Ek kan sekerlik nie die blaam vir die toestand van wetteloosheid en losbandigheid in ons land, asook die res van wêreld s’n, alles op een persoon lê nie. Ek gaan in elk geval probeer…
Jare gelede, in die Jakarandastad, was daar ’n verskynsel te bespeur, soortgelyk aan die Wildebees migrasie in die Serengeti. Hierdie migrasie was nie seisoenaal nie, maar het homself in sewedag-siklusse herhaal. Vyf dae van die werksweek was die normale migrasie vanuit die volk se woonplekke na hul weivelde te bespeur, gewoonlik die stadige kruip vanuit die Ooste na die Weste. Op een van hierdie migrasie roetes was daar egter weekliks, op die tweede dag, ’n anomalie. Soos die volk vloei, Oos na Wes, kon mens op die Lynnwoodweg roete hierdie ander verskynsel bespeur: Die trek van die Tokkelokke.
Die rede vir hierdie uitsonderlike trek, teen die vloei van die trop, was die feit dat tokkelokke, anders as die Christelike kerke, wat net op Sondae eredienste hou; anders as die Sabbatariërs wat die Saterdag heilig, die heilige Maandag ook gevier het. Dit is juis op so ’n heilige Maandag wat ek die oorsaak vir die huidige verval in ons land bepaal. Ground Zero as’t ware.
Op heilige Maandag trek die tokkelokke, Datsun bakkies, Toyota Conquests, ou Corollas, Peugeot 504 stasiewaens, Volkswagen Beatles en ou Golfies, teen die volk-vloei, na Pretoria Oos gemeente se kerkgebou, in die Ooste. Vanuit hoofsaaklik Sunnyside en Hatfield, verby Loftus en Tuks, Lynnwoodweg-langs beweeg hulle, altyd op die uitkyk vir mooi karre met blondines of brunette. Ons kom egter byeen vir een van die wreedste en mees angswekkende byeenkomste in die mensdom, die gevreesde klaspreek.
Op hierdie heilige Maandag , staan die laer onder die koelte bome buite die kerkgebou uitgespan. Binne die gebou, in die voorste gestoeltes sit die sesde-jaar studente: Vroom, intellektueel, gevorm en diep teologies begrond. In die tweede ry sit die vyfde-jaar studente: Baadjies, dasse, tasse en notas, gereed en gerat om velle kritiek los te laat op die teiken. Agter hulle die vierdejaars, hul eerste jaar in teologie: Benoud, bleek en bekommerd. Agter hulle so ’n klompie B.A.-studente wat gekom het om die slagting te aanskou: Al wat hulle kort is popcorn. Eenkant sit die Professor in praktiese Teologie, gevrees, gerespekteerd en geduldig en voor, by die trappies van die kansel, staan die bewende student. Op heilige Maandag stop jy daar, nie om te bid vir leiding en wysheid nie maar om bewaring.
Miskien kan ek vinnig hier vertel van die herhalende drome wat elke tokkelok tydens sy studente dae gedroom het. Mens sou dink dat dit drome was van skares wat aan jou lippe hang, heidene wat tot inkeer kom onder jou inspirerende prediking, die volk wat tot bekering kom soos in Esra se tye, maar nee, die herhalende droom is van daardie tipe wat jou laat wakker skrik, sopnat gesweet en angstig. ’n Tokkelok droom van die kansel, van hoe hy daar bo staan, moet begin met die preek en tot groot benoudheid agterkom, dat hy nie sy broek aan het nie. Die sonder-broek-preek-verskynsel.
Ek is oortuig dat daardie Maandag se slagoffer tokkelok, juis in sy eerste jaar Teologie, so ’n droom gehad het. Indien nie, moes hy dalk maar eerder, want wat volg is juis rede vir my inleidende stelling.
Heel bleek en benoud pak hierdie jongman sy boeke uit, kry sy notas gereed en begin, vol valse selfvertroue, met ‘n bulderende “Ek slaan my oë op na die berge…”. Na die seëngroet afgebid is, ons mag dit nog nie uitgespreek het voordat ons as predikante bevestig is nie en ons Psalm 100 vers 1 gesing het, kondig die tokkelok die wet aan. “Geliefdes, ons toets en reël van ons dankbaarheidslewe vind ons in Exodus hoofstuk 20…”
Geduldig en gefassineer aanskou ek die jongman daar op die kansel. Ek sien hoe sy heen en weer blaai in die Bybel al hoe meer vasberade en later verbouereerd raak. Sy normale rooierige gelaat, word eers asvaal en geleidelik weer rooier en rooier soos hy rondblaai en soek. Met ’n beweging, wat na die wegraping lyk, verdwyn sy, nou reeds bloedrooi, gewaad agter die kansel en mikrofoon nog steeds aan, hoor mens sy benoude prewel en vervaarde soektog. Na, wat selfs vir ons nou al ‘n ongemaklike stilte was, verskyn sy pers gesig bo die kanselkleed, met ’n “God voorsien” in goue letters deur ’n tannie geborduur. “Professor” hoor ons sy, so ’n paar toonhoogtes te hoë, manstem. Prof…ek is jammer, maar hierdie Bybel het nie die wet in nie, Professor….Die wet is weg!
Heilige Maandag, Ground Zero, die begin van die einde, D-dag, ’n kataklismiese: Die Wet is weg! Ek kyk vandag om my rond en ek blameer hóm hiervoor.
Eina … diareë is die enigste ontlontingsmoontlikheid in so ‘n situasie !
Nou verstaan jy hoe voel ek elke Sondag met 4 kritiese, hoogsgeletterde intimiderende “(on-)gelowiges ” teenwoordig … NAAAAR!
Lekker lag ek oom Fanie.