelwat meer as hulle Spaanssprekende kinders en kleinkinders bygetel word.

Die nasate, meesal ou mense wat nog Afrikaans praat soos Thys Dickason en Jan Myburgh, vertel hoe hulle ouers of grootouers met die skepe in die hawedorp Commodore Rivadavia in die verre, ongenaakbare suide van Argentinië aangekom het en van daaraf in die omgewing gevestig het, meesal as skaapboere soos wat dit destyds gebruiklik was (en wat destyds die enigste ekonomiese aktiwiteit in die streek was). Die meeste van hulle het swaar gekry maar hulle het wel as gemeenskap saamgestaan en vir meer as honderd jaar hulle tradisies en gewoontes behou.

Die handjievol Boere-nasate is nog steeds ‘n gemeenskap en hou gesamentlike kuiertjies en selfs ‘n jaarlikse boeresportdag om hulle tradisies lewend te hou, maar slegs die ou mense praat nog Afrikaans of boer, hulle kinders en veral kleinkinders kan slegs Spaans praat en is gewoonlik met Argentyne van Spaanse afkoms getroud en woon in dorpe. Die jonger generasies het nog steeds ‘n mate van trots in hulle afkoms, maar dit is meer folkloristies van aard as wat dit werklik deel van hulle identiteit is. Die godsdiens, wat vir die Boere so sentraal staan, het nie juis ter sprake gekom nie en die kerk as saambindende faktor speel nie meer so ‘n groot rol soos vroeër nie. Ook die byeenkomste en uitlewing van kultuur word geleidelik minder en by talle van die nasate is die Afrikaanse of Suid-Afrikaanse identiteit sekondêr.

Veral aangrypend is die deel waar Thys en Jan, wat die meeste in die dokumentêr voorkom, genooi word om Suid-Afrika die eerste keer in hulle lewe te besoek en om by hulle familie te kuier, en om te sien hoe hulle die land van hulle voorwaders ervaar. Opvallend daarby is hoe welvarend hulle neefs en niggies in Kaapstad, Philipstown en Hartebeespoortdam is en hoe voorspoedig, georganiseerd en netjies dit in teenstelling met hulle eie armoedige omstandighede is, maar ook hoe die taal en die familiebande hulle verbind.

Enkele lesse vir emigrante in die algemeen en vir Afrikaners in die besonder kom uit die dokumentêr na vore:

  • Jy kan jou taal, jou godsdiens en jou kultuur met veel moeite vir ‘n generasie of twee behou, maar uiteindelik word jy soos jou omgewing. Die Afrikaner-emigrante se genepoel was ook te klein en dus moes hulle noodgedwonge met die mense van hulle nuwe tuisland vermeng, en die jonger generasie, veral waar hulle in plaaslike skole is en die taal van die nuwe land gemakilk praat, meng vrylik.
  • Om ‘n nuwe begin in ‘n ander land te maak is swaar, en welvaart is baie selde vir die eerste of selfs vir die tweede generasie beskore.
  • Die stryd vir vryheid moet ‘n aksie van die volk as geheel wees, en dit vind plaas in die moederland, of daar waar die grootste konsentrasie is. Die lot van die Jodse volk, byvoorbeeld, word in Israel bepaal, nie in die VSA of in Europa nie.
  • Die wiel draai. Die Boere wat na Argentinië verhuis het om nie onder Britse beheer te staan nie, het nie geweet dat hulle volk sowat 50 jaar later weer in volle beheer van die land sou wees nie en ‘n tyd van voorspoed en hoogbloei sou beleef, terwyl hulle in Argentinië begin wegkwyn het.
  • Die gras is nie altyd groener aan die ander kant nie. Die immigrasie na Patagonië was ‘n ontnugtering en die bittereinders het weer bitterbeginners geword in ‘n streek wat nog harder en meer uiters as die Karoo is. Hulle stryd was vir ekonomiese oorlewing, nie vir politieke vryheid nie, want die politieke stryd van die Afrikaners is in Suid-Afrika geveg en gewen.
  • Elke land sorg eerste vir sy eie mense. Immigrante moet gewoonlik tevrede wees met die oorskiet. Die Boere in Patagonië het die dele gekry wat die Argentyne nie voor kans gesien het nie. Toe later olie op hulle grond gevind is, is dit deur die regering opgeeis en ontgin, en die Boere-nasate kon hoogstens werkers in die oliebedryf word.

Ek het groot deernis met die Boere-nasate en hou van die mense wat in die dokumentêr gewys word. Hulle is op ‘n manier nog steeds “onse mense”, hulle het hartlikheid, ongekunsteldheid, eerlikheid, liefde vir die grond en gasvryheid wat so kenmerkend van die Afrikaners is, maar dit voel soos ‘n kooltjie wat uit die vuur geruk en eenkant gegooi is en daar alleen stadig doodgaan. Daarom is konsentrasie so belangrik.

Terloops, “Boere op die Aardsdrempel” is beskikbaar by Orania Beweging se boekwinkel.