fbpx

Orania GrondTans is die Orania Beweging besig met ‘n suksesvolle veldtog om die belangrikheid van grond by Afrikaners tuis te bring. Nuwe lede van die Orania Beweging ontvang ‘n sleutelhouer met ‘n bietjie grond uit Orania in om daardeur te sê dat Orania-grond hulle grond is, Afrikaner-grond.

Die klem wat ons op grond plaas is in teenstelling met die post-moderne tendens van ongebondenheid, van ‘n lewe wat as ‘t ware permanent vloeiend is, van mense wat geen tuiste het nie en ewe gemaklik in alle wêreldstede is en wie se tuiste ‘n hotelkamer met wi-fi is. Geld word virtueel met “idees” gemaak en geld hoef nie eers meer regte valuta wees nie, dit kan selfs die virtuele Bitcoin wees. Ten spyte van die geweldige moontlikhede wat die virtuele wêreld bied, bly ek maar skepties en sou ook nooit in ‘n maatskappy belê wat niks op sy naam het behalwe ‘n webblad en ‘n jong bleeksiel as CEO nie. Die siklus van “boom and bust” raak al hoe vinniger met hierdie soort denke, waar geld in iets belê word wat niks produseer en niks tasbaar verkoop nie.

Die post-moderne mens beskou grond as oorbodig: kos kom van ‘n internasionale kettingwinkel en toenemend per aflewering na bestelling oor die net en dit kan op enige plek, selfs sonder grond in ‘n laboor gekweek wees. Die werklikheid is veral virtueel: vir die internet en alles wat daarmee saamgaan het jy nie meer geboue en nog minder grond nodig: jy plaas virtuele geld virtueel oor, lees boeke op jou slimfoon, gesels via skype, luister musiek oor die internet ensovoorts. Selfs in die kringe van behoudende Afrikaners is die virtuele sterk teenwoordig, uit gebrek aan alternatiewe: op facebook kan jy vir ure oor ‘n volkstaat gesels en kaarte en modelle optrek, maar dit bring jou nie nader aan die werklikheid wat in Orania uitgeleef word nie.

Grond staan egter vir ‘n werklikheid, vir iets waarop jy kan staan, wat vir jou vastigheid gee. Tradisioneel is grond iets wat jy bewoon, bebou en bewerk om dit aan die volgende generasie oor te dra. Dit word nie bewoon deur individue nie, maar deur groepe, gemeenskappe en volke. Jy het grond nodig om geboue soos skole, biblioteke, kerke, teaters en kuierplekke op te rig, om instansies te vestig, om kos te verbou, om vir grondwater te boor. Grond is ook deel van die mens: die mens is volgens die Bybel se skeppingsgeskiedenis uit grond gevorm, die kos wat ons eet kom uit die grond en dit wat daarvan oorbly keer terug na die grond toe.

Grond het nie net vir swartmense ‘n sterk emosionele betekenis nie, maar ook vir Afrikaners. Al is net nog ‘n klein minderheid Afrikaners in die landbou werksaam, verlang talle na ‘n lewe naby die grond en is die ideaal vir Afrikaners om in ‘n landelike opset te woon (al is dit ‘n nagebootse een, soos in die talle leefstyl landgoede teenaan die stede).

Grond moet gekoppel wees aan die mense wat daarop bly. Daarom het ons simpatie met inheemse volke wat veg daarteen dat hulle ter wille van minerale ontginning van hulle grond verwyder word. Grond moet natuurlik ook vir kommersiele doeleindes gebruik word, maar so dat die mense wat dit besit, dit ook bewerk en die vrugte daarvan pluk. In die woorde van wyle prof. Carel Boshoff: Vir die Afrikaner is grond waaroor besluit moet word meer as net landbougrond, dit is die ruimte vir sy oorlewing, waar hy stede en dorpe bou, sy instellings oprig en sy selfbeskikking uitoefen (Die Grondvraag: langtermynkeuse vir die Afrikaner. Epog grondberaad 2007).

‘n Vrye volk het eie grond nodig, ook in tye van globalisering.