Ongelukkigheid in Wes-Europese lande met die instroming van onwettige immigrante uit die Midde-Ooste en Afrika blyk toenemend groter te wees as wat die hoofstroommedia oor verslag doen. Soos wat anti-immigrasiepartye se steun in Europa toeneem, begin die breë anti-immigrasiebeweging met groter selfvertroue hul misnoeë met die Duitse kanselier, Angela Merkel en die leierskap van die Europese Unie se oopgrense-beleid, te wys.
In Duitsland neem die weerstand regdeur die land vinnig toe met openbare betogings en selfs protes by munisipale raadsvergaderings wat toeneem. Talle munisipaliteite regoor die land sit met die hande in die hare omdat hulle geforseer word om sogenaamde vlugtelinge te help huisves, terwyl die burgery in wie se diens hulle staan sterk daarteen gekant is. In Nederland het talle munisipaliteite hul planne om sogenaamde asielopvangsentrum te bou weens openbare protes laat vaar.
Politieke leiers in Europa het vir maande probeer bewys dat teenkanting teen die instroming van miljoene Moslem-immigrante slegs deur ‘n groepie regse ekstremiste bedryf word. Daardie tyd is nou verby. Die afgelope naweek het die gewilde voormalige Duitse kanselier, Helmut Kohl, ook sy teenkanting teen Merkel se beleid uitgespreek. Kohl het in ‘n rubriek in ’n Sondagkoerant die gevoel van miljoene gewone Duitsers uitgespreek. Volgens hom kan Europa nie ander streke van die wêreld se probleme oplos deur miljoene mense uit daardie streke na Europa te verskuif nie. Die oplossing vir konflik in die Midde-Ooste en ander konflikgebiede moet in daardie streke self gevind word.
Die 86-jarige Kohl het ook vroeër hierdie week met die uitgesproke president van Hongarye, Viktor Orban ontmoet. Orban is bekend vir sy passievolle stryd teen die Europese Unie en Merkel se oopgrensebeleid. In Hongarye en talle ander Europese lande is Orban besonder gewild en word hy as die laaste hoop vir die behoud van Europa beskou. Horst Seehofer, die goewerneur van Beiere, die grootste staat in Duitsland het ook verlede maand met Orban ontmoet en spreek ook toenemend kritiek teen Merkel en die voortdurende, onbeheerde instroming van onwettige immigrante, uit.
Nadat die onlangs gestigte anti-immigrasieparty, die Alternative für Deutschland verlede maand groot opgang in streeksverkiesings in Duitsland gemaak het, het dié party die afgelope week selfs ’n harder standpunt teen Moslem-immigrante begin inneem deur vir ’n verbot op die dra van die burka deur Moslemvroue te vra. Dié party hou binnekort sy jaarlikse kongres in Stuttgart en ’n sterk anti-Moslembeleid wat sal vra vir daadwerklike optrede teen Moslem-immigrasie sal waarskynlik by die kongres aanvaar word.
Die regering van Pole het onlangs aangekondig dat hulle geen vlugtelinge meer sal toelaat nie. Talle lande uit die Balkan en Oos-Europa het ook reeds sovêr gegaan, terwyl die regering in Oostenryk ook felle kritiek teen Merkel begin uitspreek het.
Die teenkanting teen onbeheerde immigrasie kan eenvoudig nie meer as regs, populistiese nasionalisme of ‘’n teruggryp na die verlede bestempel word nie. Die immigrasiekrisis het weens openbare druk ‘’n draaipunt bereik en regerings wat sal voortgaan om immigrante te ontvang en wat nie moeite gaan doen om asielsoekers na hul lande van herkoms te begin terugstuur nie, sal waarskynlik in komende verkiesings uitgestem word. Die draaipunt in die Europese migrasiekrisis is dus bereik.
Ek dink die volgende verkiesing in Duitsland is eers einde 2017. Mens sal dan kan sien wat werklik aangaan.
Maar ek vertrou jy is reg.